Kruideniersware, irriterende karakters, boeke, self-kritiek, en ’n model van ’n ou dorp

Week 18, 2020

MAANDAG 27 APRIL 2020

Siende dat ek nog skaaf aan my virus-leeslys, iets meer alledaags …

Ek het sopas teruggekom van die supermark. Ek het vertrek, te voet, ongeveer twintig minute voor tien. Orals was mense. Sommige het skoene aangepas in die skoenwinkel, ander het winkels toegemaak. Op die een hoek was mense besig om sakke in die rommeltrok te gooi. Op die volgende hoek het groepies mense binne en buite die Family Mart gesit en kuier. Hier en daar ’n ouer met ’n kind aan die hand. Op die volgende hoek, by die vierde van tien oos-wes strate wat kus toe loop in Kaohsiung, het ek links gedraai.

Die supermark was nog besig. In die vrugteseksie het ek twee appels gekies vir ons ontbyt môre-oggend. By die yskas met suiwelprodukte het ’n vrou my beleefd in Engels gevra om vir haar twee boksies lae-vet bruinrysmelk van ’n hoë rak af te haal. Ek het kort daarna my gewone bottel drinkbare jogurt raakgevat, en op pad om te betaal onthou dat ek ook hawermout nodig het.

By die betaalpunt was die enigste kliënt voor my ’n jong man met tatoeëermerke op sy arms en bene. Hy het betelneut gekou, en betaal vir sy dosyn biere met ’n vars NT$1,000-noot.

Ek het soos gewoonlik betaal vir my goedere met korrekte kleingeld, en rustig die twaalf minute teruggestap huis toe.

DINSDAG 28 APRIL 2020

Van so elfuur in die aande is dit TV-en-versnappering-tyd in ons huishouding. TV beteken deesdae meestal Netflix. En omdat ek ’n patologiese onvermoë het om vinnig keuses te maak, kyk ons reekse eerder as films.

Ons het verlede jaar begin met ’n Kanadees-Amerikaanse reeks oor tydreisigers genaamd, Travelers. Toe kyk ons ’n Duitse reeks, ook oor tydreis, genaamd Dark. Toe volg al die seisoene van Big Bang Theory. Daarna het ons ’n Franse reeks gekyk oor ’n man wat ontdek dat ’n houer wat iemand verkeerdelik by sy huis afgelewer het, ’n opening is na sy eie verlede – ook donker, maar nie so donker soos die Duitse reeks waar mense ’n portaal ontdek het in ’n grot buite die dorp nie. Ons het onlangs ook die Oostenryk-Duitse reeks Freud gekyk. Die laat negentiende-eeuse historiese en politieke agtergrond was natuurlik hoogs interessant, maar die geskiedenis en die ietwat fiktiewe doen en late van die jong dokter Freud is nie almal se koppie tee nie.

Die reeks wat ons tans deurwerk, is ’n vroeë 2000’s reeks oor ’n ma en dogter in ’n dorp op die Amerikaanse platteland.

Hier’s die ding: Ek het gevoelens oor die hoofkarakter – die ma. Sy’s veronderstel om simpatie te ontlok as enkelmoeder en sterk vroulike figuur, maar sy slaag met amper elke episode om ten minste hierdie kyker meer en meer te vervreem. (Ek praat nou van die karakter, nie die aktrise wat die karakter baie goed vertolk nie.) Ek het eers gedink dis net ek wat dink daar’s iets verkeerd met die vrou, maar ’n joernalis het destyds die karakter van “Lorelai Gilmore” beskryf as “narcissistic and at times emotionally unstable, with strains of sociopathy.” ’n Skrywer op ’n populêre webwerf het verwys na haar “intense, overwhelming self-absorption”, en dat sy ongeskik is met mense maar altyd spesiale behandeling verwag. Dan is daar haar verhoudings. Sy en die eienaar van ’n plaaslike restaurant het duidelik ’n goeie konneksie, maar sy ignoreer dit en knoop eerder ’n string verhoudings aan met mans oor wie sy nie naastenby so ernstig is soos hulle oor haar is nie. Sy raak selfs verloof aan die een ou. Toe dit duidelik raak dat sy bloot wil uitprobeer hoe dit voel om op trou te staan, los sy hom – enkele dae voor die troue. ’n Jaar of so later is sy teleurgesteld dat hy skynbaar te vinnig oor sy gebroke hart gekom het. En sy praat onophoudelik; sy’s ligsinnig, en ongelooflik selfsugtig. Sy maak my mal! Die skeppers van die karakter verdien ’n applous. Hulle kon immers gegaan het vir ’n onderontwikkelde, maar veiliger karakter.

