Snaakse mense, lewe in Taiwan, volle weergawe van jouself, droomtonele, en ou foto’s van my buurt

Week 21, 2020

MAANDAG 18 MEI 2020

Die komediante en akteurs, Jerry Stiller (gebore 1927) en Fred Willard (gebore 1939) het onlangs gesterf. Ek het beide hierdie akteurs persoonlik snaaks gevind. Ek het ook gesien wat ander mense oor hulle geskryf het.

Dog toe hoe kosbaar hulle nalatenskap is.

Kan jy jouself voorstel dit is wat uiteindelik op jou grafsteen staan, of in jou doodsberig:

“Hy’t geleef. Hy was ’n gawe man – en regtig snaaks! Toe sterf hy.”

DINSDAG 19 MEI 2020

Daar is redes hoekom ons ’n beter lewe sou gehad het as ons in Suid-Afrika gewoon het eerder as Taiwan. Familie en ou vriende, braaivleis, dosyne produkte wat ’n mens in die plaaslike supermark of bakkery of tuisnywerheid kry wat ’n mens nie in Taiwan kry nie, ’n groter verskeidenheid van natuurskoon in Suid-Afrika, ’n groter verskeidenheid restaurante, beter pizza …

Een rede hoekom lewe in Taiwan – veral in die stad – egter honderd keer beter is as stadslewe in Suid-Afrika, is vervoer, en die feit dat ’n mens nie vasgevang is in ’n woonbuurt gestroop van besighede nie. Ek ry per fiets tien minute van die huis af om vir my ’n bak gekookte kos te gaan koop. Wanneer ek laat middag moet gaan vir my klasse, ry ek twaalf minute na ’n metro-stasie, en sit en lees op die trein vir twintig minute. Die supermark is tien minute se stap van ons woonstel af; die bank sewe minute se fietsry. Daar’s etlike ander eetplekke en koffiewinkels minder as tien minute se stap van ons woonstel af. Wil ons op ’n naweek êrens heen gaan, ry ons met my vrou se bromponie. Wil ons ’n buurstad besoek, vat ons die moltrein, en dan die gewone trein. En wil ons Taipei toe gaan – ’n afstand van 350 kilometer, vat dit ons net ’n uur en ’n half op die hoëspoedtrein.

Vergelyk dit met Suid-Afrika – bygesê, as jy so gelukkig is om in ’n middelklas woonbuurt te woon. Jy maak die yskas oop, sien daar’s geen melk nie. Oukei, kry die motorsleutels, trek ’n broek en ’n hemp en skoene aan, en stap uit na die motorhuis. Trek die kar uit. Maak die hek oop en hoop niemand spring agter ’n bos uit om jou kar te steel nie. Maak die hek toe. Begin winkel toe ry. Stop. Ry. Stop. Ry. Draai links. Stop. Wag. Ry. Stop. Ry. Stop. Ry. Stop en wag en sê nee vir mense wat goed aan jou wil verkoop. Ry ’n honderd of twee honderd meter. Stop. Wag. Ry. Uiteindelik is jy by die winkelsentrum. Soek parkering. Sluit jou kar. Stap die winkel binne, kry jou melk, betaal, en stap uit. Gee vir die ou wat sê hy’t jou kar opgepas ’n paar rand, klim in ry dieselfde pad terug huis toe. Stop … wag … ry … stop …

Na al die jare is daar steeds dinge wat ek mis aan Suid-Afrika, benewens my familie. Maar ek twyfel of ek ooit gewoond sal raak aan daai aspek van stedelike bestaan. Nee, sou ons ooit teruggaan Suid-Afrika toe, is dit óf platteland vir ons, óf ’n koei in die agterplaas. En ’n groentetuin.

WOENSDAG 20 MEI 2020

Nou die dag gesosialiseer met ’n hot shot Taiwannese besigheidsman. Hy’s ’n hele paar jaar jonger as ek, ry ’n luukse sportmotor, en sy beursie staan bult van al die kontant (toevallig gesien). Hy’t ons uitgevat vir ete na ’n plek wat geruik het na duur parfuum, en waar ’n mens lekker happies kos afsluk met eksotiese mengeldrankies.

