Kortliks, die Individu, die Gemeenskap, en die Staat

MAANDAG 30 AUGUSTUS 2021

’n Persoonlike manifes oor politieke oortuigings moet begin met jou beskouing oor drie konsepte:

1. Die Individu

2. Die Gemeenskap

3. Die Staat

As ek uit die vuis moet sê, is die Staat ’n georganiseerde poging van volwassenes binne ’n geografiese area met historiese en ander bande om gemeenskaplike belange te bestuur. Hierdie belange sluit in infrastruktuur, opvoeding, internasionale betrekkings, militêre verdediging, en die opstel en handhawing van wette wat die waardes van die gemeenskap verteenwoordig.

Gemeenskap kan wees jou woonbuurt, maar ook mense wat ’n bepaalde taal, etnisiteit of godsdienstige oortuigings deel.

En die Individu is ’n enkele kind of volwasse persoon.

Jou persoonlike politieke manifes sal aandag moet gee aan die verhoudings tussen Individue, tussen die Individu en die Gemeenskap, en die verhouding tussen die Individu en die Staat, en betrekkinge tussen onderskeie Gemeenskappe en die Staat. Dit sal ook uiteensit die regte van die Individu en die pligte van die Individu (indien enige) teenoor die Gemeenskap en die Staat, en die pligte van die Staat teenoor Individue en Gemeenskappe.

______________________

’n Redelike opinie oor Covid-19 inentings

DINSDAG 27 JULIE 2021

Almal het deesdae ’n opinie oor die Covid-19 inenting. Ek is nie oortuig dat dit veilig is nie. Kundiges verskil van mekaar oor veiligheid en effektiwiteit. En daar is die gesonde verstand posisie wat enige redelike mens behoort te vat oor goed wat in jou are ingespuit word wat nog nie behoorlik getoets is nie, of nie deur die hele proses gegaan het waardeur inentings gewoonlik gaan nie. Skeptici wys ook op talle voorbeelde van J&J, Pfizer, en ander farmaseutiese maatskappye wat jare nadat hulle produkte geloods het, die produkte verwyder het van apteekrakke as gevolg van newe-effekte wat nie vertoon het aan die begin nie. Dit is ook nou duidelik dat ’n mens steeds Covid-19 kan kry al vloei die entstof deur jou are.

Dit gesê, mense wat naam vir hulleself gemaak het as onafhanklike denkers wat hulleself nie steur aan populêre opinie nie – mense soos spotprenttekenaar en skrywer Scott Adams, en joernalis Peter Hitchens – het die inenting gekry. Adams maak ook die punt dat enige iemand wat 100% seker is oor enige iets rakende die pandemie, nie dinge goed deurdink nie. Waarskynlikheid is die enigste redelike posisie om te vat.

Daar is sprake daarvan dat indien jy ingeënt is, jy ligter simptome sal ervaar as die virus jou gestel binnedring, en dat jy derhalwe ’n beter kans het op oorlewing. Dit geld sekerlik nog meer as jy oor vyftig is. Dit is ook redelik om te aanvaar dat meeste mense op een of ander tyd geïnfekteer sal word.

Dit beteken ék sal ook op een of ander stadium Covid-19 kry. Omdat ek sal verkies om nie dodelik siek te wees nie, en omdat miljoene mense sover die inenting gekry het en min of geen newe-effekte getoon het nie, sal ek ook die inenting kry.

Dis die goeie rede.

Die slegte rede hoekom ek dit sal kry, is omdat die regering ’n mens dwing met allerlei regulasies, van hoé jy werk tot óf jy mag reis. Daarmee stem ek glad nie saam nie. Oortuig mense met redelike argument. Dwing hulle om ’n inspuiting te kry, en alarms en gevaarligte gaan af.

WOENSDAG 28 JULIE 2021

Laaste ding wat ek wil doen, is om ’n lang stuk te skryf oor inentings en Covid-19.

