Ses gedagtes oor nege weke

DINSDAG 5 JANUARIE 2021

12:11

Om te deel of nie te deel nie – jou sjokolade of neute in die yskas, die piesangs wat jy eintlik vir jouself gekoop het, die geld in jou beursie waarmee jy gedink het jy net vir jou eie ete gaan betaal. Die groter vraag is, wie wil jy wees? ’n Welgestelde persoon, in terme van ingesteldheid én banksaldo, wat graag deel, of ’n persoon met ’n bietjie geld, ’n paar neute of stukkies sjokolade, of ’n trossie piesangs, maar wat diep in sy binneste glo dat ’n tekort aan hulpbronne die ware stand van sake is, en indien hy deel, wat hy ook al gehad het, nie vervang sal word nie?

* * *

Jy is tot ’n groot mate verantwoordelik vir die omgewing waarin jy jou bestaan voer, die omgewing waarbinne jy sensasies en ervarings het wat jy kollektief jou lewe noem. Hierdie omgewing sluit in die atmosfeer wat geskep word tussen jou en die mense met wie jy jou bestaansomgewing deel – by die werk, by die huis, selfs in openbare plekke.

14:05

Dink nie in terme van waar of vals nie, maar in terme van waarskynlikheid: Hoe waarskynlik is dit dat iets gebeur het, of gebeur het op ’n bepaalde manier?

SONDAG 7 FEBRUARIE 2021

Vra die een man vir die ander: “Voel jy nie skaam nie? Jy’t nie gedoen wat ’n goeie seun behoort te doen nie! Jy’t nie vir jou ouers ’n huis gekoop nie, en as jou susters nie ook ’n bydra gemaak het nie, sou hulle nie kon oorleef net op wat jy elke maand gestuur het nie.”

Antwoord die ander man: “Ek wás voorheen verleë, en hét skaam gevoel daaroor. Tot ’n mate voel ek dit steeds. Maar ek het ook vir lank geglo dat die geldmaak game verknoei is teen kreatiewe mense, teen ware gelowiges, en teen verlore siele op soek na iets om aan vas te hou, op soek na hulle plek in die wêreld, na wie hulle veronderstel is om te wees, of kan wees.”

WOENSDAG, 10 FEBRUARIE 2021

Stel jou voor ’n skrywer wat begunstig word deur die politieke en kulturele elite publiseer ’n boek en Amazon.com verbied enige negatiewe of kritiese resensies. Hoe kan jy weet wat die kwaliteit van die boek is as geen afwyking van die amptelike en goedgekeurde opinie toegelaat word nie?

SATERDAG 6 MAART 2021

In sy boek, Carnage and Culture, verduidelik Victor Davis Hanson hoe sekere aspekte van Westerse kultuur aan Westerse soldate, militêre leiers en regerings ’n kritieke voordeel gegee het in militêre konflik van die Antieke Era tot en met die een-en-twintigste eeu.

Die heel laaste item van die woordelys gee ’n beskrywing van die woord “Western”: “Generic adjective for European civilization that grew up in and west of Greece, and shared core values that originated in classical antiquity, including but not limited to constitutional government, civil liberties, free exchange of ideas, self-critique, private property, capitalism, and separation between religious and political/scientific thought.”

Om hierdie aspekte van Westerse kultuur aan te neem en te ontwikkel, sal volgens Hanson nie-Westerse nasies soos Iran, China en Noord-Korea gevaarliker maak as die wydskaalse invoer van wapens en tegnologie ontwikkel deur Westerse wetenskaplikes, entrepreneurs, uitvinders, en maatskappye.

______________________

Gedeeltelik geïmproviseerde toneelstuk in 20-jaar periodes

VRYDAG 5 FEBRUARIE 2021

Kyk na die lewe in oorvleuelende 20-jaar periodes:

0-20: Van pasgeborene tot jong volwassene, sluit in feitlik jou totale programmering van wie jy is, wat jy glo, hoe jy inpas in die wêreld, en hoe jy moet funksioneer en optree om meeste van die tyd uit die moeilikheid te bly en ’n redelike kans te geniet op ’n goeie lewe

