Hoe jy dink oor geld, en ’n gesprek met Geld

VRYDAG 26 OKTOBER 2018

13:18

Ek lees nog ’n “wealth mindset” boek (You Are a Badass at Making Money: Master the Mindset of Wealth, deur Jen Sincero). Ek wonder, vir die rekord, hoekom ek reken dat ook ék genoeg geld kan maak om finansieel onafhanklik te wees.

Hier is die redes:

1. Omdat daar ’n massiewe hoeveelheid geld in die wêreld is (volgens een bron, 80 triljoen dollar), waarvan daar ’n massiewe hoeveelheid in omgang is (ongeveer 5 triljoen dollar), gereed vir mense om na hulle toe te kanaliseer. (Onthou: geld ken jou nie; dit gee nie om waar dit opeindig nie.)

2. Ek is slim genoeg om te kan leer wat ek moet leer.

3. Ek besit, en het toegang tot, ongelooflik kragtige instrumente en hulpbronne – ’n rekenaar, ’n slimfoon, stabiele hoëspoed toegang tot die internet, en bankrekeninge.

4. Ek het oor die jare verskeie vaardighede ontwikkel wat die waarskynlikheid in my guns laat kantel om finansiële onafhanklikheid te bewerkstellig – die produsering, publikasie, en verspreiding van teks- en ander materiaal; vrymoedigheid en selfvertroue om met vreemdelinge gesprekke aan te knoop; basiese kennis en begrip van finansiële markte; hoe om rekeninge oop te maak, handel te dryf, en kapitaal te bestuur; hoe om ’n produk of diens op die internet beskikbaar te stel, te bemark, en te adverteer.

5. Ek weet ek sal in staat wees om nog meer goeie dinge te doen met meer geld as wat ek nou doen. Ek weet ek sal meer wees van die goeie wat ek reeds is.

6. Ek het reeds vele struikelblokke wat geskuil het in my onderbewuste wat my oor die jare weerhou het daarvan om die regte stappe te neem om meer geld te maak, gekonfronteer, en begin om dit te deaktiveer. Ek het ’n sterk vermoede dat daar nog ’n paar struikelblokke is. Ek weet dat ek hierdie struikelblokke ook sal identifiseer, sal deaktiveer, en sal vervang met oortuigings wat my pogings sal versterk om meer suksesvol te wees. Ek weet dit, want ek vind dit interessant om hierdie struikelblokke te ontdek en te konfronteer, al is dit emosioneel ongemaklik, want ek weet ek eindig op met interessante notas daaroor.

7. Ek verstaan dat ’n mens nie geld hoef te maak nie, want al die geld waarvan jy ooit kan droom, bestaan reeds. Ek verstaan ook dat jy jouself ontvanklik moet maak vir geld, jouself waardig moet ag, en aksies moet neem om die geld in ontvangs te neem.

21:15

Weereens belangrik om te noem wanneer ’n mens praat van geld:

1. Jy is ’n programmeerbare, en reeds geprogrammeerde, organiese robot. Hierdie programmering sluit in die taal wat jy praat, die kulturele gebruike waarmee jy jou lewe vul, hoe jy aantrek, die tipe grappe wat jy maak, die sport wat jy beoefen, die godsdiens wat jy aanhang, en jou voorkeure in spys en drank.

2. Jou beskouing van volwasse lewe, jou verwagtinge van hoe jóú lewe sal wees as volwassene, jou beskouing van hoe ’n mens ’n bestaan maak, die inkomsteklas waarin jy verwag om te wees as volwassene, jou verhouding met geld – is jy ’n spandeerder of ’n opgaarder? werk jy slim met geld of mors jy dit? sukkel jy om geld te maak of is daar geen beperking op die hoeveelheid geld wat jy kan maak nie? – is ook alles deel van die programmering wat jy onvang het as kind.

3. As jy jou eie lewe wil verbeter, en dalk ook die lewens van ander mense, is geld ’n uiters waardevolle hulpbron.

4. Woorde is belangrik. Hoe jy praat en die woorde wat jy gebruik, affekteer wat jy glo en hoe jy voel, en uiteindelik wat jy doen.

* * *

Jen Sincero, die skrywer van You Are a Badass at Making Money, noem in haar boek dat elke mens ’n verhouding het met geld, en dat dit ’n handige oefening is om ’n brief te skryf aan geld asof dit ’n persoon is. Ek reken dit kan ook werk as ’n dialoog:

[…]

GELD: As ek dan so baie vir jou kan doen, hoekom het jy nie meer van my nie?

EK: Ek het al baie pogings aangewend om meer van jou in my lewe te hê, maar meeste van my pogings was nie suksesvol nie.

GELD: Ander mense probeer nie so hard nie, en hulle het meer van my in hulle lewe as wat hulle in een leeftyd kan spandeer. Hoekom dink jy spandeer ek so baie tyd met húlle, en so min tyd met jou?

EK: Ek het nog altyd gedink mense wat soveel van jou in hulle lewe het, is óf gelukkig, óf hulle doen dinge wat jou beïndruk. Ek het al baie gelukkig gevoel oor sommige dinge in my lewe, maar nie met jou nie. En ek het duidelik nog nooit iets gedoen wat jou beïndruk nie.

GELD: Is ek tans in jou lewe? Hoeveel kry jy nou van my te siene?

EK: Ek sien genoeg van jou om aan die lewe te bly, en redelik goed te leef, maar nie genoeg om ander dinge te doen wat ek graag sal wil doen nie. Jy’s ook nie genoeg in my lewe om my te onderhou as ek in ’n ongeluk moet wees nie, of om my te hou tot my oudag nie. Ek sal beslis veel, veel meer van jou in my lewe wil hê.

GELD: Jy wou op ’n stadium ’n kluisenaar word. Waaroor het dit gegaan?

EK: Ek dink ek wou nie ’n verhouding gehad het met die wêreld nie. Of dalk het dit geháát dat ek jou so nodig gehad het in my lewe, maar so min van jou gehad het. Ek het dit dalk begeer om glad nie ’n verhouding met jou te hê nie.

GELD: Wil jy nou ’n kluisenaar wees?

EK: Nee. Ek weet dit sal ’n uiters beperkte lewe wees. Ek sal ook min beteken vir ander mense.

GELD: Wat sal dit vir jou beteken om ’n goeie verhouding met my te hê, om soveel van my in jou lewe te hê as wat jy nodig het – om my selfs in oorvloed in jou lewe te hê?

EK: Ek sal meer ontspanne wees. Ek sal dinge kan ervaar en plekke kan sien waarvan ek nou net weet. Ek sal my ouers beter kan bystaan. Ek sal ’n beter verhouding hê met albei my susters, maar veral met my ouer suster. Ek sal vir ander mense – insluitende my beminde – kan leer hoe om húlle verhouding met jou te verbeter. Ek sal diere in nood kan bystaan. Ek sal jou deel met mense wat my sal bystaan in my ondernemings.

(Ek het sopas ’n insig gehad. In hierdie gesprek “praat” jy met “iemand” wie se mag so te sê onbeperk is – inderdaad “iemand” met mag oor lewe en dood. Hierdie “iemand” blyk egter ook moeilik te wees om gelukkig te maak, en is soms aanwesig in jou lewe, en soms nie. Daar kan sonder twyfel gesê word dat jy graag meer van die “persoon” in jou lewe wil hê, siende dat “hy” jou in staat kan stel om soveel te doen, jou soveel beskerming kan gee, en jou soveel goeie dinge kan laat ervaar. Is dit net ék wat blyk deurmekaar te raak tussen geld en “God”?)

______________________