’n Rewolusie van ’n ander aard

DONDERDAG 12 FEBRUARIE 2004

Ek is die Persoonlike Republiek; die Skrywer is die diktator met ’n ystervuis. Die Skrywer besit die mees waardevolle hulpbron, naamlik Tyd (hoewel hy die Onderwyser toelaat om genoeg kapitaal te verdien om die Persoonlike Republiek aan die gang te hou).

Dit het egter duidelik geraak vir almal, selfs vir die Skrywer, dat die Algemene Gang van Sake nie onbepaald gehandhaaf kan word onder die huidige bewind nie. Die Volk murmureer al vir te lank. Probleem is dat sprake van rewolusie al so alledaags geraak het dat niemand hulleself meer daaraan steur nie. Tog weet almal dat daar geen ander uitweg is nie!

Anders as in talle ander rewolusies in die geskiedenis van aardse beskawings is die struktuur nie die probleem nie. Wat verander moet word, is die finansies van die Republiek. Wat benodig word is dus nie ’n Kulturele Rewolusie, ’n Politieke Rewolusie, of ’n Spirituele Rewolusie nie. Wat benodig word, is ’n Kommersiële Rewolusie.

Die Skrywer – slim soos hy is – is egter nie bekwaam daarvoor om ’n Kommersiële Rewolusie te begin of deur te voer nie. Niemand twyfel daaroor dat die Skrywer se Saak goed is nie, maar Een van Ander Bekwaamheid en Talent moet ingeroep word vir die noodsaaklike taak wat voorlê.

Die Volk moet gered word. Die Onderwyser moet gered word. Die Student moet gered word. En soos dinge staan, moet ook die Welwillende Diktator gered word. Dit sal inderdaad nie oordrewe wees nie om te beweer dat die Toekoms van die Persoonlike Republiek op die skouers rus van ’n Bekwame Kommersiële Leiersfiguur.

Die Skrywer weet wat gedoen moet word. Hy Wat Met ’n Ystervuis Regeer moet die een ding doen wat hy vrees soos ’n hondsdol, uitgeteerde hiëna: Hy moet die greep laat vaar wat hy het oor die ure wat sy dae en nagte vul. Hy moet afstand doen van Eksklusiewe Besit van Tyd, ten minste tot sake beter begin lyk – op die finansiële front.

Omdat Besit van Tyd die sleutel is tot mag en om enige iets uit te rig in die Persoonlike Republiek, beteken dit egter ook dat die Skrywer tydelik afstand sal moet doen van sy status as Dominante Rolspeler. Hy sal steeds die Spirituele Leier wees, maar ter wille van die Republiek, die Volk, die Onderwyser en die Student, en ter wille van sy eie Saak, moet tyd en daarmee saam die vermoë om dinge te dóén eerder as om net te praat daarvan, vir ’n periode van nie meer nie as Drie Maande oorhandig word aan Een Wat Nie Skryf Nie, aan iemand wat in hart en wese sal wees … ’n Kommersiële Diktator.

Hierdie Rewolusionêre Figuur sal eksklusiewe beheer oor tyd geniet. (Natuurlik sal die Onderwyser, tot sy spyt, steeds aangepor word om elke dag uit te gaan om brood- en huurgeld te verdien.) Die Nuwe Leier sal dag en nag moet arbei vir ’n Beter Ekonomiese Bestel vir Alle Karakters. Hy sal toegewyd wees aan die Persoonlike Republiek – dit weet en verwag almal, en hy sal dit doen vir die Saak van die Skrywer.

Die Kommersiële Diktator se Rewolusie sal tydelik, sowel as kragtig wees. As hy misluk, loop die Republiek die gevaar om onder te gaan. As hy slaag, sal dit die Begin van ’n Goue Era beteken. Maatreëls wat gedurende hierdie periode geïmplementeer sal word, sal dien as ’n Ekonomiese Model vir ’n Nuwe Republiek – uiteindelik weer onder die bekwame leierskap van die Langtermyn Dominante Figuur.

