WOENSDAG 4 FEBRUARIE 2004
’n Man by ’n treinstasie vra vir die klerk agter die toonbank hoe ver ’n sekere bedrag geld hom kan vat. Ek sit agter my rekenaar, ’n dag voor ek die verpligte mediese toets moet ondergaan as die eerste stap om in Taiwan aan te bly, en ek vra: Hoe ver kan NT$50 000 my vat?
Ek is desperaat om weg te gaan. Ek is ook desperaat om terug te gaan Suid-Afrika toe, as die ideale eindbestemming van die eerste aksie, maar nie noodwendig die enigste moontlikheid nie.
Wat is my opsies? Wat het ek nodig om te doen?
Ek het nodig om omtrent twintig bokse met ornamente en ander artikels terug te karwei Suid-Afrika toe. Ek het ’n paar duisend nodig om my ’n redelike kans op oorlewing te gee gedurende die eerste paar maande in Suid-Afrika. Ek het beloftes gemaak oor besoeke aan my suster en haar eersgeborene in Engeland, en aan my goeie vriendin van lank gelede in Nederland.
[…]
’n Ander opsie is om te trek na ’n ander stad in Taiwan. Dit sal van die meubels ontslae raak; ek kan ten minste die helfte van die bokse reeds Suid-Afrika toe stuur, en ek kan na ses maande genoeg geld uit die nuwe betrekking verdien om die res te verskeep. Ek sal dan eers teruggaan Suid-Afrika toe, en daarna vir twee of drie weke in Europa gesig gaan wys.
Ek kan ook ’n ses-maand betrekking kry in China. Dit sal ook van die meubels ontslae raak. Ek kan al my bokse Suid-Afrika toe stuur, vir ses maande Engelse klasse gee en Chinees studeer, en werk aan materiaal met ’n ietwat ander geur as waarmee ek die afgelope vyf jaar my tyd verwyl het. (“Geen ballingskap essays nie?” mag jy dalk vra. Nee. Die uitgerekte proses van ballingskap opheffing is wel ’n sterk moontlikheid.)
Wat sou jý gedoen het? Dis ’n groot jammerte dat daar niemand is wie se raad op hierdie gebied ek genoeg respekteer om daarvoor te vra nie. Hoekom dit so is, kan ek maar net spekuleer. Dalk het dit te make met my ongewone situasie, met al my vorige onsekerhede oor die lewe; waar ek vandaan kom; waarheen ek op pad is; twee jaar in Korea en toe die opheffing van daardie wegbly aksie; agt maande van armoede in Suid-Afrika; die skok van genoeg geld gedurende die eerste paar maande in Taiwan om ’n rekenaar kontant te kan koop, en boeke, en musiek, en nuwe klere, en ’n duur horlosie; die sekuriteit van ’n drie slaapkamer woonstel wat ek net gedeel het met ’n paar insekte; gemeganiseerde vervoer wat beteken het dat ek nie afhanklik was van enige iemand anders om fliek toe te gaan nie; geld om fliek te gaan kyk …
Dis natuurlik vir die organisme om te streef na ’n toestand van spanningsloosheid. Ek het Korea verlaat om emosionele spanning te verlig. Ek het geweet ek moes dit doen, nie omdat iemand dit vir my as advies aangebied het nie, maar omdat ek moontlik na ontbyt, voor middagete, in ’n fliek, of agter die kontroles van ’n video game moedeloos gedink het, “Ek is sommer lus en gaan huis toe, so gou as moontlik.”
Die oomblik toe hierdie gedagte by my posgevat het, het my brein vorendag gekom met spesifieke planne en aksies wat geneem moes word. Die organisme het nie toe geweet van buitekamers met pienk mure en sponse vir ’n bed, of ’n vervelige deeltydse betrekking in ’n kantoor in Johannesburg nie. Die organisme het nie geweet hoe dit gaan voel om elke dag met ’n geleende fiets die sewe kilometer te trap kantoor toe nie. Die organisme het nie geweet hy gaan binne ’n paar maande platsak wees nie. Al wat hy geweet het, was dat die spanningsliggie ROOI-ROOI-ROOI gebrand het.
My spanningsliggie brand rooi. Dis die maklikste ding op aarde om môre by die hospitaal in ’n papierkoppie te gaan pis, om sodoende oor twee weke nog ’n stempel in my paspoort te kry wat my sal toelaat om vir nog ’n paar maande my ongepakte ornamente en muurbehangsels met groot liefde te streel asof dit foto’s van ’n geliefde is. Gaan dit my spanning verlig? Ek het twaalf ure om ’n finale beslissing daaroor te maak.
Ek wens amper hierdie hele “teruggaan” tema was net ’n literêre slenter om op te maak daarvoor dat ek nie lus is om kortverhale te skryf nie. Ek wens daar was iemand wat vir my kon raadgee.
My tyd is amper op. Dis Woensdag 4 Februarie. Ek moet besluit wat ek gaan doen. As ek besluit om te bly … dan’s dit hoe dit is.
Ek sal ook plegtig belowe dat die woorde en frases “ballingskap”, “bokse pak”, “vliegtuigkaartjie” en “planne” nie gebruik sal word in enige stukke wat geskryf sal word tussen nou en wanneer ek ook al my bokse pak, my vliegtuigkaartjie koop, en met halfgebakte planne uiteindelik my ballingskap ophef nie. Ek weet nie lekker wat ek sal doen nie, maar ek is seker daarvan ek sal aan iets dink om te skryf (die “Fauna en flora” idee het platgeval, die “Trip na die strand” het plaasgevind maar het niks opgelewer om oor te skryf nie, en met hoeveel meer kan ek nog vorendag kom oor “Plek en identiteit”?)
Voorwaar, voorwaar, sê ek vir myself, ek staan by ’n stasie. Vorentoe of tru, links of regs, spring oor die spoor of hardloop weg. Beijing, Middelburg, Londen, Amsterdam, Bronkhorstspruit, of Berg van die Aasvoël Dorp. Ek weet fokkol.
______________________