My lewe in Taiwan vanaf Januarie 1999 in blokke van vyf jaar

SONDAG 15 FEBRUARIE 2026

Januarie 1999~Januarie 2004: Vestig myself in Taiwan. Identiteitskrisis. Skryf verder aan notas begin in 1994. Werk aan eie projekte. Eksistensiële krisis. Trek na tweede woonstel. Produseer honderde bladsye notas en stukke. Besoek Suid-Afrika vier keer.

(Verlate huis in my nuwe woonbuurt)

Januarie 2004~Januarie 2009: Skryf nog. Ontmoet my lewensmaat. Begin obsessie met “make money from home”. Ervaar een mislukking na die ander. Leer hoe om te self-publish. Hou op rook. Besoek Suid-Afrika drie keer.

(Nuwe hoofstuk begin)

Januarie 2009~Januarie 2014: Begin persoonlike webwerwe. Publiseer skryfwerk. Nog meer mislukkings met “make money from home”. Kry meer klasse en bou weer finansies op. Trek na nuwe “kantoor”. Besoek Suid-Afrika drie keer.

(Bokse skuif na nuwe spasie)

Januarie 2014~Januarie 2019: “Make money from home” skuif na pre-race trading en football betting. Herhaaldelike mislukkings en hoë stres. Spandeer ses dae in Kioto en Osaka. Publiseer verskeie tematiese bundels van my skryfwerk. Besoek Suid-Afrika twee keer.

(Verdomde pre-race trading)

Januarie 2019~Januarie 2024: Spandeer ses dae in Ho Chi Min City (Saigon) in Viëtnam. Covid-19. Klasse word gekanselleer; skole sluit. Inkomste val met 60%. ChatGPT en ander Kunsmatige Intelligensie kommersieel beskikbaar. Publiseer my eerste produkte geskep met nuwe hulpbronne. Reis eerste keer om die hele eiland van Taiwan. Besoek Suid-Afrika een keer.

(Belangrike kruispad in Viëtnamese geskiedenis)

Januarie 2024~Januarie 2029: Gebruik verskeie KI-hulpbronne om meer produkte te produseer. Besoek Suid-Afrika twee keer sover.

(Suid-Afrikaanse ontbyt)

______________________

Taiwan en onafhanklikheid: Redelike argumente

DINSDAG 28 MEI 2024

Hier’s ’n toets vir ’n leier van ’n onafhanklike Taiwan: Erken jy dat jou klein nasie deur ’n supermoondheid aan die ander kant van die aardbol uitgebuit kan word om hul mededinger, wat jou naaste buurman is, te ondermyn? Besef jy dat die aanvaarding van militêre bystand van hierdie supermoondheid gesien sal word deur jou naaste buurman as pogings om hulle natuurlike groei as ’n streeks- en wêreldmoondheid te ondermyn? As jy nie daarin slaag om dit te erken en hierdie werklikheid te begryp nie, het jy geen saak om die leier van ’n land te wees nie, nog minder ’n de facto maar nie de jure onafhanklike een nie.

WOENSDAG 16 OKTOBER 2024

’n Redelike argument kan gemaak word dat Taiwan onafhanklik moet wees. Die land en haar mense het bewys in die laaste sewe dekades dat hulle nie enige nie-Taiwannese politieke meesters nodig het om hulle sake te kan behartig nie.

Nog ’n insig wat ek onlangs gekry het uit die boek, A New Illustrated History of Taiwan, deur Chou Wan-yao, is dat Taiwan nie net deur die Japannese gekoloniseer is tussen 1895 en 1945 nie, maar tussen 1945 en ten minste die 1990’s tot ’n groot mate ook deur die Nasionalistiese regering van die Republiek van China – wat hulle ook gedwing het om ’n taal te praat waarmee hulle nie bekend was nie (Mandaryn, oftewel die Beijing dialek van Chinees), en wat hulle ook geforseer het om te fokus op die geskiedenis van ’n moederland wat nie Taiwan was nie (naamlik Vasteland China), met feitlik geen aandag wat gegee is aan die unieke historiese ervarings van die mense van Taiwan nie. Dit kan verder geargumenteer word dat vele Taiwannese sekerlik angstig is daaroor om vir die derde keer in meer as ’n eeu gekoloniseer te word – dié keer deur die regering van die Volksrepubliek van China.

