Los gedagtes van September en Oktober 2021

SONDAG 12 SEPTEMBER 2021

Ek ag dit as meer as net ’n klein vooruitgang in my lewe dat ek kon uitwerk – ten minste vir myself – waaroor die lewe gaan, wat dit beteken om ’n mens te wees, wat ek met my lewe moet doen, wat die betekenis van die lewe is, en wat die basis moet wees vir my etiek.

Ek moes al hierdie dinge uitwerk omdat ek, soos REM dit gestel het in hulle treffer van die vroeë negentigs, my godsdiens verloor het.

Godsdiens het tot en met my vroeë twintigs ’n mees betekenisvolle rol gespeel in my lewe. Dit het verduidelik wat die doel was van my bestaan, waar ek vandaan gekom het en wat sou gebeur wanneer ’n mens sterf, hoe ’n mens jou lewe moes lei, en hoekom jy sekere dinge moes doen en ander dinge nie moes doen nie. Dit het my van ’n wêreldbeeld voorsien. Dit het verduidelik hoe alles – die kosmos en planete, en mens en dier en natuur – in mekaar steek. Ek het selfs sterk oorweeg om ’n beroep te volg waar godsdiens ’n belangrike aspek sou wees.

Dit alles het soos ’n kaartehuis inmekaar getuimel vir my. Ek moes van voor af begin. En ek het dit gedoen op skrif, een stel paragrawe na die ander, tot ek genoeg uitgepluis het om te kon sê, “Ek verstaan nou weer. Ek kan nou méér doen as net funksioneer.”

DONDERDAG 16 SEPTEMBER 2021

Redelike doelwitte van ’n volwasse lewe:

1. Oorleef, fisies en geestelik.

2. Probeer om nie skade aan te rig nie. As jy skade aanrig in die proses van oorlewing, probeer om dit tot die minimum te beperk.

3. Probeer om goed te doen – beskerm ander mense, diere en die natuur teen skade; verleen hulp in die handhawing van lewe, en verleen hulp in die verbetering van die lewens van ander mense of diere.

4. Probeer om ’n outentieke lewe te lei wat ooreenstem met die besef dat jy nie ’n masjien is wat deur onsigbare magte beheer word nie.

DINSDAG 28 SEPTEMBER 2021

Ek hou nie van hierdie idee van voorwaardelike geluk nie: “Ek is gelukkig omdat …”

Ek hou van waan-geluk, mal geluk: Ek is gelukkig ten spyte van …

Kan dieselfde gesê word oor goed voel oor jouself – ’n noodsaaklike bestanddeel van positiewe selfbeeld? Jy voel goed oor jouself ten spyte van X, Y, of Z.

DONDERDAG 30 SEPTEMBER 2021

As die maatstaf van sukses is dat jy dinge kan skep uit hout en staal, dan was my pa ’n sukses.

As die maatstaf is om karre te kan regmaak, selfs ’n wrak wat op bakstene staan te omskep in ’n padwaardige voertuig waarmee die gesin op vakansie gaan, was my pa ’n sukses.

Maar as die maatstaf is om vir iemand anders te werk en te sê, “Ja, Baas … nee, Baas” en jou mond te hou die res van die tyd, wel, dan’s dit maar net een van daai dinge.

SONDAG 10 OKTOBER 2021

“Ek is hartseer.”

As jy kies om te wees. (En tog voel dit gepas in sekere omstandighede.)
[Donderdag 11 November 2021]

______________________

Is dit moontlik vir ’n fundamenteel slegte idee om breë ondersteuning te ontvang?

DINSDAG 5 OKTOBER 2021

Ek sien ’n satiriese grappie op Twitter in die vorm van ’n opskrif: “Parents who think that their children don’t belong to the State are dangerous, explained.”