Die Skrywer sal in die aanloop tot die Nuwe Tyd die Tydelike Diktator bystaan met propagandabaniere, slagspreuke en kort toesprakies. Sodra die Nuwe Tyd egter aangebreek het, begin die Skrywer se periode van Selfopgelegde Stilte. Maklik sal dit nie wees nie. Die Skrywer weet dat hy sy mond sal moet hou en sy tikvingers meestal in sy sak. So moet dit noodwendig wees. Twee honde kan nie op dieselfde tyd aan dieselfde been knaag nie. So ook kan twee diktators nooit op dieselfde tyd dieselfde republiek met ’n ystervuis regeer nie. Die Skrywer sal stil wees, en sy tikvingers sal slegs beweeg as die Kommersiële Diktator dit vereis. So sal dit wees vir Drie Maande lank.

Vandag is die Vierde Dag van die Week, die Twaalfde Dag van die Tweede Maand van die Jaar. Oor Elf Dae is dit Nuwe Tyd.

______________________

11 Februarie 2004

Dis ’n mooi dag.

Ek steek my kop by die kombuisvenster uit, kyk af in die stegie, oor die dakke van ou huise in die blok langsaan. Die stegie, net breed genoeg vir twee bromponies om verby mekaar te kom, is gevul met die oranje skynsel van die laatagtermiddagson.

Die woonstelgeboue is grou, maar die hier-en-daar afgeskilferde verf van die diefwering gee ’n optimistiese kleur aan die buurt. Die potplante in die vensterbanke getuig van geloof in ’n goeie lewe, al het dinge nie altyd uitgewerk soos die inwoners jare gelede gehoop het nie.

Dis nie koud nie, maar iets in die lug voorspel dat dit ’n koel aand gaan wees. ’n Briesie begin optel. ’n Ou oorlogsveteraan verskyn om sy wasgoed van die balkon af te haal.

’n Volmaakte dag is dit nie – watter dag is? – maar dis ’n mooi dag. Dis Woensdag 11 Februarie 2004, ’n wintersdag in Taiwan.

________________

Om ’n karakter te wees

MAANDAG 9 FEBRUARIE 2004

Ek het ’n karakter in ’n boek geword.

My opsies is beperk want ek moet die heeltyd seker maak dit stem ooreen met wat Die Boek sê. Dit is toevallig so dat ek wél wil teruggaan Suid-Afrika toe, maar selfs om dit op so ’n banale manier te sê, is gelaai met betekenis. Êrens binne my reageer ’n stem histeries: “Hoekom sê hy ‘wil teruggaan Suid-Afrika toe’? Moet dit nie eerder wees, ‘smag daarna met elke gram vet in sy liggaam nie’?”

Hierdie literêre projek is nog maande van die punt af wat ek kan wegstap daarvan, om dit vir ander mense te kan gee om te lees. Maar Die Boek is reeds heilig. Dinge is reeds geskryf, so ek kan dit nie meer verander nie!

Besef U, die Leser, dat ek soos ’n vernuftige ou-skool propagandis al die verwysings kan verwyder waar ek genoem het dat ek wil teruggaan Suid-Afrika toe? Ek kan dit alles vervang met “wil myself vestig in die Woesteny van Patagonië” of, “Elke greintjie van my wese smag daarna om ’n dominee te word.”

Wat van as ek sê dat ek reeds deur so ’n proses gegaan het? Dat die eerste weergawe van hierdie projek eentonig aangekarring het oor my jarelange begeerte om Noord-Dakota toe te gaan? Dat dit is waar my vrou en my twee kinders woon – ekskuus, ek het verwysings na hulle ook uitgewis – vandat my broer (die twee susters was ook ’n versinsel) hulle na Amerika geneem het om saam met hom op sy groot perdeplaas te woon? Sal U, die Leser, my glo as ek sê dat my broer dit gedoen omdat ek geld verduister het by … kom ons sê Standard Bank, en dat ek gedurende my sewe jaar in die tronk vorendag gekom het met die idee om ’n boek te skryf oor “selfopgelegde ballingskap”?