Ek reken twee punte moet hier beklemtoon word:

1. Taiwan waag die welsyn en voortbestaan van miljoene mense op die eiland van Taiwan as hulle ’n noue bondgenootskap bewerkstellig met die Verenigde State van Amerika. Twee stellings van die Amerikaanse staatsman, Henry Kissinger, is relevant: “America has no permanent friends or enemies, only interests” en “[It] may be dangerous to be America’s enemy, but to be America’s friend is fatal” (laaste een was meer ’n waarskuwing dat indien sekere dinge gebeur in Suid-Viëtnam in die laat 1960’s, Amerika as sulks gesien sal word). Feit is, Amerika het ’n historiese rekord van ander lande uitbuit vir hul eie nasionale behoeftes en politieke agendas, en wanneer dit duidelik raak dat dinge nie gaan uitwerk soos hulle gedink het nie, dan onttrek hulle. En die land wat hulle vertrou het, sit met die gebakte pere. Taiwan het ongelukkig meer as ’n paar politici en gewone burgers wat naïef glo dat Amerika die beste vriend in die wêreld is; dat Amerika Taiwan sal bystaan indien China ooit die eiland aanval, en dat Amerika nooit Taiwan in die steek sal laat nie.

2. Die regering in Beijing het ’n beter argument as die regering in Taipei oor wie volgens internasionale konvensie beheer behoort uit te oefen oor die areas wat regeer word deur die Taiwannese regering – wat hulleself steeds amptelik voordoen as die regering van die Republiek van China. Kortliks: Die Qing-regering het Taiwan en ander eilande afgestaan aan Japan in 1895. Na die Tweede Wêreldoorlog het Japan alle vorige verdrae wat deur Imperiale Japan onderteken is met betrekking tot China, nietig verklaar, insluitende die 1895-verdrag van Sjimonoseki, en daarmee hul aanspraak op Taiwan opgegee. Die Volksrepubliek van China is die opvolgerstaat van die Chinese republiek wat bestaan het tot en met 1949 onder leiding van die Chinese Nasionalistiese Party, sowel as van die Qing-staat wat geval het in 1912, en het beheer geërf van alle gebiede wat voorheen onder die beheer van daardie state of regerings was. Die regering in Taipei was tot en met die 1970’s deur dosyne lande, insluitende die VSA, beskou as die wettige regering van die hele China, insluitende Taiwan. Die Taipei-gebaseerde Republiek van China word egter sedert die laat 1970’s nie meer deur meeste lande erken as die wettige verteenwoordiger van die mense van China nie. Wat ons terugbring by ’n vorige punt: Die Volksrepubliek van China is die opvolgerstaat van die Qing-staat, sowel as van die Chinese republiek wat deur die KMT-regering gelei is in Vasteland China tot en met 1949, en het wettig beheer geërf van alle gebiede wat voorheen onder die beheer van daardie state of regerings was, insluitende die eiland van Taiwan en omliggende eilande. Indien die regering in Taipei en die 23 miljoen burgers van die eilande van Taiwan ’n kans wil staan om amptelik onafhanklike status te verkry, moet hierdie ambisie met Beijing uitgewerk word.

VRYDAG 18 OKTOBER 2024

Die tyd is ryp om te praat oor Taiwannese onafhanklikheid.

Die regte manier vir Taiwan om daaroor te praat, is met China.

Die verkeerde manier om daaroor te praat, is vir die president van die Republiek van China (Taiwan) om uitlatings te maak dat Taiwan en China aparte entiteite is – ten spyte van wat die konstitusie dikteer wat aan die Taiwan president sy posisie gee, en dat China nie enige reg het om in Taiwan se sake in te meng nie. Om die status quo dan nog verder te skommel in reeds onstuimige waters, beweeg Taiwan nóg nader aan die wêreld se mees aggressiewe supermoondheid, die VSA, wat China beskou as haar grootse geopolitieke teenstander.