Enkele vrae sal voldoende wees:

1. Kan SARS CoV-2 steeds jou liggaam binnedring al het jy twee dosisse van die entstof gekry?

2. Kan jy steeds Covid-19 ontwikkel al is jy ten volle ingeënt?

3. Kan jy steeds die virus oordra aan ander mense nadat jy ten volle ingeënt is?

Indien die antwoord positief is op al drie bogenoemde vrae, hoekom dan die inenting kry? Want, sê mense wat veronderstel is om te weet, as jy ingeënt is en jy kry Covid-19, is jou simptome minder ernstig, en het jy ’n beter kans om dit te oorleef – veral as jy ouer is en dalk aan ander kwale ly.

Nou, ek aanvaar hierdie siening van die entstof, en omdat ek onlangs vyftig geword het, is dit dalk ’n goeie idee om my kanse teen die virus te versterk (soos ek gister uiteengesit het).

Maar wat presies is die argument wat regerings en hulle ondersteuners aanvoer om mense te forseer om ingeënt te word? Omdat hulle omgee vir mense, en nie wil hê hulle moet kwaai siek word nie? Is dit nie iets waaroor mense vir hulleself kan besluit nie? Is dit nie hoekom mense “toegelaat” word om te rook en te drink soveel as wat hulle wil nie? Almal besluit tog self hoeveel koek en koffie en sout en suiker hulle elke dag wil geniet. En regerings dwing immers nie mense om elke dag vir ten minste dertig minute te oefen, en genoeg groente te eet, en nie te veel rooivleis te eet nie.

Soos wat dit vir my lyk, die enigste manier hoe regerings dit kan regverdig om mense te dwing om ingeënt te word, is as dit verspreiding sal inperk. Indien dit bewys kan word dat die entstof hoogs effektief is hierin, kan ’n mens dalk verstaan hoekom daar soveel druk is op mense.

Die enigste ander rede wat sin kan maak, is as regerings argumenteer dat omdat ingeënte mense minder ernstige simptome sal ervaar, hulle minder druk sal plaas op die land se gesondheidsdienste.

Is dit die argument? Hoekom dan nie drakoniese maatreëls van stapel stuur om vet mense te dwing om gewig te verloor nie, of om mense te dwing om minder te drink nie? Volwasse mense besluit óf self oor hulle eie gesondheid en leefstyl, óf die regering besluit daaroor. Hierdie ding dat die regering mense dwing om inspuitings te kry sodat hulle nie te erg siek raak van ’n griep-tipe virus nie, maar andersins oukei is daarmee dat mense hulle lewens stelselmatig vernietig, maak nie sin nie.

Nog iets: Beskadig of beëindig jy doelbewus iemand anders se lewe, of dit gebeur as gevolg van jou nalatigheid, word jy gestraf, en behoort jy gestraf te word. Hoe pas regeringsmaatreëls oor Covid-19 entstowwe in by hierdie begrip, siende dat dokters en verpleegsters mense inspuit met ’n middel wat dalk meer skade kan aanrig aan daai persoon as wat dit skade gaan verhoed?

* * *

Hier’s ’n paar skakels [kyk na die datums op die webblaaie om te sien wanneer dit laas opgedateer is]:

https://factcheck.thedispatch.com/p/do-the-covid-vaccines-offer-100-percent: “At a town hall on July 21, in Cincinnati, President Joe Biden, in stressing the importance of COVID-19 vaccines, made the following statement: ‘If you’re vaccinated, you’re not going to be hospitalized, you’re not going to be in an ICU unit, and you’re not going to die.’ The statement is false. Although the COVID-19 vaccines are effective, no single vaccine is 100% effective at preventing infection.”

https://www.cdc.gov/vaccines/covid-19/health-departments/breakthrough-cases.html: “Some people who are vaccinated against COVID-19 will still get sick and have a vaccine breakthrough infection because no vaccine is 100% effective.”

https://health.clevelandclinic.org/can-vaccinated-people-transmit-covid-19-to-others/: “Can fully vaccinated people still transmit the virus to others, including other vaccinated people? While it is possible, Dr. Cardona says that the ability to transmit COVID-19 may occur at a lower rate. … ‘We are still collecting data and doing ongoing research about the vaccine responses in these vulnerable populations.’”

