Wat jy kry as jy strand toe gaan een naweek

MAANDAG 5 MAART 2018

16:21

Ek sê ’n paar dae gelede vir [N.], as ons genoeg geld maak uit ons Engelse klasse om geld te kan spaar, gee ons te veel klasse. Ons sal nooit, ooit genoeg geld vir ons oudag kan spaar deur teen NT$620 [omtrent USD20] per uur Engelse klasse te gee nie – dit nog op ’n deeltydse skedule waaroor ons geen beheer het nie.

Ons moet eenvoudig meer tyd spandeer aan ondernemings waarmee ons hoop om in die toekoms ons huidige inkomste te vervang – en hopelik te verdubbel en moontlik te verdriedubbel. Selfs al het ’n onderneming slegs ’n 50/50-kans, moet ons dit vat. Soveel te meer as dit die ontwikkeling van vaardighede behels waaroor ons nie tans beskik nie, maar wat ons in die toekoms kan gebruik.

17:46

Ek is amper 47. [N.] is amper 40. As ons dink ons kan staatmaak op ons inkomste uit die Engelse klasse wat ons gee, leef ons in ’n fantasiewêreld. Elke nou en dan word ons uit hierdie fantasie geruk – soos vandag toe ek ingelig word dat daar ’n vertraging is met my werkspermit, en dat iemand anders my klasse vir die volgende paar dae sal moet gee, maar as ons weer sien, is ons weer gesus deur die relatiewe gemak waarmee mens geld maak met Engelse klasse.

Feit is, ons kan nie daarop staatmaak nie! En dit geld net soveel vir enige van ons vriende wat ook hier in Taiwan hulle brood en botter verdien as Engelse onderwysers! Tensy jy ’n permanente posisie het, met pensioen en drie weke betaalde verlof, en betaalde openbare vakansiedae, vra jy eenvoudig om wreed ontnugter te word as jy dink alles is pluis!

Natuurlik sê ek hierdie dinge al vir amper so lank as wat ek in Taiwan is. En ek het al soveel lewensenergie en tyd en geld gespandeer om te probeer om op ander maniere as met Engelse klasse geld te verdien, dat ek eerder nie daaraan wil dink nie, om myself die emosionele ongemak te spaar.

Die moontlikheid kom elke nou en dan op om nóg ’n klas te aanvaar, nóg ’n aand wat jy kon werk aan ander ondernemings, wat opgeoffer sal moet word om NT$600 of NT$900 te verdien. Hier is wat jy jouself moet afvra: Kan ek nie my huur betaal nie? Is dit hoekom ek die klas moet vat? Eet ek nie genoeg nie? Val my klere van my lyf af en ek het die ekstra geld nodig om vir my ’n paar jeans te gaan koop by Costco? Indien jy “nee” antwoord op al hierdie vrae, indien jy antwoord dat jy net dink dit sal goed wees om ’n ekstra NT$X of NT$Y per maand te kry, stel ek voor jy gaan strand toe een naweek, gaan sit op die sand, en staar voor jou uit vir ’n paar ure. Want dis duidelik dat jy nie genoeg dink oor jou lewe, en oor die gevolge van hoe jy dit leef nie.

______________________