De jure Taiwannese onafhanklikheid, na sewe dekades van de facto onafhanklikheid, is inderdaad ’n hoogs relevante onderwerp wat verdien om bespreek te word op die hoogste staatkundige vlakke. Maar hierdie saak moet onderhandel word met China, in ag genome redelike argumente dat Taiwan deel is van Een China. Uitdagende uitlatings van die Taiwannese kant af met skimpe van oorlog met Amerika as veronderstelde bondgenoot, is die verkeerde manier om die onderwerp aan te roer.

SATERDAG 19 OKTOBER 2024

Natuurlik sê mense China sal nooit instem tot Taiwannese onafhanklikheid nie.

Wat is die alternatief? Amerika maak ’n militêre basis oop op een van die eilande wat Taiwan beheer naby aan die Chinese kus, met die idee dat hulle beter beskerming sal kan verleen aan Taiwan vir wanneer die Taiwannese president eensydig onafhanklikheid aankondig? Of, die president ontmoet met amptenare van die Amerikaanse regering, wat hom, hand op die bors, verseker van al die geld en wapens en sanksies wat Amerika kan optower om Taiwan te help indien die eiland-staat amptelik onafhanklikheid verklaar? Dat die militêre konflik wat sal volg daarop aanvanklik die Amerikaanse regering se langtermyn doelwitte sal dien om China ekonomies, diplomaties, en militêr te verswak as ’n geopolitieke opponent ten koste van honderde-duisende Taiwannese se lewens, sal seker spoedig geëtiketteer word as disinformasie – as sogenaamde “gesprekspunte” van Beijing.

In die werklike wêreld is daar slegs twee opsies vir Taiwan in die volgende dekade of drie: 1) As ’n provinsie van China met sekere voorregte, soos ’n eie geldeenheid en selfs ’n eie vlag, en 2) As ’n onafhanklike maar noue bondgenoot van China.

WOENSDAG 30 OKTOBER 2024

Om op te som:

1. Aktiviste vir Taiwannese onafhanklik maak ’n redelike argument hoekom Taiwan verdien om erken te word as ’n onafhanklike staat.

2. Taiwan se onafhanklikheid sal onderhandel moet word met die regering van die Volksrepubliek van China, en niemand anders nie. Hoekom? Onafgehandelde sake van die Tweede Wêreldoorlog en die gevolge daarvan, en van die Chinese Burgeroorlog.

3. Argumente kan gemaak word hoekom die regering van die Volksrepubliek van China Taiwannese de facto onafhanklikheid behoort te erken, en staat-tot-staat diplomatieke verhoudings aan te knoop met Taiwan.

4. Die regering van die Volksrepubliek van China sal heel waarskynlik nié instem tot Taiwannese onafhanklikheid nie, vir rasionele redes wat sin sal maak vir enige iemand wat die agtergrond verstaan, asook die mandaat wat die regering in Beijing glo hulle het om te regeer oor alle grondgebied wat deel uitgemaak het van China voor die volksrepubliek uitgeroep is in Oktober 1949.

5. Die regering in Taipei sal uiteindelik ’n skikking bereik met die regering in Beijing dat Taiwan na vyf of tien jaar ’n outonome, of kwasi-selfregerende provinsie sal wees van die Volksrepubliek van China. Daar sal weerstand wees van Taiwannese nasionaliste, maar uiteindelik sal die meerderheid van die bevolking van Taiwan die nuwe politieke status aanvaar.

6. Daar sal vrede wees.

______________________

Hoe gaan aftrede lyk oor tien of vyftien jaar?

MAANDAG 17 JUNIE 2024

Die stille waarheid: Ek het gesê wat ek wou sê. Nou doen ek wat ek moet doen om te verseker dat ek ’n relatief gemaklike aftrede kan geniet oor ’n paar jaar.

DINSDAG 18 JUNIE 2024

Nou dat ons op die onderwerp is: Hoe gaan aftrede lyk oor tien of vyftien jaar?

Gaan ’n gemaklike maar nie luukse laer-middelklas lewe méér kos as nou of minder, relatief gesproke?

Gaan behoorlike gesondheidsorg duurder of goedkoper wees?

