Protes en onlus, gedienstige volwassenes, Taiwannese onafhanklikheid, koop-en-verkoop

Week 23, 2020

MAANDAG 1 JUNIE 2020

Is hierdie burgermeester Demokraat of Republikein? Is sy liberaal of konserwatief? Maak dit saak?

Watch every second of this Atlanta Mayor’s speech.

Every other city leader in the country should take notes from her. pic.twitter.com/OIw8VIlUik

— Caleb Hull (@CalebJHull) May 30, 2020

DINSDAG 2 JUNIE 2020

Ek kon gister nie die versoeking weerstaan om kommentaar te lewer op ’n grafiese stelling wat iemand geplaas het op Facebook nie:

Hoe meer ek daaraan gedink het, hoe meer wou ek byvoeg, maar het besluit om dit eerder hier te doen.

Mense sal seker sê: Ons is ook ontsteld oor die plundering, maar ons moet méér ontsteld wees oor die dood van ’n ongewapende man.

“Meer” ontsteld? Hoe meet jy dit? Wie meet die mate van ontsteltenis? Minder of meer ontsteld is ’n nonsens onderwerp. Dit gaan daaroor om ’n sein te stuur van jou oënskynlik hoë morele posisie aangaande sekere sake. Wat sou jy presies bedoel as jy vir mense sê: “Ek is ontsteld oor die vernietiging van mense se bestaansmiddele, maar ek is meer ontsteld oor die moord op ’n ongewapende man?” Hoe ontsteld is jy dan oor die vernietiging van mense se ondernemings? 50 ontsteld? 64 ontsteld, maar beslis minder as 83 ontsteld?

Wees ontsteld oor albei, soos meeste redelike mense is. Albei is ernstige gebeure. Albei weerspieël iets wat ernstig verkeerd is met die samelewing.

En dink volgende keer twee keer voordat jy luister na mense wat wil hê dat jy “meer ontsteld” moet wees oor een ding wat die voortbestaan van die samelewing vernietig, en minder ontsteld oor die ander.

* * *

Ons vergelyk nie hier die neem van ’n lewe met die plundering van ’n besigheid nie; ons vergelyk twee dade van vernietiging. Terwyl die een daad tot die onmiddellike dood van ’n man gelei het, sal die ander reeks dade, wat in tientalle stede herhaal word, die lewensgehalte van moontlik duisende mense verminder, moontlik vir meer as ’n generasie. Doen jouself ’n guns en lees ’n bietjie oor hoe die plundering en vernietiging van besighede in vorige onluste gelei het tot verlate geboue en woonbuurte wat min hoop en geleenthede bied aan inwoners dekades na die onluste. Om te redeneer dat ’n mens ontsteld daaroor kan wees, maar nie “meer” ontsteld as wat jy behoort te wees oor die tragiese einde van ’n man se lewe nie, is om nie die impak van vernietiging te verstaan nie.

* * *

Iets het sopas by my opgekom. Mense praat deesdae graag van voorreg. Kan jou voorreg om nie in ’n vernietigde woonbuurt in die middestad te woon en die gevolge van “regverdige plundering” hoef te ly nie, iets te doen hê met die feit dat jy nie “meer” ontsteld is daaroor nie?

WOENSDAG 3 JUNIE 2020

My posisie oor Taiwannese onafhanklikheid is dat dit vir die volwasse bevolking van Taiwan is om te besluit. Dit is nie iets waaroor die mense van China hoef te besluit nie, want hulle woon nie in Taiwan nie, en het nie bygedra tot die dinamiese demokrasie wat Taiwan vandag is nie. Argumente kan gemaak word vir beide hereniging met die vasteland, en vir onafhanklikheid. Besluit die mense van Taiwan hulle wil deel wees van die Volksrepubliek van China, dan is ek ’n permanente inwoner van die Volksrepubliek van China. Besluit hulle Taiwan is inderdaad ’n onafhanklike staat, is ek ’n permanente inwoner van die Republiek van Taiwan.

https://en.wikipedia.org/wiki/Taiwan_independence_movement

https://en.wikipedia.org/wiki/Retrocession_Day

https://en.wikipedia.org/wiki/Chinese_unification

DONDERDAG 4 JUNIE 2020

Jy kyk na wat aangaan in Amerikaanse stede, en jy dink: Dis verskriklik.

Jy kyk na die plakkate wat sommige mense vertoon, en jy sien dat dit gaan oor die dood van ’n swart man aan die hande van ’n wit polisieman.

Jy sien hoe mense deur die strate hardloop, vensters stukkend slaan, winkels en besighede beroof en aan die brand steek, motors omgooi en aan die brand steek. Jy sien groepe mense wat alleenstaanders bestorm en aanval – ’n persoon wat selfs in die kop geskop word nadat hy op die grond uitgestrek lê.

