En die antwoord is dus …

SONDAG 8 FEBRUARIE 2004

Ek is nie lus vir die oorhaastige gepak nie. Ek is nie lus om goeters weg te gooi wat tot nou toe vir my belangrik genoeg was om te hou nie. Ek is nie lus om in Bronkhorstspruit aan te kom en nie my eie blyplek te hê en in my suster en swaer se kombuis elke oggend koffie te maak nie. Ek is nie lus vir argumente oor hoekom ek nie genoeg geld teruggebring het van Taiwan af om ’n goedkoop woonstel te kan huur nie.

Aan die ander kant is ek nie lus daarvoor om langer hier te bly, ekstra klasse te kry, en dit dan te los na drie maande nie – of eens om dit te begin met die vaste voorneme om dit te los na soveel maande. (Ek haat dit om te lieg, of om voor te gee ek mag dalk iets doen wat ek weet ek nie gaan doen nie, soos om te impliseer dat ek ten minste ’n hele semester by ’n skool sal bly.) Ek is ook nie lus vir die medical nie – daarvoor is niemand egter ooit lus nie, en ek weet dit weeg nie op in terme van onaangenaamheid in vergelyking met enige van die ander dinge waarvoor ek nie aptyt het op die oomblik nie.

Ek is moeg daarvoor om myself ’n lafaard te noem. Ek is ook moeg vir vurige toesprake vir niemand anders nie as my eie weerkaatsing in die badkamerspieël. Ek is kwaad – vir wie weet ek nie – dat hierdie tipe van aangeleentheid nie makliker kan wees nie.

Ek wens ek was ’n span skrywers, en ’n hele skrum vol denkers. Ek wens, soos ek hier sit agter my komper op ’n vroeë Sondagaand, dat ek kon hoor hoe mense dinge bespreek in die sitkamer, met af en toe ’n gedempte lag, teelepels wat teen koppies klingel, en sigarette wat aangesteek word. Dan sal iemand met ’n papier in haar hand my kantoor binnestap, en my inlig dat ’n nuwe scenario uitgewerk is. Of ’n nuwe plan. Of ’n nuwe strategie om seker te maak die mees onlangse plan verloop vlot.

Ek haat dit om alles alleen te moet doen. Waar’s al die grootbekke wat altyd soveel te sê het, maar altyd iemand gehad het om hulle te help om ’n projek aan die gang te stoot? ’n Man wat die vrou bygestaan het terwyl sy ’n klein besigheid van die huis af begin het. Of ’n vrou wat bly aanmoedig het met ’n warm bord kos en ’n vryf in die nek as die man wou tou opgooi. Waar’s mý partner? Waar’s mý bord kos? Waar’s mý vryf in die nek? Waar’s mý koppie tee? Ek is net ’n mens, magtag! Hoe de fok moet ek alles alleen doen?

* * *

Etlike ure later. Ek het aandete in die dorp gaan koop (rys, vleis, en groente wat koud was teen die tyd wat ek by die huis gekom het), tee by die mooiste vrou in die dorp, en ’n koerant by ’n 7-Eleven. Ek het myself oortuig daar’s een of ander hoek wat ek nog nie gesien het in hierdie hele situasie nie.

Ek was besig om aan iets te dink op pad terug, maar word toe gesteur in my gedagtegang deur ’n tiener met opgedoende hare wat ewe verwaand verby my ry op sy fiets. Ek verbeel my toe hy voel goed oor die feit dat hy so ongeërg verby my gegly het – veral omdat hy so ’n goeie bos hare het, en oënskynlik veel meer murg in sy jonger gebeendere.

Gedagtes oor die onmiddellike toekoms vir eers vergete, verstel ek toe my ratte – saggies, dat hy nie miskien hoor ek beplan ’n comeback nie. Terwyl my sak rys en groente en my sakkie met die tee eenkant toe swaai, en ek ongeërg iets na die ander kant toe mompel, seil ek toe weer verby hóm. Hy’t hoorbaar ratte verstel, en net toe ons my buurt met die ongeverfde beton woonstelblokke binnejaag, het hy my weer probeer verbygaan.

Ek het myself egter nie meer aan sy kinderagtige speletjie gesteur nie, en tussen Blokke 5 en 6 ingedraai.

“Het ek vorendag gekom met iets?” vra ek myself toe soos ek afsaal en die kos oor my skouer slinger. Ek sê toe ek was besig om aan iets te dink, maar my aandag was afgetrek.