Elk geval, dis tyd vir my laataand koppie tee, en nog ’n episode van Gilmore Girls.

WOENSDAG 29 APRIL 2020

Ou lesers sal weet die stukkies teks wat ek sedert verlede week produseer, is nie my eerste literêre pogings nie. Maar vir die vyf of ses nuwe lesers wat nog nie sover gekom het om na ouer stukke te kyk nie, het ek besluit om ’n vinnige oorsig te gee oor die sewe bundels wat ek gratis beskikbaar gestel het in 2017 en 2018.

Die eerste bundel was In die greep van ketters – of Die Christen, ’n bundel oor religie, argumente teen fundamentalisme, en opsies vir die ongelowige. Nie tafel, hond of potlood nie gaan oor identiteit en ander vrae oor ons bestaan. Tyd vlieg nie regtig nie is ’n versameling van stukke oor onderwerpe wat nie ’n hele bundel op hul eie kon vul nie. Die werklike, of nie-werklike doel van ons bestaan gaan, soos die titel suggereer, oor die potensiële hoekoms van ons bestaan. In Solank jy staande bly poog ek om die leser te oortuig dat dit beter is om staande te bly, en as jy struikel, om weer op te staan. Die titel van die volgende bundel, Die noodsaaklike onaangenaamheid, ontbloot my gevoelens op ’n stadium oor die noodsaaklikheid om geld te maak. Die volwasse lewe handel oor my beskeie pogings om te oorleef en te floreer met die uitdagings wat meeste volwassenes in die gesig staar. Bundel 8 – Oor skryfwerk en die skrywer is nog in die pyplyn, maar amper gereed.

Soos ek vermeld het, is die bundels gratis beskikbaar in PDF by Archive.ORG. Vir in geval jy ’n gedrukte kopie begeer, of dit op jou Kindle wil lees, kan jy dit aanskaf by Amazon.COM. Daar’s een of twee veranderinge wat ek nog wil aanbring, en as ek eerlik moet wees, het die inleidings nog werk nodig, maar dis nietemin beskikbaar soos dit is.

DONDERDAG 30 APRIL 2020

[Aanvanklik net ’n nota vir myself. Ek moes geweet het die stuk gaan word nog ’n rondte openbare self-kritiek.

Vinnige verduideliking: Honderde-duisende mense plaas daagliks weddenskappe op perderesies in Brittanje. Betfair.com voorsien ’n platform waar mense weddenskappe plaas, maar ook waar mense pryse kan aanbied wat beter is as wat elders gevind kan word. Hierdie koop-en-verkoop van pryse vind vinnig genoeg plaas, veral in die laaste vyf tot tien minute voor ’n wedren begin, en teen groot genoeg volumes – soms meer as ’n miljoen dollar per resies, dat mens geld kan maak deur die pryse te verhandel, soos in ’n aandelemark. Hierdie proses staan bekend as “pre-race trading”.]

Amper drie jaar het al verbygegaan, en om eerlik te wees het ek nog nie verwerk wat verkeerd gegaan het met my eens belowende pre-race trading projek nie.

Ek was teen 2013 bewus daarvan dat ek oor die vorige paar jare nie daarin geslaag het om lank genoeg te fokus op een projek om ’n stabiele inkomste daaruit te genereer nie. Ek was reeds vir ’n geruime tyd geïnteresseerd daarin om geld te maak uit sport en statistiek, en het gelees van mense soos Paul Shires van TradeShark wat Betfair trading ontdek het in 2008, en teen 2010 sy werk ge-quit het om voltyds pryse te verhandel op tenniswedstryde. Teen die begin van 2014 het ek Caan Berry se PDF oor pre-race trading gelees, en hoewel ek glad nie beïndruk was met die kwaliteit van die handleiding nie, het ek gereken pre-race trading lyk soos die tipe projek waarop ek wou fokus tot ek dit bemeester het. Jy kan begin daarmee met niks meer as $200 in jou rekening nie, en al die aksie vind plaas oor omtrent drie ure tydens die Britse namiddag – tussen 21:00 en middernag in Taiwan.

En het ek gefokus! Oor die volgende twee jaar het ek honderde dollars spandeer op nog opleiding – video’s, PDF handleidings, aanlyn seminare. Ek het dosyne video’s gekyk, en genoeg gelees oor die onderwerp om ses dokumente saam te stel met notas.