Natuurlik sal meeste mense nie hierdie idee aanvaar nie (reg?), en die opskrif self is van ’n nie-bestaande webwerf met opgemaakte satiriese opskrifte. Tog, as so ’n artikel op hoofstroom media soos CNN of BBC sou verskyn, wed ek jou ten minste 20% van lesers sal die idee ondersteun.

Stel jouself voor die redakteur van die aanlyn media wat so ’n artikel publiseer. Die persoon glo werklik in die konsep dat kinders aan die staat behoort. Die persoon is daartoe verbind om hierdie idee te bevorder.

Verbeel jou nou hierdie redakteur is nie alleen nie. Honderde ander redakteurs, joernaliste, verslaggewers en aanbieders by hoë-profiel media stem saam met hierdie persoon.

Stel jou nou voor dat duisende akademici ook die idee ondersteun. So ook TV- en filmsterre, en ander bekendes – sodra dit oortuigend genoeg geraam is as “progressief”.

Ouers wat glo dat hulle die reg het om hul kinders op te voed en groot te maak soos hulle goeddink, en dat húl regte seëvier oor enige aanspraak wat die staat het oor hulle nageslag, word in honderde TV-programme, geselsprogramme, akademiese joernale, en koerant- en tydskrifartikels beskryf as “tradisioneel”, “ondraaglik konserwatief”, “radikaal” en selfs “fundamentalisties”. Omdat die idee dat kinders aan die staat behoort as koel en progressief voorgehou word, steun tieners toenemend die idee, en beïnvloed op tydlose wyse hulle jonger broers en susters om dieselfde te doen.

En tog, is die idee goed? (Onthou: die idee dat die staat jou kinders opeis, is net ’n nuttige voorbeeld.)

Is dit moontlik vir ’n fundamenteel slegte idee om breë ondersteuning te ontvang onder diegene met die kragtigste stemme, wat toegang het tot miljoene mense se koppe deur sosiale media en opvoedkundige ruimtes? En hoeveel miljoene kykers en lesers sal so ’n idee ondersteun bloot omdat dit op gunstige wyse aangebied word?

______________________

Media en ander stemme beïnvloed die publiek

______________________

Ek is nie ’n wêreldbekende popster nie (maar ek het daarin geslaag om ’n bromponie-lisensie te kry)

VRYDAG 24 SEPTEMBER 2021

Elon Musk is een van die bekendste mense in die wêreld, word beskou as ’n inspirerende kulturele ikoon, en sy besigheidsprojekte het hom sover miljarde dollars in die sak gebring. Hy’s gebore in dieselfde jaar, in dieselfde maand, in dieselfde week, in dieselfde stad as ek.

Dexter Holland van The Offspring is ’n suksesvolle popster. In 2017 het hy ook sy PHD gekry in Molekulêre Biologie. Hy’t ook sy eie besigheid begin wat warm souse verkoop – gemaak volgens sy eie resepte. Hy’t ook ’n vlieglisensie.

Die ou van Pizza Rock het in 2000 in Taiwan aangekom – een jaar na my. Hy was al oral in Taiwan – in sy eie woorde het hy al elke pad, hoofweg, en stofpaadjie in die berge platgery. In 2011 (selfde jaar as ek) het hy getrou. Hy en sy vrou het besluit hulle wil ’n besigheid begin. Geen ervaring gehad het met restaurante nie, maar besluit tog om ’n pizza-plek te begin. Italië toe gegaan vir ’n paar weke, baie pizza geëet, vrae gevra, en geleer wat om te doen. Terug in Taiwan het hy sy eerste pizza gemaak in ’n Costco-oondjie. Die aand voor die Grand Opening het hy gereken dit sal goed wees om te kyk hoe die kommersiële oond werk wat vroeër die dag afgelewer is. Die eerste poging was ’n totale mislukking. Tog, die volgende dag het hulle oopgemaak en alles het goed uitgewerk. Hulle het onlangs hulle 27ste restaurant oopgemaak. Drie jaar voor hy sy eerste restaurant oopgemaak het, het hy ook ’n populêre webwerf begin met dosyne interessante artikels oor Taiwan.