“Deur wat?” vra ek toe in ’n ander stemtoon terwyl ek die trappe opsukkel, menende om voor te gee asof ek met iemand van my dinkskrum argumenteer.

“Deur iets wat my gemotiveer het om my ratte te verstel, en soos dit toe blyk, my effens vroeër by die huis uitgebring het.”

* * *

Ek weet genoeg van advertensies en bemarking om te besef iets is verkeerd met die benadering tot my situasie wat ek die afgelope week of so gevolg het. As ek – die een wat wil huis toe gaan – ’n verbruiker is, en die plan die produk is wat aan my verkoop moet word, is die bemarking hopeloos verkeerd. Ek glo dat ek my lewe hier moet kan opgee vir die vreugde daarvan om nader aan my familie te wees, en in my eie land. My idealisme dikteer dat dit voldoende moet wees. Dit maak mos sin, dan nie? My ouers en my susters se geselskap oor ’n bord braaivleis of ’n bakkie poeding sal my laat “voel ek behoort êrens”.

En as ’n mens al honderde bladsye geskryf het oor die onderwerp van “huis” toe gaan, raak jy toenemend bewus van jou geloofwaardigheid wat skade ly omdat jy nóg ’n Sondagaand in Taiwan sit en koue rys knibbel, terwyl jy veronderstel is om freneties oortollige bagasie by die venster uit te gooi.

* * *

Om hier weg te gaan sal ’n negatiewe effek hê op my gemoed. Die voor- en nadele van my lewe in Taiwan is al tot vervelens toe verwoord, maar dit moet weereens genoem word dat sekere positiewe aspekte van my lewe hier nie geïgnoreer of onderskat moet word nie.

Ek woon alleen in ’n drie slaapkamer woonstel (wat ter wille van hierdie argument positief is). Ek het nie my eie gemotoriseerde vervoer nodig nie. As ek stad toe wil gaan, ry ek met my fiets tot by die treinstasie, en vat die trein verder. As ek êrens anders moet wees wat ek nie kan bereik binne dertig minute se getrap nie, of wat nie binne stapafstand van ’n stasie is nie, dan vat ek ’n taxi (en glimlag verskonend vir al die mense wat vuiste swaai nadat ons oor nog ’n rooi lig gery het). Ek sit in die nagte tot watter tyd en skryf, of speel card games op my rekenaar. Ek koop gereeld video CD’s teen drie vir R20, en kyk dit op my tweedehandse Toshiba kleur TV. Ek herinner myself elke nou en dan dat Hong Kong net ’n uur se vlug weg is (die grens met die res van China is nog so ’n uur se reis per trein weg), en Tokio omtrent drie ure.

As ek drie-uur in die oggend lus is vir ontbytpap maar my melk is op, of ek is lus vir ’n pak skyfies, of ’n slaai, of ’n boks dumplings, stap ek binne drie minute tot by die naaste 7-Eleven. En meeste van die tyd kyk ek nie oor my skouer of iemand met ’n mes of ’n knuppel uit ’n bos gaan spring nie.

(Ek kan voortgaan.) As ek op ’n Saterdagaand wil gaan fliek, ry ek met my fiets na die teater toe, kyk hoe laat wys watter fliek, ry McDonald’s toe vir ’n appelpastei en ’n vanilla melkskommel, los my fiets daar en vat kortpad deur die donker stegies terug flieks toe. Of ek drink eers ’n romerige koffie by die plek om die hoek. Ek het nie ’n kar nodig om by die flieks te kom nie, en niemand het nodig om my te kom optel nie.

As ek op ’n date gaan, is om karloos te wees nie net heeltemal aanvaarbaar nie, dis ook nie ’n probleem nie. Weereens trap ek dorp toe, los die fiets teen ’n muur, ontmoet die vrou by die restaurant of die movie teater en geniet die res van die aand sonder om bekommerd te wees oor my voertuig.

Ek is bewus daarvan dat daar nie kafees is wat 24-uur per dag oop is in die Suid-Afrikaanse dorpe waar ek wil gaan afpak nie. As daar wel is, het ek heel waarskynlik ’n kar nodig om daar te kom. As ek soontoe kan stap, beteken dit ek bly in ’n deel van die dorp of stad waar mens oor jou skouer moet loer. Die noodsaaklikheid van gemotoriseerde vervoer eindig ook nie by kafee toe gaan drie-uur in die oggend nie.

