(My) Rewolusies en (my) geloofwaardigheid

DONDERDAG 5 FEBRUARIE 2004

Wat het ek nodig, en wat het ek nodig om te doen vir die Maart Rewolusie? Ek het nodig om vir die drie skole waar ek werk, te sê ek fokof aan die einde van die maand. […] Ek moet tussen twintig en dertig bokse pak, en reëlings tref vir die verskeping. Ek moet my telefoonrekening betaal en kanselleer. […] Ek moet my vliegtuigkaartjie bevestig, en dit gaan betaal. Ek moet my suster bel, en vir haar sê ek sit met probleme wat sy nie sal verstaan nie. Dan moet ek al die geld uit my bankrekening gaan trek, en meeste daarvan stuur na my bankrekening in Suid-Afrika. Laastens moet ek my vriende groet, een of twee laaste Taiwan stukke skryf, en op die beplande dag met my moeë en gehawende troepe die lughawe bestorm.

[…]

Hierdie huidige inkarnasie van Die Plan is ooglopend wild. Dis onverantwoordelik, ietwat impulsief, met onseker kort-, medium-, en langtermyn gevolge. Maar soms is iets van hierdie aard nodig om dinge wat hand-uit geruk het, te normaliseer; of belangrike sake wat al te lank sloer, af te handel.

* * *

Ek ervaar op die oomblik iets wat ek laas in 2000 beleef het toe ek myself verbeel het ek is ’n musikant: ’n geloofwaardigheidskrisis. Dié keer gaan dit egter nie oor realiteit wat nie strook met ambisie nie; my identiteit as ’n skrywer is stewig verskans agter genoeg afgehandelde teks. Die huidige krisis is veroorsaak deur te veel planne wat oor die jare geformuleer en voortydig aangekondig is, en te veel materiaal wat geskryf is oor die onderwerp. As ek nie nou iets daadwerkliks doen nie, gaan dit my laat voorkom aan myself en aan familie en vriende as iemand wat baie praat, maar wie se broek begin bewe as hy moet oorgaan tot aksie.

Van my beste vriende raak skepties as ek nog eens tot vervelens toe praat oor my sogenaamde planne, en hoekom ek glo ’n buitengewone lewe binne ons almal se bereik is in ons eie land. Ook my familie raak nie meer opgewonde as ek datums en planne resiteer asof dit ernstige sake is nie.

Dit is egter ekself wat nie meer weet of ek myself moet glo as ek iets sê soos “Vrydag 4 Junie” nie [die alternatiewe datum vir 4 Maart]. Dit is ’n gevaarlike storie. Dit is van kardinale belang dat ’n mens jouself moet glo as jy iets sê. Hoe anders kan jy verwag dat ander mense jou ernstig moet opneem?

[…]

Wat is in alle eerlikheid die voordele van 4 JUNIE? Ek sal meer tyd hê om my bokse te pak. […] En as vriende en familie nog geduld het met my en my immer veranderende planne, sal ek seker meer tyd hê om hulle te oortuig van die verstandigheid van my beplande onttrekking uit hierdie omgewing.

Nietemin, daar is ’n risiko verbonde aan 4 JUNIE, net soos daar risiko’s verbonde is aan 4 MAART. Ek sal met eersgenoemde beslis ’n paar ekstra klasse moet kry om te verhoed dat my bestaande kapitaal stof byt. As ek nié my inkomste verbeter oor die volgende vier maande nie, en ek slaag nie daarin om op ’n ander wyse meer kapitaal in te win nie … dan sal ek teen einde Mei nie veel keuse hê anders as om al die materiaal te verbrand wat ek die afgelope paar dae geskryf het nie. En soos my mees gehate seisoen begin in Taiwan – moesonreën, sweet wat van ’n mens se lyf af drup, bedompigheid – sal ek veel meer klasse moet kry net om myself aan die lewe te hou, met repatriasie en reise na familie in ander lande nie eens ’n vae moontlikheid nie.

Wat ek ook al in die volgende paar ure besluit, een ding is seker: Die prys vir die opheffing van my ballingskap was nog nooit laer nie.