Nou, ek moet nog dinge leer van geldmaak en besigheid wat hy al vergeet het. Maar ek het agtergekom hy was stillerig as die onderwerp nie oor geld of besigheid gegaan het nie. Hy het ook belanggestel wanneer ek gepraat het oor geskiedenis, en het my gevra oor musiek en films.

Besef ek vanoggend dat iemand – dalk soos hy; ek ken hom nie goed genoeg om te kan sê nie – waarskynlik op ’n stadium sal kyk na homself en sal besef dat hy dit “gemaak” het – op ’n terrein waar meeste droom om dit eendag te maak. Nog ’n paar jaar van sukses soos die laaste paar jaar, en hy hoef nooit in sy lewe weer te werk nie.

En dan, by een skemerkelkie geleentheid, tref dit jou: Om net ’n klomp geld te hê, is nie genoeg nie – nie as almal in die vertrek rondstap met dik beursies nie. Jy kom agter mense gesels oor kuns, films, ander lande, geskiedenis, godsdiens, politiek. En nie op pseudo-intellektuele wyses nie. Jy kry die sterk idee die mense is werklik geïnteresseerd in die onderwerpe. Dis dan wanneer jy besef dat geld net een manifestasie is van die proses om ’n voller weergawe te word van jouself – net een deel is van die strewe na jou volle potensiaal.

DONDERDAG 21 MEI 2020

Ek droom gisteraand (eintlik vanoggend siende dat ek na 02:00 eers bed toe gaan) ’n ietwat surrealistiese skildery.

Die toneel is ’n skool, met ’n groot oop area voor skoolgeboue wat lyk soos die Uniegeboue in Pretoria. Orals stap rye leerlinge in ligblou uniforms.

In die voorgrond (ek, die dromer, sit skynbaar op ’n bankie op die rand van die skildery) speel twee tonele af. Een is ’n film wat gemaak word oor die lewe van Marlon Brando. ’n Belangrike aspek van die storie is dat Brando ’n suiplap en ’n rebel was. Verskillende akteurs (een wat ek herken het, was Albert Finney) vertolk die verskillende toestande van Marlon Brando se dronkenskap.

Die ander toneel in die voorgrond is rye soldate in Eerste Wêreldoorlog-styl kakie-uniforms wat marsjeer na ’n slagveld.

Op die horison verskyn ’n reusagtige ballon in die vorm van die Aarde. Net soos almal se aandag op die ballon is, verdwyn dit – let wel, dit ontplof nie; dis net weg.

Die laaste toneel is soldate wat terugkom van ’n slagveld af. Van hulle dra gewonde soldate op draagbare. Een soldaat het sy gewonde – of gestorwe – kameraad, om die skouer. Soos die aandag vir die oomblik op hierdie soldaat is, maak iemand ’n opmerking: “Jy kan nie vashou aan jou eerste dood nie.”

En toe’s ek wakker.

VRYDAG 22 MEI 2020

Teen die einde van my eerste jaar in Taiwan, in November 1999, het ek vir my ’n duur Japannese kamera gekoop – as vergoeding dat ek van soggens tot laat-aand gewerk het, en omdat ek gedink het ek minder arm sou lyk wanneer ek die volgende maand Suid-Afrika toe gaan.

Maart 2000 moes ek weer Suid-Afrika toe, dié keer vir my jonger suster se troue. Om vir die familie meer te wys van hoe my buurt lyk, het ek ’n klomp foto’s geneem. En omdat ek gedink het dit sal kunsagtig wees, het ek ’n swart-en-wit film gekoop vir die stel foto’s.

Lang storie kort, hier’s ’n paar van die foto’s:

My eerste woonstel, met die bromponie wat my minder as drie jaar gehou het voor ek dit geruil het vir ‘n fiets
Een van die enigste vroeg-negentiende eeuse hekke na die ou Fengshan wat nog staan
Straat in my buurt
Tempel agter ’n oop stuk grond
“Spookgeld” brander
Fengshan se hoofstraat
Huise langs die rivier so ’n klipgooi van my woonstel af

______________________