Ek wil nie kleingelowig of sinies klink nie, maar om die liefde van my lewe te ontmoet in Suid-Afrika is ook nie hoog op my lys van verwagtinge nie. Dit mag selfs gebeur dat ek later besluit om weereens weg te gaan van my familie en my eie land.

Nietemin, ten spyte van die dinge wat ek sal mis van Taiwan, en ten spyte van die feit dat ek weet ek nie op pad is na ’n lieflike aardse paradys in my eie land nie, trek elke stukkie weefsel van my liggaam, en elke volt elektrisiteit van my siel in net een rigting.

Maar hoekom, in ag genome hierdie sterk begeerte, en dat ek weet dit haalbaar is om op die vierde Maart in volle glorie die land van my herkoms te bevlieg, is ek nie besig om in te pak en reëlings te tref nie?

As ek op Donderdag 4 Maart my sogenaamde “rewolusie” uitvoer, kyk ek ’n eerste maand of twee in die gesig wat pynlik armoedig sal vergelyk met die lewe waaraan ek hier gewoond geraak het. Ek sal moontlik die eerste paar weke in die spaarkamer van my jonger suster, of by my ouers moet afpak. Ek sal my voete onder hulle tafels moet inskop tot ek weer my voete vind.

Anders as die laaste paar jaar se besoeke aan my familie sal my teenwoordigheid nie wees as ’n gas wat weer gesig kom wys het, en wie se beursie verseker dat daar elke tweede of derde dag ’n pekanneut tert of ’n bottel rooi wyn op die kombuistafel staan nie. Dit sal wees as die broer wat teruggekeer het uit die vreemde, wat ’n bietjie bygestaan moet word tot hy weer op sy voete is.

Kan ek ’n idealistiese argument formuleer wat my sal laat beter voel? Ja, ek kan. Maar een wat werklik iets sal beteken vyf weke van nou af?

Gaan dit net oor myself, of gaan selfs geliefdes net menslik wees en oor ses weke vir mekaar fluister dat “die ou regtig met ’n bietjie meer geld hier kon aankom”?

Dis moontlik om al die oproepe te maak, en al die bokse te pak wat sal verseker dat ’n Maart repatriasie die laaste hoofstuk van hierdie skryfprojek sal wees. Maar sal dit nie, as ek vertroue in myself kan behou en die geloofwaardigheidskrisis kan ignoreer, wyser wees om die aangeleentheid beter te benader nie? (Al klink dit amper uittartend om te sê ek het nóg drie of vier maande nodig, en “moenie oorhaastig wees nie”.)

Is wankelrige vertroue in myself, en ’n geloofwaardigheidskrisis voldoende redes om binne minder as vier weke ’n lewe van vyf jaar op te pak, en met meer geloof as besigheidsvernuf my verwaande persoon te gaan uitstal op ’n nuwe landskap, as ek dit beter kan doen oor drie of vier maande?

Repatriasie, of dan Die Opheffing van My Ballingskap, is ’n produk. Die afgelope week het ek gepoog om dit aan myself te verkoop teen ’n belaglike lae prys, met sentimentele musiek in die agtergrond en dreigemente van wantroue in myself. Maar as ek dit nie reg benader, en al die newe-effekte goed genoeg oorweeg nie, gaan ek my voete langer sleep met die afhaal van ’n enkele muurbehangsel as wat tans die geval is met die proses om my visum te hernu.

Die produk is een wat ek nodig het. Dis die pil wat ek moet sluk om te kan voortgaan met my lewe. Maar om te verwag dat ek nie soos enige mens ’n bietjie senuweeagtig moet wees om ’n plek – en ’n lewe – wat vir vyf jaar lank my identiteit en persoonlikheid help slyp het, agter te laat sonder veel seremonie nie, is om my te reduseer tot die karikatuur wat ek so graag van myself skets.

Dit, is ongelukkig hoe dit is, en dit is my laaste woorde oor hierdie spesifieke aangeleentheid.

Dis Maandag 9 Februarie 2004 om twee minute voor een in die oggend. Ek moet gaan slaap, anders kom ek nie môre by daai mediese ondersoek uit nie. Hoe lank kan ek immers nog hierdie maniese pingpong in my kop verduur?

______________________

Taiwan: ’n Kort oorsig

SONDAG 11 MEI 2003

Al die materiaal in hierdie boek (met die uitsondering van enkele paragrawe) dateer uit die Taiwan periode van my lewe. Dis belangrik om te noem dat hierdie boek nie gaan oor Taiwan nie; dat dit die omgewing is waar sekere temas verder ontwikkel het, en waaruit ander gespruit het, is wel van belang. Enkele bladsye oor hierdie omgewing sal derhalwe nie onvanpas wees nie.

