Een van die dinge verkeerd met die wêreld

DONDERDAG 17 FEBRUARIE 2022

Op ’n stadium was daar mense wat reg en korrek ingelig was oor ’n onderwerp, en wat ’n logiese argument kon maak om te bewys hulle is aan die regte, of redelike, kant van die saak, en daar was mense wat verkeerd en oningelig was oor die saak, en wat beledigend sou wees om te verdoesel dat hulle nie in staat was om ’n logiese, redelike argument te maak nie.

In reaksie teen die absurde, oningeligte stellings wat die een kant sou maak, sou die ingeligte, redelike kant soms hulle koppe skud, hulle gesigte in hulle hande druk, en dinge sê soos, “Hierdie mense sal enige iets glo.”

Toe gebeur daar ’n verskriklike ding: Die oningeligte mense wat nie ’n logiese argument kon maak om hulle posisie te verdedig nie, het die reaksies en gedrag van die ingeligte, redelike mense begin na-aap. Wanneer ’n ingeligte, redelike persoon nou feite staaf en ’n logiese argument uiteen lê, skud die oningeligte, onredelike persoon ook sy kop, en plant so nou en dan sy gesig in sy handpalm. En, soos ’n papegaai wat nie regtig die klanke verstaan wat hy uiter nie, sal ook hy soms sê: “Hierdie mense sal enige iets glo.”

Saterdag 26 Februarie 2022

Ook hierdie:

Persoon A bied aan ’n omvattende, sinvolle argument met kaarte, grafieke, verifieerbare feite, datums, direkte aanhalings wat bevestig kan word.

Persoon B: “Dis propaganda! Jy’s duidelik ’n marionet van [die leier van die vyand]! Ha-ha! Moenie vir my sê jy glo nog daai storie nie! Ha-ha! Hierdie mense sal enige iets glo …”

______________________