Positiewe denke en ’n geïntegreerde wêreldbeeld

SATERDAG 9 MAART 2019

Soos seker meeste denkers buite die hoofstroom, het ontwikkelingsbioloog Bruce Lipton sy kritici. Nietemin, alles waarna ek geluister het en wat ek gelees het die laaste paar jaar van Lipton, gee vir my die naaste wat ek gekom het aan ’n geïntegreerde wêreldbeeld sedert my vroegste programmering as Evangeliese Christen: ’n Verduideliking wat die fisiese wêreld verbind aan die nie-fisiese wêreld, die waar-jy-vandaan-kom met die waarheen-jy-op-pad-is – of waarheen jy op pad kán wees as jy die regte dinge doen.

* * *

Een van die aantreklikste aspekte van Lipton se verduideliking van hoe dinge werk, veral soos beskryf in sy boek, Biology of Belief, is dat dit die individu bekragtig. Jy is verantwoordelik vir jou eie lewe – veel meer as wat jy ooit kon dink jy is.

Ek verstaan dat die gedagte uiters onaangenaam kan wees vir sommige mense, wat alreeds voel dat hulle nie goed genoeg is nie, of dat hulle nie goed genoeg doen nie. En nou moet hulle nog hoor is dalk self verantwoordelik vir hulle eie ellende!

Natuurlik is dit ingewikkeld. Die mens is immers ’n komplekse organisme. Die wêreld is kompleks. Talle faktore speel ’n rol in hoe goed of hoe sleg jy doen in jou lewe, insluitende jou gesondheid.

Geloof in jou eie vermoëns om jou lewe positief te affekteer, en erkenning dat jy tot ’n groot mate verantwoordelik is vir jou eie lewe, het wel praktiese waarde. As mense reeds met hierdie punt verskil, is daar ’n goeie kans dat hulle hul eie vermoëns om hulle lewens positief te affekteer, gaan ondermyn.

Sommige mense sal jou wys daarop dat daar ander faktore is wat ook ’n rol speel in jou fisieke welstand – soos gifstowwe in die omgewing, of genetiese mutasies wat affekteer hoe selle funksioneer. Natuurlik is daar! Dis nie ’n swart-en-wit saak nie. Selfs as gifstowwe in die omgewing jou gesondheid aantas, of as genetiese mutasies lei tot siekte, gaan geloof in jou eie vermoëns om jou lewenskwaliteit en gesondheid positief te affekteer, steeds ’n verskil maak.

* * *

Dis soos ’n sirkel wat voltooi word. Jy kyk na biologie, fisika, chemie, wiskunde, en so aan, en uiteindelik na kwantum fisika – protone, elektrone en neutrone wat op allerhande onverwagse maniere optree; energie wat die basiese element is van alles wat bestaan, en persepsie wat affekteer hoe selle funksioneer. Jy beweeg dus weg van godsdiens en die “geestelike” wêreld wat jy nie kan aanraak nie maar wat veronderstel is om jou lewe te beïnvloed, en jy eindig op met wonderlike dinge wat wetenskaplikes soms moeilik vind om te verduidelik, en wat, as jy mooi daarna kyk en goed daaroor dink, nie te ver is van die betekenis van die woord, “magies” nie.

______________________

Solank dit werk, maak dit nie saak as iemand dit mumbo-jumbo noem nie

VRYDAG 15 FEBRUARIE 2019

15:55

Ek het die laaste paar jare intens bewus geraak van die verskil wat hoe ’n mens dink oor jouself maak in jou lewe, selfs hoe jy praat – met jouself, en óór jouself.

Niemand kan stellings maak oor watse tipe uitdagings ander mense die hoof kan bied nie. Daar sal altyd mense wees wie se toestand van so ’n aard is dat “positiewe denke” dalk nie veel van ’n verskil gaan maak nie. Is dit egter voldoende rede om die uitsonderlike vermoë wat mense wel het om ’n verskil te maak in hulle lewens te onderskat? Spesifieke mense het spesifieke probleme, maar om goeie advies wat ’n astronomiese verskil kan maak aan talle mense se lewens, af te maak as onbeduidend omdat dit (in jou opinie) nie ’n verskil sal maak aan ’n spesifieke persoon se lewe nie, doen in my opinie niemand ’n guns nie.