Die ander moontlikheid is dat ek ’n wese van die buitenste ruim is.

Ly ek aan skisofrenie? Nee. Is ek gereed om te begin kortverhale skryf? Duidelik nie. Ek is wel geïrriteerd met die feit dat ek myself al hoe vaster skryf, dat ek ingehok voel deur my eie skryfwerk.

En om te dink ek wou oorspronklik hierdie stuk begin het met ’n doodgewone vraag: Hoe lyk my ideale lewe in Suid-Afrika?

______________________

 

En die antwoord is dus …

SONDAG 8 FEBRUARIE 2004

Ek is nie lus vir die oorhaastige gepak nie. Ek is nie lus om goeters weg te gooi wat tot nou toe vir my belangrik genoeg was om te hou nie. Ek is nie lus om in Bronkhorstspruit aan te kom en nie my eie blyplek te hê en in my suster en swaer se kombuis elke oggend koffie te maak nie. Ek is nie lus vir argumente oor hoekom ek nie genoeg geld teruggebring het van Taiwan af om ’n goedkoop woonstel te kan huur nie.

Aan die ander kant is ek nie lus daarvoor om langer hier te bly, ekstra klasse te kry, en dit dan te los na drie maande nie – of eens om dit te begin met die vaste voorneme om dit te los na soveel maande. (Ek haat dit om te lieg, of om voor te gee ek mag dalk iets doen wat ek weet ek nie gaan doen nie, soos om te impliseer dat ek ten minste ’n hele semester by ’n skool sal bly.) Ek is ook nie lus vir die medical nie – daarvoor is niemand egter ooit lus nie, en ek weet dit weeg nie op in terme van onaangenaamheid in vergelyking met enige van die ander dinge waarvoor ek nie aptyt het op die oomblik nie.

Ek is moeg daarvoor om myself ’n lafaard te noem. Ek is ook moeg vir vurige toesprake vir niemand anders nie as my eie weerkaatsing in die badkamerspieël. Ek is kwaad – vir wie weet ek nie – dat hierdie tipe van aangeleentheid nie makliker kan wees nie.

Ek wens ek was ’n span skrywers, en ’n hele skrum vol denkers. Ek wens, soos ek hier sit agter my komper op ’n vroeë Sondagaand, dat ek kon hoor hoe mense dinge bespreek in die sitkamer, met af en toe ’n gedempte lag, teelepels wat teen koppies klingel, en sigarette wat aangesteek word. Dan sal iemand met ’n papier in haar hand my kantoor binnestap, en my inlig dat ’n nuwe scenario uitgewerk is. Of ’n nuwe plan. Of ’n nuwe strategie om seker te maak die mees onlangse plan verloop vlot.

Ek haat dit om alles alleen te moet doen. Waar’s al die grootbekke wat altyd soveel te sê het, maar altyd iemand gehad het om hulle te help om ’n projek aan die gang te stoot? ’n Man wat die vrou bygestaan het terwyl sy ’n klein besigheid van die huis af begin het. Of ’n vrou wat bly aanmoedig het met ’n warm bord kos en ’n vryf in die nek as die man wou tou opgooi. Waar’s mý partner? Waar’s mý bord kos? Waar’s mý vryf in die nek? Waar’s mý koppie tee? Ek is net ’n mens, magtag! Hoe de fok moet ek alles alleen doen?

* * *

Etlike ure later. Ek het aandete in die dorp gaan koop (rys, vleis, en groente wat koud was teen die tyd wat ek by die huis gekom het), tee by die mooiste vrou in die dorp, en ’n koerant by ’n 7-Eleven. Ek het myself oortuig daar’s een of ander hoek wat ek nog nie gesien het in hierdie hele situasie nie.

Ek was besig om aan iets te dink op pad terug, maar word toe gesteur in my gedagtegang deur ’n tiener met opgedoende hare wat ewe verwaand verby my ry op sy fiets. Ek verbeel my toe hy voel goed oor die feit dat hy so ongeërg verby my gegly het – veral omdat hy so ’n goeie bos hare het, en oënskynlik veel meer murg in sy jonger gebeendere.