10-30: Van jonk kind, amper tiener, tot 30-jarige volwassene; sluit in laaste laerskooljare, hoërskool, post-hoërskool opleiding, die begin van ’n loopbaan, dalk huiskoop en trou

20-40: Tersiêre opleiding, begin werk, trou of vind ’n lewensmaat, vestig jouself, koop dalk ’n huis, begin dalk ’n familie

30-50: Werk hard aan jou loopbaan of eie besigheid; maak dalk kinders groot en sien hoe hulle hul eie mense raak; dink aan wat jy gaan nalaat van jou bestaan; werk aan finansiële welstand

40-60: Bereik dalk die toppunt van jou beroep; werk aan wat jy wil nalaat van jou bestaan, maak soveel geld as moontlik om na familie om te sien en voor te berei vir aftrede; maak aanpassings aan leefstyl om gesondheidsprobleme te bekamp

50-70: Werk verder aan wat jy wil nalaat; bou verder aan finansiële welstand; hou skerper oog op enige tekens van verswakkende gesondheid; maak spesifieke voorbereidings vir aftrede

60-80: Begin lewe teen ’n stadiger pas; fokus op die handhawing van jou gesondheid en ’n goeie kwaliteit lewe; gee advies wanneer gevra word deur jonger geslagte; hou duim vas jou geld hou tot die einde

70-90: Raak toenemend afhanklik van ander mense – familie, of personeel by aftree-oord; heel waarskynlik nie meer ekonomies aktief nie; fokus op rustige aktiwiteite met familie en tydgenote

SATERDAG 6 FEBRUARIE 2021

Die slegte ding van bogenoemde skema, is dat dit jou lewe laat lyk soos ’n toneelstuk met die dele netjies omlyn.

Aan die een kant is dit so: die eerste blok van twintig jare word jy eintlik maar nog net wakker. Teen die tyd wat jy besef jy kan inderdaad jou eie lewe beëindig – dat jy nie vasgevang is in iets wat nie jou keuse was nie, is jy reeds kniediep in dit, en jy besef die prys om so te doen, is dalk vir jouself of ander mense vir wie jy omgee, te hoog.

Aan die ander kant is daar heelwat spasie om buite die lyne te gaan. Jy kan improviseer. Jy kan ’n nuwe beroep begin in jou veertigs, of selfs vyftigs. Jy kan jou eie besigheid begin en skatryk word daaruit in jou sestigs. Sommige mans word vir die eerste keer pa in hulle sestigs en soms sewentigs, en sommige vrouens kry hul eerste kind in hulle vroeë veertigs. En mense trou ook vir die eerste (of tweede, of derde keer) lank na hulle twintigs of dertigs.

Daar is altyd ’n hoofstroom wat wissel volgens land of streek, en volgens kultuur. Dit word ook aangepas met die tyd – mense doen nie meer dinge presies soos ouer geslagte dit in die vyftigs of sestigs van die vorige eeu gedoen het nie.

Belangrik om te onthou soos jy die oorgang vier van een blok van jare na die volgende: Jy is so vry soos wat jy dink jy is.