Ek sal eerder iemand wil aanmoedig om iets te probeer, as om vir hulle ’n verskoning te gee om dit nie te probeer nie. Dalk werk iets nie. Dan probeer jy iets anders – en jy hoef ook nie verleë te voel omdat iets nie werk vir jou nie.

Ek reken die hele storie van positiewe sielkunde is meer as net ’n bufferplakker of die strooiman wat sommige mense maak daarvan en dit dan kritiseer. Ek dink nie ek oordryf as ek sê ek reken positiewe sielkunde is in vele mense se gevalle die verskil tussen lewe en dood nie, of die verskil tussen ’n miserabele lewe en ’n uitsonderlike een.

Natuurlik maak dit saak hoé jy hierdie tipe mening of advies deel met mense.

* * *

Ek kan nie sê dat ek een of ander Damaskus-pad ervaring gehad het en nou weet wat die waarheid is en alles verloop nou glad en gelukkig nie. Dit is eerder ’n geval van kyk na wat werk vir my, en kyk na wat werk vir ander mense. En as die resultate positief blyk te wees, gooi ek meer daarvan in die pot en brou voort. Dis sekerlik wat meeste mense doen, dan nie? En vir die rekord, ek gooi selfs bufferplakkers en plakkate in die pot, en as die borrelende brousel nie ontplof nie, skryf ek dit by die resep in.

* * *

Die idee is nie om oornag jou gesondheid te herstel, of die gebruik van jou ledemate te herwin nie (so goed soos dit sou wees). Die idee is om die beste te doen wat jy kan met die situasie waarin jy is, of met die kondisie waaronder jy gebuk gaan. Om aan jouself te dink as ’n slagoffer, gaan ’n dramatiese ander resultaat teweegbring as om aan jouself te dink as ’n magtige agent van vermoë en persoonlike transformasie.

Mense argumenteer graag oor die akkuraatheid van woorde of frases (“Beteken X regtig Y?”), wanneer hulle eerder moet fokus op die praktiese waarde van ’n benadering of uitkyk. “Hoe waardevol sal dit vir my wees op ’n daaglikse basis?” is die vraag wat jy jouself eerder moet vra.

19:55

’n Mens behoort glad nie betrokke te raak in ’n argument oor die eenvoudigheid al dan nie van positiewe sielkunde as faktor in ’n mens se lewe nie. Dit is ’n bietjie soos iemand wat sê groente is gesond vir jou, met iemand anders wat dan reageer met, “Maar nie alle groente is pers nie.” Om te reageer met, “Maar ek het nie gesê alle groente is pers nie; ek het slegs gesê groente is gesond vir jou,” sal ’n mors van tyd wees. Dit sal wees om weg te beweeg van die werklike punt, in die geval van positiewe sielkunde, die waarde van positiewe self-persepsie, en ’n aanvaarding van die astronomiese vermoëns wat (meeste) mense het om hul eie welstand te beïnvloed.

Die hele argument van die eenvoudigheid al dan nie van ’n faktor is in elk geval absurd – nie omdat dit absurd is dat X eenvoudig kan wees nie, maar oor die betekenis van die woorde. Wat beteken dit immers om te sê, “Dis nie so eenvoudig nie”? In die eerste plek, wat bedoel Persoon A met eenvoudig, en wat bedoel Persoon B daarmee? Tweedens, hoe seker is Persoon A hy is nie net besig om ’n strooiman te maak van Persoon B se argument, en dan die strooiman aan te val nie?

Woensdag 17 April 2019

Ek sal eerder die waarde van positiewe denke oorskat, as om dit te onderskat omdat ek myself definieer of identifiseer aan ander as iemand wat nie tyd het vir “New Age mumbo jumbo” nie, en myself in die proses te beroof van die potensieel enorme effek wat positiewe denke kan hê op my gedrag, op my ervaring van die werklikheid, en op die resultate wat ek produseer elke dag.