Teen die middel van 2017 het ek stoom verloor, en kort daarna heeltemal gestop. Ek het nie hardop gesê dat ek gaan stop nie; ek het net geweet ek het ’n breuk nodig. Aanvanklik was die breuk net ’n paar dae. Na drie weke het ek weer die sagteware oopgemaak, en ’n paar ontmoetings probeer verhandel. Maar die belangstelling was weg. En dieselfde probleme het weer kop uitgesteek.

Wat dan was die probleem? Die sagteware (Geeks Toy) waarmee ’n mens pre-race trading doen, was eerlikwaar uitstaande. Daar was omtrent nie ’n afmeting of ’n aanduiding wat jy nie kon sien nie. Jy kon op verskeie wyses sien hoe die prys beweeg, waar die prys was, waarheen dit waarskynlik op pad is, en wat aangaan op die ander “markte” – dit wil sê, die ander perde in die resies.

So kompleks soos wat dit was – met elke perd in die resies wat inderdaad sy eie mark vorm, maar al die perde se pryse wat dan ook integreer in een groot mark naamlik die wedren, en so onnosel soos wat ek al gewys het ek kon wees met nommers, het ek meeste daarvan onder die knie gehad teen einde 2016. Hoekom het ek dan nie geld gemaak daarmee nie?

Twee redes: Ek het gereeld gefaal daarin om my verhandelings te sluit voor die resies begin – wat beteken jy bevind jouself skielik in ’n totale ander mark, met pryse wat wild bokspring, groot gapings in die pryse, en die sterk moontlikheid dat jou hele rekening uitgewis kan word in ’n paar sekondes as jy nie versigtig is nie. Hierdie probleem was maklik om te identifiseer. Die eintlike probleem was dat ek te min suksesvol was in die vyf tot tien minute vóór die wedrenne begin het. Soos ek weer vanoggend kyk na van die skermgrepe wat ek met elke wedren geneem het, het ek weereens besef dat die probleem nie was dat ek nie verstaan het wat aangaan nie. Die probleem was dat ek nie gereeld genoeg kon inkom by ’n prys waar ek geweet het ek moes inkom nie, en ek kon nie gereeld genoeg uitgaan by ’n prys waar ek geweet het ek moes uitgaan nie. Spoed was die probleem. Dit was óf my rekenaar se prosessering van die sagteware, óf die internet-konneksie, óf my reaksie. Wat dit ook al was, ek was te stadig.

In ’n Word dokument waarin ek gereeld aantekeninge gemaak het oor die onderwerp, skryf ek die volgende op Donderdag 11 Mei 2017: “People think pre-race trading, especially scalping, is about horse racing, because of the ‘race’ part, or that it is about trading. What they often don’t realise before they’ve already spent a lot of money and a lot of time trying to master it and make some money is that it is in fact a video game. And if you’re not good at playing video games, especially fast ones where things change quickly, you will lose a lot of money, and waste a lot of precious time.”

VRYDAG 1 MEI 2020

Die eerste area van Kaohsiung waar ek gewoon het toe ek hier aangekom het in Januarie 1999, was Fengshan – eintlik toe nog ’n stad op haar eie, maar sedert 2010 ’n distrik. Fengshan is inderdaad veel ouer as die stad waarvan sy nou deel is. Kaohsiung was net ’n klein vissersdorpie tot Japan die eiland oorgeneem het in 1895, maar Fengshan was al ’n belangrike administratiewe sentrum teen die laat agtiende eeu.

Op Nuwejaarsdag het ons ’n draai gaan maak in my ou distrik, en ’n paar historiese plekke besoek. In ’n voormalige skool vir regeringsamptenare, nou deel van ’n museum bekend as Fongyi Academy, het ek op ’n model afgekom van laat agtiende of vroeë negentiende-eeuse Fengshan.

Die eerste foto is van die hele dorp. Interessant om te noem is dat die belangrikste strate in moderne Fengshan uitgelê is op die oorspronklike stofstrate. Die tweede foto dui aan waar my eerste buurt was – net anderkant die rivier, op die buitewyke van die dorp.

Vir meer foto’s van Taiwan, en ander plekke, volg my op Instagram: https://www.instagram.com/brandsmit.taiwan/

* * * * * * * * * * *

VOLGENDE WEEK: Die virus leeslys … en ander brokkies teks.

* * * * * * * * * * *