______________________

Man by ’n stasie

WOENSDAG 4 FEBRUARIE 2004

’n Man by ’n treinstasie vra vir die klerk agter die toonbank hoe ver ’n sekere bedrag geld hom kan vat. Ek sit agter my rekenaar, ’n dag voor ek die verpligte mediese toets moet ondergaan as die eerste stap om in Taiwan aan te bly, en ek vra: Hoe ver kan NT$50 000 my vat?

Ek is desperaat om weg te gaan. Ek is ook desperaat om terug te gaan Suid-Afrika toe, as die ideale eindbestemming van die eerste aksie, maar nie noodwendig die enigste moontlikheid nie.

Wat is my opsies? Wat het ek nodig om te doen?

Ek het nodig om omtrent twintig bokse met ornamente en ander artikels terug te karwei Suid-Afrika toe. Ek het ’n paar duisend nodig om my ’n redelike kans op oorlewing te gee gedurende die eerste paar maande in Suid-Afrika. Ek het beloftes gemaak oor besoeke aan my suster en haar eersgeborene in Engeland, en aan my goeie vriendin van lank gelede in Nederland.

[…]

’n Ander opsie is om te trek na ’n ander stad in Taiwan. Dit sal van die meubels ontslae raak; ek kan ten minste die helfte van die bokse reeds Suid-Afrika toe stuur, en ek kan na ses maande genoeg geld uit die nuwe betrekking verdien om die res te verskeep. Ek sal dan eers teruggaan Suid-Afrika toe, en daarna vir twee of drie weke in Europa gesig gaan wys.

Ek kan ook ’n ses-maand betrekking kry in China. Dit sal ook van die meubels ontslae raak. Ek kan al my bokse Suid-Afrika toe stuur, vir ses maande Engelse klasse gee en Chinees studeer, en werk aan materiaal met ’n ietwat ander geur as waarmee ek die afgelope vyf jaar my tyd verwyl het. (“Geen ballingskap essays nie?” mag jy dalk vra. Nee. Die uitgerekte proses van ballingskap opheffing is wel ’n sterk moontlikheid.)

Wat sou jý gedoen het? Dis ’n groot jammerte dat daar niemand is wie se raad op hierdie gebied ek genoeg respekteer om daarvoor te vra nie. Hoekom dit so is, kan ek maar net spekuleer. Dalk het dit te make met my ongewone situasie, met al my vorige onsekerhede oor die lewe; waar ek vandaan kom; waarheen ek op pad is; twee jaar in Korea en toe die opheffing van daardie wegbly aksie; agt maande van armoede in Suid-Afrika; die skok van genoeg geld gedurende die eerste paar maande in Taiwan om ’n rekenaar kontant te kan koop, en boeke, en musiek, en nuwe klere, en ’n duur horlosie; die sekuriteit van ’n drie slaapkamer woonstel wat ek net gedeel het met ’n paar insekte; gemeganiseerde vervoer wat beteken het dat ek nie afhanklik was van enige iemand anders om fliek toe te gaan nie; geld om fliek te gaan kyk …

Dis natuurlik vir die organisme om te streef na ’n toestand van spanningsloosheid. Ek het Korea verlaat om emosionele spanning te verlig. Ek het geweet ek moes dit doen, nie omdat iemand dit vir my as advies aangebied het nie, maar omdat ek moontlik na ontbyt, voor middagete, in ’n fliek, of agter die kontroles van ’n video game moedeloos gedink het, “Ek is sommer lus en gaan huis toe, so gou as moontlik.”

Die oomblik toe hierdie gedagte by my posgevat het, het my brein vorendag gekom met spesifieke planne en aksies wat geneem moes word. Die organisme het nie toe geweet van buitekamers met pienk mure en sponse vir ’n bed, of ’n vervelige deeltydse betrekking in ’n kantoor in Johannesburg nie. Die organisme het nie geweet hoe dit gaan voel om elke dag met ’n geleende fiets die sewe kilometer te trap kantoor toe nie. Die organisme het nie geweet hy gaan binne ’n paar maande platsak wees nie. Al wat hy geweet het, was dat die spanningsliggie ROOI-ROOI-ROOI gebrand het.