Gedagtes oor die onmiddellike toekoms vir eers vergete, verstel ek toe my ratte – saggies, dat hy nie miskien hoor ek beplan ’n comeback nie. Terwyl my sak rys en groente en my sakkie met die tee eenkant toe swaai, en ek ongeërg iets na die ander kant toe mompel, seil ek toe weer verby hóm. Hy’t hoorbaar ratte verstel, en net toe ons my buurt met die ongeverfde beton woonstelblokke binnejaag, het hy my weer probeer verbygaan.

Ek het myself egter nie meer aan sy kinderagtige speletjie gesteur nie, en tussen Blokke 5 en 6 ingedraai.

“Het ek vorendag gekom met iets?” vra ek myself toe soos ek afsaal en die kos oor my skouer slinger. Ek sê toe ek was besig om aan iets te dink, maar my aandag was afgetrek.

“Deur wat?” vra ek toe in ’n ander stemtoon terwyl ek die trappe opsukkel, menende om voor te gee asof ek met iemand van my dinkskrum argumenteer.

“Deur iets wat my gemotiveer het om my ratte te verstel, en soos dit toe blyk, my effens vroeër by die huis uitgebring het.”

* * *

Ek weet genoeg van advertensies en bemarking om te besef iets is verkeerd met die benadering tot my situasie wat ek die afgelope week of so gevolg het. As ek – die een wat wil huis toe gaan – ’n verbruiker is, en die plan die produk is wat aan my verkoop moet word, is die bemarking hopeloos verkeerd. Ek glo dat ek my lewe hier moet kan opgee vir die vreugde daarvan om nader aan my familie te wees, en in my eie land. My idealisme dikteer dat dit voldoende moet wees. Dit maak mos sin, dan nie? My ouers en my susters se geselskap oor ’n bord braaivleis of ’n bakkie poeding sal my laat “voel ek behoort êrens”.

En as ’n mens al honderde bladsye geskryf het oor die onderwerp van “huis” toe gaan, raak jy toenemend bewus van jou geloofwaardigheid wat skade ly omdat jy nóg ’n Sondagaand in Taiwan sit en koue rys knibbel, terwyl jy veronderstel is om freneties oortollige bagasie by die venster uit te gooi.

* * *

Om hier weg te gaan sal ’n negatiewe effek hê op my gemoed. Die voor- en nadele van my lewe in Taiwan is al tot vervelens toe verwoord, maar dit moet weereens genoem word dat sekere positiewe aspekte van my lewe hier nie geïgnoreer of onderskat moet word nie.

Ek woon alleen in ’n drie slaapkamer woonstel (wat ter wille van hierdie argument positief is). Ek het nie my eie gemotoriseerde vervoer nodig nie. As ek stad toe wil gaan, ry ek met my fiets tot by die treinstasie, en vat die trein verder. As ek êrens anders moet wees wat ek nie kan bereik binne dertig minute se getrap nie, of wat nie binne stapafstand van ’n stasie is nie, dan vat ek ’n taxi (en glimlag verskonend vir al die mense wat vuiste swaai nadat ons oor nog ’n rooi lig gery het). Ek sit in die nagte tot watter tyd en skryf, of speel card games op my rekenaar. Ek koop gereeld video CD’s teen drie vir R20, en kyk dit op my tweedehandse Toshiba kleur TV. Ek herinner myself elke nou en dan dat Hong Kong net ’n uur se vlug weg is (die grens met die res van China is nog so ’n uur se reis per trein weg), en Tokio omtrent drie ure.

As ek drie-uur in die oggend lus is vir ontbytpap maar my melk is op, of ek is lus vir ’n pak skyfies, of ’n slaai, of ’n boks dumplings, stap ek binne drie minute tot by die naaste 7-Eleven. En meeste van die tyd kyk ek nie oor my skouer of iemand met ’n mes of ’n knuppel uit ’n bos gaan spring nie.