______________________

Skrik vroeg genoeg wakker

VRYDAG 2 JULIE 2021

Sestien is nie te jonk om te verstaan waarmee jy besig is met die hele skool-storie nie. Om die waarheid te sê, selfs as jy veertien of vyftien is, kan jy jou al goed doen om begrip hiervoor op te bou – of vir volwassenes in jou lewe te vra om dit aan jou te verduidelik.

So, wat doen jy tussen die ouderdom van sewe en, kom ons sê, sestien? Jy leer lees en skryf. Jy leer wiskunde doen, en jy leer genoeg geskiedenis en geografie om te weet waar in die wêreld jy jouself bevind. Jy leer dalk ten minste een ander taal; jy leer van menslike en dierlike biologie, en jy leer ’n bietjie wetenskap. As jy in ’n tegniese skool is, leer jy meer praktiese onderwerpe … maar dit raak my volgende punt. Na sestien, tot en met jou vroeë twintigs, leer jy dinge wat jou in staat sal stel om ’n inkomste verdien, en ’n bydrae te kan maak tot die samelewing, of ten minste tot die gemeenskap waar jy jou bestaan voer.

Verstaan die sestienjarige kind dit? Dalk; dalk nie. Maar die kind in graad tien (of nege, of elf) wat bevraagteken hoekom hulle Biologie of Wetenskap of Wiskunde studeer as hulle nie beroepe gaan volg waar hierdie kennis van waarde gaan wees nie, verdien ’n behoorlike antwoord.

Hier’s my advies. Jy’t nodig om behoorlik te kan skryf. Dalk leer jy dit in jou Afrikaanse of Engelse klasse. Indien nie, doen ekstra kursusse op Udemy, of op ’n ander platform. Jy’t nodig om meer te weet van die wêreld, en van geskiedenis. YouTube is propvol kort en lang dokumentêre video’s wat jou sal leer wat jy moet weet. Kyk ook reisprogramme, of video’s oor verskillende lande om meer te leer van die wêreld. Wetenskap, en Biologie? YouTube. En dan, siende dat omtrent alles tussen 16 en 23 gaan oor voorbereiding om geld te maak en ’n bydrae te maak, kyk na lesings, onderhoude, en opsommings van boeke oor hoe mense geld maak, hoe hulle geld bestuur, en hoe jy jou verhouding met geld kan verbeter. Vervelig vir jou gemiddelde sestienjarige, mag jy sê? Verveliger as ’n Biologie-klas, of selfs vir sommige leerlinge, ’n Geskiedenis-klas?

Feit van die saak is, te veel mense skrik te laat wakker. Te veel sukkel ook te lank om hulleself te bemagtig om ’n goeie lewe op te bou. ’n Lewe waar hulle ’n goeie idee het wát hulle doen, vir wie, en hoekom.

______________________

Dan word jy vyftig

MAANDAG 19 APRIL 2021

Ek is gereed om oud te word.

Ek weet nie alles wat ek wil weet nie, en ek verstaan nie alles wat ek wil verstaan nie.

Ek besef meer as die helfte van my lewe is waarskynlik agter my – en ek het helder herinneringe van my kinderdae, so ek weet tyd draal nie.

Ek aanvaar dat ek nooit Turks sal leer praat nie, en selfs as ek Turks leer praat, sal ek waarskynlik nie óók Sweeds leer praat nie, en selfs as ek beide Turks én Sweeds leer praat, sal ek heel waarskynlik nie nog Xhosa of Russies of Japannees óók leer praat nie.

Ek sien mense jonger as ek wat praat en optree asof hulle nog nie sekere dinge geleer of ervaar het nie. Ek sien daaruit dat ék wel heelwat van die lewe al ervaar het, of dat daar nog baie is wat ek nog nie ervaar het nie – beide goed en sleg.

Ek is gereed om oud te word, want ek aanvaar iemand moet die plek vul van die geslagte wat voor my gekom het. Dit is ek, en die paar miljoene ander mense op die planeet gebore in die laat sestigs en vroeë sewentigs.

MAANDAG 17 MEI 2021

As jy bloei, doen jou liggaam iets om die bloeding te stop.

As jy bloei, neem jy ook stappe om die bloeding te stop.

Tog vrees ons dit.

DINSDAG 22 JUNIE 2021

Ander mense mag verskil, maar vir my is vyftig die grootste verjaarsdag van my lewe – sover, ten minste.

