Verantwoordelik, maar in staat tot iets

VRYDAG 25 FEBRUARIE 2022

Vanoggend weer herinner aan ’n goeie “mind hack” wat ek ’n paar jaar gelede geleer dat. As jy verantwoordelikheid aanvaar vir iets waarvoor ’n redelike argument gemaak kan word jy werklik skuld dra, stuur dit ’n boodskap aan die onderbewuste: “As iets jou skuld was, is jy in staat daartoe om so iets te laat gebeur. En as jy in staat was daarin om dit te laat gebeur, is jy moontlik in staat daartoe om dit te verhoed, of te vermy. Dalk het jy dit nie hierdie keer gedoen nie omdat jy simpel of onnosel, of onverantwoordelik of roekeloos was. Maar jy is in staat daartoe. En as jy in staat is daartoe, het jy die keuse om volgende keer harder te probeer, of om beter te doen. Of jy het die keuse nóú om jou gedrag te verander om dit volgende keer te verhoed, of om jou vaardigheid te verbeter om dit volgende keer te vermy. Jy is in staat.”

Oorweeg die teenoorstaande. “Dit was nie my skuld nie,” wanneer ’n redelike argument gemaak kan word dat jy, in werklikheid, ten minste medeverantwoordelik daarvoor was. Dit stuur die boodskap aan die onderbewuste dat jy dit nie kon vermy of verhoed nie. Jy was ’n slagoffer van ’n situasie buite jou beheer, of van iemand anders se gedrag. Jy was nie in staat daartoe om die situasie te verbeter, of die gevolge te minimaliseer nie. Jy is nie in staat nie. Jy is, min of meer, magteloos.

______________________