Ek?

Ek wou uitwerk wie ek is of moes wees. Ek wou uitwerk wat die storie is met godsdiens, en met etiek sonder godsdiens. Ek wou uitwerk hoe ’n mens betekenis in jou lewe ervaar. Ek wou uitwerk wat ’n mens moet doen om gelukkig te wees, oftewel, wat mense wat geluk in hulle lewe ervaar, reg doen wat mense wat nie geluk in hulle lewens ervaar nie, nié doen nie, of verkeerd doen. Ek is tevrede met die antwoorde wat ek uitgewerk het. Omdat ek sorgvuldig aantekeninge gemaak het van die proses, het ek honderde stukke publiseerbare teks – wat ek reeds in verskeie formate beskikbaar gestel het vir ander mense om te lees. Soms lees ander mense dit. Ek reken verder dat mislukkings en suksesse van die laaste dekade of twee, asook gedagtes oor ander onderwerpe, my genoeg materiaal gegee het vir ten minste nog twee of drie bundels.

Ek is nie ’n wêreldbekende popster nie. Niemand gaan eendag Mars toe gaan danksy my harde werk en vernuf nie. Ek het nie ’n doktorsgraad nie, nie ’n vlieglisensie nie, en ek het nie my eie sous-resepte uitgedink nie. Ek het ook nie in my meer as twee dekades in Taiwan ’n suksesvolle besigheid begin wat honderde mense van werk en duisende mense van lekker kos voorsien nie. Soos die ou van Pizza Rock, het ek ook ’n webwerf met ’n Taiwan tema. Daar’s egter nie veel van waarde op nie, en word min besoek.

O ja, ek het darem onlangs na drie pogings ook daarin geslaag om ’n bromponie-lisensie te kry. En – ek maak weekliks my eie granola.

______________________

Selfs die wreedste gedrag en die mees sinnelose beleid kan regverdig word

DINSDAG 21 SEPTEMBER 2021

15:00

Iemand sit ’n bord met wat veronderstel is om iets eetbaar te wees voor jou neer.

Jy kyk na die bord, en probeer uitwerk wat dit is.

“Hierdie is nie ’n piesang nie,” verklaar jy dan. “Dis nie ’n stuk vleis nie. En dis definitief nie ’n aartappel nie. Ek weet nie wat dit is nie, maar as mense beweer dis ’n piesang, ’n stuk vleis, of ’n aartappel, is hulle beslis besig om jou ’n rat voor die oë te draai.”

[kliek hier om die twiet te sien indien dit nie laai nie]

Is al hierdie mandate en regulasies deel van ’n bose komplot om gewone mense te reguleer met ’n al swaarder-drukkende yster-duim? Ek weet nie. Maar dit raak toenemend duidelik dat dit nie gaan oor Covid-19, of mense se gesondheid nie.

15:12

Die Nazi’s het dit in akademiese werke op universiteit, preke in die kerk, lesse op skool, en in toesprake regverdig en duidelik uiteengesit hoekom Jode van hulle Duitse burgerskap ontneem moet word, en hoekom die regering uiteindelik … ’n plan moet maak met hulle.

Die Sowjet-regering het vir dekades regverdig hoekom andersdenkendes in die tronk gegooi moes word, weggestuur moes word in ballingskap, of tereggestel moes word as vyande van die staat.

In Suid-Afrika het wit regerings vir dekades die publiek oortuig dat Apartheid die enigste oplossing is vir Suid-Afrika se rasse-aangeleenthede. Dominees het dit aan gemeentes regverdig uit die Bybel uit, en onderwysers het dit verduidelik aan skoliere.

