Dokument 1_181104_2359

DONDERDAG 18 NOVEMBER 2004

Die Sekretaris is moeg vir notas maak, en hy’s moeg vir die hersiening van vorige maande en jare se tekste. Die Sekretaris is fisies moeg, en hy wil gaan slaap, al is dit net 23:38. Drie en twintig … agt en dertig?! Verskyning en waarheid. Identiteit, en mans wat nie baarde mag groei nie omdat die hare sal vashaak in hul selfone as hulle besigheid praat met ander mense wat in kantore werk. Mense is emosioneel armoedig omdat hulle nooit geleer het hoe om op hul eie te wees nie. Die feite, om 23:40 (dubbelpunt) ek het twee hande, tien vingers, ’n sleutelbord onder my vingers wat gekoppel is aan ’n rekenaar wat gekoppel is aan ’n elektriese stroom wat ingebed is in die muur. Ek druk met my vingers op die sleutels, en die resultaat is ’n uitdrukking van my werklikheid om 23:41. Ek is bewus van die feit dat ek nie die sleutelbord is nie. Of miskien is ek, maar ek is groot gemaak met die idee dat ek nie ’n sleutelbord is nie. (Dan weer, ek was nie tien jaar gelede ’n sleutelbord nie. Soos ek dit verstaan, is konstantheid ’n belangrike element in die bewussyn van “ek”. Dit kan derhalwe geargumenteer word dat omdat ek nie tien jaar gelede ’n sleutelbord was nie, ek ook nie nou ’n sleutelbord kan wees nie … hoewel hierdie tipe logika nie gebruik kan word as ek nie, sê nou maar, tien jaar gelede ’n tandarts was nie.) Ek bestaan uit vleis, vel, bene, en bloed. Ek weet van die vleis, want ek het myself al oopgekloof (per ongeluk, nie as ’n eksperiment nie) en gesien dat my vleis soortgelyk is as dié van ander diere wie se vlees ek eet as vleis. Ek weet, vanweë dieselfde oopklowery, dat bloed onder my vel loop. Ek het nog nooit my eie beendere gesien nie, maar ek het al gehoor hoe mense wat weet van hierdie dinge, praat daarvan. Ek het ook al foto’s gesien van gebeentes van mense wat moontlik ook voorheen agter sleutelborde of notaboeke gesit het, maar wat sedertdien hulle vleis en vel verloor het. As ek streel oor my vel, voel ek iets hard onder die oppervlak. Ek vermoed waarmee ek op so ’n geleentheid kontak maak, is inderdaad my eie privaat gebeentes. Hoewel ek ook nog nooit my eie brein gesien het nie, het ek vertroue in die akkuraatheid van die prentjies en tekste wat geproduseer is deur mense wat blykbaar navorsing gedoen het oor hierdie onderwerp, en onteenseglik bewys het dat (meeste) mense ’n brein het. Ek is verder bewus daarvan dat ek vroeër kleiner was. As ek nou daaraan moet dink, kan ek onthou dat ek op ’n stadium so jonk was as drie of vier, en my ma se hand vasgehou het tydens ’n mallemeule-rit. Ek weet verder dat ek in die verlede ook hierdie spesifieke herinnering gehad het. As ek, aan die ander kant, al oud was, kan ek dit nie onthou nie. Dit mag ook wees dat waarna ek verwys as “ek” (met behulp van die sleutelbord onder my vingers) al voorheen bestaan het – en met voorheen bedoel ek voordat ek hierdie mens geword het wat nou agter ’n rekenaar se sleutelbord sit, om 23:55, en wat weet, of glo, dat hy voorheen kleiner was, en sy ma se hand vasgehou het in ’n donker tonnel tydens ’n mallemeule-rit.