My spanningsliggie brand rooi. Dis die maklikste ding op aarde om môre by die hospitaal in ’n papierkoppie te gaan pis, om sodoende oor twee weke nog ’n stempel in my paspoort te kry wat my sal toelaat om vir nog ’n paar maande my ongepakte ornamente en muurbehangsels met groot liefde te streel asof dit foto’s van ’n geliefde is. Gaan dit my spanning verlig? Ek het twaalf ure om ’n finale beslissing daaroor te maak.

Ek wens amper hierdie hele “teruggaan” tema was net ’n literêre slenter om op te maak daarvoor dat ek nie lus is om kortverhale te skryf nie. Ek wens daar was iemand wat vir my kon raadgee.

My tyd is amper op. Dis Woensdag 4 Februarie. Ek moet besluit wat ek gaan doen. As ek besluit om te bly … dan’s dit hoe dit is.

Ek sal ook plegtig belowe dat die woorde en frases “ballingskap”, “bokse pak”, “vliegtuigkaartjie” en “planne” nie gebruik sal word in enige stukke wat geskryf sal word tussen nou en wanneer ek ook al my bokse pak, my vliegtuigkaartjie koop, en met halfgebakte planne uiteindelik my ballingskap ophef nie. Ek weet nie lekker wat ek sal doen nie, maar ek is seker daarvan ek sal aan iets dink om te skryf (die “Fauna en flora” idee het platgeval, die “Trip na die strand” het plaasgevind maar het niks opgelewer om oor te skryf nie, en met hoeveel meer kan ek nog vorendag kom oor “Plek en identiteit”?)

Voorwaar, voorwaar, sê ek vir myself, ek staan by ’n stasie. Vorentoe of tru, links of regs, spring oor die spoor of hardloop weg. Beijing, Middelburg, Londen, Amsterdam, Bronkhorstspruit, of Berg van die Aasvoël Dorp. Ek weet fokkol.

______________________

Oor vriende, en ander persoonlike redes

[Agtergrond vir die stukke teks, “Raad oor kom of bly”“Slaaf aan die woord” en “Oor vriende, en ander persoonlike redes”: ’n Goeie vriendin van my wat ook toe in Kaohsiung gewoon het, het tydens haar vakansie in die Kaap genoem dat sy sommer lus is en bly in Suid-Afrika. Ek het vermoed dat dit net emosie is wat praat, maar ek het nietemin die geleentheid aangegryp om sekere dinge te sê.]

——————–

WOENSDAG 4 FEBRUARIE 2004

[…]

Jy’t moontlik nog nie eens die laaste brief gelees nie, maar om myself te vermaak, en om onsekerhede op te klaar in die voorlaaste een, het ek besluit daar’s ruimte vir ’n Derde Brief.

[…]

Jy’t genoem in jou skrywe dat ek en ’n paar ander vriende ’n belangrike motivering is vir jou moontlike besluit om terug te kom. Wat ek hier en nou wil sê, is dat vriende nie ’n volhoubare motivering is nie.

[…]

Ons kom alleen hierdie wêreld binne, en meeste van die tyd gaan ons dit alleen uit. Mense – familie, vriende, eggenote, minnaars, minnaresse – is vir kort of lang periodes deel van ons lewenspad. Ons almal weet ons het ander mense nodig. Ons weet ook dat ons goed moet wees vir mekaar terwyl ons mekaar se lewens deel, omdat dit iets sê van ons eie natuur, en omdat ons beide die pyn en die samesyn saam met ons dra op ons reis.

So is dit ook met ons wat mekaar hier ken. Ons was voorheen vreemdelinge vir mekaar, maar met die verloop van tyd het ons mekaar begin nodig kry om staande te kan bly vir hoe lank ons ook al besluit om hier vas te haak.

Maar – hierdie is nie ons land nie, en nie een van ons het formeel hierheen geëmigreer nie. Ons moet op een of ander stadium weer ons eie rigtings ingaan, selfs al bly sommige van ons langer hier as ander.