______________________

Donderdag 31 Desember 2020

Een van die uitstaande kenmerke van hierdie jaar – en daar was ’n paar, was die mate waartoe mense in ideologiese stamme gegroepeer is, of hulleself geskaar het by spesifieke ideologiese stamme. Meer as enige jaar sedert November 2016, moes jy opinie inneem oor die presidentskap van Donald Trump. Jy moes ’n opinie formuleer oor die Black Lives Matter organisasie. Jy moes besluit waar jy staan met die beweging in talle Westerse lande wat hulleself Antifa noem. Jy moes besluit of dit oukei is as protesteerders geboue afbrand, kleinbesighede verwoes, en individuele lede van die publiek aanrand in groepe teen wie die individu feitlik geen teenstand kan bied nie. (Voorheen sou jy dalk reken dit was maklik om hierdie tipe gedrag voor die voet te veroordeel, maar 2020 was die jaar wat selfs noue familielede en mense in jou sosiale kring sulke gedrag sou goedkeur met ’n vuis in die lug, of ’n grafiek van ’n vuis in die lug op sosiale media.) Dit was verder die jaar wat jy moes besluit of COVID-19 die etiket van pandemie verdien, en of dit net nog een van die soms dodelike virusse is wat elke paar jaar die wêreld teister. En selfs as jy saamstem dat dit wel ’n pandemie is, moes jy ’n opinie vorm oor maatreëls wat regerings wêreldwyd geïmplementeer het om die virus te bekamp. Wat meer is, jou eie besigheid, jou eie bron van inkomste, was dalk bedreig, en het dalk ondergegaan, as gevolg van grendeltydperke of ander maatreëls. Sedert November moes jy ook nog stelling inneem oor die Amerikaanse verkiesing. Was dit vry en regverdig? Het die media in Amerika albei presidensiële kandidate dieselfde behandeling gegee? Het hulle albei kandidate ’n gelyke kans gegee om hulle saak te stel? As verdoemende openbarings gemaak is oor een van die kandidate, het die media dit met redelike onbevooroordeelheid hanteer? Siende dat daar geleenthede was vir korrupsie in die verkiesing – soos met sekerlik enige wydskaalse onderneming bestuur deur duisende mense, siende dat daar meer as voldoende aansporing was om korrupsie te pleeg – politieke posisie bring talle voordele vir die wenner en hulle ondersteuners, en siende dat daar nie voldoende tyd was om enige ernstige aantygings te ondersoek nie – die ondersoek oor aantygings oor Russiese betrokkenheid in die 2016 verkiesing, het ongeveer twee jaar geduur, en in die lig van onwaarskynlike statistieke, kan dit met sekerheid gesê word dat die amptelike wenner van die verkiesing die wettige wenner is? Dan, om die opinie bonanza af te rond, was daar Climate Change en Global Warming, en die World Economic Forum en hulle Great Reset; daar was die deurlopende onderhandelings oor Brittanje se verlating van die Europese Unie; die debat of ’n volwasse man eenvoudig kan verklaar dat hy ’n vrou is en van daai oomblik geregtig is op beskerming en regte wat eksklusief vir vrouens bedoel is; die vraag of tieners en pre-tieners op hulle eie kan besluit watter geslag hulle is en as dit nie ooreenstem met hulle geslagsdele nie, hulle sonder hulle ouers se toestemming onmiddellik kan begin met hormoonbehandeling wat langtermyn, onomkeerbare gevolge kan hê; en die toenemende vooroordeel en politieke agendas van sosiale media – dalk geen probleem as hulle politiek met joune ooreenstem nie, maar wat gebeur as jy jou opinies verander? Die tendens wat al ’n paar jare aan die gang is van mense wat plekke op besprekingpanele verloor, of afgedank word of kontrakte verloor omdat hulle iets gesê het of geskryf het wat teen die aanvaarde denkstrome van die dag is, noop ’n mens ook om te wonder of daar werklik nog ruimte is vir vrye debat. Kan ’n mens nog dink wat jy wil én jou werk behou? Kan jy nog ’n opinie in ’n private gesprek uitspreek oor belasting of immigrasie of godsdiens of klimaatsverandering en verwag dat dit nie jou manier om ’n bestaan te maak, gaan kos nie? Kan ’n wetenskaplike eksperimente doen met die wete dat hy nog steeds ’n werk sal hê indien die resultate van sy eksperimente nie populêr is onder sosiale en politieke aktiviste nie?

Nietemin … nietemin … is ek dankbaar. Ek is dankbaar dat ek nog leef. Ek is dankbaar dat my twee susters, hulle kinders, en my twee dierbare ouers ook die jaar oorleef het. En ek is dankbaar vir my vrou en lewensmaat wat elke dag beter maak met haar liefde, haar vriendskap, en haar ondersteuning. Dan is ek dankbaar vir my gesondheid, en vir ’n goeie tuiste in Taiwan. Ek is dankbaar vir ons twee katte. Ek is dankbaar vir al die eetplekke in ons buurt waar ons smaaklike en gesonde maaltye kan geniet. Ek is dankbaar vir al die geleenthede wat ek het om geld te verdien. En – ek is dankbaar vir die heerlike koel weer vandag in Kaohsiung (13ºC), en vir die aangename koppie warm, swart koffie wat ek geniet soos ek hierdie woorde tik.

