Waarvoor ek geprogrammeer was

DONDERDAG 1 MAART 2018

Persoonlikheid (gegewe), omstandigheid (gegewe), kultuur en godsdiens (beide gegewe), het my tot ’n groot mate* geprogrammeer om ten minste aanvanklik as volwassene nie materiële gewin na te jaag nie.

Waarvoor is ek geprogrammeer? “God”, “Die Waarheid”, “Volg die Regte Pad”, doen jou deel om mense te help om “die lig” te sien. Die najaag van materiële gemak, geld, en status, was van mindere belang. Nie my keuse nie, let wel, maar hoe ek geprogrammeer is. Of, ek het sekerlik ’n keuse gehad, soos wanneer die dominee vir jou vra wanneer jy sestien is of jy kies vir Jesus of vir Satan. Dis ’n keuse, orraait.

Ek sê aanvanklik het persoonlikheid, omstandigheid, kultuur en godsdiens my geprogrammeer – of soos een dominee lief was om te sê, gedring – om sekere dinge te doen en nie ander nie, want uiteindelik het ek harder en harder probeer om geld te maak, en meer en meer tyd spandeer daaraan. Maar, wat was my opleiding daarvoor? Het ek op skool geleer van beleggings? Is ek as tiener of jong volwassene blootgestel aan suksesvolle ondernemings by die huis? Nee, en nee. Waaraan ek blootgestel is, is ouers wat hulleself doodgewerk het om geld in te bring om huur te betaal, skoolfonds te betaal, en kos en klere te koop, maar as “God” besluit “hy” toets jou, om te sien hoe jy reageer in ’n bepaalde situasie, dan rol “hy” eenvoudig ’n klip in jou pad en dan struikel jy. Dit was my opleiding. Dit was waaraan ek blootgestel is.

Natuurlik is ek al vir jare besig om myself te deprogrammeer. Maar laat ons nie onsself verbeel ons het in ’n vakuum grootgeword nie. Ja, jy beweeg aan en jy verbeter jouself en jou lewe ten spyte van psigiese klippe wat in jou pad gerol is toe jou brein en persoonlikheid nog besig was om te vorm. Maar kom ons verbeel nie onsself dat wie jy was as tiener nie ’n invloed gehad het op hoe jy gedink het toe jy oorgegaan het in jou volwasse jare nie, en dat besluite wat jy toe gemaak het, nie steeds ’n impak het op jou lewe twintig jaar later nie.

* Ek weet “tot ’n groot mate” is ’n “weasel phrase”, maar ons praat hier van indoktrinasie en die invloed van die omgewing op die psige – nie iets wat jy kan meet soos bestanddele vir ’n koek nie.

[Ek klink omgekrap in hierdie teks, en in ’n paar ander stukke voor hierdie een, en ná hierdie een. Feit is, ek was. En ek is nie in die gewoonte om notas wat ek geskryf het in ’n slegte bui, weg te gooi wanneer ek beter voel nie. Dit is net soveel deel van my waarheid as notas waar ek positief en gelukkig is.]

______________________