Gunsteling winkel, die Ngo-broers, oorlogdokumentêre, en ’n paar ander gedagtes

Week 22, 2020

MAANDAG 25 MEI 2020

Ek gee nie juis om vir IKEA meubels en ander huishoudelike items nie. Dis oukei – ek sal iets koop as ek dit nodig het. Wat my aantrek – en, moet ek tot my verleentheid erken, ’n paar keer elke maand, is die gevoel dat ek in ’n ander land is.

Orals op die mure en op die plakkate sien jy onuitspreekbare vreemde woorde. Al die produkte het Sweedse name. Die meubels word vertoon in hoekies wat net sowel ’n sitkamer of slaapkamer kon wees in ’n woonstel in Stockholm.

Dan is daar die kafeteria: slaaie, ’n verskeidenheid soet terte, frikkadelle, braaihoender, visvingers, lasagne, dik sop.

En net voor jy uitstap by die plek, is daar een laaste geleentheid om jouself te verbeel jy’s in Europa: die supermark met vars brood, koffiebone, gevriesde heel stukke groente, soet lekkers, koekies wat jy in geen supermark in Taiwan sal vind nie.

Om opgewonde daaroor te wees om IKEA toe te gaan, is seker so gesofistikeerd soos iemand wat gretig is om aandete by McDonald’s te gaan eet. Ten minste een persoon het al hulle neus opgetrek toe ek erken dat dit een van my gunsteling dinge is om te doen op ’n naweek. Maar nou ja – sekerlik het almal ’n reg tot ’n paar swakhede, of hoe?

DINSDAG 26 MEI 2020

Die Ngo broers – die president, Ngo Dinh Diem, en sy broer, Ngo Dinh Nhu – wat Suid-Viëtnam regeer het tussen 1955 en 1963 is ’n goeie voorbeeld van wat uitgerig kan word as jy selfvertroue het. Hulle het geglo hulle kan die agterlike voormalige kolonie van Suid-Viëtnam transformeer in ’n moderne staat – sekerlik nie demokraties nie, en kapitalisties solank hulle en hulle bondgenote kon ryk word daaruit.

Punt is, hulle het geglo in hulle vermoë om hierdie transformasie deur te voer van ’n staat met ’n bevolking van ongeveer twaalf miljoen mense. En hulle het elke dag werk gemaak daarvan om dit ’n realiteit te maak. Hulle was suksesvol genoeg in hierdie ambisie om hulle posisies van aansienlike mag te bekom, én om daaraan vas te klou vir amper ’n dekade.

’n Oorsigtelike studie van die broers se bewind maak dit duidelik dat hulle sonder genade regeer het, en dat hulle nie twee keer gedink het om een mens, dosyne mense, of duisende mense uit te wis wat hulle posisies bedreig het nie. Om te sê dat hulle talle vyande gemaak het, is om dit sagkens te stel. Die twee broers was vol selfvertroue, maar hulle het hulle hand oorspeel. Hulle was soos twee spelers in ’n hoë-risiko pokerspel wat speel met geld wat hulle geleen het by die gevaarlikste rampokker in die stad. Solank hulle gelukkig was, slim gespeel het, en bly wen het, was alles reg. Sou hulle een fout maak, was hulle dood.

En een fout is wat hulle gemaak het in Oktober en die begin van November 1963. Hulle het geweet van verwikkelinge om van hulle ontslae te raak in ’n staatsgreep. Hulle het gedink hulle kan weer mense vertrou wat hulle voorheen vertrou het. En toe, op die aand van 1 November en die oggend van 2 November 1963, het die aaklige realiteit wat hulle geskep het, hulle ingehaal. Enkele dae tevore het hulle nog gedink en geglo aan hulle persoonlike mag om mense te hiet en gebied. Op Saterdagoggend 2 November, met hulle hande geboei agter hulle rûe, sittende op lae bankies agter in ’n gepantserde personeeldraer, is hulle gekonfronteer met die anderkant van die wraaksugtige, wrede realiteit wat hulle geskep het.