My persoonlike redes om hier te bly het verstryk, hoewel ek steeds dankbaar is vir dié wat my staande gehou het vir die tyd wat ek hier was. As ek nie op daai vlug is op Donderdag 4 Maart nie, sal dit wees om myself ’n beter kans te gee om my suster in Engeland te besoek, en om meer as net vyf bokse met boeke te kan pos huis toe.

Soos ek egter gister genoem het, het ek nie meer enige illusies oor kassies en tafels en oefenfietse wat saamgaan op die reis vorentoe nie. Dis die nuwe stand van sake – om finansiële redes, en omdat die konvensionele volgorde is om eers, ten minste voorlopig, jouself te vestig, en dan meubels te begin bymekaarmaak. Die eenvoudige feit is dat ek nog nooit kon erken dat wat ek gedoen het die afgelope vyf jaar vir alle praktiese doeleindes neergekom het daarop dat ek myself hier gevestig het nie.

Die prys vir die opheffing van my selfopgelegde ballingskap was voorheen uitermate hoog, deels omdat ek miskien onbewustelik wou sekerheid kry oor wie en wat ek is voor ek my lewe kon voortsit in my eie land. Hierdie vrae is opgelos.

Die prys vir repatriasie is nou laer as ooit tevore. Indien ek kies om nie nou die prys te betaal nie, sal dit tog beteken dat ek ’n hoër waarde daaraan heg om hier te bly, dan nie? Watse waarde kan ek denkbaar nog daaraan heg om in Taiwan te bly? Soveel te meer as ek vir my beste vriende preek oor hoekom hulle self hul mooi geverfde mure agter moet laat vir ’n ongedefinieerde toekoms in die Land van Familie en Braaivleis in die Agterplaas.

My eie oortuigings oor die onderwerp van “selfopgelegde ballingskap” in die buiteland en die redes hoekom dit soms nodig is, is teen hierdie tyd goed geformuleer, en neergevel in dosyne stukke teks. Min bly oor om te sê … oor hierdie onderwerp.

’n Vraag dring homself tog by my op: Kan ons, selfs al is ons die beste van vriende, ooit werklik verstaan hoekom een so desperaat is om weg te gaan, en die ander so beslis daaroor is om terug te kom?

[…]

______________________

Slaaf aan die woord

[Agtergrond vir die stukke teks, “Raad oor kom of bly”“Slaaf aan die woord” en “Oor vriende, en ander persoonlike redes”: ’n Goeie vriendin van my wat ook toe in Kaohsiung gewoon het, het tydens haar vakansie in die Kaap genoem dat sy sommer lus is en bly in Suid-Afrika. Ek het vermoed dat dit net emosie is wat praat, maar ek het nietemin die geleentheid aangegryp om sekere dinge te sê.]

——————–

DINSDAG 3 FEBRUARIE 2004

[…]

Ek haat die rol wat ek soms tot vervelens toe probeer speel. Ek haat dit om voor te gee ek verstaan meer as die gemiddelde ou. Ek haat dit om ’n beeld voor te hou van iemand wat weet wat hy doen. Ongeag of dit is wat jy van my dink of nie, dis die karikatuur wat ek van myself skets op die sosiale landskap.

Hier’s die feite: ek het nog steeds nie besluit of ek op 4 Maart teruggaan Suid-Afrika toe, en of ek nog ’n paar maande hier gaan bly nie.

Ek het twee keuses: 1) bly hier, maar kry meer klasse; of 2) gaan volgende maand terug Suid-Afrika toe en staan my plek vol buite al die sosio-ekonomiese klasse waarvan ek bewus is. It’s a showdown of enormous proportions.

Ek sê altyd ek het my vinger op my eie pols, maar ek begin die idee te kry ek het iets onderskat die afgelope paar maande. Ek is verslaaf daaraan om te skryf. En nie in die romantiese sin van die woord nie. ’n Heroïenverslaafde gaan deur 72 uur van ondraaglike onttrekkingsimptome as hy die dwelm los. Ek glo vas ek sal in ’n bodemlose depressie verval as ek minder begin skryf ter wille van meer klasse, ter wille daarvan om met ál my meubels en ál my koppies en bekers en vadoeke en kussings en ou jeans wat ek vier jaar gelede laas gedra het, te kan teruggaan Suid-Afrika toe, en dan ’n lewe te kan bekostig wat nie te veel wind sal vang nie.

