Rassistiese bewegings, identiteit, vrae, en redes

Week 26, 2020

MAANDAG 22 JUNIE 2020

Soos om sigarette te verkoop as “keelseermedisyne”. Of om harde lekkers te verkoop as “appels – wat goed is vir jou tande”. Of om kaffeïenpille te verkoop as “slaappille”. Of soos die plaaslike Mafia wat hulleself verkoop as huisoppassers. Dit is die sogenaamde Sosiale Geregtigheidsbeweging wat hulleself verkoop as die nuutste inkarnasie van die Burgerregtebeweging van die sestigs, en as die voorste aktiviste wat rassisme beveg.

Dink twee keer voor jy volg, “like” of geld skenk.

* * *

“Maar dit sê ‘Appels!’ op die pak,” sal die skelm argumenteer. Of, “Spel hierdie nie ‘K-e-e-l-s-e-e-r-m-e-d-i-s-y-n-e’ nie?” sal die persoon vra met die pakkie sigarette in die hand. Of die lid van die Mafia sal sê, met kamma verontwaardiging, “Maar kyk na my kaartjie – dit sê ‘Huisoppasser’!”

Net omdat ’n volgeling sê die organisasie se naam beteken hulle is “anti-fascisties”, beteken nie hulle het die vaagste benul wat fascisme beteken nie. Kans is ook goed dat hulle nie waardeer hoeveel hulle aksies én wapens én eenvormige uitrustings én neiging om in groepe enkelstaande individue aan te val, herinner aan die stormtroepe van die werklike fasciste in die 1920’s en ’30’s nie.

En net omdat mense beweer hulle aanvalle op mense, en hulle pogings om hulle afgedank te kry, of om hulle lewens op ander wyses te vernietig, word gemotiveer deur antirassisme, is nie te sê hulle maak die kleinste bydra tot die skepping van ’n beter wêreld nie. Inteendeel, moenie verbaas wees as hulle obsessie met ras en aandringing daarop dat almal bewus moet wees van hulle ras-identiteit, lei tot méér rassisme in die toekoms nie.

Kyk na die resultaat van die aksie voor jy die woorde op die plakkaat of die T-hemp glo.

* * *

Mense wat jy ken – vriende, kennisse, ou skoolmaats, vertoon hulle ondersteuning op sosiale media aan organisasies wat sekere ideologieë onderskryf. Vele – dalk meeste – van hierdie mense bedoel goed. Hulle voel dalk self skuldig oor wat hulle beskou as onverdiende voorregte wat hulle geniet. Hulle wil graag wys hulle is nie soos ander wit mense nie. Hulle wil ’n teken uitstuur dat hulle “goeie” wit mense is – wat graag hulle onbewustelike rassisme wil bely, in die publiek indien moontlik, en graag ’n finansiële bydrae wil maak aan swart mense (ongeag of hulle sukkel met iets) of dan aan die Dominante Organisasie van die Dag.

Mense wil relevant wees. Mense wil aan die regte kant van geskiedenis wees. Die bedoeling is goed. En wie het tyd om alles te ondersoek wat hulle ondersteun?

* * *

Lees gerus op jou eie meer oor die Sosiale Geregtigheidsbeweging in veral Westerse lande in die afgelope twee dekades, hulle stormtroepe, Antifa, die ideologiese basis genaamd Critical Theory, en die nuutste dominante organisasie van die dag, Black Lives Matter. Kry jy die geleentheid om met gelowiges in die onderliggende ideologie of met volgelinge in gesprek te wees, vra kritiese vrae om meer uit te vind. Vra veral, “Wat presies word bedoel met ___________?” en “Wat presies is julle plan met __________?”

’n Paar skakels om die proses af te skop:

Critical Theory – Wikipedia

Die BLM Manifes: Waarin hulle glo

Die Movement For Black Lives se manifes … En ’n stuk (een van die eerstes wat opkom in ’n Google soektog), geskryf deur ’n swart skrywer, oor hoekom hy BLM verwerp (jy hoef uit die aard van die saak nie met al sy sentimente of oortuigings saam te stem nie).

DINSDAG 23 JUNIE 2020

Protesteer mense en verbrand hulle geboue en buit winkels as ’n ongewapende blanke of Asiatiese persoon deur die polisie doodgemaak word? Indien nie, is polisie brutaliteit nie hulle saak nie.

Protesteer mense wanneer duisende swart Amerikaners gewelddadig sterf aan die hand van ander swart Amerikaners? Indien nie, maak swart lewens blykbaar nie altyd saak nie.

Is dit sistemiese rassisme wanneer rasse-misdade en onderdrukking plaasvind in stede wat beheer word deur swart en/of Demokratiese burgemeesters, stadsrade met swart en/of Demokratiese meerderhede, swart onderwysleiers en swart polisiehoofde? Is dit wit oppergesag selfs in hierdie gevalle?

As breër swart verteenwoordiging hulle saak is, waarom dan nie swart konserwatiewe politici of konserwatiewe swart intellektuele vereer nie? Hoekom is dit aanvaarbaar as selfs ’n wit persoon met die “korrekte” ideologiese etiket hierdie swart konserwatiewes beledig?

As swart bemagtiging hulle saak is, waarom dan nie dit vier as swart denkers, skrywers of kunstenaars gedagtes het wat verskil van die ideologie wat deur die hoofstroommedia en die politieke establishment in Amerika aanvaar en onderskryf word nie? Is vryheid van spraak en denke en geloof slegs die reg van wit en ander Amerikaners, maar nie van swart Amerikaners nie?