Sestien is seker groot, maar ek was ’n hoërskoolleerling op veertien, op vyftien, en op sewentien en agtien. Wat is so spesiaal aan sestien?

Een-en-twintig is ook veronderstel om ’n belangrike mylpaal te wees, en dit was inderdaad in my geval ’n goeie partytjie – ’n groot groep vriende, en pizza en ’n klomp bottels rooi wyn by Giovanni’s Pizzeria in Arcadia, Pretoria.

Vyf-en-twintig is die kwarteeu – wat ek gevier het op ’n vliegtuig op pad Hong-Kong toe, en van daar af Seoel toe, en van daar af na ’n ander stad in Suid-Korea waar ek die volgende twee jaar van my lewe sou spandeer.

Dertig is gevier in Kaohsiung, in die suide van Taiwan, en ek moet bieg: Ek hét ouer gevoel.

Veertig het gekom en gegaan. (Die dekade was wel uitsonderlik produktief.)

Maar vyftig? Daar’s die sentiment van vyftig wat die jeug van jou oumensjare is, maar niemand wat vyftig raak is nie bewus van die feit dat hulle … aansienlik ouer is as met enige ander mylpaal nie.

Die instink is onmiddellik om ’n lys te resiteer waarvoor ’n mens dankbaar is – en die Hemel hoor my, ek is dankbaar vir elke persoon wat my lewe beter maak, en vir elke gebeurtenis en wending wat dinge beter laat uitwerk het as hoe dit kon uitgewerk het. Maar jy dink terug aan nou die dag toe jy sestien was, en net die anderdag, toe jy dertig geword het – ons het nog ontbyt gaan eet nie tien minute se stap van waar ek nou hierdie woorde tik nie.

Jy wil vir mense verduidelik dat jy nog een of twee items het in jou klerekas wat jy al dra van jou vroeë dertigs af. (Wat moet ek doen? Dit weggooi as dit nog drabaar is?) Jy wil wys op die feit dat meeste staatsleiers steeds ouer is as jy. Maar niks vat die gedagte weg nie. Niks kán dit wegvat nie: Jy raak oud.

VRYDAG 25 JUNIE 2021

Ek luister weer musiek van vyftig en sestig jaar gelede. Ek lees oor die Koue Oorlog. Ek kyk video’s van moord en doodslag en politieke stryd in Viëtnam in die sestigs en vroeë sewentigs.

Ek probeer iets vasvang van die wêreld wat besig was om te sterf soos ’n nuwe geslag op die punt was om gebore te word.

MAANDAG 28 JUNIE 2021

Word vyftig. Tydens ’n wêreldwye pandemie. Jou ma is nog besig om te herstel van die virus; jou pa is in die hospitaal. Jou ouer suster het dit gehad ’n paar weke gelede, en jou jonger suster en haar man het dit tans.

Steeds is jy dankbaar vir wat jy het, en vir wat jy gehad het sover.

Dan mik jy maar vir 51.

DINSDAG 29 JUNIE 2021

Besef ek gisteraand soos ek weggevoer word na die vergetelheid: Vyftig is ’n gepaste ouderdom vir my.

Gestel ’n Kosmiese Rekenmeester vra my om ’n lys te maak van dinge wat ek al ervaar het in my lewe, lesse wat ek al geleer het, dinge wat ek al gesien het, plekke wat ek al besoek het, mense wat ek ontmoet en leer ken het, maar bowenal, om op ’n spektrum aan te dui wat ek reken my emosionele en verstandelike begrip is as resultaat van al voorafgenoemde. Indien die Kosmiese Rekenmeester dan ’n ouderdom van “32” moet toeken aan my persoon, sou ek teleurgesteld gewees het. Sou hy iets sê soos “65”, sou ek gedink het ek het dalk die pap te dik aangemaak. “50”, reken ek, is ’n gepaste nommer.

SONDAG 5 SEPTEMBER 2021

Vyftig en die moontlikheid dat die beste jare van jou lewe nog voor jou lê, is ’n goeie geleentheid vir die bekende Henry Ford aanhaling: “As jy glo jy kan, kán jy. En as jy glo jy kan nié, moenie eens bother nie.”