St. Francis Xavier Katolieke Kerk, waar die president en sy broer gearresteer is op 2 November 1963
Die lyk van Ngo Dinh Diem agter in die gepantserde personeeldraer

* * *

Ek wou eers sê, hulle het gedink hulle kon hierdie groot ding doen, maar hulle was verkeerd. Maar dis die verkeerder manier om daarna te kyk. Hulle het geglo hulle kan ’n reuse projek suksesvol behartig. Hulle het skynbaar nie twee keer gedink aan die gevolge van die metodes wat hulle gevolg het nie. Of hulle het, maar hulle het gedink hulle kan tot die suksesvolle afhandeling van hulle projek al die magte wat saamsweer teen hulle, ondermyn en uitoorlê. In daai opsig het hulle hul vermoëns oorskat. Maar hulle het ook misreken watse realiteit hulle besig was om te skep met die aansienlike magte en talente wat hulle wel gehad het.

WOENSDAG 27 MEI 2020 @ 13:19

Vir lesers met ’n belangstelling in die Viëtnam Oorlog, kan ek twee dokumentêre films aanbeveel.

Die eerste is ’n 1974-produksie getiteld, Hearts and Minds. Die film het die Oscar gewen in 1975 in die kategorie vir Beste Dokumentêre Films. Wat ek persoonlik interessant vind, is die feit dat die film gemaak is in 1974 – die jaar nadat Amerika onttrek het uit Suid-Viëtnam, maar ’n jaar vóór die oorlog tot ’n einde gekom het met die val van die Suid-Viëtnam regering. Daar was dus nog nie veel tyd om die impak te oorweeg wat die oorlog gehad het, en nog sou hê, op die psige van jong mans wat betrokke was in die oorlog, en op die psige van die Amerikaanse nasie nie. Onderhoude is gevoer met soldate wat aanvanklik geglo het in wat die regering hulle vertel het, maar wat sedertdien tot ander insigte gekom het. Daar is ook onderhoude met soldate en regeringsamptenare wat steeds geglo het in die saak, en probeer het om te verduidelik hoekom al die opoffering en lyding geregverdig was.

’n Volle weergawe van die film is beskikbaar op Youtube:

Die tweede film is ’n reeks van tien episodes op Netflix met die titel, The Vietnam War. Die episodes is tussen negentig minute en twee ure lank – wat jou gee meer as vyftien ure se filmmateriaal en onderhoude oor die oorlog. Die reeks dek alles van Frankryk se nederlaag by Dien Bien Phu in 1954, tot by Amerikaanse veterane wat jare na die oorlog terugkeer na Viëtnam om brood te breek met ou vyande. Verskillende aspekte van die oorlog en die historiese periode word gedek, en talle onderhoude word gevoer met Amerikaanse veterane, oud-joernaliste, mense wat betrokke was aan regeringskant, en met Viëtnamese wat gewone soldate of offisiere was aan beide kante van die oorlog.

Indien jy inteken op Netflix, is dit beslis die moeite werd om te kyk.

DONDERDAG 28 MEI 2020

Twee gedagtes:

Die omgewing waarin jy jou bestaan voer; stres by die huis, by die werk, en in ander areas van jou lewe; wát jy inneem as spys en drank, en die hoeveelheid daarvan. En terloops, dit gaan nie daaroor om noodwendig te leef tot 80 eerder as 65 nie. Dit gaan oor die kwaliteit van jou lewe. Al leef ek net tot op 65-jarige ouderdom, maar ek is in relatief goeie gesondheid tot dan, sal dit beter wees as om te leef tot 80, maar die laaste 30 jare is vol kwale en skete.

* * *

Hoekom wil soveel mense leef in 1970’s Tsjeggo-Slowakye, of nog erger, in Stalin se Sowjet-Unie? Omdat hierdie mense die sekerheid van reëls en regulasies begeer. Hulle wil weet wat hulle mag en nie mag sê nie. Hulle wil ook baas kan speel oor ander mense, en vir daai mense kan voorskryf – met die steun van die staat – wat húlle mag en nie mag sê nie. Daar is ook mense wat graag hallusineer dat hulle doen wat hulle doen ter wille van minderbevoorregtes en “underdogs”, dit terwyl hulle kwesbare mense se lewens verwoes omdat hierdie mense kwansuis teen die “rewolusie” is.

VRYDAG 29 MEI 2020

Besluit jy’s gelukkig, en neem aksies om dit werklik te maak – elke dag.

______________________