Ek is in ’n netelige posisie. Ek het my siel verkoop ter wille van my saak. En miskien behoort my saak aan ’n Hoër Wese, en dan is dit seker oukei. Maar ek kan nie meer terugdraai nie. Ek het al die ander opsies oorweeg, en te lig bevind. Ek glo nie eens liefde kan my meer help nie. (Vir miskien ’n paar weke sal dit werk, tot ek op die lakens begin notas maak terwyl die vrou wag op iets meer opwindend …)

(Op dié punt het my vingers amper aan die brand geslaan. Ek gaan koop toe instant noodles, rook ’n sigaret, praat met [’n ander vriendin], en lees verder aan my geskiedenisboek. Ek voel nou ietwat beter.)

Ek dink nie dis ’n goeie idee om bogenoemde teks vir jou te stuur nie.

Siende dat ek oënskynlik hierdie teks vir jou skryf om 00:55 op Woensdagoggend 4 Februarie terwyl ek nie eens seker is of jy dit gaan lees nie, dien dit as ’n duidelike bewys van hoe heilig ek Die Woord ag. Soos ek hier sit en hierdie teks dus vir myself skryf – op die oomblik, meer as vir jou, glo ek steeds dit is relevant vir iemand anders as net die uwe.

Ek wens ek en jy kon vir 24 uur liggame geruil het. Ek sou vinnig al jou issues opgelos het, en jy kon … my kop ’n paar keer teen die muur stamp om die los dele uit te skud wat nou al vir jare sorg dat ek soos ’n baba slaap, en soos ’n mal mens wakker is.

Ek dink ek het die idee laat vaar om al my meubels terug te stuur Suid-Afrika toe. Wat gaan ek in elk geval daarmee maak? ’n Karavaan is te klein daarvoor, en ek kan dit nie in ’n boomhuis sit nie. En op die gras in iemand se tuin gaan dit natreën.

As my planne om myself te repatrieer vergelyk kan word met onderhandelinge, het die magsbalans definitief verskuif die afgelope jaar of twee. Aanvanklik het die een deel gesê, “Ek wil teruggaan Suid-Afrika toe.” Dan sal die ander deel, wat hoofsaaklik verantwoordelik daarvoor was dat ons in die eerste plek Taiwan toe gekom het, antwoord: “Goed, maar gee my X-hoeveelheid kontant vir ’n huis, ’n kar, ’n nuwe rekenaar, nuwe klere, ’n pruik, ’n hond, ’n kat, en ’n grassnyer, Y-hoeveelheid boeke klaar geskryf, en Z-hoeveelheid Chinees bemeester. Dan kan ons repatriasie oorweeg.”

Tans smeek laasgenoemde party vir genade. Hy’s bereid om alles behalwe die pruik en die grassnyer op te gee, “solank ons net so gou as moontlik huis toe kan gaan”. En die karakter wat voorheen bekend was vir sentimentele pleidooie moet noodwendig die stem van rede wees – ’n rol wat effens nuut is vir hom, maar wie anders gaan dit doen as die verwaande een van vroeë onderhandelinge op die punt is om kranksinnig te raak van te veel “planne” waarmee tred gehou moet word?

Tog, ek haat dit om te sien hoe jy by ’n soortgelyke pad afstap: onsekerheid, huis opsit aan die verkeerde kant van die planeet, sterk opinies oor die keuses wat soveel van ons vriende en tydgenote maak.

[Paragraaf waar ek ’n grappie maak oor ons wat ’n besigheid moet begin waar ons verlore siele adviseer.]

Nee wat, kom dan maar eerder terug, kom verf jou mure klaar, en sit vars lemoene in daai bak. Ek sal intussen al my meubels verbrand, my boeke op nagmarkte verkwansel, en genoeg kontant inwin vir ’n groot karavaan. Wanneer ek uiteindelik terug is in ons lieflike land, sal ek jou verpes met dosyne briewe elke week om seker te maak jy bly nie aan die einde langer as ek in hierdie geweste nie. En om jou te herinner daaraan om elke dan en wan jou bak lemoene te skuif. Klein verstellings soos dit sal jou uiteindelike repatriasie soveel makliker maak op die siel.