Die Sekretaris krap aan sy nek (wat net effens juk, maar hy geniet die sensasie om iets te voel, en derhalwe te weet dat hy lewe). Hy kyk na die vingers wat die aangename sensasie veroorsaak het. Hy sien die netjiese, kortgeknipte naels. Hy sien ook olievlekke op sy regterduim, en stukkies olie onder veral sy regterhand se naels. Die rede hiervoor – weet hy omdat sy brein die herinneringe daarvan gestoor het, saam met al die herinneringe van gebeure van wat hy “gister” noem, en al die dae wat “gister” voorafgegaan het terug tot enkele jare voor hy sy ma se hand vasgehou het tydens die mallemeule-rit (hoewel hy nie veel kan onthou van sy huidige lewe voor die mallemeule-rit nie) – het te make met die feit dat die ou man wat ’n monopolie het op fietsherstelwerk in die buurt, laat vanmiddag gelê en slaap het toe die Sekretaris sy vriendin se blou fiets waarvan die binneband oornag pap geraak het, na die ou man se werkswinkel gestoot het ten einde laasgenoemde te betaal om die band te vervang. Die Sekretaris, nadat hy in beleefde Chinees met die ou man se ongeskikte vrou of dogter deur die agterdeur ’n gesprek gevoer het, het toe sy vriendin se fiets wat sy twee jaar gelede by hom gelos het en wat hy nou al vir ongeveer sewe maande gebruik, teruggestoot na sy woonstel, die fiets staangemaak teen die muurtjie onder die sitkamervenster van die ander ou man wat altyd sit en TV kyk en soms hardhandig sy sitkamervenster toeskuif as hy hoor die Sekretaris het teruggekeer van die dorp af, opgestap by die trappe, sy sleutels uit die 7-Eleven sak gehaal, die deur oopgesluit, sy sandale uitgeskop, en sy boksie met gereedskap gaan haal in die kombuis ten einde self die pap band om te ruil met een wat hy geweet het hy kan kry uit die agterwiel met die gebreekte speke van sy eie geel fiets – wat hy sou verkies het as die speke nie gebreek was nie – wat in die spaarkamer staan saam met sy vriendin, wat twee jaar gelede die land verlaat het, se ander aardse besittings. Hy weet dus waar die sewe oliespatsels op vier van sy regterhand se vingerpunte vandaan kom. Van die fiets af. Wat hom gelukkig gemaak het – dat hy die fiets reggemaak het. Die gele. Sy eie fiets. Hy’t die blou fiets se wiel gevat, die geel fiets se binneband, en ook die geel fiets se buiteband (wat hy verkies omdat dit growwer is), dit alles aanmekaar gesit en dit nie teruggesit aan die blou fiets soos hy aanvanklik gedink het hy sou nie, maar aan die geel fiets – waarmee hy toe na die Engelse gespreksklas gery het om nog R169.81 te verdien. Hy’t gereken, ’n mens behoort dinge te skep, of dan ten minste dinge reg te maak, want dit is nader aan die ware natuur van die mens. So’t hy gereken sal iemand eendag sê: “Hy, die befaamde Noteerder van Idees en Insigte het eenkeer gesê …” Maar toe onderbreek hy homself en hy dink: Daar is skrywers, digters, essayists, playwrights, romanskrywers, columnists, maar ek is nie werklik een van hulle nie. Ek is ’n Notist, of ’n Notisist … nee, ’n Notist. Toe skryf hy dit neer in sy notaboek wat altyd gereed op die antieke kassie lê: A Notist/’n Noteerder. Toe stap