Ho Chi Minh City: Oorblyfsels van oorlog, goeie kos, en mooi ou geboue

SONDAG 17 NOVEMBER 2019

Soms raak ’n mens geïnteresseerd in iets, en dan, sodra jy meer daaroor begin leer, verloor jy belangstelling. Die Viëtnam Oorlog (1955-1975, of meer spesifiek 1962-1973) is nie so ’n historiese tema nie. My belangstelling in die oorlog is oorspronklik geprikkel deur die 1982 Sylvester Stallone film, First Blood, oor die veteraan wat moeilikheid vind met die plaaslike owerhede in ’n klein dorpie in Amerika. Die hoofkarakter, John Rambo, ervaar terugflitse van sy tyd in Suidoos-Asië. Hy onthou van lokvalle en van hinderlae in die digte oerwoud van Viëtnam, soos hy aan die lewe probeer bly in ’n soortgelyke omgewing buite ’n fiktiewe dorp in die deelstaat, Washington.

Mettertyd het inligting tot my tienerbrein deurgesyfer dat Amerika – die sterkste militêre mag in die wêreld – die oorlog verloor het in Viëtnam – ’n land vol meestal arm kleinboere.

My belangstelling was geprikkel, om die minste te sê.

Teen die middel tagtigs was daar die Oliver Stone film, Platoon – wat ek nie juis verstaan het nie, anders as dat alles deurmekaar was en die Amerikaners nie lekker kon uitwerk wat verkeerd gegaan het nie. Enkele jare later was daar die reeks, Tour of Duty, in Suid-Afrika vertaal in Afrikaans as Sending Viëtnam, met as temalied die onheilspellende Rolling Stones nommer, Paint It Black.

Vir my as tiener, met musiek uit die era waarmee ek myself makliker vereenselwig het as met musiek van die 1940’s, het die Viëtnam Oorlog nader gevoel as die meer bekende Tweede Wêreldoorlog waarvan ons geleer het in die skool. Gooi daarby die misterie van die Amerikaanse nederlaag, met die helfte van Amerika wat die oorlog gesteun het, en die ander helfte wat woedend deur die strate gestap het, en later selfs veterane van die oorlog wat hulle hare en baarde laat groei het en self geprotesteer het teen die oorlog, en dis seker nie ’n verrassing dat die Viëtnam-verhaal ’n gloeiende lamp geword vir die mot van my belangstelling nie.

Ten spyte daarvan dat die ou Saigon, nou bekend as Ho Chi Minh City, slegs ’n drie-uur vlug weg is van waar ons woon in die suide van Taiwan, het ek nooit sterk daaraan gedink om soontoe te gaan tot onlangs nie. Dalk het ek gemeen dat post-oorlog Viëtnam met haar advertensieborde vir Coca-Cola en McDonald’s, en met kommersiële distrikte gevul met moderne kantoorgeboue ietwat van ’n teleurstelling sal wees vir die ernstige student van Geskiedenis. Nietemin, teen die middel van 2019 het ons besluit dis tyd, en teen Augustus was ons kaartjies gekoop.

* * *

Ek het oor die jare heelwat gelees oor John F. Kennedy en die oorlog, en Lyndon Johnson en die oorlog. Ek het gelees oor die agtergrond van die oorlog insluitende die Franse koloniale tydperk; die tydperk tydens die Tweede Wêreldoorlog wat Japan uiteindelik beheer oorgeneem het, en toe onttrek het; die Koue Oorlog tussen Amerika en die Sowjet-Unie; die mislukte Bay of Pigs Invasion en die Kubaanse Missiel-krisis. Ek het gelees oor Ho Chi-Minh en die strewe na nasionale bevryding, en oor die legendariese oorwinning wat die Viëtnamese nasionaliste behaal het oor die Franse by Dien Bien Phu in 1954. Ek het gelees oor die Diem-regime, oor Boeddhistiese protes teen die Suid-Viëtnam regering, oor die monnik wat homself aan die brand gesteek het in die middel van ’n besige interseksie in Saigon in 1963, en oor die Dragon Lady wat gesê het as meer monnike hulleself aan die brand wil steek, sy met graagte die vuurhoutjies sal voorsien. En ek het gelees oor Henry Kissinger en Richard Nixon in die laaste jare van die Amerikaanse betrokkenheid, toe almal reeds geweet het dat Amerika ’n kolossale fout begaan het om betrokke te raak in Viëtnam (en dat dit, om dit eenvoudig te stel, ’n monumentale fokop was).

