Sonder geld is jy ’n boemelaar

Maandag 27 Mei 1996

Ek leef nou al vir dertien en ’n halwe maande die lewe van ’n swerwer: min geld, geen inkomste, skuldeisers wat my reuk probeer optel, geen tuiste van my eie nie, besittings wat oor die hele land versprei is, en geen bevredigende antwoord op die lastige vrae by sosiale geleenthede nie.

“Wat,” sal ’n belangstellende persoon vra, “het jy geleer uit die lewe wat jy hierdie afgelope dertien en ’n halwe maande geleef het, en steeds leef?”

Die antwoord is eenvoudig – geld. Sonder geld het jy niks, en is jy niemand nie. Sonder geld kan jy nie jou lewe konformeer tot die styl en standaarde van die gemeenskap nie; gevolglik word jy nie ernstig opgeneem nie. Sonder geld is jy afhanklik van, en oorgelaat aan ander se genade; gevolglik moet jy jou leefstyl en jou persoonlikheid aanpas (of inperk) om nie jou beskermer en voorsiener te ontstel nie.

Die wêreld is nie gemaak vir mense sonder geld nie. Tydskrifartikels word nie geskryf vir mense sonder geld nie. Sonder geld bly drome net … drome. Sonder geld kan jy nie werklik jouself verbeter nie. Jy kan nie inskryf vir ’n kursus in interior design of gourmet cooking nie, want jy kan nie betaal daarvoor nie, jy’t nie ’n adres nie, en jy’t nie fasiliteite nie.

Sonder geld is jy basies … ’n boemelaar.

______________________

Die pion en die orde van konings en biskoppe

Saterdag 4 Mei 1996

Orde berus op een ding, naamlik die aanvaarding onder die meerderheid van die bevolking dat dinge is hoe dit moet wees. Veral van kardinale belang is aanvaarding van die orde deur die “soldaat”. As die soldaat dit nie aanvaar nie, kan die hele orde inmekaar tuimel.

Dit is hoekom die 1917-Rewolusies in Rusland geslaag het – die soldate het nie meer aanvaar dat die tsaar noodwendig aan bewind hoef te wees nie. Die persoon wat ’n wapen in sy hand het, is die sleutel tot die voortbestaan of verval van ’n spesifieke orde. Toe die tsaar se soldate nie meer sy bevele wou uitvoer nie, het die hele orde in duie gestort, en was Tsaar Nikolaas II skielik net ’n gewone man in sy laat veertigs.

Beteken dit die pion is eintlik die belangrikste figuur op die skaakbord? Solank hy die orde van die “koning/koningin” en die “biskoppe” aanvaar, en hulle bevele uitvoer, is hy net ’n pion in hul hande. Maar die oomblik as die pion (of genoeg pionne) nie meer die orde aanvaar en bevele gehoorsaam nie, verander die situasie. Dan is die pion en die koning skielik albei net gewone mense, met die enigste verskil dat die een ’n wapen in sy hand het.

______________________