hy die kombuis binne, haal ’n sigaret uit een van die vier pakkies wat op die wasbak lê, steek een aan, en dink: Hy, die befaamde Noteerder van Idees en Insigte – of dan, die Sekretaris! – het gesê dis nie in die mens se natuur om baie van die werk te doen wat mense doen nie, maar dat dit ook waar is dat 80% van die mense wat hierdie arbeidsposisies vul, mense soos hy se lewens vergemaklik omdat hulle die werk doen wat hulle doen. Hy’t ook gewonder of ’n mens kan sê “die mens se natuur”. Toe dink hy dat beide Charles Manson en Mohandas Gandhi oë gehad het, en dat hierdie oë presies dieselfde doel gedien het. Hulle oë het wel verskillende dinge gesien, in verskillende lande, en op verskillende tye. Dit was dan ook so dat hulle besluit het … of miskien het hulle nie besluit nie, want dit was nie in die eerste plek hul keuse om as Charles Manson of Mohandas Gandhi gebore te word nie, maar siende dat die mens steeds vrye wil het en so aan, kan ’n mens sê dat hulle gekies het om verskillende dinge raak te sien met oë wat nietemin presies dieselfde funksie en merendeels (behalwe miskien vir kleurpigment) dieselfde ontwerp gehad het. Hy dink toe ook dat dit ironies is, in ag genome nou, dat Charles Manson se gekose professie dié was van “musikant”, terwyl Mohandas Gandhi ’n “advokaat” was. Tog reken hy dat hulle albei gebore is met nie net dieselfde ontwerp in oë nie, maar ook dieselfde menslike natuur – wat volgens hom bepaal dat die mens se ware rol en funksie dié is van Skepper, en nie Kantoorwerker nie. Op pad terug van die dorp af, op sy geel fiets met styfgepompte bande, en die 7-Eleven sak nou gelaai met ’n boksie Koreaanse gefermenteerde kool, sop met noedels en twee hamburger patties, ’n plastiekglas vol papajamelk en ’n plastiekglas vol groentee, gaan die Sekretaris voort. Hy dink toe, mense wat administratiewe werk doen, of enige ander vervelige werk wat geen kreatiwiteit vereis nie, maak eintlik ’n opoffering sodat die res van ons nie bekommerd hoef te wees oor die administrasie van maatskappye en instellings en regeringsdienste nie. Nietemin, as ’n mens die vervelige werk wat mense doen net sodat hulle geld kan kry vir kos en klere, maar ook vir gemors wat hulle nie regtig nodig het nie maar wat hulle koop om beter te voel oor hulleself, kan outomatiseer, en kom ons sê 50% van hierdie arbeidsmag kan afdank … gaan dit natuurlik die ekonomie nadelig beïnvloed. Dit is inderdaad so dat ’n mens in allerhande snaakse stegies opeindig as jy wil verander hoe dinge werk. As ’n mens dan miskien hierdie arbeidsmag van mense wat vervelige, nie-dienslewerende, nie-kreatiewe werk verrig kan verplaas na werk waar hulle iets vervaardig, maar ook nie in die sin van rolband-arbeid circa 1925 in ’n Ford motoraanleg nie … beland jy weer in ’n ander stegie, naamlik die feit dat dit hul status in die gemeenskap, en hul beskouing van hulleself nadelig sal beïnvloed. Rede? Die dominante kultuur van die dag gee hoër status aan sogenaamde witboordjiewerkers wat sieldodende arbeid verrig in kantore, as aan mense wat dinge vervaardig met hulle hande. Mense moet