Maar my belangstelling was altyd meer oudio-visueel as akademies: Beelde van rysvelde met kleinboere in koniese hoedens, gebukkend in die warm son; Amerikaanse soldate wat in ’n ry op die wal van ’n rysveld stap, masjiengewere gereed vir enige voorval; huisies met grasdakke in klein gehuggies wat aan die brand gesteek word deur ’n Amerikaanse soldaat; soldate met paniekbevange gesigte in ’n oerwoud; die Vietcong in swart pajamas wat flitsend deur die digte plantegroei hardloop, net om sekondes later te verdwyn in ’n tonnelnetwerk; helikopters wat neus vorentoe vlieg oor rysvelde en oerwoude, met ’n gapende oop deur, en ’n soldaat wat leun op ’n masjiengeweer. En dan natuurlik die musiek van die middel tot laat sestigs, en die vroeë sewentigs.

* * *

Sondagoggend 10 November 2019 het ek nog soos enige oggend my gewone ontbyt geëet in ons woonstel in Kaohsiung, in die suide van Taiwan. Teen Sondagaand was ek en N. in Ho Chi Minh City. Ons het die middag gearriveer by Tan Son Nhat Internasionale Lughawe, wat op ’n stadium een van die besigste militêre basisse in die wêreld was.

Die proses om deur immigrasie en doeane te gaan was meer uitgerek as waaraan ’n mens dalk gewoond is. Ons moes twee weke voor ons vertrek ’n vorm aflaai van ’n webblad af, dit invul en terug epos – waarop ons toe weer ’n brief gekry het waarop ons name verskyn met ons paspoortnommers saam met die name van twee of drie dosyn ander mense wat ook daai dag deur immigrasie sou gaan. Nadat ons geland het, moes ons hierdie brief – wat ons moes uitdruk – saam met ons paspoorte en twintig Amerikaanse dollar kontant aan iemand agter ’n toonbank gee. Ons name is geroep na vyftien minute, en toe kon ons by die lang tou aansluit om stempels in ons paspoorte te kry.

Na immigrasie het ons sim-kaarte gekry (heel maklik, en goedkoop), en reguit na ’n bushalte gestap waar die regte nommer bus toevallig gestaan en wag het. En op pad was ons – deur besige strate vol motorfietse en bromponies en taxi’s en busse en blink, helderverligte winkels. Min of meer in die omgewing waar ons sou bly, het ons eers verdwaald deur die strate geloop, en nadat ons ons hotel gevind het in ’n kleurvolle stegie, het ons ons eerste aandete geniet.

Advertensie vir toere na omliggende areas, en selfs na Kambodja

Maandagoggend het ons die strate getref. Eerste stop was die War Remnants Museum – waar tenks, vliegtuie en helikopters uitgestal word wat agtergelaat is deur die Amerikaners met hulle onttrekking in 1973. Die museum het ook talle items en foto’s van die koste van die oorlog – nie net in materiële terme nie, maar die verskriklike koste betaal deur gewone mans, vrouens en kinders.

Verskeie verdiepings van koffiewinkels ’n paar blokke van die museum af

Volgende stop was die Independence Palace, gebou in 1963 in opdrag van die destydse Suid-Viëtnam president, Ngo Dinh Diem, nadat die vorige gebou wat gedien het as presidensiële woning, gedeeltelik vernietig is deur twee bomme bedoel om van hom ontslae te raak.

Die paleis is ’n tydkapsule – meubels en tapyte uit die 1960’s en 1970’s, kaarte wat teen “war rooms” se mure pryk waar generaals en politici strategie bespreek het, boeke in die biblioteek, telefone en ander kommunikasie-toestelle wat stof vergader in vertrekke in die kelder wat gedien het as ’n bomskuiling.

Daar’s selfs ’n helikopter op die dak in die agterste deel van die gebou wat lyk asof dit steeds wag om die laaste president van Suid-Viëtnam na veiligheid te vervoer. Dat die helikopter steeds op die dak staan, is ’n testament tot die feit dat die laaste president, Duong Van Minh, die derde president in tien dae en in die warm stoel vir slegs twee dae, geweier het om te vlug, selfs toe Noord-Viëtnamese tenks en troepe uiteindelik deur die hekke gebars het op 30 April 1975.