Hoe bekostigbaar gaan huishoudelike robots wees? Sekerlik sal dit goedkoper én meer bruikbaar word, soos die geval was met persoonlike rekenaars die afgelope dertig jaar.

Wat van voedselproduksie? Dit is reeds moontlik vir woonstelbewoners in die middestad om ’n wye verskeidenheid groente in hulle sitkamers te groei, of in ’n spaarkamer. Hoe noodsaaklik gaan onafhanklike voedselproduksie wees vir oorlewing in die stad in 2030, of 2035, of 2026?

Hoe duur sal dit wees om te reis? Selfbesturende taxi na die treinstasie waar jy met ’n hoëspoedtrein sal reis na jou bestemming – duurder as nou of meer bekostigbaar? Sal ’n persoon in sy of haar sestigs of sewentigs enigsins wíl reis na ander plekke met die gepaardgaande risiko as hulle by die huis kan bly en enige dorp, stad, berg of strand in die wêreld kan ervaar met virtuele tegnologie?

Met vrugte en groente skoon van chemikalieë, genoeg oefening, lae misdaad in hoë-sekuriteit gemeenskappe, goedkoop gesondheidsorg, sal jou gemiddelde Generasie X’er dalk langer leef oor die volgende paar dekades. Groot vraag: Hoeveel geld gaan jy nodig hê om hierdie aftrede te kan bekostig?

Nog iets: Hoe sal geld werk tien jaar van nou af? Papiergeld en muntstukke sal waarskynlik uitgefaseer word. Hoeveel gaan jou Bitcoin en ander kripto-geldeenhede werd wees in 2035? Gaan dit vervang word met digitale geldeenhede wat deur ’n Ministerie van Finansies of Sentrale Bank behartig gaan word. Hoeveel erg gaan hierdie instansies hê in politieke opinie – veral opinies krities van die regering wat betref buitelandse beleid, misdaadbekamping, immigrasie, en entstowwe?

Sekerlik verdien dit ’n langer bespreking, maar kan demokrasie werk in realiteit, of is demokrasie soos die ou gesegde sê, “Twee wolwe en ’n skaap wat besluit wat hulle vir aandete gaan hê”?

Gepraat van wolwe en ’n skaap, hoe gaan lewe op die self-regerende eiland van Taiwan lyk oor ’n dekade of so? Gaan Amerika ’n ander skaap vind om te offer vir sy bloedlus en gierigheid? Die Filippyne dalk? Suid-Korea? Japan? Hoe ver sal China gaan om dit duidelik te maak aan Imperiale Amerika dat indien Taiwan ’n vasaalstaat gaan wees, dit beslis nie een gaan wees van ’n brokkelende ryk in die weste nie?

Hoe fisiek gaan aftrede in jou sestigs of sewentigs oor ’n dekade wees? Gaan jou liggaam kunsmatig aan die lewe gehou word met buise en masjiene terwyl jou verstand op vakansie is, of die wêreld vol reis? Natuurlik sal die buise net aanhou om voedingswaarde in jou are te pomp terwyl jou krediet hou. Die oomblik as jou krediet nul bereik, vervaag jou uitsig van die strand, of van die Eiffeltoring, tot jy een laaste “bliep” hoor.

Wat van ’n mediese instansie wat jou bystaan om jou eie lewe te beëindig wanneer jy ’n sekere ouderdom bereik? Of wanneer jy een of ander siekte ontwikkel wat genees kan word, maar dit sal tyd en geld vereis. Of wanneer jou geld min raak. Hoe populêr gaan dit wees vir mense wat nie ’n gemaklike aftrede kan bekostig nie, of vir wie iets verkeerd gegaan het ’n paar jaar voor hulle sou aftree? Hoe normaal gaan dit wees tien jaar van nou af vir dokters en ander professionele mense wat werk met ouer mense om dit voor te stel as ’n “waardige” oplossing? (Sal mediese personeel ’n kommissie verdien vir hulle aanbevelings?)