______________________

Raad oor kom of bly

[Agtergrond vir die stukke teks, “Raad oor kom of bly”, “Slaaf aan die woord” en “Oor vriende, en ander persoonlike redes”: ’n Goeie vriendin van my wat ook toe in Kaohsiung gewoon het, het tydens haar vakansie in die Kaap genoem dat sy sommer lus is en bly in Suid-Afrika. Ek het vermoed dat dit net emosie is wat praat, maar ek het nietemin die geleentheid aangegryp om sekere dinge te sê.]

——————–

DINSDAG 3 FEBRUARIE 2004

My vriendin

[…]

Jy ken my gevoelens oor die onderwerp van huis toe gaan. Ek glo, en glo dit al vanaf my tweede jaar in hierdie land, dat die leefstyl wat ons hier voer, dit maklik maak vir ons om onsself te bedrieg. Ons koop koppies en sitkamerstelle, en teelepels en motorfietse; ons verf ons mure op allerhande snaakse maniere, en ons begin verhoudings met mense wat nie eens “braaivleis” kan spel nie.

Ons doen al hierdie dinge deels omdat dit natuurlik is, en deels om onsself te kompenseer vir wat ons nie hier het nie: ’n gemeenskap van innige geliefdes. Sommige van ons vind wel liefde hier, en in sulke gevalle werk dinge dan uit. Maar vele van ons weet dat die mense wat die meeste vir ons beteken, ver is. Te ver.

So stap die tyd aan. Ons formuleer voortdurend nuwe planne, en ons praat van huiskoop, en van beter sosio-ekonomiese situasies wanneer ons uiteindelik so ver kom om ons teelepels en verfkwaste te verskuif na die Republiek van Ons Geboorte. Intussen gaan ons lewens voort, en ons raak ouer. Aan die ander kant van die planeet gaan ons geliefdes se lewens ook voort, en ook húlle raak ouer. Ons raak bewus hiervan elke keer wanneer ons vir ’n paar weke huis toe gaan om onder andere ons hard verdiende kontant te gaan blaas, op maniere wat vir almal wat wou weet, vertel dat ons goed doen in die vreemde.

Is dit dan sleg om oorsee te gaan? Nee. Partykeer het ons nodig om weg te kom van mense en omgewings wat vir ons belangrik is. Sommige van ons doen dit omdat ons “issues” het. Ander doen dit omdat hulle verveeld is. Daar’s ook dié wat dit doen nie omdat hulle noodwendig wil nie, maar omdat hulle sosio-ekonomiese vooruitsigte in hulle eie land van so ’n aard is dat hulle eenvoudig alternatiewe moet oorweeg. Sommige van ons doen dit om al hierdie redes, en ’n paar ander.

Elkeen van ons moet egter na die verloop van ’n paar maande, of ’n paar jaar, besluit waar ons prioriteite lê. Ons moet besluit of hierdie tydelike reëling permanent gaan word, en of ons bereid is om die prys te betaal daarvoor. Of ons kom op ’n punt waar ons besef dat, ten spyte van ons persoonlike issues, ten spyte van ons beskouing van ’n sogenaamde konvensionele lewe, en ten spyte van die harde maatskaplike werklikheid wat ons saam met die doeane-beampte sal terug verwelkom in ons eie land, ons nie anders kan as om terug te keer nie, omdat ons nie bereid is om langer die prys te betaal vir die voordele van ’n lewe in watse ander land ons ook al ’n paar jare gespandeer het nie.

Jy moet self besluit waar jy staan met hierdie aangeleentheid. Dalk kies jy om jou sitplek op daai vliegtuig koud te laat terugkom Taiwan toe. Dalk besluit jy om terug te kom, maar net vir ’n paar maande. Of dalk kom jy terug om jou aanvanklike plan van nog twee jaar uit te voer. Alles, soos jy goed weet, het ’n prys.

As jou vriend herhaal ek my vorige opmerkings: Ek sal jou geselskap mis, maar as jy moet besluit om nie terug te kom nie, sal ek jou voorspoed toewens.

[…]

______________________