Om die besoek af te rond, het ons ’n aparte uitstalling besigtig oor prominente leiers van Viëtnam oor die laaste 150 jaar of so, en toe gaan foto’s neem by twee tenks wat naby die hekke geparkeer staan wat so sonder seremonie plat gery is in April ’75.

Die volgende dag was ligter op die gemoed: die ou Saigon Central Post Office, ingehuldig in 1891, en die Notre Dame Cathedral, so tien jaar ouer as die poskantoor.

Toe was dit die beurt van die Gia Long Palace – nou die Ho Chi Minh City Museum. Die paleis is gebou in die laat 1880’s om te dien as ’n museum, maar is vir dekades lank gebruik as amptelike woning deur verskeie staatsamptenare.

Uitsig oor die kommersiële distrik van die agterkant van die Gia Long Palace
Nog ’n agtergeblewe helikopter uitgestal op die gras voor die museum

Die uitstallings was interessant, maar my belangstelling was meer in die gebeure van laat 1963. Op 1 November van daai jaar het ’n groep generaals ’n staatsgreep uitgevoer teen die regering van Ngo Dinh Diem. Diem en sy jonger broer en primêre adviseur, Ngo Dinh Nhu, hulle ouer broer, Ngo Dinh Thuc, en ander familielede het in die Gia Long Palace gewoon sedert Diem in 1962 opdrag gegee het dat die Presidential Palace (die ou koloniale goewerneurswoning) gesloop en herbou moes word. Teen laatmiddag van 1 November was die broers bewus van verwikkelinge, en het die paleis ontsnap deur ’n geheime tonnel.

Na die paleis het ons ingeloer by die Saigon Metropolitan Opera House (wat dateer van 1897), gestop vir bier en toebroodjies, en toe per Google Maps instruksies die twee kilometer of so gestap na die Vietnam History Museum.

Woensdag was ons vroeg op om saam met ’n toergroep die twee ure reis aan te pak na die Cu Chi Tonnels – deel van ’n uitgebreide netwerk van tonnels wat tussen die vyftigs en die sewentigs gebruik is om wapens, troepe, kos en ander voorraad Suid-Viëtnam toe te smokkel. Soos dit ’n toeriste-aantreklikheid betaam, was daar verversings en aandenkings te koop.

Vir my was dit nogal ’n belangrike ervaring: na soveel films en TV-programme oor die oorlog, om te staan in ’n werklike stukkie Viëtnam-oerwoud.

Teen ’n prys kon jy jouself ook soldaat hou en ’n paar keer die sneller trek op een van die wapens wat tydens die konflik gebruik is: R40/$2.60 per koeël vir M16 en AK47; ietwat goedkoper vir ander wapens.

Nadat ons terug in Ho Chi Min eers iets gaan eet het in die Ben Thanh Market, was dit tyd vir ietwat van ’n pelgrimstog vir my. Ek is al vir ’n geruime tyd gefassineerd deur die protesdaad van die Boeddhistiese monnik, Thich Quang Duc, wat homself aan die brand gesteek het in ’n besige kruising in die destydse Saigon op 11 Junie 1963. Daar was toe reeds jare lank onmin tussen die Diem regering en die Boeddhistiese meerderheid bevolking, en Duc se selfopoffering het voorbladnuus gehaal wêreldwyd. Ek was onder die indruk dat die insident plaasgevind het in die stad van Hué (dis waar sy blou karretjie steeds bewaar word), so toe ek die vorige aand in my Wikipedia navorsing lees dat dit inderdaad in Saigon gebeur het, het ek geweet ek moes die kruising vir myself sien. Soos dit toe gebeur, was dit net omtrent tien blokke reguit in die pad af van ons hotel.

Krediet: Malcolm Browne / Associated Press

Die aand het ons gaan rondstap in die kommersiële distrik, en onder andere verby die Rex Hotel gestap – nog ’n ikoniese gebou van die oorlog-era. Die eerste gaste, 400 Amerikaanse troepe, het aangemeld in 1961. Hulle was die eerste kompanjie-sterkte soldate wat gearriveer het in Viëtnam, en hulle het vir ’n week in die Rex gebly tot hulle kamp gereed was. Die hotel was ook waar die Amerikaanse militêre leiers hulle daaglikse perskonferensie gehou het tydens die oorlog. En die kroeg op die dak was waar militêre amptenare en oorlogskorrespondente elke aand gekuier het. In 1976 is dit ook by hierdie hotel waar die hereniging van Viëtnam aangekondig is.