(Ek kan voortgaan.) As ek op ’n Saterdagaand wil gaan fliek, ry ek met my fiets na die teater toe, kyk hoe laat wys watter fliek, ry McDonald’s toe vir ’n appelpastei en ’n vanilla melkskommel, los my fiets daar en vat kortpad deur die donker stegies terug flieks toe. Of ek drink eers ’n romerige koffie by die plek om die hoek. Ek het nie ’n kar nodig om by die flieks te kom nie, en niemand het nodig om my te kom optel nie.

As ek op ’n date gaan, is om karloos te wees nie net heeltemal aanvaarbaar nie, dis ook nie ’n probleem nie. Weereens trap ek dorp toe, los die fiets teen ’n muur, ontmoet die vrou by die restaurant of die movie teater en geniet die res van die aand sonder om bekommerd te wees oor my voertuig.

Ek is bewus daarvan dat daar nie kafees is wat 24-uur per dag oop is in die Suid-Afrikaanse dorpe waar ek wil gaan afpak nie. As daar wel is, het ek heel waarskynlik ’n kar nodig om daar te kom. As ek soontoe kan stap, beteken dit ek bly in ’n deel van die dorp of stad waar mens oor jou skouer moet loer. Die noodsaaklikheid van gemotoriseerde vervoer eindig ook nie by kafee toe gaan drie-uur in die oggend nie.

Ek wil nie kleingelowig of sinies klink nie, maar om die liefde van my lewe te ontmoet in Suid-Afrika is ook nie hoog op my lys van verwagtinge nie. Dit mag selfs gebeur dat ek later besluit om weereens weg te gaan van my familie en my eie land.

Nietemin, ten spyte van die dinge wat ek sal mis van Taiwan, en ten spyte van die feit dat ek weet ek nie op pad is na ’n lieflike aardse paradys in my eie land nie, trek elke stukkie weefsel van my liggaam, en elke volt elektrisiteit van my siel in net een rigting.

Maar hoekom, in ag genome hierdie sterk begeerte, en dat ek weet dit haalbaar is om op die vierde Maart in volle glorie die land van my herkoms te bevlieg, is ek nie besig om in te pak en reëlings te tref nie?

As ek op Donderdag 4 Maart my sogenaamde “rewolusie” uitvoer, kyk ek ’n eerste maand of twee in die gesig wat pynlik armoedig sal vergelyk met die lewe waaraan ek hier gewoond geraak het. Ek sal moontlik die eerste paar weke in die spaarkamer van my jonger suster, of by my ouers moet afpak. Ek sal my voete onder hulle tafels moet inskop tot ek weer my voete vind.

Anders as die laaste paar jaar se besoeke aan my familie sal my teenwoordigheid nie wees as ’n gas wat weer gesig kom wys het, en wie se beursie verseker dat daar elke tweede of derde dag ’n pekanneut tert of ’n bottel rooi wyn op die kombuistafel staan nie. Dit sal wees as die broer wat teruggekeer het uit die vreemde, wat ’n bietjie bygestaan moet word tot hy weer op sy voete is.

Kan ek ’n idealistiese argument formuleer wat my sal laat beter voel? Ja, ek kan. Maar een wat werklik iets sal beteken vyf weke van nou af?

Gaan dit net oor myself, of gaan selfs geliefdes net menslik wees en oor ses weke vir mekaar fluister dat “die ou regtig met ’n bietjie meer geld hier kon aankom”?

Dis moontlik om al die oproepe te maak, en al die bokse te pak wat sal verseker dat ’n Maart repatriasie die laaste hoofstuk van hierdie skryfprojek sal wees. Maar sal dit nie, as ek vertroue in myself kan behou en die geloofwaardigheidskrisis kan ignoreer, wyser wees om die aangeleentheid beter te benader nie? (Al klink dit amper uittartend om te sê ek het nóg drie of vier maande nodig, en “moenie oorhaastig wees nie”.)

Is wankelrige vertroue in myself, en ’n geloofwaardigheidskrisis voldoende redes om binne minder as vier weke ’n lewe van vyf jaar op te pak, en met meer geloof as besigheidsvernuf my verwaande persoon te gaan uitstal op ’n nuwe landskap, as ek dit beter kan doen oor drie of vier maande?

