Waarnemings, boeke, en ’n kosbare lewenservaring

Woensdag 23 Oktober 1996

Alles in ag genome, was Korea sover ’n kosbare lewenservaring. ’n Ietwat romantiese opvatting van lewe in die buiteland is aangevul met ’n paar konkrete waarnemings:

1. Dis nie maklik om sonder my mense te wees nie. Om die waarheid te sê, voel ek baie afgesny van my familie. (Ek het nie ’n telefoon by die huis nie, so ek bel hulle twee of drie keer per maand van ’n telefoonhokkie af. Dit beteken ook hulle kan mý nie bel nie. En om vir my fakse te stuur, is te veel van ’n gesukkel, danksy die mense hier wat soms nie vreeslik hulpvaardig is nie.)

2. Ek sê altyd waar sal ek nie orals gaan en wat sal ek nie alles beleef as ek baie geld het nie. Maar waar gaan mens nie oral, en wat beleef jy nie alles in jou soektog na die “fortuin” wat jou in eersgenoemde posisie sal plaas nie?

Sondag 27 Oktober 1996

My lewe in Korea bestaan uit drie verskillende periodes van tyd:

1. Die lang, vervelige ure by die werk

2. Die rustige ure by die huis wanneer ek koffie drink, musiek luister, en dink oor dinge

3. Die goeie ure saam met vriende en kennisse

Ek sal nie aan die einde die tyd kan terugdraai en my lewe kan voortsit sonder die ervarings wat ek opgedoen het in Korea nie. Wat ’n vreemde ervaring! Dis definitief die tipe ding wat die balju nie van ’n mens kan wegvat nie.

Dinsdag 29 Oktober 1996

’n Voorneme: Ek moet Korea so lekker as moontlik maak vir myself. Een of ander tyd gaan dit net nog ’n hoofstuk in my lewensboek wees. Ek moet ook onthou die hoofstuk is steeds in die proses om geskryf te word. Dis my verantwoordelikheid om te sorg dat dit ’n goeie hoofstuk sal wees. Ek beter begin werk aan interessante materiaal!

Wat ek probeer sê, is dat ek nie vir ewig hier gaan wees nie. Ek wil nie later spyt wees oor iets wat ek nié gedoen of ervaar het omdat ek net wou gehad het dat die tyd so gou as moontlik verby moes gaan nie.

______________________

Grys wolke en verveling

Saterdag 7 September 1996

Om dinge op my eie uit te werk, stel my in staat om ’n wêreld vol verwarring beter te hanteer. Dit help as my tentpenne goed geanker is vir die winde wat soms hard aan ’n ou se tentflappe ruk.

Woensdag 9 Oktober 1996

Ek het vandag besef daar hang amper altyd ’n grys wolk oor my. ’n Bewustheid dat ek gelukkig is, bly amper die heeltyd een tree voor my – maar ek bly ook die heeltyd een tree voor ’n definitiewe bewustheid dat ek ongelukkig is. Dalk ’n goeie balans?

Die kleinste dinge maak my soms … gelukkig – soos om net voor my aandklas te hoor die klas is gekanselleer.

Ek sukkel op die oomblik om deur my klasse te kom. En dis nie omdat dit harde werk is nie. Dis net so donders vervelig!

Ek wil net deur die vervelige ure by die werk kom sodat ek kan huis toe gaan – al sit ek net hier en doen niks, sal ek ten minste nie vasgevang wees in ’n klaskamer saam met ’n klomp kinders nie. Ek kan rook wanneer ek wil, koffie maak, musiek luister …

Ek moet dinge kry wat my motiveer en my belangstelling prikkel. Ek moet iets doen om Korea die moeite werd te maak om een jaar hier te bly.

Feit is, hoe langer, hoe beter.

Die vraag is net: Wat gebeur na Korea?

______________________