Donderdag het ek weer my reisgenoot saam getrek na nog ’n plek wat net van belang is vir mense met ’n ietwat ekstreme belangstelling in óf die voormalige Suid-Viëtnam, óf die Viëtnam-oorlog, óf beide.

Soos vroeër vermeld, was die twee Ngo broers in November 1963 bewus van ’n staatsgreep poging teen hulle bewind. Nadat hulle deur ’n geheime tonnel ontsnap het, is hulle geneem na die Chinese besigheidsdistrik in Saigon. Hulle het ’n paar ure by ’n bondgenoot se huis spandeer, en is toe na die St. Francis Xavier Katolieke Kerk. Hier het hulle agter in die kerk gesit terwyl ’n vroeë diens aan die gang was. Kort daarna is hulle herken in die binnehof van die kerk, en teen 10:00 die oggend het ’n gepantserde personeeldraer met twee jeeps gestop voor die kerk. Die twee broers is in hegtenis geneem. Die idee was om hulle na ’n militêre hoofkwartier toe te neem, maar toe die konvooi stop by ’n spoorkruising, het die lyfwag van een van die staatsgreepleiers eers die een broer, en toe die ander vermoor in die agterkant van die voertuig (daar is steeds onsekerheid oor presies wát gebeur het, en hoekom).

Siende dat ek teen hierdie tyd van die week kniediep was in sestigs politiek en Suid-Viëtnam en die oorlog, het dit sin gemaak om ’n besoek af te lê aan die kerk waar die broers hulle laaste oomblikke gespandeer het voor hulle ondergang.

Na die kerk, het ons ’n paar blokke gestap na ’n Tao-tempel.

Daarna is ons terug na moderne Ho Chi Minh waar ons middagete geniet het in die Bitexco Financial Tower.

Na middagete is ons op met die hysbak na die uitsigvloer.

Ons laaste besienswaardigheid was die Ho Chi Minh City Museum of Fine Arts. Die hoofgebou is gebou tussen 1929 en 1934 as woning vir die Hua-familie. Die museum het na die perseel toe geskuif in 1987. Daar is verskeie vertrekke met mooi en interessante kunswerke, maar wat my aandag die meeste getrek het, was die argitektuur, die vertrekke self, en goed soos die trappe, die hortjievensters en die gebrandskilderde vensters.

Vrydagoggend was ons vroeg al op die sypaadjie om ’n bus te vat terug lughawe toe. Soos toe ons gearriveer het, was die bus betyds en heel gemaklik. By die lughawe moes ons weer in ’n lang, kronkelende ry staan, maar ons het onsself beloon met ’n aangename ontbyt. Omtrent ’n uur nadat ons al moes vertrek het, het ’n bussie ons afgelaai by ’n wagtende masjien met ’n foto van ’n Viëtnamese vrou met ’n bottel Coca-Cola in die hand. Vreemde sement murasies op die rand van die aanloopbaan was ’n laaste herinnering dat hierdie stukkie grond, en die land, net ’n paar dekades verwyder is van een van die brutaalste konflikte van die twintigste eeu.

Twee ure nadat ons geland het, was ek al klaar terug in ’n klas in Taiwan. En Saterdagoggend was dit weer ontbyt by die huis – soos enige gewone naweek.


Om meer foto’s te sien, besoek gerus my Flickr albums:

War Remnants Museum

Independence Palace

Gia Long Palace

Museum of Vietnamese History

Cu Chi Tunnels, Vietnam

Ho Chi Minh City Museum of Fine Arts

______________________

’n Paar politieke paragrawe

VRYDAG 18 JANUARIE 2019

Uiteindelik, wat is “Swart”? Is dit velkleur? Is dit taal? Is dit kultuur? Sal ’n punt uiteindelik bereik word waar daar ’n Swart Hiërargie is? Waar jy 10/10 Swart is, of 7/10, of dalk net 5.5, en waar jy ’n minimum van 7.5 moet wees om te kan kwalifiseer vir die toe-eiening van eiendom en ander hulpbronne? Sal dit gebeur dat swart Suid-Afrikaners met die “verkeerde” opinies verwerp word as nie-regtig-swart nie? Historiese presedent is immers reeds geskep in Amerika (lees hier en hier), waar swart Amerikaners met konserwatiewe opinies, wat nié die Demokratiese Party ondersteun nie, volgens sommige liberales (insluitende blanke liberales) geag word as verraaiers tot hulle ras, en as uitgeworpenes uit die gemeenskap van “ware” Afrikaan-Amerikaners.