Donderdag 18 April 2019

’n Leser van die boek, Learned Optimism: How to Change Your Mind and Your Life deur Martin E.P. Seligman, maak die volgende opmerking in hul resensie oor die boek op Amazon.com:

“‘Learned optimism’ is based on the idea of ‘learned helplessness,’ or the theory that if a person believes that he/she has no control over the bad things that happen to him/her – that bad things just occur randomly and for no reason – then the person gives up trying to find ways to make his/her life better and as a result he/she becomes depressed. ‘Learned optimism’ is designed to teach a person with ‘learned helplessness’ that while he/she might not have control over life’s events, what he/she does have control of is his/her own thinking about those events.”

______________________

Vrymoedigheid om te sê wat ek wil sê

SATERDAG 19 JANUARIE 2019

Wanneer mense iets kritiseer waarvan hulle inderdaad min weet – of iets wat hulle nog nooit krities oorweeg of ondersoek het nie, is hulle soos buikspreker-poppe. Hulle monde beweeg, maar dis nie regtig hulle wat praat nie. Hulle speel eenvoudig ander mense se opinies terug wat hulle “opgeneem” het en op daai oomblik as gesaghebbend beskou het.

DINSDAG 12 FEBRUARIE 2019

’n Reeks stellings gemaak deur ’n student in ’n dokumentêre program oor Evergreen University, kom neer op die volgende:

1. Daar is ’n probleem in die samelewing.

2. Ons verwag dat daar mense sal wees wat sal sê die probleem is nie so ernstig soos ons sê dit is nie.

3. As jy beweer die probleem is nie so ernstig soos ons sê dit is nie, is jy deel van die probleem.

4. Die probleem, en almal wat dit nie aktief teenstaan nie, moet beveg word met alle mag en krag.

Skaakmat?

1. Jy’s skuldig aan Oortreding X.

2. Ons verwag dat jy sal sê jy is nie skuldig nie.

3. Jou pogings om jou skuld te ontken, bewys dat ons reg is oor jou.

4. Skuldige mense moet gestraf word.

WOENSDAG 13 FEBRUARIE 2019

Ek was vir baie lank versigtig oor wat ek geskryf het. Dit was my gewoonte om te antisipeer hoe mense sal reageer oor iets wat geskryf het, om te antisipeer watse teenargument hulle sal maak. Ek sou dan gewoonlik myself in die rede geval het om eers so ’n teenargument te stuit.

Ek sou ook as’t ware sensuur op myself toegepas het. As ek gedink het aan iets wat ek wou neersit op papier, sou ek ook dink aan etikette wat mense dalk aan my sou heg vanweë die stelling of opinie. As ek nie gehou het van die etiket nie, of ek het nie gedink ek kon ’n effektiewe verdediging loods nie – al sou die etikettering vals wees, sou ek eerder nie skryf wat ek wou skryf nie, of ek sou nie publiseer wat ek reeds geskryf het nie.

Die laaste twee jaar of so het ek egter bewus geraak van die feit dat mense op ’n amper daaglikse basis vernietig word op sosiale media vir dinge wat hulle dalk jare gelede gesê of geskryf het, en wat nou in stryd is met die aanvaarde doktrines van die dag. Selfs al het jy nie iets bedoel soos hulle beweer nie, of al jy het intussen tot ander insigte gekom, of al wil jy argumenteer dat daai een opinie of stelling nie verteenwoordigend is van jou totale persoon nie, of dat dit in die konteks gesien moet word van ’n breër bespreking of reeks stellings, besef jy gou genoeg jy mors jou tyd. Om jouself te verdedig is heel futiel – die gepeupel het jou reeds skuldig bevind.

Dit het my laat dink dat mens maar net moet sê wat jy wil sê, en basta met wat mense dink. As jy dan in die openbaar gekasty word, het jy ten minste jou eerlike opinie gegee. Is dit nie beter as om in vrees en bewing te leef vir ’n gepeupel wat daagliks meer onverdraagsaam word nie?

______________________

’n Paar punte onderstreep

SONDAG 13 JANUARIE 2019

Primêre doelwit, steeds: Om my lewe die moeite werd te maak om te leef.