Repatriasie, of dan Die Opheffing van My Ballingskap, is ’n produk. Die afgelope week het ek gepoog om dit aan myself te verkoop teen ’n belaglike lae prys, met sentimentele musiek in die agtergrond en dreigemente van wantroue in myself. Maar as ek dit nie reg benader, en al die newe-effekte goed genoeg oorweeg nie, gaan ek my voete langer sleep met die afhaal van ’n enkele muurbehangsel as wat tans die geval is met die proses om my visum te hernu.

Die produk is een wat ek nodig het. Dis die pil wat ek moet sluk om te kan voortgaan met my lewe. Maar om te verwag dat ek nie soos enige mens ’n bietjie senuweeagtig moet wees om ’n plek – en ’n lewe – wat vir vyf jaar lank my identiteit en persoonlikheid help slyp het, agter te laat sonder veel seremonie nie, is om my te reduseer tot die karikatuur wat ek so graag van myself skets.

Dit, is ongelukkig hoe dit is, en dit is my laaste woorde oor hierdie spesifieke aangeleentheid.

Dis Maandag 9 Februarie 2004 om twee minute voor een in die oggend. Ek moet gaan slaap, anders kom ek nie môre by daai mediese ondersoek uit nie. Hoe lank kan ek immers nog hierdie maniese pingpong in my kop verduur?

______________________

Infame leuens, kompromie, verandering en nog ’n klomp ander goed

VRYDAG 6 FEBRUARIE 2004

Dis ’n infame leuen – ek het nié gesê ek gaan einde Februarie terug Suid-Afrika toe nie! Ek het dit wel Juliemaand verlede jaar plegtig aangekondig as my plan, maar toe ek bedank het by die een skool einde Augustus, was die uitdruklike implikasie daarvan dat ek moontlik nie die plan sal kan uitvoer nie. Dit was die ooreenkoms met myself, en ek het dit so aanvaar.

Dit is ook waar dat ek laas Desember weer geluide begin maak het oor einde Februarie – en half geweefde baniere met potlood propaganda begin rondswaai het in die nag, wanneer niemand gekyk het nie.

Ek pleit ook skuldig daaraan dat ek spesifiek einde verlede jaar aan ’n vriendin genoem het dat ek ’n vliegtuigkaartjie bespreek het vir Donderdag 4 Maart, en dat ek lus is om ’n bietjie “droog te maak”. In Januarie het ek egter aan dieselfde vriendin begin toegee dat dit nié gaan werk nie. Dit sal dus te verstane wees as sý my geloofwaardigheid bevraagteken omdat ek hierdie week skielik weer begin verwys het na die Maart plan as ’n moontlikheid.

Verder kan dit genoem word dat dit effens onrealisties is om einde Februarie terug te gaan Suid-Afrika toe. Ek sal na vyf jaar in Taiwan – waar ander mense binne twee jaar genoeg geld maak om eiendom te koop in Suid-Afrika – teruggaan met R3000. En my finansiële verpligtinge (studieskuld en, glo dit of nie, ’n lewenspolis) beloop ongeveer R1700 per maand.

Ek is nie bang daarvoor om weer arm te wees nie. Ek stel ook nie belang daarin om ’n kunsmatige ego op te bou met duur klere en uitspattige haarstyle nie. Maar daar’s ’n tyd vir propaganda en toesprake, en dan’s daar ’n tyd om werklike beperkinge te erken.

As finansiële beperkinge een belangrike saak is om te konfronteer, is my onvermoë om langer in Taiwan aan te bly nog een. Daar is sekerlik iets soos massa wat ’n kritieke punt bereik, en dan dien as ’n katalisator vir iets anders. Ek is op alle gebiede gereed om Taiwan te verlaat – op alle gebiede, behalwe geld.