Die mense moet woedend wees oor die swart man wat doodgemaak is deur die polisieman, dink jy by jouself. Óf dit, óf hier’s iets anders aan die gang.

Jy dink aan jouself as iemand wat ook teen rassisme is, téén onnodige geweld wat gebruik word om mense te arresteer, téén minderhede wat die teiken is van ’n magtige meerderheid. Nietemin, voor jy jou lot ingooi by die mense wat so woedend plekke aan die brand steek en deur die strate marsjeer, voor jy prente met teks plaas op Facebook om jou ondersteuning te wys, en voor jy by ’n sosiale geleentheid duidelik maak aan watter kant van die politieke lyn jy jouself plaas, vra jouself of dit wys is om eers seker te maak van die feite. Dit was immers nog altyd ’n goeie idee, reg? Ek meen, hoekom sal jy iemand anders vertrou om vir jou te sê waaroor dit gaan? Hoekom sal jy sommer net aan die marsjeer gaan voor jy weet waarvoor jy marsjeer? Is jy ’n kind wat gedienstig doen wat vir jou gesê word? Is jy goedgelowig? Is jy naïef? Sekerlik nie.

Hier is dan ’n paar vrae wat jy gerus kan navors in jou eie tyd:

1. Hoeveel ongewapende swart mense het in die laaste jaar of so gesterf aan die hande van die polisie in Amerika?

2. Hoeveel ongewapende wit mense het in die laaste jaar of so gesterf aan die hande van die polisie in Amerika?

3. Hoeveel polisie-offisiere het gesterf terwyl hulle aan diens was in Amerika die afgelope jaar of so?

4. Hoeveel swart mense was in die laaste jaar of so die slagoffers van geweld gepleeg deur wit mense in Amerika?

5. Hoeveel wit mense was in die laaste jaar of so die slagoffers van geweld gepleeg deur swart mense in Amerika?

6. Hoeveel wit mense is die afgelope jaar of so doodgemaak deur ander wit mense in Amerika?

7. Hoeveel swart mense is die afgelope jaar of so doodgemaak deur ander swart mense in Amerika?

(Maak seker die syfer word ook uitgedruk in proporsie tot die bevolking, sodat jy nie verwronge afleidings maak nie.)

Een handige skakel waarmee jy jou navorsing kan afskop:

https://ucr.fbi.gov/crime-in-the-u.s/2018/crime-in-the-u.s.-2018/topic-pages/tables/expanded-homicide-data-table-6.xls

Onthou, as jy so gretig is om jou ondersteuning te wys en ’n bondgenoot te wees van een of ander groep of organisasie, links of regs, liberaal of konserwatief, dat jy nie eens wil seker maak van die feite nie, stel jy jouself bloot daaraan om mislei te word. Of soos Malcolm X dit gestel het, jy kyk dalk later terug en besef: “You’ve been had. You’ve been took. You’ve been hoodwinked. Bamboozled. Led astray. Run amok!”

* * *

Dink so daaraan: Jy’t niks om te verloor nie. Een van twee dinge gaan gebeur: 1) Jy gaan van opinie moet verander, maar ten minste sal jy die waarheid weet, of 2) Wat jy uitvind, gaan bevestig wat jy reeds gehoor of vermoed het, en jy sal met dubbel soveel oortuiging as tevore met mense kan argumenteer.

VRYDAG 5 JUNIE 2020

Ek weet dalk nou een of twee dinge van geldmaak, maar ek wonder soms watse advies ek myself sou gee in Julie 1998, toe ek … kom ons sê maar net heeltemal gelukkig sou wees met ’n bietjie meer kapitaal.

’n Mens kan sê jy moet ’n diens lewer, maar dit vat gewoonlik tyd om ’n diens te lewer, en die wins is nie altyd so groot nie, tensy dit ’n hoogs gespesialiseerde diens is.

Jy kan ook oorweeg om produkte te vervaardig en te verkoop (soos ek al gedoen het, en steeds soms doen), maar ook dit is hoogs tyd-intensief.

Wat is dan die antwoord? Maak ’n lys van produkte wat mense koop op ’n gereelde basis (jy kan enige nis kies om die lys meer beheerbaar te maak). Sien of jy ten minste een produk op die lys in relatiewe klein hoeveelhede in die hande kan kry en kan verkoop goedkoper as wat mense dit gewoonlik koop. Bevestig dat jy jou mark kan bereik, beide in terme van aflewering en bemarking. Koop die items, sê teen R10, en verkoop teen R30. Identifiseer nog ’n mark waar jy items kan verkoop vir meer as R30. Sit die proses voort. ’n Selfs beter opsie: Koop iets teen R50, betaal iemand R20 om waarde te voeg by die produk, en verkoop die verbeterde produk vir tussen R150 en R200.

______________________