Simulasie, dinge verander, twee broers, selfvertroue, en ’n boereoorlog

Week 20, 2020

MAANDAG 11 MEI 2020

Daar’s hierdie teorie wat al vir jare rond sweef in slim en verbeeldingryke mense se koppe, naamlik dat ons en die wêreld wat ons bewoon, deel is van ’n kunsmatige simulasie – soos in ’n video-speletjie, of soos in die film, The Matrix.

RedPilledAmerica.com beskryf hulleself as ’n potgooi-reeks wat fokus op stories. Die idee is dat elke episode ’n vraag stel, en dat die antwoord dan gesoek word in die stories van alledaagse mense. In Episode 62, getiteld, “Let There Be Light” vra hulle die vraag of wetenskapfiksie ons nader aan God kan bring.

Die episode is omtrent sestig minute lank, en werklik werd om te luister. Die simulasie teorie word uiteengesit, en daar word verwys na stellings gemaak deur mense soos Richard Dawkins, Elon Musk, en Scott Adams. Die wetenskapfiksieskrywer, Philip K. Dick, wie se kortverhale Hollywood films soos Blade Runner (1982), Total Recall (1990, 2012), Minority Report (2002), en The Adjustment Bureau (2011) geïnspireer het, kry ook spesiale vermelding.

Wat is my opinie oor die idee dat ons dalk in ’n kunsmatige simulasie woon? Dit sal verduidelik hoekom ons woon in ’n wêreld waar alles beplan blyk te wees – die oë van die vlieg, die stert van die luiperd, die manier hoe sommige seekatte van kleur verander. Goed, wetenskaplikes verduidelik dit met die konsep van ewolusie, maar steeds – daar is duisende voorbeelde wat ’n mens kan noem waar ontwerp, ten minste in die oë van die gemiddelde nie-wetenskaplike persoon, na die meer waarskynlike verduideliking lyk. Beteken dit dat gelowiges reg is oor ’n godheid? Dis nie ’n eenvoudige vraag nie: Daar is immers ’n wye golf tussen die idee van ’n skepper, of skeppers van die simulasie, en die spesifieke mitologie agter verskillende gode. Sal ’n simulasie beteken dat daar tog ’n beplande doel is agter ons bestaan? Die moontlikheid is sekerlik daar. Sal dit steeds beteken dat ons vrye wil het, dat ons steeds skeppers van ons eie lewens is, of sal dit beteken dat ons lewens uitgewerk en vooruit beplan is deur die skeppers van die program? Na hierdie vraag toe sal ek moet terugkom.

DINSDAG 12 MEI 2020

Voel dit vir jou ook asof hierdie jaar stadiger verbygaan as ander jare? Ek is elke keer verbaas daaroor as ek dink hoeveel weke of maande van hierdie jaar nou maar agter ons lê.

Dat die wêreld wat ons geken het, tot ’n einde gekom het, het sekerlik iets daarmee te make.

’n Kort vier en ’n halwe maande gelede het miljoene mense immers nog planne gemaak om na ander lande te reis om plekke en kulture te ontdek, of om te gaan studeer in wat ’n ervaring sou gewees het wat hulle sou gevorm het vir die res van hulle lewens. Nou het weke al verbygegaan sedert miljoene kinders laas in ’n klaskamer gesit het. Die olie-prys het geval tot ’n negatiewe syfer, onder andere omdat die aanvraag na brandstof geval het na ’n fraksie van wat dit was verlede jaar. Dit beteken jy kon nou jou kar vol maak en ’n paar dae deur die platteland gaan ry – as jy toegelaat word om jou huis te verlaat. Dit behoort ook te beteken dat vliegtuigkaartjies goedkoper moet wees as wat dit was in jare, so jy kon dalk uiteindelik daai reis vat waarvoor jy al vir jare droom … net jammer dosyne lande het hulle grense gesluit vir buitelandse besoekers. In duisende stede in die wêreld is winkels, haarsalonne en restaurante gesluit. Mense word deur die polisie verjaag uit openbare parke omdat die regering hulle beveel het om by die huis wees.

In die noordelike halfrond maak mense gereed vir ’n paar maande van warmer weer en sonskyn. In die suidelike halfrond is die komberse en jasse en serpe klaar uit. Tyd stap aan, stadig.