Gaan dit ’n geval wees van mense wat geld het wat gaan leef tot die rype ouderdom van 120 of selfs langer, met vars gedrukte of ontwikkelde organe, nuwe tande, en allerhande ander mediese wonders in die plek van hulle ou onderdele, en mense wat teen 45 of 50 nie daarin geslaag het om finansiële sukses te bewerkstellig nie, of wat nie genoeg geërf het van die vorige generasie nie, wat aangemoedig sal word om staatsgesubsidieerde genadedood te ontvang?

______________________

Twee gedagtes oor China en Taiwan

DINSDAG 27 DESEMBER 2022

Ek hoop dat Taiwan sal voortgaan om te wees vreedsaam, welvarend en demokraties. Ek hoop ook dat China sal voortgaan om te wees vreedsaam en welvarend, indien nie demokraties nie.

Ek glo Taiwan moet amptelik erken word vir wat dit die afgelope meer as sewe dekades al is: ’n onafhanklike land. China het nietemin aansprake op Taiwan wat aangespreek moet word. Dit is my oortuiging dat hierdie ’n saak is wat tussen Taiwan en China uitgewerk moet word. Die Verenigde State het in 1945 ’n wettige aanspraak gehad op ’n sitplek aan die China-Taiwan-tafel, en miskien vir ’n geruime tyd daarna, maar daardie tyd is verby.

Die onafhanklikheid van Taiwan of hereniging met China is iets wat tussen hierdie twee lande uitgewerk moet word sonder inmenging van enige iemand anders.

DONDERDAG 29 DESEMBER 2022

Ek dink nie China gaan Taiwan aanval binne die volgende paar jare nie – mits die internasionale situasie min of meer bly soos dit nou is.

Drie redes: 1) ’n Chinese inval is die situasie wat die Amerikaanse Diep Staat en wapenvervaardigers die meeste begeer. Dit sal die Amerikaanse regering se geopolitieke doelwitte dien, en miljarde dollars wins verseker vir die wapenvervaardigers. Die Russiese militêre operasie in die Oekraïne het ook die Amerikaanse Diep Staat se doelwitte gedien, en steeds het Rusland voortgegaan. Hoekom sal China nie dieselfde doen nie? Een rede is omdat Taiwan nie etnies Chinese mense naby die Chinese vasteland maar binne die grense van Taiwan bombardeer en hulle huise verwoes nie. En ten minste vir nou bou NAVO nie basisse in Taiwan nie, en is nie besig met die opleiding van Taiwannese magte vir ’n konflik met China nie [teen Desember 2023 is ’n mens nie meer seker of hierdie stelling korrek is nie]. 2) ’n Chinese inval sal lei tot ernstige steurnisse vir die Chinese ekonomie en burgerlike samelewing. 3) ’n Militêre inval is nie China se enigste opsie om beheer oor Taiwan te kry nie. Omsingeling, blokkasies, en ekonomiese sanksies kan moontlik voldoende druk plaas op die Taiwannese regering om te minste Chinese terme vir onderhandeling te oorweeg.

______________________

’n Oplossing vir die Taiwan vraagstuk

Agtergrond

Die pro-Taiwan-onafhanklikheid argument:

1. Volgens die VN-handves het alle nasies ’n reg op selfbeskikking. Die bevolking van Taiwan verteenwoordig ’n nasie anders as dié van Kontinentale China – ander geskiedenis, en verskillende waardes. Die feit dat Taiwan en China dieselfde etniese groep deel, maak nie saak nie – Kanada en die Verenigde State, Nieu-Seeland en Australië, Duitsland en Oostenryk, is almal gevalle van lande waar groot dele van die bevolkings op ’n stadium gemeenskaplike wortels gedeel het, of steeds deel.

2. Die Qing-regering het Taiwan en ander eilande afgestaan aan Japan in 1895. Na die Tweede Wêreldoorlog het Japan hul aanspraak op Taiwan opgegee, maar het nie gespesifiseer aan wie Taiwan behoort, of wie die administrasie moes oorneem nie.

3. Die Volksrepubliek van China (VRC) het nog nooit Taiwan beheer nie.

4. Die VRC was nie ’n ondertekenaar van die Verdrag van Taipei in 1952 nie.

Die argument vir hereniging met China:

1. Die Volksrepubliek van China is die opvolgerstaat van die Qing-regering, sowel as van die KMT-regering wat China tot 1949 regeer het, en het beheer geërf van alle gebiede wat voorheen onder die beheer van daardie state of regerings was.