Ek kán kompromitteer. Ek kan Maandag my mediese toets gaan doen (dit word al hoe verder uitgestel) en my visum hernu. Ek kan vir so min as drie of vier maande meer klasse doen, miskien gelukkig raak met ander projekte, en dan met meer as net die huidige drie duisend in Middelburg aankom …

Die aaklige werklikheid wat moontlik nie tussen die lyne uitspring en jou as leser aan die strot gryp nie, is dat ek lanklaas so naby aan opgee was. Vir wat doen ek al hierdie dinge? Ek wil uiteindelik my eie literatuur publiseer? So what? Ek swem stroom-op – maar waarheen? ’n “Buitengewone lewe”? Alleen?

Ek het gisteraand woedend geraak vir die sesjarige tweeling vir wie ek elke Donderdagaand en Saterdagoggend klasgee. Ek hou regtig van hierdie twee kinders – hulle is slim, en oulik soos sesjariges maar kan wees. En hulle pa herstel bromponies vir ’n bestaan, wat beteken ek is nie in diens van ’n ryk besigheidsman wat sy kinders grootmaak om sý arrogansie na te aap wanneer hulle hul plekke langs hom inneem as volwassenes nie; ek lewer ’n diens aan ’n bloukraagwerker wat vir sy twee slim kinders ’n goeie opvoeding wil gee. Dis ’n klas wat ek met toewyding benader, wat ek meeste van die tyd geniet, en selfs vervullend vind as ek sien hoe hulle Engels verbeter. Maar toe hulle gisteraand vir twee minute lank nie oplet nie, het my interne alarm begin met sy geweeklaag dat ek op daai oomblik besig is om my tyd, en derhalwe my lewe, te mors.

En ek praat van méér klasse? Is ek fokken mal?!

(Klaas Flous het ’n boot gebou uit die oorblyfsels van half verbrande meubels en kitare, maan toe gevlieg en ’n organisasie begin met die naam van Al-Qassandra. Hy’t klippe gegooi na robotte wat hom wou dwing om in ’n proefbuis te urineer, maar die klippe het net in die lug bly sweef …)

Ek dink dit sal goed wees om my huidige sit-u-asie te dekonstrueer, die helfte weg te gooi, die ander helfte by die venster uit te bliksem, en wat oor is op my kop te laai en volksliedere te neurie terwyl ek begin werk soek in Mainland China.

Ek verlang na my susters. En ek verlang na my ouers. Ek glo almal het my nodig, en almal se lewens sal kleurloos wees as ek nie wilde beloftes maak wat nie eens ’n ryk advokaat sou kon nakom nie.

Ek het ’n ondankbare taak wat ek moet verrig. Eerstens moet ek myself oortuig dat daar hoop in die wêreld is, en dan reken ek moet ek ander mense oortuig daarvan dat hulle nie nodig het om hulleself aan die slaap te huil omdat hulle elke oggend ses-dertig moet opstaan om ’n lewe te kan onderhou wat hulle nie wil hê nie. En dit terwyl meeste mense klaar dinge vir hulleself uitgesorteer het, antwoorde uitgedink het waarmee hulle tevrede is, en in die eerste plek nooit nodig gehad het om soveel vrae te vra nie.

Wat beteken dit as iemand ’n ander een op straat groet? Ek weet! Maar wie de fok gee om?!

’n Mens hoef nie kinders te hê om te voel jou lewe is iets werd nie, want …

“Ons wíl kinders hê.”

O, goed dan, maar wat doen julle met julle vrye tyd?

“Ons kyk TV.”

Presies! En dis die punt wat ek wil maak …

“Ons hou daarvan om TV te kyk. Dit maak ons gelukkig.”

O.

Ek dink ek gaan geld begin steel van die armes, en dit vir ryk mense gee – in die hoop dat hulle van my sal hou. Miskien nooi hulle my uit na hulle weelderige strandhuise, om saam met hulle en ’n paar ander rykes te braai. (“Dit sal net ’n paar van ons goeie vriende wees,” sal hulle sê.)

Dan, na die aartappelslaai en braaibroodjies en die beste boerewors in die dorp, sal hulle my vra om die aand se vermaak te verskaf. Ek sal stories vertel van jare in vreemde lande, maar ek sal dit só vertel dat dit regtig snaaks sal wees. Ek sal niks byvoeg van emosionele armsaligheid nie, want dit sal niemand laat lag nie.

