Isolasie, en die (goeie) redes daarvoor

[’n Paar maande tevore het ek nog gereken ek wil myself aan die gemeenskap van buitelanders identifiseer as een van hulle, met die voordele wat ’n mens kan verwag met lidmaatskap in enige groep. Teen die begin van die herfseisoen – September – in 1997 het ek egter begin vra, “Wie is hierdie mense? Hoekom moet ek myself aan hulle identifiseer?”]

———–

Die afgelope tyd het ek deur ’n merkbare fase van persoonlike ontwikkeling gegaan. Na ’n periode van sosiale interaksie het ek begin om myself weer te isoleer van die “mainstream currents”.

Hoekom? Ek vertrou nie mense se oordeel nie; ek het nie respek vir hulle sosiale agenda nie; hulle beperkte poel van norme en etikette waarmee hulle jou kategoriseer en opweeg, is lagwekkend. Gesprekke oor seksuele verowerings en “wild experiences” beïndruk my nie. Ek is moeg daarvoor om voor te gee ek is een van hulle, en om oorgelaat te word aan hulle onvermoë om mense op ’n behoorlike manier te oordeel.

Ek sien geen sin daarin om óf op hulle terme aanvaar te word, óf om bloot verduur te word nie. En om verwerp te word omdat ek nie inpas in hulle sosiale program nie en omdat ek nie hulle eng wêreld ’n bietjie interessanter maak nie, maak regtig eintlik geen verskil aan my lewe nie.

______________________