Dan word jy vyftig

MAANDAG 19 APRIL 2021

Ek is gereed om oud te word.

Ek weet nie alles wat ek wil weet nie, en ek verstaan nie alles wat ek wil verstaan nie.

Ek besef meer as die helfte van my lewe is waarskynlik agter my – en ek het helder herinneringe van my kinderdae, so ek weet tyd draal nie.

Ek aanvaar dat ek nooit Turks sal leer praat nie, en selfs as ek Turks leer praat, sal ek waarskynlik nie óók Sweeds leer praat nie, en selfs as ek beide Turks én Sweeds leer praat, sal ek heel waarskynlik nie nog Xhosa of Russies of Japannees óók leer praat nie.

Ek sien mense jonger as ek wat praat en optree asof hulle nog nie sekere dinge geleer of ervaar het nie. Ek sien daaruit dat ék wel heelwat van die lewe al ervaar het, of dat daar nog baie is wat ek nog nie ervaar het nie – beide goed en sleg.

Ek is gereed om oud te word, want ek aanvaar iemand moet die plek vul van die geslagte wat voor my gekom het. Dit is ek, en die paar miljoene ander mense op die planeet gebore in die laat sestigs en vroeë sewentigs.

MAANDAG 17 MEI 2021

As jy bloei, doen jou liggaam iets om die bloeding te stop.

As jy bloei, neem jy ook stappe om die bloeding te stop.

Tog vrees ons dit.

DINSDAG 22 JUNIE 2021

Ander mense mag verskil, maar vir my is vyftig die grootste verjaarsdag van my lewe – sover, ten minste.

Sestien is seker groot, maar ek was ’n hoërskoolleerling op veertien, op vyftien, en op sewentien en agtien. Wat is so spesiaal aan sestien?

Een-en-twintig is ook veronderstel om ’n belangrike mylpaal te wees, en dit was inderdaad in my geval ’n goeie partytjie – ’n groot groep vriende, en pizza en ’n klomp bottels rooi wyn by Giovanni’s Pizzeria in Arcadia, Pretoria.

Vyf-en-twintig is die kwarteeu – wat ek gevier het op ’n vliegtuig op pad Hong-Kong toe, en van daar af Seoel toe, en van daar af na ’n ander stad in Suid-Korea waar ek die volgende twee jaar van my lewe sou spandeer.

Dertig is gevier in Kaohsiung, in die suide van Taiwan, en ek moet bieg: Ek hét ouer gevoel.

Veertig het gekom en gegaan. (Die dekade was wel uitsonderlik produktief.)

Maar vyftig? Daar’s die sentiment van vyftig wat die jeug van jou oumensjare is, maar niemand wat vyftig raak is nie bewus van die feit dat hulle … aansienlik ouer is as met enige ander mylpaal nie.

Die instink is onmiddellik om ’n lys te resiteer waarvoor ’n mens dankbaar is – en die Hemel hoor my, ek is dankbaar vir elke persoon wat my lewe beter maak, en vir elke gebeurtenis en wending wat dinge beter laat uitwerk het as hoe dit kon uitgewerk het. Maar jy dink terug aan nou die dag toe jy sestien was, en net die anderdag, toe jy dertig geword het – ons het nog ontbyt gaan eet nie tien minute se stap van waar ek nou hierdie woorde tik nie.

Jy wil vir mense verduidelik dat jy nog een of twee items het in jou klerekas wat jy al dra van jou vroeë dertigs af. (Wat moet ek doen? Dit weggooi as dit nog drabaar is?) Jy wil wys op die feit dat meeste staatsleiers steeds ouer is as jy. Maar niks vat die gedagte weg nie. Niks kán dit wegvat nie: Jy raak oud.

VRYDAG 25 JUNIE 2021

Ek luister weer musiek van vyftig en sestig jaar gelede. Ek lees oor die Koue Oorlog. Ek kyk video’s van moord en doodslag en politieke stryd in Viëtnam in die sestigs en vroeë sewentigs.

Ek probeer iets vasvang van die wêreld wat besig was om te sterf soos ’n nuwe geslag op die punt was om gebore te word.

MAANDAG 28 JUNIE 2021

Word vyftig. Tydens ’n wêreldwye pandemie. Jou ma is nog besig om te herstel van die virus; jou pa is in die hospitaal. Jou ouer suster het dit gehad ’n paar weke gelede, en jou jonger suster en haar man het dit tans.

Steeds is jy dankbaar vir wat jy het, en vir wat jy gehad het sover.

Dan mik jy maar vir 51.

DINSDAG 29 JUNIE 2021

Besef ek gisteraand soos ek weggevoer word na die vergetelheid: Vyftig is ’n gepaste ouderdom vir my.

Gestel ’n Kosmiese Rekenmeester vra my om ’n lys te maak van dinge wat ek al ervaar het in my lewe, lesse wat ek al geleer het, dinge wat ek al gesien het, plekke wat ek al besoek het, mense wat ek ontmoet en leer ken het, maar bowenal, om op ’n spektrum aan te dui wat ek reken my emosionele en verstandelike begrip is as resultaat van al voorafgenoemde. Indien die Kosmiese Rekenmeester dan ’n ouderdom van “32” moet toeken aan my persoon, sou ek teleurgesteld gewees het. Sou hy iets sê soos “65”, sou ek gedink het ek het dalk die pap te dik aangemaak. “50”, reken ek, is ’n gepaste nommer.

SONDAG 5 SEPTEMBER 2021

Vyftig en die moontlikheid dat die beste jare van jou lewe nog voor jou lê, is ’n goeie geleentheid vir die bekende Henry Ford aanhaling: “As jy glo jy kan, kán jy. En as jy glo jy kan nié, moenie eens bother nie.”

______________________