Dit kom neer daarop om my lewe te leef soos ek dit goedvind, omdat ek vertroue het in myself dat ek ’n goeie job daarvan sal doen.

Bonus: Ek veronderstel nie dat ek enige iemand enige iets kan leer nie, maar indien ek een of twee handige insigte of brokkies advies kan oordra aan iemand anders, sal dit goed wees.

DINSDAG 22 JANUARIE 2019

21:17

Met ’n nuwe perspektief, en ’n handvol nuwe insigte, blyk dit in terugskouing dat ek ’n paar hoogs eksentrieke idees gehad het oor die jare.

Een was my posisie oor gelukkig wees. Ek het altyd geglo mens moet versigtig wees daarvoor, want net soos jy gelukkig is, gebeur iets en … hoe laf voel jy nie dan nie?

Die ander lawwe idee was oor geld, waarvoor ’n mens noodwendig toertjies moes doen, deur brandende wiele moes spring, en van die beste ure van jou weeksdae moes deurbring in sieldodende verveling. Dit moes noodwendig so wees, het ek gereken, want geld is nie jou maat nie.

22:08

Ek het vir lank die terme “struggle” en “creation” aangehaal as woorde met spesiale betekenis. Die idee was dat jy “struggle” teen dinge, en uiteindelik ’n fase van jou lewe bereik waar jy meer fokus op “creative endeavours”.

Dit is egter belangrik om uit wys dat ek altyd versigtig was met die vertaling van die woord “struggle”. Dit het nie noodwendig beteken om te sukkel nie, maar eerder om te worstel teen iets, en dit te oorkom. Hierdie struikelblok wat ’n mens moes oorkom kon ’n gebrek wees, ’n toksiese verhouding, of ’n situasie waaruit jy moes ontsnap. Die kern van die idee was positief, en kreatief (nog voor jy by die “creation” deel gekom het). Dit het gegaan daaroor dat jy kyk na die kaarte wat aan jou uitgedeel is, en dan die beste spel uitwerk wat jy kan. En wanneer jy dan ’n deurbraak behaal het, en jy nie meer soveel energie en tyd hoef te spandeer aan hierdie worstelstryd nie, kon jy jou tyd en energie aanwend tot die skepping van iets – literatuur of enige ander kunsvorm, of om op enige ander wyse te skep ’n goeie, vervullende, produktiewe lewe.

DINSDAG 23 JANUARIE 2019

Woensdag 12 Desember 2018: “Ek sal uiteindelik kan sê die proses om finansieel onafhanklik te raak, was genotvol, stimulerend, vervullend, en uiters interessant, omdat feitlik alles wat ek gelees het, en toegepas het, neergekom het daarop om myself te verbeter.”

Dog net ek onderstreep hierdie punt: As jy meer geld wil maak, verbeter jouself.

______________________

Notas oor aftrede

SATERDAG 5 JANUARIE 2019

In die video, “7 Practical Ways To Rewire Your Brain (Based On Science)” sê die ou: “We’re set up for failure, because we think we’re going north but we’re going south. That’s why fifty percent of people who get married divorce; eighty percent of businesses fail; that’s why thirty percent of Americans are on some kind of anti-depressant medication; that’s why sixty, seventy percent of people are overweight.”

Ook: As jou doelwit noord is, maar jou kompas is ingestel op suid sonder dat jy bewus is daarvan, kan jy so hard werk as wat jy wil, jy kan jou pogings soveel optimaliseer as wat enige goeie boek sê jy moet, maar jy gaan 40 000 kilometer ver stap om uiteindelik aan die agterkant van jou doel uit te kom, terwyl jy dalk net van die begin af ’n paar honderd kilometer moes gestap het.

Hy sê ook – ek weet nie of dit waar is nie – dat die gemiddelde Amerikaner net omtrent $60 000 [NT$1.8 miljoen/R800 000 in Januarie 2019] gespaar het teen die tyd dat hulle sestig jaar oud is.