In Mao Zedong se China in die sestigs en vroeë sewentigs kon tieners met rooi boekies in hulle hande regverdig hoekom onderwysers verneder moes word, en hoekom dit absoluut noodsaaklik was om mense se deure af te skop in die middel van die nag om te soek vir Westerse musiekinstrumente en boeke wat die rewolusie kon ondermyn.

Feit is, enige iets kan regverdig word. Woorde is uiters bruikbare middels om net mooi enige iets te spin dat verkeerd reg lyk, en reg verkeerd.

Wees bewus van wat jy sê. Verwoord, as ’n saak van beginsel, die ander kant se argument op ’n manier dat daai persoon moet erken jy verstaan dit reg.

Kan dit nie doen nie, of doen dit nie omdat een of ander krisis dit tans nie toelaat nie? Dan’t ek slegte nuus vir jou: Jou opponent dink ook verskonings uit hoekom jóú argument dit nie werd is om behoorlik oorweeg te word nie.

Vind jy verder dat jy toenemend dink aan jou ideologiese opponent as ’n karikatuur, nie iemand met ’n komplekse persoonlikheid en drome en vrese net soos jy nie? Raai wat? Aan die ander kant van die skeidslyn is daar mense wat ’n soortgelyke karikatuur maak van jou.

______________________

My lewe op die trein

DONDERDAG 1 JULIE 2021

Ek het jare gelede met myself ’n ooreenkoms aangegaan. Soos ’n wese van die buitenste ruim wat hier gelos is deur sy ruimteskip, of soos ’n persoon gestrand op ’n verlate eiland, sal ek die beste maak van my tyd: Ek sal aantekeninge maak oor die ervaring.

VRYDAG 16 JULIE 2021

Feit is, aan die einde keer alles terug tot stof. Meeste kunswerke, meeste meesterstukke van literatuur, beeldhouwerk, argitektuur, musiek, skoonheid en wysheid. En mense, en diere.

En ek sê dit as iemand wat glo dit maak meer sin om optimisties te wees, om te glo jou lewe het waarde en betekenis.

[15/06/22: Stof, in die digitale era waar alles vir altyd onthou en gestoor word? Fisies sal mense en diere, en gedrukte materiaal en geboue en skilderye uiteindelik oplos in die niet, maar oudio- en video-opnames en digitale kopieë en bloudrukke sal voortbestaan. Steeds, jy is meer as ’n versameling foto’s of videogrepe of klankopnames. En sodra ’n gebou gesloop is, sal die bloudruk nie meer ’n plek wees om in te woon nie, of steeds ’n warm of koel en aangename ruimte bied om in te rus of te werk nie.]

DINSDAG 7 SEPTEMBER 2021

Die menslike toestand is soos ’n wegholtrein wat onstuitbaar op pad is na ’n krans wat uitkyk oor ’n stormagtige see [dalk was daar voorheen ’n brug wat intussen weggespoel het].

Jou lewe is om ’n passasier op hierdie trein te wees.

Die trein sál die krans bereik. Dit kan nie gestop word nie. Die einde kan nie vermy word nie.

Maar – dit kan jare neem.

Intussen gaan die lewe voort op die trein. Mense het sosiale omgang, maak nuwe vriende en ontmoet lewensmaats. Hulle paar en maak kinders groot. Soms is hulle hartseer, en soms gelukkig. Meeste vind tot ’n mate doel en betekenis in hul lewens.

Maar steeds gaan die trein voort na sy onvermydelike einde.

Hoe jy op hierdie realiteit reageer, het ’n groot impak op jou lewenskwaliteit, en op die impak wat jy het op die lewens van ander passasiers op hierdie trein.

———-

(Vir jare al dink ek aan die 1985-film, Runaway Train, met Jon Voight en Eric Roberts, as ’n metafoor vir die lewe. Die beeld van die Voight-karakter wat teen die einde van die film voor op die trein staan, wetende dat dit afstuur op ’n rotsagtige dooiepunt, het ’n groot indruk gemaak.)

Runaway Train

______________________