Los gedagtes van April tot Desember 2019

VRYDAG 12 APRIL 2019

Dis omtrent ’n voltydse beroep deesdae om op hoogte te bly van al die kwessies wat gons in die media as jy so nou en dan jou opinie wil lug, en nie onnosel wil klink nie. Daar’s kernkrag, mensverwante aardverwarming, immigrasie, reg op privaatheid, vryheid van spraak, wapenregte, gebruik van antibiotika op mens en dier, Donald Trump en Brexit, die gebruik van chemikalieë in landbou, genetiese modifikasie, elites teen populiste, belastingbeleid, geslagspolitiek, mense wat gebore is met ’n Y-chromosoom en ontwikkel het in volwasse mans wat tans identifiseer as vrouens en in sport deelneem teen ander mense wat gebore is sonder ’n Y-chromosoom en ontwikkel het in vroulike liggame.

Wie kan byhou?

Vreemde ding is, jy kan nie eens praat oor hierdie onderwerpe, of begin om ’n opinie uit te druk sonder om eers seker te maak watter van die basiese reëls wat tot onlangs aanvaar is in dialoog en debat nog van toepassing is nie. Maak wetenskaplike ondersoek nog saak? Maak dit saak as idees getoets is volgens aanvaarde wetenskaplike metodiek, sekere resultate opgelewer het, weer getoets is en soortgelyke resultate opgelewer het? Is daar steeds plek vir logiese redenering? Kan ’n mens nog sê iets is waar, of nie waar nie?

DINSDAG 14 MEI 2019

Konneksies tussen my geboorteland van Suid-Afrika, en my aangenome tuisland, Taiwan

Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie het in die middel van die sewentiende eeu ’n verversingspos gevestig in die suid-westelikste punt van Afrika. My en miljoene Suid-Afrikaners se familiebome het uiteindelik gegroei en vertak vanaf die oorspronklike Hollandse vesting tot in die res van Suidelike-Afrika.

Die einste Verenigde Oos-Indiese Kompanjie het reeds in die vroeë sewentiende eeu ook ’n teenwoordigheid gevestig in die suide van Taiwan, toe bekend as Formosa.

Daar’s een groot verskil tussen die twee plekke. Die Kaap was in die middel van nêrens – juis hoekom dit ’n goeie plek was vir ’n verversingspos. Taiwan, aan die ander kant, was die middelpunt van kommersiële aktiwiteit: Tokugawa-Japan na die noorde, Ming-China na die weste, en Spaans-Filippyne na die suide. Dan was daar nog die Portugese in Makao, en die waters tussen die plekke was oortrek met seerowers wat in ’n paar gevalle winsgewende betrekkings gehad het met die Hollanders, die Japannese, die Chinese, die Spanjaarde, en die Portugese.

Een ooreenkoms tussen die twee Hollandse vestings: plaaslike mense wat vinnig moes uitpluis hoe hulle te werk moes gaan met die bleekgesigte met hulle lang hare, en hulle buise wat dodelike balletjies blaas. In die Kaap was dit die Khoikhoi (ook Khoekhoen genoem), nomadiese veeboere, en die San, wat jagter-versamelaars was. In Taiwan was daar omtrent twee dosyn Austronesiese stamme wat meestal jagters was, en so nou en dan handel gedryf het met Chinese besoekers aan die eiland (voor die Hollanders gearriveer het).

Nog ’n verskil is wat met die Hollanders gebeur het. In Suid-Afrika het húlle, saam met ander Europeërs, die fondasie gevorm van die blanke bevolking van hedendaagse Suid-Afrika. Die Hollandse taal in die vorm van Afrikaans, asook Europese godsdiens en kultuur is tot vandag deel van die Suid-Afrikaanse nasie. In Taiwan is die Hollanders se beheer van meestal die Westerse strook van die eiland ’n paar dekades nadat hulle gearriveer het, uitgedaag deur die Ming-lojalis, Chen Cheng-gong. Teen 1662 het die Hollanders finaal die stryd verloor. Meeste van die oorlewendes, met die uitsondering van enkele vrouens wat gyselaar geneem is deur die nuwe meester van Taiwan, het die eiland verlaat. Slegs enkele geboue en ’n paar klipmure wat dateer uit die era, staan vandag nog.