______________________

Nog notas oor die volwasse lewe

MAANDAG 14 JUNIE 2021

Ek het in 2015 ’n stuk geskryf oor die trifecta van die volwasse lewe: getroud, twee kinders, finansiële onafhanklikheid. Ek wil twee dinge byvoeg:

1. Nalatenskap – dit maak saak wat jy nalaat. Die filmmagnaat, Harvey Weinstein, was getroud, het ten minste twee kinders gehad, en was skatryk. Maar hy was ’n skobbejak wat vrouens gedwing het – of voor uiters moeilike keuses gestel het – om seksueel met hom te verkeer. Dit – nie sy huwelik of sy kinders of sy geld of dosyne films nie, is sy nalatenskap.

2. Nie ’n vereiste nie, maar kan opmaak vir die afwesigheid van ander item: Het jy ’n interessante lewe gelei? Het jy interessante plekke besoek, en mense ontmoet van verskillende kulture en agtergronde? Het jy kanse gewaag, al het jy misluk?

VRYDAG 18 JUNIE 2021

Een man het getrou in sy laat twintigs, drie kinders gehad, ’n gelukkige huwelik, sy eie onderneming bedryf, en finansiële sukses geniet – jaarlikse vakansies, insluitende oorsee, met die hele gesin, en later met kleinkinders. Op 68 is hy gediagnoseer met pankreaskanker, en is na twee jaar se onsuksesvolle behandeling oorlede.

’n Ander man trou in sy laat dertigs. Hulle huwelik is ook gelukkig, maar produseer geen kinders nie. Hy belê tyd en geld in verskeie ondernemings, maar finansiële onafhanklikheid ontglip hom. Ten spyte daarvan dat daar nooit geld is vir uitspattighede nie, leef hy en sy vrou gemaklik. Op 68 is hy nog relatief gesond, behalwe vir ’n bietjie rumatiek in sy knieë, en in sy een hand.

Nou, die miljoen-rand vraag: Wie’s die wenner?

Of, moet albei dankbaar wees vir hulle seëninge?

WOENSDAG 23 JUNIE 2021

Om te werk aan my eie projekte is ’n uitdrukking van my geloof in ’n beter toekoms. As ek ophou glo my eie projekte kan aan my ’n beter toekoms gee … sal ek iets anders moet vind om my geloof in te stel. Dit is wat my sedert 2006 … sedert 2003 … sedert 1997/8 … gedryf het om finansieel onafhanklik te word. Ek het meer tyd en energie hieraan bestee as aan enigiets anders in my volwasse lewe.

Dalk hoekom ek nooit ’n posisie kon vat waar ek myself sou sien as bloot ’n rat in die masjien nie. Wat sou my vorentoe dryf? Dat ek huur kon betaal aan die einde van die maand en kruideniersware kon koop? Dis net oorlewing! Om te werk aan iets wat aan my finansiële onafhanklikheid kan gee – finansiële onafhanklikheid! – is om geloof te hê. Dit is om voortgestu te word met ’n visie vir die toekoms.

Is ek eerder ’n arm gelowige – of dan ’n gelowige wat huur kan betaal en kruideniersware kan koop, en ’n bietjie spaargeld het in die bank – as ’n gemaklike rat in die masjien wat nie glo my lewe gaan ooit veel beter word nie?

Geloof in iets wat ek nie kan sien nie, is ingeweef in my psige. Om te werk aan iets wat my lewe kan verbeter, is ’n ritueel wat my geloof bevestig.

Plus, dit verhoog die waarskynlikheid van sukses.

[Moet bylas dat daar sekerlik mense is wat “bloot ’n rat is in die masjien”, en as húlle dit nie doen nie, sal iemand anders dit doen, maar ná werk en oor naweke ook werk aan hulle eie projekte, wat hulle ook hoop aan hulle ’n beter toekoms sal gee. Ek dink soms swart-en-wit.]

MAANDAG 28 JUNIE 2021

Ek glo aan iets.

Wanneer ek werk aan dit waaraan ek glo, bewys ek dat my geloof eg is.

Wanneer ek daaraan werk, is ek aktief besig om werklik te maak dit waaraan ek glo.

______________________