Wees goed vir jouself in 2021. Wees goed vir mense wat jou lewe met jou deel, en wie se lewens jy deel. Wees ook goed vir mense wat op hierdie oomblik vreemdelinge is vir jou, maar dalk later vriende. En wees redelik met mense met wie jy verskil, en moenie brûe verbrand waaroor jy later spyt gaan wees nie. En as mense nie redelik is met jou nie? Hou jou gewete skoon en jou intellektuele eerlikheid in takt. En sorg dat jy genoeg geld in die bank het – of in jou kluis, of in jou kripto-beursie, of in jou sakkie goud en silwer), en genoeg bronne van inkomste wat nie oornag gekanselleer kan word nie.

______________________

Enkele vra oor die Koronavirus

WOENSDAG 16 DESEMBER 2020

Enkele vrae oor die Koronavirus, net om weer duidelik te maak waar ’n mens staan:

1. Wat is die oorsprong van die virus? As die oorsprong nog nie duidelik is nie, ten spyte van die waarde wat dit sal inhou om te weet, en ten spyte van tegnologiese en menslike hulpbronne wat beskikbaar is, wat is die rede daarvoor?

2. Hoe dodelik is die virus? Spesifiek, gestel ’n redelik gesonde persoon in hulle twintigs kry die virus, wat is die waarskynlikheid dat die persoon sal sterf van die infeksie? Wat is die waarskynlikheid as die persoon in hulle veertigs is, of vyftigs, of sestigs, of sewentigs, of tagtigs? Wat is die waarskynlikheid dat ’n gesonde kind of tiener sal sterf van ’n Koronavirus infeksie? Hoe dodelik is die virus vir mense in hulle twintigs wat reeds ander gesondheidsprobleme het (diabetes, hartprobleme, asma, oorgewig, hoë bloeddruk)? Hoe dodelik is die virus vir mense in hulle dertigs, veertigs, vyftigs, sestigs, sewentigs, tagtigs met ander gesondheidsprobleme?

3. Hoe effektief is grendelmaatreëls om die verspreiding van die virus te bekamp? Hoe goed werk dit om restaurante en ander kuierplekke toe te maak, en om skole te sluit? Is die tipe maatreëls wat die wêreld gesien het in 2020, ooit met ander pandemies en epidemies toegepas? Indien nie, hoekom nie? Was die data waarvolgens gesondheidsbeamptes en regeringsleiers besluite gemaak het, akkuraat en volledig genoeg om sulke besluite te kon maak? Aan die begin – in Februarie of Maart – kon ’n mens verstaan dat daar nog nie voldoende data beskikbaar was nie, maar na meer as agt maande moet die prentjie tog duideliker wees, dan nie?

4. Hoe effektief is die dra van maskers deur gesonde mense om die verspreiding te bekamp? Is daar enige studies wat bewys dat maskers ’n betekenisvolle verskil maak tussen gesonde mense wat die virus kry, en gesonde mense wat nie die virus kry nie? Is daar enige negatiewe gevolge vir gesonde mense as hulle vir ure aaneen ’n masker dra – selfs buitekant wanneer hulle op ’n strand of in ’n park stap?

5. Sedert grendelmaatreëls ingestel is om die verspreiding van die virus te bekamp, hoeveel mense het gesterf aan oorsake wat teweeggebring is deur die maatreëls, en nie van die virus self nie, byvoorbeeld aan kanker en hartprobleme waarvoor behandeling uitgestel is?

6. Wat is ’n redelike projeksie vir die hoeveelheid mense wat sal sterf oor die volgende dekade as ’n direkte of indirekte gevolg van armoede teweeggebring deur maatreëls wat hulle besighede of ander bronne van inkomste verwoes het?

7. Die WHO het met die verloop van 2020 uiteenlopende verklarings gemaak oor die erns van die virus, oor internasionale reis, en oor maskers. Daar is ook ’n spektrum van opinies onder epidemioloë, mediese dokters, en ander kenners oor die virus en die effektiefste maniere om dit te bekamp en die bevolking te beskerm. Tog word vrye bespreking in die nuusmedia en veral op sosiale media streng ontmoedig. Slegs opinies goedgekeur deur die WHO en deur nasionale regerings kry die stempel van geloofwaardigheid. Alternatiewe opinies word gemerk as “Disinformasie” of word eenvoudig verban. Tog het dit al telkemale geblyk dat kenners wat hierdie verbode opinies huldig, reg was, en regeringsleiers en gesondheidsbeamptes wat saam met regerings werk, verkeerd. Wie moet die publiek vertrou? As vrye bespreking nie toegelaat word nie, en kritiek oor goedgekeurde opinies word gestraf, hoe kom ’n mens by die waarheid uit?

