Donderdag 31 Desember 2020

Een van die uitstaande kenmerke van hierdie jaar – en daar was ’n paar, was die mate waartoe mense in ideologiese stamme gegroepeer is, of hulleself geskaar het by spesifieke ideologiese stamme. Meer as enige jaar sedert November 2016, moes jy opinie inneem oor die presidentskap van Donald Trump. Jy moes ’n opinie formuleer oor die Black Lives Matter organisasie. Jy moes besluit waar jy staan met die beweging in talle Westerse lande wat hulleself Antifa noem. Jy moes besluit of dit oukei is as protesteerders geboue afbrand, kleinbesighede verwoes, en individuele lede van die publiek aanrand in groepe teen wie die individu feitlik geen teenstand kan bied nie. (Voorheen sou jy dalk reken dit was maklik om hierdie tipe gedrag voor die voet te veroordeel, maar 2020 was die jaar wat selfs noue familielede en mense in jou sosiale kring sulke gedrag sou goedkeur met ’n vuis in die lug, of ’n grafiek van ’n vuis in die lug op sosiale media.) Dit was verder die jaar wat jy moes besluit of COVID-19 die etiket van pandemie verdien, en of dit net nog een van die soms dodelike virusse is wat elke paar jaar die wêreld teister. En selfs as jy saamstem dat dit wel ’n pandemie is, moes jy ’n opinie vorm oor maatreëls wat regerings wêreldwyd geïmplementeer het om die virus te bekamp. Wat meer is, jou eie besigheid, jou eie bron van inkomste, was dalk bedreig, en het dalk ondergegaan, as gevolg van grendeltydperke of ander maatreëls. Sedert November moes jy ook nog stelling inneem oor die Amerikaanse verkiesing. Was dit vry en regverdig? Het die media in Amerika albei presidensiële kandidate dieselfde behandeling gegee? Het hulle albei kandidate ’n gelyke kans gegee om hulle saak te stel? As verdoemende openbarings gemaak is oor een van die kandidate, het die media dit met redelike onbevooroordeelheid hanteer? Siende dat daar geleenthede was vir korrupsie in die verkiesing – soos met sekerlik enige wydskaalse onderneming bestuur deur duisende mense, siende dat daar meer as voldoende aansporing was om korrupsie te pleeg – politieke posisie bring talle voordele vir die wenner en hulle ondersteuners, en siende dat daar nie voldoende tyd was om enige ernstige aantygings te ondersoek nie – die ondersoek oor aantygings oor Russiese betrokkenheid in die 2016 verkiesing, het ongeveer twee jaar geduur, en in die lig van onwaarskynlike statistieke, kan dit met sekerheid gesê word dat die amptelike wenner van die verkiesing die wettige wenner is? Dan, om die opinie bonanza af te rond, was daar Climate Change en Global Warming, en die World Economic Forum en hulle Great Reset; daar was die deurlopende onderhandelings oor Brittanje se verlating van die Europese Unie; die debat of ’n volwasse man eenvoudig kan verklaar dat hy ’n vrou is en van daai oomblik geregtig is op beskerming en regte wat eksklusief vir vrouens bedoel is; die vraag of tieners en pre-tieners op hulle eie kan besluit watter geslag hulle is en as dit nie ooreenstem met hulle geslagsdele nie, hulle sonder hulle ouers se toestemming onmiddellik kan begin met hormoonbehandeling wat langtermyn, onomkeerbare gevolge kan hê; en die toenemende vooroordeel en politieke agendas van sosiale media – dalk geen probleem as hulle politiek met joune ooreenstem nie, maar wat gebeur as jy jou opinies verander? Die tendens wat al ’n paar jare aan die gang is van mense wat plekke op besprekingpanele verloor, of afgedank word of kontrakte verloor omdat hulle iets gesê het of geskryf het wat teen die aanvaarde denkstrome van die dag is, noop ’n mens ook om te wonder of daar werklik nog ruimte is vir vrye debat. Kan ’n mens nog dink wat jy wil én jou werk behou? Kan jy nog ’n opinie in ’n private gesprek uitspreek oor belasting of immigrasie of godsdiens of klimaatsverandering en verwag dat dit nie jou manier om ’n bestaan te maak, gaan kos nie? Kan ’n wetenskaplike eksperimente doen met die wete dat hy nog steeds ’n werk sal hê indien die resultate van sy eksperimente nie populêr is onder sosiale en politieke aktiviste nie?

Nietemin … nietemin … is ek dankbaar. Ek is dankbaar dat ek nog leef. Ek is dankbaar dat my twee susters, hulle kinders, en my twee dierbare ouers ook die jaar oorleef het. En ek is dankbaar vir my vrou en lewensmaat wat elke dag beter maak met haar liefde, haar vriendskap, en haar ondersteuning. Dan is ek dankbaar vir my gesondheid, en vir ’n goeie tuiste in Taiwan. Ek is dankbaar vir ons twee katte. Ek is dankbaar vir al die eetplekke in ons buurt waar ons smaaklike en gesonde maaltye kan geniet. Ek is dankbaar vir al die geleenthede wat ek het om geld te verdien. En – ek is dankbaar vir die heerlike koel weer vandag in Kaohsiung (13ºC), en vir die aangename koppie warm, swart koffie wat ek geniet soos ek hierdie woorde tik.

Wees goed vir jouself in 2021. Wees goed vir mense wat jou lewe met jou deel, en wie se lewens jy deel. Wees ook goed vir mense wat op hierdie oomblik vreemdelinge is vir jou, maar dalk later vriende. En wees redelik met mense met wie jy verskil, en moenie brûe verbrand waaroor jy later spyt gaan wees nie. En as mense nie redelik is met jou nie? Hou jou gewete skoon en jou intellektuele eerlikheid in takt. En sorg dat jy genoeg geld in die bank het – of in jou kluis, of in jou kripto-beursie, of in jou sakkie goud en silwer), en genoeg bronne van inkomste wat nie oornag gekanselleer kan word nie.

______________________