As mense opreg is oor die identifisering van die oorsake van swart armoede, hoër misdaadsyfers in woonbuurte met ’n swart meerderheid en laer as die gemiddelde skoolresultate, waarom dan data uit die hand verwerp wat dui op die sterk rol wat ’n gebrek aan vaders in die lewens van veral jong mans speel? Waarom nie ernstig en objektief kyk na die uitwerking wat maatskaplike welsynsbeleid op die swart gemeenskappe sedert die 1960’s gehad het nie? As mense opreg is oor die oplossing van probleme in swart gemeenskappe in Amerika, waarom dan nie alle moontlike oorsake oorweeg nie?

WOENSDAG 24 JUNIE 2020

Hoe weet ek dis nie ek wat ingesuig is in ’n kultusbeweging nie? As almal se breine sien wat hulle wil sien, en konstant soek vir bevestiging van wat hulle reeds glo, hoe weet ek dat ek nie aan die neus gelei word nie?

As om te dink aan myself as Liberaal-Progressief (’n ondersteuner van die Arbeidersparty in Brittanje, of Demokraat in Amerika) ’n sentrale aspek was van my identiteit, sou ek ongemaklik geraak het as ek iets sien of hoor uit die mond van ’n konserwatiewe persoon wat sin maak. Kognitiewe dissonansie sou inskop. Ek sou waarskynlik skielik besig raak met iets anders en probeer vergeet daarvan.

As om te dink aan myself as Konserwatief (Konserwatiewe Party in Brittanje, en Republikein in Amerika) ’n sentrale aspek was van my identiteit, sou ek ongemaklik begin rondskuif het en gedink het aan iets anders as ’n lid van ANTIFA of BLM, of iemand nader aan ’n Links-Middel posisie iets sê wat sin maak, of wat logies klink, of as hulle statistiek aanhaal wat een van my oortuigings ondermyn.

Hier’s die ding: Etikette soos Liberaal-Progressief of Konserwatief is nie sentrale dele van my identiteit en selfbeskouing nie. Dat ek is ’n Kritiese Denker Wat Dink Wat Ek Wil, is wel. As BLM of ANTIFA dan iets sê wat sin maak, gaan ek nie bedreig voel in my identiteit omdat ek kwansuis meer konserwatief swaai deesdae nie. My brein gaan nie vir my gevaarligte flikker nie. Ek gaan wel die boodskap kry uit my onderbewuste wat my herinner dat ek ’n Kritiese Denker is wat na alle argumente luister. As ek dus dink iets wat BLM of ANTIFA sê, maak sin, sal dit ’n sentrale aspek van my identiteit bevestig eerder as bedreig.

DONDERDAG 25 JUNIE 2020

Vrae aan aktiviste van Black Lives Matter:

1. Iemand het gesê dat BLM-aktiviste nie omgee vir feite nie. Is ek reg as ek sê dat hulle wel omgee?

2. Iemand anders verdedig BLM-betogers en mense wat plunder en geboue afbrand en sê die doel – wat hulle sien as rasse-geregtigheid – regverdig die middele. Is daar presedente in die geskiedenis waar gretige rewolusionêre beweer het dat die doel die middele regverdig, en uiteindelik die bevolking geterroriseer het en duisende, honderde duisende, en selfs miljoene mense doodgemaak het? Regverdig selfs ’n edele doel enige middele?

3. Is daar presedente in die geskiedenis waar rewolusionêre beweer het dat hulle veg vir wat geklink het na edele oogmerke – vryheid, gelykheid, broederskap, geregtigheid vir die landlose kleinboer, billikheid vir die onderdrukte proletariaat, die vrystelling van ou onderdrukkende gebruike – maar wat uiteindelik politieke mag gemonopoliseer het, met nie veel vryheid, gelykheid, geregtigheid, of regverdigheid vir die individu wat geen verbintenis gehad het met die nuwe elite nie?

VRYDAG 26 JUNIE 2020

Redes waarom ek nie die organisasie, Black Lives Matter, ondersteun nie, al beskou ek myself as ’n oopkop, verdraagsame persoon wat nie diskrimineer teen mense op grond van hulle ras nie:

1. Die vertelsel agter BLM van wydskaalse onderdrukking van, en moord op, swart Amerikaners word nie deur die feite ondersteun nie.

2. Publieke vertonings, insluitend op sosiale media, van onderhorigheid of lojaliteit aan BLM was die afgelope paar weke baie gewild. BLM is ’n politieke organisasie. Om die knie te buig, of om myself op enige ander wyse te onderwerp aan enige politieke organisasie, is geheel en al teen my beginsels.

3. Deur aanhoudend swart mense daaraan te herinner dat hulle slagoffers is, word die geestesgesondheid en outonomie van swart individue ondermyn. Dit sal die lede van enige groep mense benadeel wat uitgesonder word vir hierdie tipe etiket vanweë ’n eienskap waaroor hulle geen keuse gehad het nie, soos ras of etnisiteit. Dit geld veral vir jong mense. Ek glo dat hierdie ondermyning van swart mense inderdaad rassisties is. ’n Mens moet wonder wie baat daarby.

4. Blanke liberale kan slegs hierdie ideologie ondersteun as hulle die skryfwerk en menings van konserwatiewe swart intellektuele diskrediteer en marginaliseer. Ek glo dat dit rassisties is om van alle lede van ’n sekere rassegroep te verwag om op soortgelyke wyses te dink.

______________________