inderdaad heropgevoed word! Meeste mense verstaan nie die komplekse vrae rakende die menslike natuur en die ware doel van die mens se lewe nie. Meeste mense bevraagteken ook nie die skewe kultuur waar mense hoër status, en in baie gevalle meer geld kry, as hulle nie hul hande hoef vuil te maak nie. Die Sekretaris verstaan die historiese agtergrond van hierdie ontwikkeling in die ewolusie van die mens as arbeider, maar hy kan nie verstaan dat meer mense nie hewiglik ontsteld raak oor hierdie kultuur nie! Of hy kan ook dít begryp, want meeste mense reken as hulle kan voorsien in hul eie behoeftes, as hulle ’n maat kan vind en ’n familie kan begin en kan voortsit wat aan hulle voorgeskryf word as ’n “goeie lewe”, dan’s alles reg, en vrae oor die menslike natuur en die ware doel van die mens se lewe, grootliks onnodig. Of, indien hierdie vrae steeds geag word as waardevol, word dit nietemin gereken as voldoende om die uitlatings wat gemaak word oor hierdie sake deur iemand soos die plaaslike priester of pastoor, onkrities te resiteer. Benewens hierdie gedagtes, reken die Sekretaris ook dat alle mans die reg behoort te hê om ’n baard te kan groei; dat hulle nie voorgesê behoort te word in hierdie saak deur hulle sogenaamde hoër offisiere in die maatskappy, organisasie of besigheid waar hulle geld verdien nie. En wat betref vrouens wat kla oor baarde wat in die pad is as dit by vryery kom of dat hulle mans slordig lyk met ’n baard, is die Sekretaris definitief ou-skool. “Van wanneer af is mans bereid om hulle antieke reg op te gee om ’n baard te groei, net omdat hulle vrouens sê hulle mag nie, of dat hulle simpel lyk? Waarheen is die wêreld op pad?!” sal die Sekretaris sê. Nie dat hy kwaad is vir vrouens en mans se kant kies nie. Meeste mans irriteer hom. Goed, meeste vrouens ook. Maar vrouens (veral die twee wat tee verkoop in die hoofstraat) het die onregverdige vermoë om mans te kan manipuleer deur net te wees wie hulle is. Mans is swak. Vrouens ook. En as vrouens nie hul beenhare of armholtes wil skeer nie, is dit hul eie reg. As die Sekretaris wel eendag saam met ’n vrou opeindig, sal hy nie haar beenhare of onderarmhare mind nie, solank sy nie kla oor sy baard as sy hom soen nie. (Dit is waar dat die wêreld heel waarskynlik aanvanklik sal ondergaan as die Sekretaris die baas is, maar dit sal net tydens die eerste paar dekades wees.) Hy het ook tot die insig gekom dat vrouens sekere dinge soek in ’n man, en as hy nie hierdie dinge het op 25 nie, sal sy hom nog die voordeel van die twyfel gee in die geloof dat hy dit wel oor ’n paar jaar sal hê. As ’n man egter reeds 33 is en steeds nie ’n huis en ’n kar en kredietkaarte en tjekboeke en duur skoene het nie, dan meen sy dit is hoe dit vir die res van sy lewe gaan wees. Dit maak nou minder saak as ’n jaar of twee gelede, want hoewel vrouens hom steeds mal maak, herwin hy deesdae veel vinniger sy gesonde verstand. Vrouens het merkwaardige anatomie. Wat hy egter soek, is ’n buitengewone vrou. En hulle, soos buitengewone mans, is so skaars soos ’n administratiewe betrekking wat kreatiwiteit vereis.