WOENSDAG 9 OKTOBER 2019

Ek, soos meeste mense, vrees slegte nuus. Dit sal my van my geluk beroof, reken ek, my bewussyn van algehele welstand ondermyn, my selfs ontneem van my reg om gelukkig te wees (“Hoe kan ek gelukkig wees as …”).

Drie punte hieroor:

1. Die feit bly staan dat jy meer effektief oplossings sal vind vir probleme, en jouself beter sal voorberei vir terugslae, as jy meeste van die tyd ’n goeie basislyn handhaaf vir persoonlike geluk.

2. Jou “baseline happiness” sal ’n knak vat met die hoor van slegte nuus, maar dit sal uiteindelik herstel.

3. In elke stad, dorp, en klein gehuggie kry mense slegte nuus op ’n daaglikse basis – veral die soort waarvan jy nie oornag herstel nie, soos die dood van ’n geliefde. Indien genoeg mense geglo het dat dit ontoepaslik sal wees vir hulle om ooit weer geluk te ervaar, sou dit ’n soortgelyke effek gehad het op die gemeenskap as ’n dodelike virus. Binne ’n paar kort jare sou daar slegs ’n minderheid van mense oor gewees het wat nog geag sou word as geregtig op geluk (moeilik om te sê hoe selfs dit moontlik sou wees, in ag genome hoe verbind mense aan mekaar is deesdae).

VRYDAG 22 NOVEMBER 2019

Ek sal op een of ander tyd die saak moet aanspreek dat ek vir ’n periode van my lewe aangetrokke was tot sosialisme, selfs nadat ek in laat 2003 besef het my persoonlike oortuigings strook meer met klassieke liberalisme as met Marxisme/Kommunisme.

Die sleutel gedagte: ’n Sosialistiese staat was vir my ’n wêreld waar jy nie soos ’n verloorder sal voel net omdat jy nie goed is daarmee om “geld te maak” nie. En vir lank in my lewe het ek gedink aan myself as presies so ’n persoon.

DONDERDAG 28 NOVEMBER 2019

In my middel-twintigs en vroeë dertigs … het ek altyd gesoek na saad wat ek kan plant, iets wat aan my ’n opbrengs kon bring. “As ek net die regte saad in die hande kan kry, floreer ek!” het ek gedink. Heelwat saad het in my rigting gewaai, meer as wat ek ooit kon plant. Ek het geld spandeer aan saad, dinkende dat die saad wat ’n mens koop beter kwaliteit moet wees as die saad wat jy verniet kry. Dan plant ek die saad, en nie veel kom op nie (“wat doen ek verkeerd?”). Of die opbrengs is karig, of die plant vrek.

Was die saad sleg? Van dit wás, maar genoeg was van hoë genoeg kwaliteit.

Die probleem was die grond. Ek het nooit die grond voorberei vir die saad nie.

Hoe moes ek van die begin af, van my vroeë twintigs af, die grond – myself en my ingesteldheid – voorberei het vir die saad? Ek moes opgehou rook het, gesonder geëet het, genoeg rus ingekry het en elke dag geoefen het. Ek moes vaardighede geleer het – ’n derde taal, skryftegniek, basiese sielkunde, oorredingsvermoë, webontwerp, grafiese sagteware … nie noodwendig om geld te maak daarmee nie, net om die grond voor te berei.

DINSDAG 3 DESEMBER 2019

Jare na jy foute gemaak het of by verkeerde paaie afgestap het, sit jy steeds met die gebakte pere, of met die kruppel bene of krom arms. Dis soos Morgan Freeman se karakter in die film Shawshank Redemption sê aan die paroolbeampte na ’n paar dekades in die tronk: “There’s not a day goes by I don’t feel regret. Not because I’m in here, or because you think I should. I look back on the way I was then: a young, stupid kid who committed that terrible crime. I want to talk to him. I want to try and talk some sense to him, tell him the way things are. But I can’t. That kid’s long gone and this old man is all that’s left. I got to live with that.”

Wat staan jou te doen? Jy aanvaar verantwoordelikheid vir jou aksies. Jy gaan dan voort om te leef as iemand beters. Jy hou op om die persoon te wees wat jouself aandadig gemaak het aan sekere misdade of misstappe. Jy doen beter. Jy leef beter. Jy werk hard daaraan om ’n nuwe mens te wees. Elke een van ons het elke oggend wanneer ons wakkerword, die geleentheid om psigies te vernuwe, en fisies te begin wat later as niks minder as ’n wedergeboorte gesien sal kan word nie.

______________________