Ek sal ook, tot hulle groot vermaak, vir hulle vertel van voormalige middelklasmense wat voel hulle waardigheid word aangetas deur balju’s – en die polisiemanne wat hulle geselskap hou – wat die voormalige middelklasmense se meubels en braaipanne tel wat op skuld gekoop is maar nooit afbetaal was nie omdat iemand iets vir die baas gesê het en toe word hy afgedank. Hulle sal eers lag daaroor, maar dan sal die gasheer skielik opstaan en my beveel om vir almal nog bier te gaan haal.

Dan sal ek wegskarrel, en te laat die tamatie sien wat een van die laaities in die rigting van my kop gegooi het.

Wat is die doel van my lewe? Om aan die lewe te bly. Maar ek pleeg stadig maar seker selfmoord deur te veel te rook, en deur nie myself die basiese vreugdes te gun van intieme gemeenskap met betekenisvolle ander nie.

Is ek gedoem tot mislukking in al die ondernemings wat ek die afgelope vyf jaar aangepak het? Is dit die enigste moontlike resultaat, omdat ek nie die durf het om te doen wat ek moet doen nie? Is ek gedoem tot mislukking omdat ek nie die bietjie gemak en sekuriteit wil opgee wat ek bewerkstellig het die afgelope paar jare nie? Is dit omdat ek nie geloof het nie? Is dit omdat ek nie die vaagste fokken clue het wat regtig belangrik is nie? Is dit omdat ek nie volgens die reëls wil speel nie … maar nie omdat ek ’n rebel is nie, net omdat ek dit nie kan verduur as iemand vir my sê wat ek moet doen nie? Is daar ’n plek in hierdie wêreld vir ’n sogenaamde skrywer wat weier om kortverhale of artikels te skryf, te trots is om in die straat te slaap, en te hardkoppig is om meer kommersiële werk te doen om seker te maak die volgende repatriasie plan werk uit?

Vat ek die polarisasie tussen ryk en arm te ver? Neem ek my eie lewe te ernstig op? Begin dit teen my te tel dat ek ou vrese en onverwerkte woede en wie weet wat nog gebruik vir inspirasie?

Dalk het ek in ’n vorige lewe ’n ontydige dood gesterf sonder enige waarde, en ek is nou nog kwaad daaroor. “Ek” poog dan nou om hierdie lewe van “my” te kaap in ’n poging om iets terug te wen wat “ek” verloor het in ’n vorige lewe. Wat was dit? Koeël tussen die oë in ’n loopgraaf in die Eerste Wêreldoorlog? Moord in ’n stegie in ’n vorige eeu? Klip teen die kop toe ek fluit-fluit verby ’n groep betogers gestap het?

Betaal ek vir sondes van ’n vorige lewe? Gaan dit oor verlossing en versoening? Of gaan dit net oor swakhede in my persoonlikheid wat maak dat ek nie die regte dinge kan doen vir die regte resultate nie?

Is die “regte” resultate ’n “betekenisvolle lewe” of ’n “buitengewone lewe”? Is ek ’n mal, gewonde dier wat die wêreld wil verskeur, maar omdat ek bang is die wêreld verskeur mý, produseer ek halfhartig literatuur in ’n poging om weg te kom en in die proses ten minste ’n bietjie van my waardigheid te behou? Sal een plus een aan die einde twee blyk te wees?

Die prys vir repatriasie – wat dit ook al beteken – was nog nooit laer nie. Maar die prys vir my geluk, was nog nooit hoër nie.

Die kaarte is op die tafel, en die dobbelstene gelaai. Die Waarheid bestaan uit vyf-triljoen, drie-honderd-twee-en-tagtig-miljard, sewe-honderd-een-en-negentig-miljoen, nege-honderd-drie-en-twintig-duisend, ses-honderd-vyf-en-veertig stukkies. Ek het my twee of drie stukkies bygedra. Kan ek maar loop?

______________________