Dis nou 01:25. Die Sekretaris is uitgeput. Hy wil gaan slaap, want dis laat, en hy’s besig om aan die slaap te raak agter sy rekenaar.

DOKUMENT 1_181104_2359

Charles Manson het ’n baard gehad. Gandhi nie. Manson was ’n musikant. Gandhi was ’n advokaat. Manson het baie mense doodgemaak, of ten minste ander mense geïnspireer om op ’n moordtog te gaan. Gandhi het miljoene geïnspireer om goed te doen. Ek is nou regtig moeg.

____________________

Die sondes van die BRON word besoek …

DINSDAG 16 NOVEMBER 2004

Die mens ontvang die inligting wat aan hom ’n aanvanklike aanduiding gee van wie en wat hy is of veronderstel is om te wees – die boustene waarmee identiteit saamgestel word – van ’n BRON, of dan verskeie “agente” van die BRON.

My vraag is, wat as die BRON om verskeie redes gebrekkig is, of bederf? (Wat sou dit beteken om ’n bron bederf te noem?)

Ook, wat is die doel van die BRON? Is dit nie om die mens in staat te stel om te funksioneer in ’n partikulêre plek en tyd nie? Dan moet die BRON sekerlik volgens hierdie doel beoordeel word.

Wanneer is ’n BRON bederf? Hoeveel mense se programmering en funksionering moet gebrekkig wees tot ’n groot mate as gevolg van die BRON voordat die BRON as fataal bederf geag kan word?

As ’n primêre doel van die BRON is om mense in staat te stel om ’n goeie idee te ontwikkel van wie en wat hulle is en funksionering moontlik te maak, wat is die primêre doel van die mens se bestaan? Om identiteit te bewerkstellig en suksesvol te funksioneer? Wat is “suksesvolle funksionering”? Oorlewing? Ek glo nie.

Ek glo as die BRON bederf is, verlaag dit die waarskynlikheid dat mense hul ware einddoel sal verwesenlik. ’n BRON wat bederf is, is soos ’n kanker wat geïdentifiseer en uitgesny moet word om die liggaam ’n kans te gee om te oorleef.

[Ek het ’n verwysing in die laaste paragraaf na “ware einddoel” laat deurglip. Is daar so iets? Is dit verder moontlik dat ’n “bederfde BRON” steeds kan lei tot ’n goeie lewe wat ’n goeie doel dien, juis as gevolg van die lewensreis waarop ’n persoon geforseer is deur die “bederfde BRON”?]

______________________

Waarheid en woordeskat

SATERDAG 13 NOVEMBER 2004

Waarheid en woordeskat (I)

Wie is jy dan indien wie jy is in reaksie tot jou omgewing en wie jy is ten einde suksesvol te funksioneer in ’n bepaalde tyd en omgewing net ’n deel van jou “storie” is? Wat is dan, by wyse van spreke, jou volle storie? En hoeveel beter en meer volledig sou jou antwoord kon wees op hierdie vraag indien jy ’n duisend tale vlot kon praat?

SONDAG 14 NOVEMBER 2004

Waarheid en woordeskat (II)

Feit is, 5 000 jaar gelede het ons voorouers oor ’n woordeskat beskik van, sê, min of meer 5 000 woorde om uitdrukking te gee aan die ervaring van hul werklikheid, en aan hulle bewussyns-van-self. Hulle bewoording van “waarheid” was dus ook beperk tot min of meer 5 000 woorde.

Nou se dae het ons die voordeel van sê, tien tot rofweg 60 000 woorde om uitdrukking te gee aan die werklikheid, of werklikhede, wat ons beleef, en aan ons bewussyns-van-self – meer werkwoorde, bywoorde, byvoeglike naamwoorde, frases, ensovoorts. Ons “waarhede”, insluitende ons religieuse oortuigings, kan derhalwe ook in meer detail en in meer subtiele skakerings bewoord word.

Mens wonder tog, hoe sou dit die individu se ervaring van die werklikheid beïnvloed indien hy of sy die spreker was van ’n taal wat ’n miljoen woorde bevat het, en indien hy of sy met gemak tien of twintig keer meer woorde geken en gereeld gebruik het as die gemiddelde opgevoede persoon wat vandag se strate bewandel?

Feit is: “god” is ’n woord. So is “mens” en “siel” en “self” en “lewe” en “dood”. Wat lê agter hierdie woorde, wat nie (tans) in woorde uitgedruk kan word nie?

[Die webblad, King James Bible Online, dui aan dat daar amper 15 000 unieke woorde in die Bybel voorkom. Volgens Wikipedia lys The Oxford English Dictionary meer as 250 000 unieke woorde, uitgesluit vele tegniese, wetenskaplike en slang terme.]

______________________

Seksuele begeerte, sosiale verskynings, en die gepaardgaande beskouing van die self

DONDERDAG 11 NOVEMBER 2004

22:22

Ek het nou net ’n telefoniese gesprek gehad met ’n vriendin, en het enkele van my mees onlangse gedagtes met haar gedeel (oor verskyning, begeerte, verleentheid, mislukking, selfbeskouing, ensovoorts).