DONDERDAG 31 JANUARIE 2019

Ek verstaan jong swart studente wat T-hemde dra met stellings soos, “Kill all whites!” (En weereens, vir die rekord, “verstaan” beteken nie “keur goed” nie. Dit geld soveel meer in hierdie geval.) Ek dink nie dis net woede jeens witmense nie. Hulle is verward oor hul eie ouers, en die geslagte wat voor húlle gekom het. Dis asof hulle wil sê: “Explain it to us again: Why didn’t you push back harder against a minority government despite having numbers on your side – and the power of your labour! Why wasn’t your resistance more robust?”

VRYDAG 1 NOVEMBER 2019

’n Betekenisvolle persentasie swart Suid-Afrikaners in die laat-negentiende eeu en grootste deel van die twintigste eeu het geval vir die “confidence trick” van Wit Opperheerskappy (soos vele eertydse burgers van die Boererepublieke ook geval het vir die prag en praal van die nuwe Britse en Engelssprekende elite na die Tweede Vryheidsoorlog). En hulle kinders en kleinkinders is vandag kwaad, en ontvanklik vir rassistiese politiek – “Kill the white man” en so aan, onder andere omdat hulle skaam is vir hulle ouers en grootouers se goedgelowigheid.

______________________

Gesprek met ’n kosmiese waarnemer

DINSDAG 29 OKTOBER 2019

12:48

Ek werk aan die stuk “Gifplantjie in die Tuin van jou Gedagtes” van Maart 2019:

“Maar wat is maklik, en wat is moeilik?” kom die vraag weer. Ek weet dit is belangrik om dit te beantwoord, want vir dekades het ek geglo dit moet moeilik wees om geld te maak, om suksesvol te wees, om jou drome te realiseer. Dit moet ’n stryd wees. Maar hóé moeilik? Wanneer het ’n mens genoeg gesukkel?

“Die antwoord waarna jy soek al het jy nie die regte vraag gevra nie,” kom die gedagte uit die deel van my brein wat nie aktief aan die praat was in die stort nie, “is dat jy dit nooit sal maak nie. You’ll never make it. That was your actual programming. Die ‘struggle’ deel is net omdat jy iets moet doen. Jy moet probeer. Andersins, wat doen jy met jou lewe?”

Dink ek: Dis amper asof twee kosmiese karakters oor die jare waargeneem het wat ek doen, met die een wat vir die ander een vra, “Moet ons nie maar vir hom sê nie?”

“Wat?” vra die ander ou. “Dat hy net ’n masjien is wat sy programmering uitvoer, dat hy nie veronderstel is om dit te maak nie? Nee wat. Sy gesukkel gee vir hom iets om te doen. Dit gee betekenis aan sy lewe. Wat gaan hy andersins doen – sit en TV kyk die heeldag, vet raak, siek raak en doodgaan? Die gesukkel gee hom hoop. Hoop gee vir hom iets om voor te leef.”

12:57

“Jislaaik, hoe lank moet ek nog sukkel? Hoekom is alles so moeilik vir my? Hoekom wil dit blyk asof ek weet wat om te doen, maar ek doen dit nie?” vra ’n fiktiewe weergawe van my uit die nie-te-verre verlede.

Een van my kosmiese waarnemers trek skielik sy skouers styf, en kyk in die rigting van die balkon waar die ander waarnemer in die verte tuur.

“Wat?” vra die fiktiewe weergawe van my. “Weet jy iets wat ek nie weet nie?”

Die kosmiese waarnemer maak sy oë groot. Sy wenkbroue lig. Sy kop kantel. “Wel …”

“Komaan, uit daarmee!” roep ek.

Die waarnemer skud stadig sy kop. “Ek kan in die moeilikheid kom,” begin hy. “Ek is nie veronderstel om vir jou enige iets te sê nie.”