MAANDAG 28 DESEMBER 2020

Die twee belangrikste vrae:

1. Is SARS-COV-2 die dodelikste virus wat die mensdom getref het die afgelope honderd jaar? Indien nie, hoekom maatreëls implementeer wat nog nooit op so ’n groot skaal beproef is nie, en wat selfs ’n politikus vir hom- of haarself kon uitwerk destruktiewe gevolge sou hê, en steeds het, op die bevolking?

2. Hoeveel mense sal uiteindelik sterf as gevolg van maatreëls wat bedoel was om lewens te red?

______________________

Gedagtes op pad Costco toe

VRYDAG 25 DESEMBER 2020

Ek moes vanmiddag alleen Costco toe gaan. Uit die aard van die saak gooi ek my gedagtes terug oor die laaste twintig jaar in Taiwan.

Ek dink onder andere wat belangrik was vir my al die pad terug in ’99, 2000 en 2001, naamlik die vryheid om te kon doen wat ek wou doen. En wat ek wou doen, was om nie tyd te mors nie. Om die waarheid te sê, was ek diep bewus van ons beperkte lewensverwagting, of soos die een karakter in die 1999 cult classic, Office Space, gesê het: “Michael, we don’t have a lot of time on this earth! We weren’t meant to spend it this way” (menende in klein afgeskorte spasies in ’n kantoor, starende na rekenaarskerms.) Om my tyd te spandeer in privaatnaskoolsentrums met laerskoolkinders, was letterlik en figuurlik ’n geval van my wat driftig op pad was êrens heen, met mense wat die deur blok, of wat aan my klere trek, of wat my gesag uitdaag terwyl ek net wil hê dat hulle moet stilbly en stilsit vir een minuut sodat ek gedoen kan kry wat ek moes doen, sodat ek my vlerke kon span en kon wegvlieg na die berge toe.

Een van die dinge wat ek wou doen, was skryf. En nie vir roem of geld nie. Om te skryf was ’n hanteringsmeganisme. Ek het beter gevoel oor my daaglikse bestaan as ek ’n paar bladsye gevul het in my notaboek, of op my rekenaar – gewoonlik oor my eie lewe, vir geen ander leser as myself jare later nie. Ek skryf steeds, maar nou meestal omdat dit my gelukkig maak – selfs as ek skryf oor politiek. Ek voel altyd ’n mengsel van ontspanning (of verligting) en euforie wanneer ek aan ’n stuk teks gewerk het.

Die ander ding wat ek besef het oor die laaste twee dekades – die goue pennie wat as’t ware geval het, was daar nie ’n goue pennie van geheime kennis is wat moet val voordat ’n mens genoeg geld kan maak om ’n goeie lewe te lei nie.

Of, as ek myself nou behoorlik deurmekaar moet praat, daar is tóg ’n goue pennie wat moet val voor jy beter kan begin doen. Jy moet uitpluis wat jou verhouding is met geld, en jou identiteit bevestig as iemand wat wel die vermoë het om inkomste te kan genereer. Feit is dat meeste mense van kindsbeen af swak of foutiewe programmering ontvang oor geld, en oor geldmaak. Dit vat soms ’n halwe volwasse lewe om hierdie programmering te identifiseer, en dit reël vir reël in jou onderbewuste oor te skryf.

Die sleutel wat die deur na ’n beter toekoms kan ontsluit, is dus nie net om te weet dat jou huidige finansiële toestand tot ’n groot mate die resultaat is van dieselfde ding wat ’n rekenaar op ’n bepaalde manier laat funksioneer nie, naamlik programmering, maar om te weet dat dit ten volle in jou vermoë is om hierdie programmering te verander, om jou verhouding met geld te verander, en om jouself te transformeer in iemand wat in staat is om die tipe lewe te kan leef wat jy wat jy wil leef.

______________________