Na die oproep dink ek daaraan dat ek moontlik gesê het mense moet eerder selibaat wees. Ek dink nie ek het heeltemal bedoel om te sê selibaatheid is beter as om ’n aktiewe sekslewe te hê nie. Ek wou net aandag vestig op die moontlikheid dat ’n verandering in seksuele begeerte, of seksuele gedrag, of verwagting, jou sosiale verskyning fundamenteel sal beïnvloed, en daarmee saam jou beskouing van jouself, en van ander mense.

22:47

Dit was dan ook so dat ek ’n sensasie ervaar het wat ek as spyt kan beskryf dat ek daai opinies met haar gedeel het.

Haar reaksie het my laat dink sy was omgeboul, en beïndruk deur die “diepheid” daarvan, maar dat sy ook gevoel het asof sy uit haar gemaksone is – en derhalwe haar verskyning moes staak om haar waardigheid te red.

Nodeloos om te sê was ek bewus van die moontlikheid dat ek weereens daarin geslaag het om iemand te vervreem met my sogenaamde insigte.

My lewe, my stryd.

22:53

Sê ek dan mense moet ophou om met mekaar te meng en een-een die woestyn instap, of dan hulle eie privaat woestyne, om te verhoed dat hulle mekaar per ongeluk raakloop?

Nie noodwendig nie.

Al wat ek sê is dat alleenheid, en eensaamheid, mý boom sodanig bevrug het dat dit unieke vrugte opgelewer het.

VRYDAG 12 NOVEMBER 2004

’n Oorsigtelike studie van Europese en Oosterse beskawings openbaar ’n antieke tradisie van mans en vrouens wat hulself afsonder van die res van die samelewing. Die feit dat jy van sommige van hierdie mans en vrouens sal hoor, of sal lees van hulle, impliseer dat hulle afsondering gelei het tot bogemiddelde insigte oor die lewe, en/of dat hulle aksies onderneem het na periodes van afsondering wat hul name verewig het in die anale van die geskiedenis van die mensdom.

______________________

Geagte 18 tot 35-jarige leser …

DONDERDAG 11 NOVEMBER 2004

Geagte 18 tot 35-jarige leser, jou opsies as werkende volwassene is as volg:

1. Vind ’n werksgeleentheid wat jou van voldoende inkomste voorsien.

2. Vind ’n werksgeleentheid wat jou van voldoende inkomste voorsien, en wat genotvol is om te doen.

3. Vind ’n werksgeleentheid wat jou van voldoende inkomste voorsien, en wat aan jou die indruk gee dat jy ’n waardevolle rol speel in die breë gemeenskap (nie net in die werksplek waar jy jou inkomste verdien nie).

4. Vind ’n werksgeleentheid wat jou van voldoende inkomste voorsien, en wat strook met jou kritiese selfbeskouing – ontwikkel na jy jou Gegewe Self gekonfronteer het, en jou Gekose Self gedefinieer het.

(Nommer vier is meer ingewikkeld. Beroep, of enige werk waarmee mens geld verdien, moet gekies word en word soms benodig lank voor die persoon ’n meer gesofistikeerde idee het van wie hy of sy is anders as, “My naam is Sannie of Koos; ek is gebore in Dorp A of Stad B; ek hou van dit of dat; dit of dat verveel my; dit of dat maak my kwaad; my pa en ma en susters en broers en oupas en oumas en ooms en tannies en neefs en niggies en vriende is sus en so; ek wil eendag in ’n drie of vier of tien slaapkamer huis of woonstel woon in Dorp Y of Stad X; ek wil ’n Porsche of donkiekar of Datsun bakkie ry, en ek wil trou en een of twee of sewe kinders hê.”)

______________________