“Maar jy is nou hier, en ons is besig om te praat, en die ander ou is besig op die balkon, en ek weet klaar jy wil iets sê.”

“Oukei,” sug die waarnemer. “Die feit van die saak is dat jy nie veronderstel is om dit te maak. Jammer … Jy’s veronderstel om te sukkel jou hele lewe lank, en dan gaan jy dood. Dis jou programmering.”

“My programmering?” vra die fiktiewe weergawe van my uit die nie-te-verre verlede geskok. “Wat beteken dit? Alles wat ek doen is verniet?”

“Wel, nie heeltemal nie. Jy sien … jy’s basies ’n masjien wat maar net jou programmering uitvoer. Al jou pogings en projekte en gesukkel … gee vir jou iets om jou dae mee op te vul. Ek meen, wat sou jy andersins doen? Dit gee vir jou iets om aan te glo. Dit gee vir jou hoop vir ’n beter môre. En dis mos beter om te glo aan iets en te hoop vir iets as om geen hoop en geloof te hê nie, dan nie?”

“So ek is maar net ’n masjien wat my programmering uitvoer, en dan gaan ek dood?”

“Wel … dit gaan dalk vreemd klink, maar die waarheid is meer kompleks. Om eerlik te wees, dis veel beter, en veel hoopvoller as dit. Dis net – en al die kosmiese waarnemers is dit eens – dat meeste mense net hulle programmering uitvoer, min of meer gelukkige lewens leef – sommige uit die aard van die saak veel gelukkiger as ander, en dan gaan hulle dood. So, jy’s soos meeste mense in hierdie opsig. En jy is mos immers gelukkig meeste van die tyd, is jy nie?”

“Maar daar is soveel meer wat ek wil doen, soveel meer van die lewe wat ek wil geniet, soveel meer van die lewe wat ek wil ervaar. En as ék dit kan doen … Ek weet hoe om dinge te verduidelik aan ander mense dat hulle ook beter kan verstaan, dat hulle ook meer van hulle eie probleme kan oplos, en beter lewens kan leef, en hulle kinders in staat kan stel om beter lewens te leef.”

“Wel,” begin die kosmiese waarnemer weer, “niks hier is vasgestel nie. Dis wat meeste mense nooit besef nie. Meeste mense leef hulle lewens uit sonder om ooit te besef dat hulle hulleself kan herprogrammeer. Daar is nie ’n sentrale punt of figuur in die kosmos wat almal programmeer, en dan moet hulle maar net slaafs die programmering uitvoer nie. Mense programmeer mekaar. Ouers programmeer hulle kinders. Mense in gesagsposisies programmeer mense wat kyk na hulle vir leiding. En so gaan die wêreld maar aan. Ons kosmiese waarnemers hou net alles dop. Ons beheer niks. Júlle trek julle eie toutjies. Meeste mense breek net nooit deur die dun papiermuur wat staan tussen hulle en die voller lewe wat enige tyd hulle s’n kan wees nie. Glo my, jy’s nie die enigste persoon met gebrekkige of problematiese programmering nie. Ek meen, daar’s mense met problematiese programmering wat betref romantiese verhoudings, wat betref drank en dwelms, wat betref verhoudings met mense wat nie soos hulle dink of leef of glo nie. Jy wil nie weet hoeveel mense elke dag sneuwel as slagoffers van hulle problematiese programmering nie. En ek sê nie dis altyd maklik nie, maar mense kan kyk na hulle eie programmering, en hulle kan verander wat nie werk nie. Mense het enorme kapasiteit om hulleself te transformeer en lewens te leef wat voller is as wat hulle ooit kon droom. Maar meeste mense is, jammer om te sê, tot ’n groot mate masjiene wat meeste van die tyd net hulle programmering uitvoer. Dit hoef nie so te wees nie. Jy hét toegang tot die sleutels en die koppelvlak om jou programmering te verander. Niks is vooraf bepaal nie. Jy is in beheer van jou eie lewe.”

______________________

’n Paar dinge waaroor ek nie omgee nie

MAANDAG 7 OKTOBER 2019

Ek gee nie om wat die velkleur, geslag of seksuele oriëntasie is van die staatspresident of enige nasionale leier nie, solank hy of sy bevoeg is en die belange van die republiek en haar burgers op die hart dra.