Geografie

Taiwan is ongeveer 160 kilometer van China af, en lê op die westelike rand van die sogenaamde Ring van Vuur – wat al wat leef om die Stille Oseaan terroriseer met aardbewings en vulkane. Met soveel geologiese aktiwiteit is dit geen verrassing dat Taiwan bergagtig is nie, met van die hoogste bergpieke in Noordoos-Asië.

’n Subtropiese ligging gee aan Taiwan lang, warm, en bedompige somers en kort, koel winters. Somers word gekenmerk deur swaar moesonreëns, met elke nou en dan ’n tifoon wat in storm van die Filippyne af, of van verder uit die Stille Oseaan uit.

Soos dit enige subtropiese eiland betaam, is die plantegroei ruig en volop. Daar’s blykbaar ook bere en verskillende tipes bokke te sien in die berge, en indien die skrywer dit kon maak verder as die plaaslike kafee oor naweke, sou hy dit sekerlik kon bevestig.

Geskiedenis

Volgens die Lonely Planet is daar al mense in Taiwan vir iets soos 10 000 jaar. Die eerste bewoners, wat genetiese eienskappe gedeel het met mense in die nabygeleë Filippyne, het van ander eilande in die omgewing gemigreer hiernatoe. Teen die tyd wat die eerste Chinese hier aangekom het, was daar hoofsaaklik twee inheemse groepe: stamme wat op die vlaktes gebly het, en stamme wat meestal in die berge gehou het.

Van die vyftiende eeu af het Chinese in groter groepe hier aangekom. Omdat hulle meestal afkomstig was van die Fujian Provinsie in China, is die taal wat meeste Taiwannese praat amper identies aan die Fujian dialek van Chinees (hoewel Mandaryn die amptelike taal is in Taiwan[1]).

In die jaar 1517 het die Portugese hier ’n draai gemaak, en die eiland Ilha Formosa genoem, wat beteken Pragtige Eiland. (Dit was egter die Chinese wat aan Taiwan haar huidige naam gegee het: Baai van Terrasse.) Die Hollanders het anker gegooi in 1624, en hulle het lekker bere en bokke gejag tot ’n Ming lojalis met die naam van Zheng Chenggong hulle kom verjaag het in 1661. Omdat die Qing dinastie op daai stadium die troon in Beijing vol gesit het, het hulle weer op hulle beurt Taiwan oorgeneem in 1682. Vir die volgende twee honderd jaar was daar grootskaalse immigrasie uit die suidelike provinsies van China.

Die volgende groot gebeurtenis was in 1895. Taiwan was een van die pryse wat die Japannese gewen het nadat hulle as oorwinnaars getree het uit ’n oorlog met China. As deel van die groeiende Japannese ryk vir die volgende vyftig jaar, het Taiwan ’n volskaalse opknapping gesien van hulle infrastruktuur en industrieë. Teen die tyd wat Japan die Tweede Wêreldoorlog verloor het, het sake in China van so ’n aard verander dat dit net ’n kwessie van tyd was voor Taiwan se geskiedenis weer dramaties sou verander.

Die oomblik toe die Japannese onttrek aan China, het die burgeroorlog tussen die kommuniste en die regering van Chiang Kai-shek sy laaste, en bloedigste fase betree. Teen die begin van 1949 het Chiang besef sy dae is getel in China. Hy besluit toe om die versameling kulturele skatte van die Nasionale Paleismuseum, al die geld waarop hy sy hande kon lê in China se nasionale bank, amper een-en-’n-half miljoen ondersteuners en 600 000 soldate op skepe te laai en vir eers terug te trek na die lieflike eiland van Taiwan. Die idee was om “binne twee jaar” met die uitgeruste troepe weer die vasteland binne te val – en weer die skatte terug te sit in die oorspronklike museum in Beijing.

Chiang en al sy troepe het aan die einde oud geword in Taiwan. Chiang is in 1975 in Taipei oorlede op die ouderdom van 87, en soos meeste mense weet, sit die kommuniste nog steeds die troon warm in Beijing.

Politiek

Chiang het in 1949 nie net met troepe, ondersteuners, geld en Ming vase hier aangeland nie, hy’t ook die titel, vlag en nodige politici saamgesleep wat hom die reg kon gee om te sê hy’s nog steeds die Hoofman van die Moederland. Hy het op hierdie oewers aangeland as die president van die Republiek van China, en teen die tyd wat hy sy laaste asem uitgeblaas het, was hy nog steeds die president van die Republiek van China.

