Want geld is god

SATERDAG 3 MAART 2018

Geld is Baas. Geld is Koning. Geld – kom ons wees eerlik daaroor – is God. Mense wy hulle lewens daaraan toe. Mense sterf daarvoor, en mense maak dood daarvoor.

As ek my sin kon kry, het ek my lewe ingerig op so ’n wyse dat ek nie veel geld nodig het nie, en derhalwe nie nodig het om veel geld te maak nie. Maar omdat ek die druk van die moderne beskawing verstaan, probeer ek ook om so gereeld as moontlik my hopie kontant aan te vul. Om die waarheid te sê probeer ek al vir baie lank om veel, veel meer geld te maak as wat ek werklik nodig het, sodat ek onder andere my ouers kan bystaan op hulle oudag.

Om verskeie redes is ek tot dusver nie vreeslik suksesvol daarin gewees nie. Ek maak genoeg om te oorleef, maar nie veel meer as dit nie. Ek is dus genoodsaak om my lewe in te rig op so ’n wyse dat ek met minder oor die weg kan kom. Dit volg dat ek kan beweer dat ek ’n goeie lewe het, en dat ek relatief gelukkig is, omdat ek geleer het om ’n goeie lewe te leef en gelukkig te wees met wat ek wel het – wat nie juis veel is nie, materialisties gesproke.

Maar ongelukkig is geld, God. Jou bejaarde ouers kan nie gehelp word met jou idees oor ’n eenvoudige lewe nie. Jou bejaarde ouers kan nie kos koop met jou kreatiewe vaardighede nie. Jou bejaarde ouers se mediese fonds kan nie betaal word met jou gedigte of jou aantekeninge oor die mens se bestaan nie. Net kontant is goed genoeg. As die rekening kom, en jy kan nie genoeg kontant uit jou kas, onder jou matras, onder jou kussing, uit jou lessenaar, uit jou skoen, uit jou sak of beursie, of uit die bank trek nie, kan jy maar net sowel hel toe gaan. Want geld is God.

______________________