Sondag 31 Desember 2017

“Dankie! Baie dankie!” sê die man terwyl hy die trofee met die syfers “2-0-1-7” in sy hand vasklem. “Ek wil graag bedank my ouers, my vrou, my twee susters en hul eggenote, ons twee katte, die mense by die vegetariese buffet, die mense wat my betaal om hulle te help Engels praat, die Taiwannese regering wat my steeds toelaat om op hulle eiland te woon, ons vriendelike bure, en laastens, almal op die internet wat sulke goeie artikels geskryf het hierdie jaar wat my aansienlik slimmer gemaak het, en in staat gestel het om nóg meer mense te verveel op sosiale funksies. Ek kon dit nie gedoen het sonder julle almal nie. Dankie weereens!”

Die man wil-wil die mikrofoon laat gaan om weer sy plek in die gehoor in te neem, maar verstel dan sy greep en gaan voort.

“Ek kan sekerlik beweer ek het ’n goeie jaar gehad – soos sekerlik vele van ons.” Hy maak sy oë op skrefies om te sien of enige iemand hulle koppe knik. “Dit is dan ook wel so dat ek gewoonlik elke jaar besluit ek het ’n goeie jaar gehad, ongeag hoeveel keer ek op my gesig te lande gekom het.” Die gebruiklike gespanne laggie volg. “Nou ja, so was dit ook hierdie jaar. Ek het heelwat geleer. Twee dinge staan uit. Maak nie saak hoe lank ’n mens probeer om ’n sukses van iets te maak nie, soms werk dit net nie uit nie. Dalk is dit omdat jy onnosel is, of dalk is daar iets in jou onderbewuste wat dink dat dit ’n mors van tyd is. Wat ook al die rede, ek het vir lank gedink as ek lank genoeg stilstaan by iets, ek suksesvol sal wees in die onderneming. Les een van hierdie jaar is dat dit nie noodwendig waar is nie. Les twee het te make met waarde. Net omdat jy jouself oortuig het iets het waarde … of dalk het jy ’n formule uitgewerk wat op die oog af heel kompleks en indrukwekkend is wat jou oortuig iets is waardevol, is nie te sê jy moet jou geld sit waar jou formule is nie. Doen jy dit, val jy dalk lelik op jou gesig.

“Daar was natuurlik heelwat ander dinge wat ek ook geleer het, en nie almal het vereis dat ek my bakkies in die modder moet plant nie!” Weer ’n laggie. Dan hoor die man hier en daar ’n gesug, en hy is seker daarvan hy sien ’n gevroetel met elektroniese toestelle.

“Nou ja, dames en here – en al die geslagte tussen-in, julle is seker almal opgewonde om die nuwe jaar te vier. Ek is beslis ook! Al wat dan oorbly is vir my om julle almal ’n voorspoedige 2018 toe te wens. Kyk mooi na julleself, kyk mooi na julle geliefdes – insluitende julle troeteldiere en kinders, eet gesond, doen gereeld oefening, moenie geld mors nie maar spandeer so nou en dan ’n paar rand op iets lekkers, en neem verantwoordelikheid vir jou eie komende sukses. Mag die volgende jaar een van julle beste jare ooit wees!”

______________________

Saterdag 31 Desember 2016

Ek is bewus daarvan dat dit die laaste dag van die jaar is, maar ek was te besig tot nou met projekte wat ek regtig geniet om te dink aan al die werk wat ek gedoen het hierdie jaar aan projekte wat ek regtig geniet het.

Ek het my familie hierdie jaar twee keer gesien – in Februarie, en in Desember. Die eerste keer was lekker. Die tweede keer was ook lekker, maar ook baie spesiaal.

Ek het ook genoeg geld hierdie jaar gemaak om nog geld in die bank te hê.

En nou gaan ek ’n bietjie rus.

Vir so ’n uur. Dan gaan ek verder werk.

Een van die redes hoekom 2016 spesiaal was – ’n besoek aan die area in die Vrystaat waar my oupa aan moederskant gebore is in 1900

Nog ’n rede – Suid-Afrikaanse kos

______________________

Donderdag 31 Desember 2015

DINSDAG 29 DESEMBER 2015

Paul Eddington van Yes, Minister-faam het ’n paar dae voor sy dood in 1995 die volgende gesê: “A journalist once asked me what I would like my epitaph to be and I said I think I would like it to be ‘He did very little harm’. And that’s not easy. Most people seem to me to do a great deal of harm. If I could be remembered as having done very little, that would suit me.”

DONDERDAG 31 DESEMBER 2015

As jy op enige dag vir my vra wat ek die volgende dag wil doen, sal ek ’n hele paar dinge kan noem. Wat ek nie sal sê nie, is dat ek maar net gaan wakker word en gaan wag en kyk wat gebeur, want ek wil nie iets beplan en dan werk dit nie uit nie.

Selfde met die laaste dag van die “ou” jaar en die eerste dag van die “nuwe” jaar. Sommige mense reken jy moenie te veel planne hê nie, of doelwitte stel nie, of vaste datums resiteer nie. Ek reken: Ek is dankbaar dat ek nog hier is, en as ek môre ook nog hier is, gaan ek nie my tyd mors nie. Ek sal besig raak met dinge wat ek wil doen, en as dinge nie tussen Vrydag 1 Januarie 2016 en Saterdag 31 Desember 2016 uitwerk soos ek hoop nie, sal ek dit so aanvaar.

______________________

Woensdag 31 Desember 2014

Ek is regtig bly dis die laaste dag van die jaar. Dit gee my ’n verskoning om vandag en môre by die huis te bly.

(Vir meer as dit sal ek ’n formele hoedjie moet opsit en allerhande konvensies moet eerbiedig. En ek sou dalk as ek nie ’n vaakheid, of verveling, oor my voel neerdaal het nie.)

Ten minste die helfte van 2014 was besonders lekker. Ek het baie gedoen. Ek gaan 2014 uit op ’n goeie punt. Ek betree derhalwe 2015 op ’n goeie punt.

Ek hoop ten minste die helfte van 2015 gaan net so goed, of selfs beter wees as 2014 … oftewel, ek gaan my uiterste doen om dit so te maak.

Hoop dis dieselfde vir almal.

____________________