Tot en met die sewentigerjare het die res van die nie-kommunistiese wêreld saam met Chiang gestem dat sy regering in Taiwan die regmatige regering van die hele China was. Dinge het egter begin verander in daai dekade, en vandag is daar slegs ’n handvol lande wat nog erkenning gee aan die owerhede in Taipei as die regmatige regering van Groter China.

Nadat die Verenigde Nasies die ou van Taiwan uitgeskop het in 1971, het meeste lande in die jare daarna hulle ambassades in Taipei gesluit – net om die volgende dag besigheid voort te sit as sogenaamde “handelskantore”.

Wat is Taiwan dan as dit nie die fisiese adres is van die regering van China nie? Vanaf 1949 is Taiwan in praktyk geregeer as onafhanklik van China – hoewel enige Taiwannees in die tronk kon beland het tot en met die laat tagtigs as hy dit hardop gedink het. Van die dag dat die regeringsleiers in Taipei die memo gekry het dat hulle nie meer erken word as die politieke meesters van China – met Taiwan as haar provinsie – nie, het hulle met ’n staatkundige identiteitskrisis gesit. Hulle het nietemin steeds werk gehad om te doen, naamlik om ’n verantwoordelike regering te wees vir die 25 miljoen mense in Taiwan.

Moet die naam dan nie net doodgewoon verander na die Republiek van Taiwan nie? Om dit te vra is om ’n senuwee raak te trap onder die plaaslike bevolking. Sommiges glo Taiwan moet een of ander tyd weer deel word van die Moederland. Ander glo weer Taiwan moet erken word vir wat sy is, en vir die afgelope meer as vyftig jaar al was: ’n onafhanklike staat. En in hierdie vreemde politieke situasie is die regering in Beijing die laaste groep mense wat wil hê Taiwan se naam moet amptelik verander. Hulle glo die oomblik as Taiwan ’n amptelike naam kry wat die werklikheid meer akkuraat weerspieël, dan verklaar hulle onafhanklikheid van die Moederland. En dan is alle hel los.

Dit dan, is die geografie, geskiedenis, en ongewone politieke staat van die land waarin ek myself die afgelope vier jaar bevind het.


[1] Mandaryn is die Beijing dialek van Chinees. Hoewel Chinees uit talle dialekte bestaan, dien die Beijing dialek as die amptelike taal van China, Taiwan, en as een van drie amptelike tale van Singapoer.

______________________

Oor ’n naweek in die berge

[Gedurende die derde kwartaal van 2001 het ek heelwat ander Suid-Afrikaners in Kaohsiung ontmoet wat, soos die geval was aan die begin van 2000, ’n effek gehad het op hoe ek my lewe in Taiwan ervaar. Die volgende stukkie teks kom uit ’n brief aan ’n ou vriend van Johannesburg.]

———————

SONDAG 4 NOVEMBER 2001

“Ek het nou net teruggekeer van ’n naweek in – glo dit of nie – ongerepte wildernis. Uitgekamp langs ’n rivier, met berge wat bokant ons uitgetroon het, ensovoorts. En dit alles net meer as twee ure se ry op ’n scooter van die vieslike, vuil, besoedelde stad waar ek al my tyd verwyl.

Siende dat soveel moederlanders nou die gemeenskap van vreemdelinge hier geïnfiltreer het, hoef ek nie eens die heeltyd Engels te praat nie. Hierdie naweek was geen uitsondering nie. Ons het selfs Anton Goosen geluister tot laat in die nag!

Anyways, ek’s bly jy leef nog. Ek moet nou eers die sand van my hond gaan afwas (’n storie vir later), en vir my ’n glasie vars groentee gaan skink.”

~ Uit ’n e-pos aan ’n vriend

[Gedurende die Saterdagaand langs die rivier het ek ook ’n argument gehad met my nuwe vriende oor godsdiens. Dit het gelei tot die stuk “Om oor God te praat”.]


My hond, Jackie op pad berge toe (November 2001)
Berge, rivier, tent – Maolin, Taiwan (November 2001)
Berge – Maolin, Taiwan (November 2001)
Berge – Maolin, Taiwan (November 2001)
Bergpas – Maolin, Taiwan (November 2001)
Bont hemp kamoefleer man op rotse – Maolin, Taiwan (November 2001)
Nuwe en ou vriende – Maolin, Taiwan (November 2001)

______________________