’n Terugkeer na godsdiens – op ’n manier

SONDAG 25 NOVEMBER 2018

Hierdie jaar mag uiteindelik blyk te wees die jaar van my terugkeer na godsdiens.

Ek het “god” op ’n manier herontdek – die ongelooflik magtige teenwoordigheid wat jou swaar straf as jy nie ’n goeie verhouding met “hom” het nie, maar as jy jou vrede kan maak met “hom”, is die wêreld jou pêrel.

Geloof hierdie keer is ook prakties. Jy word uitgenooi om te dink daaroor … en as jy sien dat dit sin maak, kan jy jou lewe transformeer. As jy dit nie wil aanvaar nie, sal jy nie verdoem word tot hel aan die einde van jou aardse bestaan nie, maar jou aardse bestaan mag dalk voldoende ellendig wees om te dien as jou persoonlike hel.

Ek praat natuurlik hier van die beskouing dat dit saak maak hoe jy dink aan jouself en jou lewe, en van jou verhouding met geld.

DONDERDAG 29 NOVEMBER 2018

Positiewe gedagtes, die ontwikkeling van ’n gesonde verstand en liggaam as deel van die proses om ’n goeie lewe te skep, ’n positiewe verhouding met ’n alomteenwoordige krag, die idee dat hierdie denkwyse soos ’n spier is wat gereeld geoefen en versterk moet word … lui dit ’n klokkie?

Ek verbeel myself vanoggend hoe dit sou wees indien ’n mens hierdie positiewe, kreatiewe benadering tot die lewe moet hanteer soos ander mense Evangeliese Christenskap hanteer, of dan soos ekself dit benader het in my tienerjare en vroeë twintigs. Voorbeelde sluit in dat ’n mens elke aand voor jy gaan slaap, en elke oggend na jy opstaan eers mediteer vir ’n paar minute, en dalk ’n bladsy of twee lees in ’n boek oor positiewe denke of selfverbetering. Dit sluit ook in dat jy dalk nodig het om vrede te maak met geld (beslis ’n belangrike aangeleentheid in my geval), en ’n nuwe, positiewe verhouding te begin daarmee. (As ’n mens lus is om dit ’n interessante spin te gee, kan jy natuurlik verwys na Geld, met ’n hoofletter.) Jou verhouding met ander mense met wie jy in aanraking kom, word ook geaffekteer. In stede daarvan dat jy reageer om negatiewe stimuli van ander mense, besluit jy om sover moontlik op die positiewe te fokus, en nie toe te laat dat jy ingetrek word in iemand anders se negatiewe spasie nie. Laastens sluit dit ook in – as jy gelukkig is – om gereelde ontmoetings te hê met mense wat soos jy dink en glo, ten einde julle lewensuitkyk en benadering tot die lewe te bevestig en te versterk.

Feit van die saak is, jy dryf óf deur die lewe met geen spesifieke uitkyk, doel of visie nie, en reageer bloot op dinge wat mense sê en doen, en op gebeure wat jou affekteer, óf jy kies doelbewus ’n bepaalde lewensuitkyk wat jou in staat sal stel om beter te funksioneer in die gemeenskap waar jy woon, om meer gedoen te kry in jou lewe, om uiteindelik gelukkiger te wees, en om dalk net ’n positiewe effek te hê op ander mense se lewens. Sommige mense kies geïnstitusionaliseerde religie met eeue-oue tradisies. Ander mense kies om sekere dinge te glo wat betref die funksionering van die menslike liggaam, en hoe die brein en persoonlikheid werk. (Daar is natuurlik vele mense wat in albei kampe is.)

Beide die tradisionele godsdienstige wat daagliks aksies neem en op ’n bepaalde wyse dink en kommunikeer, en die persoon wat glo in positiewe denke en selfverbetering wat ook daadwerklik op ’n daaglikse basis sekere aksies neem en op ’n sekere wyse dink en kommunikeer, sal iets herken in die ander een – ’n poging om jou lewe te leef op ’n manier wat beter werk as om maar net elke dag te vat soos dit kom, tot jy vergaan.

______________________