2. Ja, die Qing-regering het Taiwan gesedeer, maar die Verdrag van Taipei in 1952 het alle vorige verdrae wat deur Imperiale Japan onderteken is met betrekking tot China, nietig verklaar, insluitende die 1895-verdrag van Sjimonoseki.

3. Ja, Taiwan geniet al de facto onafhanklikheid vir sewe dekades, maar die VRC het dit sover geduld ter wille van vrede solank geen de jure onafhanklikheid verklaar word nie.

4. Ja, die VRC was nie ’n ondertekenaar van die Verdrag van Taipei in 1952 nie, maar sedertdien het die Republiek van China opgehou om die wettige regering van China te wees, en word deur meeste lande in die wêreld nie meer erken as die wettige regering van China nie. Sien punt #1.

* * *

Ek het vorendag gekom met ’n oplossing vir die Taiwan vraagstuk wat almal redelik gelukkig behoort te maak, behalwe miskien die wapenvervaardigers en die aggressiewe faksie van die Diep Staat in Amerika.

Die oplossing is soos volg:

Taiwan en China kom ooreen om vir ’n periode van tien jaar nouer ekonomiese en ander bande te smee – dinge soos om toergroepe weer toe te laat, uitruilstudente, samewerking op akademiese en ander wetenskaplike gebiede, musiek- en toneelgroepe van beide kant van die Straat van Taiwan wat opvoerings aan die ander kant hou.

Dan, die groot ding: Na tien jaar word daar ’n referendum gehou in Taiwan met twee opsies: hereniging met China, of onafhanklikheid.

Taiwannese wal hulleself bearbei vir onafhanklikheid sal tien jaar hê om die bevolking te oortuig dat onafhanklikheid, en losser bande met China, die beste opsie is vir Taiwan.

China sal ook tien jaar hê om te belê in Taiwan, en met die spreekwoordelike wortel die Taiwannese bevolking te bearbei vir die idee van hereniging.

Daar behoort ’n opbloei te wees van samewerking op wetenskaplike, mediese, tegnologiese, en kulturele gebiede. Klein besigheidseienaars en groot maatskappye sal almal geld maak. Nuwe ekonomiese geleenthede sal goed wees vir werkers in China én Taiwan.

As dinge reg loop vir die pro-hereniging faksie, sal Taiwannese nie bereid wees om al die voordele op te gee wat hulle in die voorafgaande dekade geakkumuleer het nie. Meer as 51% van die volwasse bevolking sal stem dat Taiwan ’n provinsie word van China met sekere spesiale voordele, soos ’n eie vlag (wat saam met die vlag van die Volksrepubliek sal hang), asook ’n eie monetêre eenheid.

Aan die ander kant, as dinge reg loop vir die pro-onafhanklikheid faksie, kan Taiwan haar de jure onafhanklikheid kry na amper ’n honderd jaar, minus natuurlik sekere voordele wat opgebou het in die voorafgaande tien jaar.

Probleem is om China te oortuig om die moontlikheid te aanvaar dat die meerderheid Taiwannese onafhanklikheid sal kies. Die vraag kan ook gevra word watse waarborg Taiwan sal hê dat China nie tog sal voortgaan om te probeer om Taiwan met geweld in te lyf as die meerderheid Taiwannese hereniging verwerp nie. Sal Amerika vir tien jaar op die kantlyn staan net om skielik dan weer Taiwan se vriend te wees?

Indien die meerderheid Taiwannese volwassenes na tien jaar besluit dat dit meer voordelig sal wees om weer by die Moederland aan te sluit, is die saak gesluit vir Taiwannese onafhanklikheid. Hulle het dan ’n geleentheid gekry om hulle saak te stel, en die mense het anders besluit.