Ek wou hierdie laaste punt bevestig, wat my gelei het tot die volgende: ’n Beraamde 38 miljoen huishoudings in Amerika leef van die hand na die mond – wat beteken hulle het geen geld oor teen die tyd wat die volgende salaristjek inkom nie. Twee-derdes van hierdie huishoudings het blykbaar ’n mediaan inkomste van $41 000, wat hulle net bokant die federale armoede-vlak plaas (vir ’n huishouding van vier mense). Wat erger is, is dat drie-kwart van Latynse en Afro-Amerikaanse huishoudings minder as $10 000 gespaar het teen die tyd dat hulle aftree, en byna twee-derdes van hierdie huishoudings bereik aftree-ouderdom met geen geld gespaar vir die toekoms nie.

Volgens ’n analise van die Amerikaanse Government Accountability Office is die mediaan spaargeld teen aftrede vir Amerikaners in die ouderdomsgroep 55-64 ongeveer $107 000 [NT$3.3 miljoen/R1.6 miljoen in Januarie 2019]. In vergelyking hiermee is die spaargeld in alle aftree-rekeninge van die sogenaamde Generasie X ongeveer $32,000-$71,000 [NT$1 miljoen-NT$2.2 miljoen/R460 000-R1 miljoen]. In Suid-Afrika lyk die situasie ook heel beroerd. Die gemiddelde pensioen van ’n Suid-Afrikaanse pensionaris wie se maandelikse inkomste gedeponeer word in ’n bank, is volgens ’n artikel op IOL.co.za slegs R5 702, hoewel die mediaan slegs R3 787 per maand is. (Onthou, al wat dit beteken as jy in hierdie gemiddelde val, of in die mediaan is, is dat jy in dieselfde boot is as vele ander mense – maar dis nie te sê dat dit ’n goeie boot is nie.)

Die ou van die video sê ook, meeste mense sal uiteindelik kry wat hulle wil hê – met behulp van boeke en lewensgidse en ervaring wat hulle sal help om hul kompas te verstel, net omtrent veertig jaar nadat hulle gehoop het hulle dit sou hê (my weergawe van wat hy sê – hy praat ’n bietjie deurmekaar).

DONDERDAG 17 JANUARIE 2019

Ek lees boeke soos Jim Rickards se The Road to Ruin, en ek kyk video’s soos Mike Maloney se “Top 10 Reasons I Buy Gold and Silver”.

’n Mens wonder wat jy sal doen indien dit wat sommige mense reken dalk kan gebeur, wel gebeur: aandelebeurse sluit tot verdere kennisgewing, papiergeld verloor waarde, en die ekonomie stort min of meer in duie.

Natuurlik word daar voorgestel dat jy goud moet koop, en silwer, en ander kosbare metale, veral in formate wat maklik hande kan verwissel – siende dat jy dalk nodig sal hê om ’n goud- of silwermuntstuk te verruil vir ’n paar kratte groente en vrugte.

Maar wat as jy nie nou in staat is om ’n paar miljoen Taiwan dollar, of ’n paar miljoen rand te kan spandeer op kosbare metale nie?

Twee idees kom onmiddellik na vore om my gemoed te verbeter. Die eerste een is vaardighede – dinge wat jy kan doen vir iemand anders, wat jou sal vergoed met iets van waarde, wat jy dan self kan gebruik of wat jy weer kan verruil vir ’n blik koffie of iets. Die tweede ding is dat daar steeds ’n mark sal wees vir duisende produkte en dienste. Mense gaan steeds nodig hê om dinge te doen, of om dinge gedoen te kry. Daar sal steeds ’n behoefte wees daaraan om dinge te leer, of om vermaak te word. Ouers sal steeds hulle kinders wil leer lees en skryf – en nie almal sal dit self kan doen nie. Dinge sal steeds breek – en nie almal sal weet hoe om dit self reg te maak nie.

Die twee idees sluit natuurlik by mekaar aan. Elke stad of dorp sal steeds gevul wees met duisende of miljoene mense met behoeftes en wense en begeertes, en daar sal steeds mense wees wat sal kan voorsien in hierdie behoeftes en wense en begeertes. En indien jy vaardighede of kennis het wat jou in staat kan stel om te voorsien in hierdie steeds aktiewe markte, kan jou sakkie goud- en silwermunte dalk langer hou as wat jy aanvanklik gereken het dit sal.