Ek gee nie om wat die velkleur of seksuele oriëntasie is van die spelers van enige nasionale sportspan nie, solank hulle die beste spelers is wat die land kan bied.

Ek gee nie om wat die velkleur, geslag of seksuele oriëntasie is van die burgermeester, of die lede van die dorps- of stadsraad, of die verteenwoordigers van die gemeenskap in die parlement of enige ander raad nie, solank hulle bevoeg is en weet wat hulle doen, en die belange op die hart dra van die mense wat hulle verteenwoordig.

Ek gee ook nie om wat die velkleur, geslag of seksuele oriëntasie is van my baas, of bestuurder, of opsiener nie, solank hy of sy bevoeg is, en die belange van die besigheid, die kliënte en die werknemers op die hart dra.

Laastens gee ek ook nie om wat die velkleur, etnisiteit, geslag, seksuele oriëntasie, taal of kulturele agtergrond is van die kommersiële boer wat die kos voorsien wat ek in die supermark koop nie – solank hulle voortgaan om kos te voorsien.

Watse blanke persoon sal immers nie omgee dat ’n onbevoegde, korrupte persoon in beheer is van die nasionale regering of die plaaslike munisipaliteit, of die dorp of stad of provinsie se water of rommel of infrastruktuur of gesondheidsdienste of skole nie, solank die persoon blank is? Watse persoon in sy gesonde verstand sal dit wil hê? Enige redelike persoon sal sê: Gee die posisie vir die mees bevoegde persoon wat na die gemeenskap se belange sal omsien, ongeag hulle velkleur, geslag of seksuele oriëntasie.

Hoekom moet ’n mens dan versigtig wees as jy kla oor onbevoegde mense in leiersposisies, net omdat die persoon waaroor jy kla swart is? Onbevoeg is onbevoeg, korrup is korrup, oneerlik is oneerlik, en bedrieglik is bedrieglik, maak nie saak of jy wit is en die persoon waaroor jy kla ook wit is nie, en of jy swart is en die persoon waaroor jy kla swart is nie.

______________________

Taiwan is uiteindelik my skip

MAANDAG 7 OKTOBER 2019

Dit kan uiteindelik gesê word dat Taiwan my skip is, en al was vir die afgelope twee dekades, soos in die film, The Legend of 1900, waar die titelkarakter sy lewe uitgeleef het op ’n groot passasierskip.

Die sentrale idee word beskryf in hierdie monoloog deur “1900”: “Take a piano. The keys begin, the keys end. You know there are 88 of them and no-one can tell you differently. They are not infinite; you are infinite. And on those 88 keys the music that you can make is infinite. I like that. That I can live by. But you get me up on that gangway and roll out a keyboard with millions of keys, and that’s the truth, there’s no end to them. That keyboard is infinite. But if that keyboard is infinite there’s no music you can play. You’re sitting on the wrong bench. That’s God’s piano. Christ, did you see the streets? There were thousands of them! How do you choose just one? One woman, one house, one piece of land to call your own, one landscape to look at, one way to die. All that world weighing down on you without you knowing where it ends. Aren’t you scared of just breaking apart just thinking about it, the enormity of living in it? I was born on this ship. The world passed me by, but two thousand people at a time. And there were wishes here, but never more than could fit on a ship, between prow and stern. You played out your happiness on a piano that was not infinite. I learned to live that way.”

Ek het reeds in Desember 2000 ’n stuk begin met die laaste sin van bogenoemde aanhaling. Ek het toe al geworstel met die idee dat as die wêreld jou oester is, waar eindig jy? As die moontlikhede eindeloos is, hoekom by een plek stop, een huis, by een lewensmaat en een stel kinders, by een beroep? Hoe kan jy dit regverdig, as daar soveel ander moontlikhede is, om te sê, “Dis oukei, ek het my plek gevind, en die persoon aan wie se sy ek wil wees tot die einde toe”?

Taiwan is die skip waarop ek uiteindelik gebly het, soos die karakter in die film. Daar was tye wat ek amper afgeklim het, maar op die nippertjie besluit het om te bly. En soos die karakter in die film het ek ook geleer om my geluk uit te speel op ’n klavier wat nie gestrek het tot in der ewigheid met moontlikhede nie.

______________________