Dit geld ook vir die ander kant. As China vir tien jaar vir Taiwan ’n idee kon gee van die voordele van ’n nouer verhouding, maar die meerderheid Taiwannese kies steeds om hulle onafhanklike staat te hê – wat hulle in elk geval vir amper ’n honderd jaar reeds in die praktyk sou geniet het, dan moet China eenvoudig opgee op die idee van hereniging. Vra maar vir Duitsland, Pole, Rusland, Oekraine, Meksiko, Frankryk, Spanje, Portugal, Indonesië, Serwië, en Brittanje wat al almal grondgebied moes afstaan. Almal het dit oorleef en gefloreer daarna. Dis nie die einde van die wêreld nie.

Vir die proses om te werk, sal reëls neergelê moet word, en waarborge sal gegee moet word. Taiwan en China kan onderhandel oor die reëls, maar wie verseker dat die reëls gevolg word? Wie sal verseker dat waarborge eerbiedig word?

WOENSDAG 9 NOVEMBER 2022

Feit van die saak is dat Taiwan ’n dubbele identiteit het – die anachronistiese identiteit van die Republiek van China, en die de facto maar nie de jure nie identiteit van die Republiek van Taiwan. Slegs tyd sal leer of laasgenoemde uiteindelik eersgenoemde formeel sal vervang, en of albei in ’n golf meegesleur sal word wat sal instroom van die Volksrepubliek van China af.

DINSDAG 6 DESEMBER 2022

Dis nie moeilik om te sien dat China die party is met die meeste om te verloor nie. Soos dinge nou staan, is Taiwan in praktiese terme onafhanklik, maar daar is ’n moontlikheid dat China beheer kan terugkry oor die eiland. Indien so ’n referendum teen hereniging gaan, verloor China, en dalk een-vyfde van Taiwannese wat die idee van hereniging steun.

Indien die nommers van die begin af teen Beijing is, hoekom sal hulle deelneem aan so ’n oefening in demokrasie, en onderneem om die resultate te aanvaar?

Sal dit werk as Taiwan bereid is om ’n prys te betaal vir formele onafhanklikheid?

In die Seestraat van Taiwan, tussen die Chinese kus en Taiwan, lê ’n paar stukke waardevolle eiendom. Ongeveer 10 kilometer oos van die Chinese stad van Xiamen, en meer as 180 kilometer van die eiland van Taiwan, lê die groep eilande bekend as Jinmen (onderste rooi pyltjie). Die Matsu-eilandgroep (boonste rooi pyltjie) is omtrent 190 kilometer van Taipei, en omtrent 20 kilometer van die Chinese kus. Die Penghu-eilande (blou pyltjie) is net 50 kilometer weg van Taiwan, en 150 kilometer oos van die Chinese vasteland. Sou die regering in Taipei bereid wees om hierdie eilandgroepe prys te gee om formele onafhanklikheid te kry vir Taiwan, en ander kleiner eilande aan haar wes en ooskus? Sal Taiwan verder onderneem om geen Amerikaanse of NAVO basisse te huisves nie? (Hulle sal natuurlik vry wees om verdedigende alliansies te smee met Japan en die Filippyne.)

Of – en ons speel net rond met moontlikhede hier – Taipei behou die eilande in die Straat van Taiwan, maar Beijing neem beheer oor van twee eilande aan die ooskus van Taiwan, naamlik Green Island en Orchid Island (onderskeidelik boonste en onderste groen pyltjies).

Nog ’n moontlikheid: Taiwan gee beheer op oor die twee eilande in die Filippynse See en die twee eilandgroepe naaste aan die Chinese kus, maar behou beheer oor die Penghu-eilandgroep. Sodoende kry China kosbare stukke grond waar hulle in meer as honderd jaar nie grond gehad het nie, maar hulle verloor enige moontlikheid om beheer oor Taiwan te bekom; en Taiwan verloor ’n graad van sekuriteit, maar kry hulle formele onafhanklikheid, en al die voordele wat daarmee saamgaan. Sal die Taiwannese publiek ten gunste wees van so ’n skikking? Sal die regering in Beijing dit aanvaarbaar vind?

Wat ook al die detail, dit kom daarop neer dat Taiwan sal betaal vir ’n referendum wat waarskynlik sal eindig in formele onafhanklikheid, deur verskeie strategies waardevolle stukke grond, en daarmee saam ’n graad van sekuriteit, op te gee.

______________________