En tog, hoe vinnig verander dinge nie.

WOENSDAG 13 MEI 2020

Gabriel Voisin is gebore op 5 Februarie 1880 in Belleville-sur-Saône, Frankryk. Sy broer, Charles, is gebore twee jaar later. Toe hulle pa hulle verlaat, het hul ma, Amélie, met hulle getrek na Neuville-sur-Saône, waar hulle oupa ’n fabriek gehad het.

Die twee broers het die buitemuurse lewe geniet – hulle het ekspedisies langs die rivier onderneem, vis gevang, en allerhande toestelle gebou.

As jong man het Gabriel industriële ontwerp studeer, en saam het die twee broers nog meer geëksperimenteer – onder andere ’n geweer gebou, ’n stoomboot, en ’n tipe motorkar.

Gabriel, met die hulp van sy broer Charles, was verantwoordelik vir die ontwerp en bou van die eerste Europese bemande, enjin-aangedrewe, swaarder-as-lug vliegtuig wat ’n volgehoue, sirkelvormige beheerde vlug kon handhaaf vir ten minste een kilometer. Die historiese vlug was op 13 Januarie 1908.

Na ’n lang en welvarende lewe het Gabriel op die ouderdom van tagtig afgetree na sy huis op die platteland, en sy memoirs geskryf. Hy is oorlede op Kersdag 1973 op die ouderdom van 93.

Sy jonger broer het ’n aansienlik korter, en minder welvarende lewe gehad. ’n Paar jaar na die historiese vlug, op 26 September 1912, het Charles Voisin gesterf in ’n motorongeluk. Hy was dertig jaar oud.

DONDERDAG 14 MEI 2020

Naby die vegetariese buffet plek, in ’n stegie agter die afdelingswinkel, staan ’n afleweringstrok. Besig om die aflaai te behartig, is ’n man in ’n skelrooi T-hemp met, op die voorkant, die woorde:

“Born to be Top Gun”

Ek het nie ’n probleem met somtyds absurde vlakke van selfvertroue nie, dink ek. Mens kan selfs argumenteer dat dit sin maak in ’n wêreld met soveel onsekerhede.

Tien minute later ry ek dieselfde pad terug huis toe. Die trok staan steeds in die pad. Die man staan nou ’n sigaret en rook. Dié keer vang ek die agterkant van sy rooi T-hemp:

“Never give up until the end of the world”

’n Redelike sentiment, dink ek dié keer.

VRYDAG 15 MEI 2020

Nodig om te noem dat die Slag van Frankenhuisen plaasgevind het op hierdie dag, 495 jaar gelede.

Op 15 Mei 1525 het ’n paar duisend swak gewapende kleinboere en dorpsburgers onder leiding van die prediker en radikale teoloog, Thomas Müntzer, ’n leër van paar duisend professionele huursoldate onder leiding van Philip van Hesse, en George die Bebaarde van Sakse, ontmoet op die slagveld in Thuringia, in sentraal-Duitsland.

In sy pamflet, Teen die Moorddadige, Rowende Hordes Kleinboere, het Martin Luther die adellikes aangemoedig om die rebelse kleinboere te vernietig met spoed en geweld. Hy’t onder andere geskryf dat die kleinboere “opgesny, verwurg, en gesteek moet word, beide in die geheim en in die openbaar, deur enige een wat die vermoë het om dit te doen, soos een moet doen met ’n siek hond”.

Met sulke aanmoediging kon die kleinboere seker nie veel genade verwag het op die dag nie. Duisende van hulle is afgemaai, en hulle leier is gevange geneem, gemartel, en tereggestel. Onder die professionele leërs van die adellikes was daar slegs ses ongevalle, waarvan twee slegs gewond was.

Teen September 1525 het militêre konflik en strafekspedisies tot ’n einde gekom. Die Duitse Boereoorlog was verby.

Die teregstelling van “Kleine Jack” Rohrbach, een van die leiers van die kleinboere gedurende die oorlog. “Kleine Jack” was die leier tydens die Slagting van Weisberg, toe die kleinboere dosyne adellikes vermoor het. Dit was blykbaar hierdie gebeurtenis wat Luther geïnspireer het om sy pamflet, Teen die Moorddadige, Rowende Hordes Kleinboere, te skryf.

____________________