Dinsdag 31 Desember 2019

DINSDAG 24 DESEMBER 2019

Ek besef vanaand volgende week is nie net die einde van ’n jaar nie, maar die einde van ’n dekade – my derde einde van ’n dekade as ’n volwaardige volwassene.

Die eerste dekade na hoërskool het vir my begin in ’n sendinghuis, met my as deel van ’n span wat gehoop het om meer mense te bekeer tot die Christelike geloof. Die dekade het geëindig vir my in die strate van Hong Kong, ver van die huis af, en nog verder van sekerheid oor my eie toekoms.

Ek het die ’00 dekade begin as ’n oorgewig roker met ’n slegte ingesteldheid en ’n problematiese selfbeeld. Ek het tien jaar later die dekade afgesluit op ’n bietjie van ’n laagtepunt – minder oorgewig, nie meer ’n roker nie, maar finansieel relatief armlastig. En ek was reeds 38. Die dekade het wel ook van die spreekwoordelike beste jare van my lewe ingesluit: ek het in 2003 begin skryf asof die koors my beetgepak het, en teen die middel van die dekade het ek ’n vrou ontmoet wat soos ’n engel uit die sewende hemel neergedaal het op my aardse bestaan. Nietemin, die hoogtepunte was in die middel van die dekade; die einde sou enige sterfling angstig maak.

En so het my derde dekade begin as volwassene. In 2011 het ek 40 geword. Ek het voortgegaan met ’n verskeidenheid projekte om meer finansiële sekerheid te bewerkstellig, en ek het met hernude toewyding weer aandag gegee aan my skryfwerk. Hierdie dekade het hoogtepunte van ’n ander intensiteit gehad, en die laagtepunte was nie heeltemal so laag as in die vorige dekade nie.

DINSDAG 31 DESEMBER 2019

Wat is my voorspellings aan die vooraand van hierdie vierde dekade van my volwasse lewe?

Geen voorspellings nie. Geen kort toesprake om myself te motiveer nie. Ek is reeds gelukkig. Ek doen reeds finansieel veel beter as in die vorige dekades. Ek leef reeds die voller lewe waarvan ek gedroom het in my twintigs en vroeë dertigs.

Is ek oorgehaal om nog beter te doen? Is ek gereed daarvoor om nog meer te reis, meer te gee, meer bystand te verleen, meer te doen van wat ek reeds doen? Is ek gereed om nóg meer van die lewe te ervaar? Is daar ’n voller weergawe van my wat ek reeds besig is om te wórd soos ek hierdie woorde tik?

* * *

’n Redelik welgestelde vriend van ’n vriendin het hierdie jaar genoem dat die lewe wat ons – ek en Natasja – leef, nader is aan die lewe van biljoenêrs as aan die lewe van arm sukkelaars. “Sure,” het hy gesê, “billionaires have fine Egyptian cotton linen and they live in bigger houses, but you – like them – have running water, modern plumbing, stable electricity and high-speed internet. Compare that to people who live in shacks with no running water, no electricity, no internet …”

Ek is ook onlangs weer herinner aan ’n ou waarheid: Daar is dinge waaroor ons nie beheer het nie; daar is dinge waaroor ons gedeeltelik beheer het, en daar is dinge wat tot ’n betekenisvolle graad afhang van ons besluite – as jy hierdie pad kies, is dit hierdie pad vir die volgende paar maande, en dalk die res van jou lewe; as jy daai pad kies, is dit daai pad vir die volgende paar maande, en dalk die res van jou lewe. Dit is dan ook wyser om te fokus eerder op die aspekte van jou lewe waaroor jy die maksimum beheer het. En as jy neig tot eerlikheid, en ’n kritiese beskouing van sake, sal jy erken dat jy voldoende beheer het oor jou eie lewe, en oor die omgewing waarin jy jou bestaan voer, om die voller lewe te kan skep waarvan jy op ’n stadium net kon droom.

______________________