In kort, die “groot” ekonomie kan dalk in duie stort, maar ’n plaaslike ekonomie sal heel waarskynlik voortgaan, ten spyte van ontwrigting, en ten spyte van veranderinge in betalingsmetodes en lewering van dienste en produkte.

SATERDAG 19 JANUARIE 2019

’n Redelik welgestelde en suksesvolle besigheidsman sê onlangs in een van my klasse dat hy nie betrokke wil raak in ’n besigheid waarvan hy nie genoeg weet nie, na aanleiding van vriende van hom wat besighede of maatskappye koop wat ’n goeie produk het maar wat in hulle opinie nie goed bestuur word nie. Hy voeg toe by dat hy om dieselfde rede glad nie belê in aandele, of in aandele- en indeksfondse nie.

In ’n episode van die aanlyn program, Radical Personal Finance, sê die ou ook dat hy ’n hele paar ryk mense ken wat nie belê in die aandelemark of in aandele- en indeksfondse nie, maar net in “things with value”.

In The Death of Money sê Jim Rickards, “An allocation to gold of 10 to 20 percent of investable assets has much to commend it.” Hy voeg egter by: “An allocation above 20 percent is not recommended because gold is highly volatile and subject to manipulation, and there are other investable assets that perform the same wealth-preservation functions.” Ander bates waarin mens kan belê sluit volgens hom in kunswerke: “Fine art offers gold’s return profile in both inflation and deflation, without being subject to the manipulation that affects gold.” Selfs kontant is ’n goeie belegging omdat dit die belegger die opsie gee om te draai na ander beleggings op kort kennisgewing. Hy noem ook dat kontant dalk nie die beste belegging is ná ’n groot ramp of ineenstorting van die aandelemark nie, maar dat dit van groot waarde kan wees totdat die ramp op die horison verskyn. “The challenge, of course,” herinner Rickards die leser, “is being attentive to the indications and warnings and making a timely transition to one of the alternatives already mentioned.”

MAANDAG 21 JANUARIE 2019

12:35

Ontwikkel ’n aftree-plan vir nou tot en met sestig.

Maak dan veranderinge aan die plan vir die volgende dekade – sestig tot sewentig, soos die wêreld, die ekonomie, en jyself en jou lewensmaat, verander.

Doen weer dieselfde op sewentig.

Maak seker jy hou die heeltyd twee moontlikhede in gedagte: 1) Jy kan nog aktief geld maak tot in jou sewentigs toe, en 2) iets kan enige dag gebeur met die gevolg dat jy nie meer aktief enige addisionele inkomste kan genereer nie.

13:01

Fase 1: Bates om sekerheid te voorsien – eiendom, versekering, goud en silwer, kontant vir beleggings, ander harde bates wat maklik omskep kan word in kontant vir ander beleggings, enkele beursverhandelde fondse (ETF’s), beleggings in jouself om te verseker dat jy kan voortgaan om inkomste te ontvang

Fase 2: Meer beleggings om meer passiewe inkomste te voorsien

Fase 3: Bates, soos eiendom, om sekerheid te voorsien in aftrede; mediese versekering; maksimum beleggings vir passiewe inkomste; harde bates wat van tyd tot tyd omskep kan word in kontant

DINSDAG 22 JANUARIE 2019

10:44

Bill Bonner sê in ’n YouTube video dat mens ook ’n voorraad kontant in jou huis moet hou, vir in geval daar ’n onderbreking is in netwerke, of indien banke waar jou digitale krediet gehou word, probleme ondervind. Waardevolle advies as ’n mens dink aan hoeveel mense deesdae wegbeweeg van harde kontant ten gunste van digitale krediet – krediet- en debietkaarte, EZ-kaarte, iPass, Apple Pay, Google Pay, Line Pay, en ander vorms van “geld” op jou foon. Waarmee betaal jy as die sellulêre netwerke ’n probleem het, of as die bank wat die krediet hou, ’n probleem ondervind, of as die maatskappy waar die krediet is, bankrot gaan, of hulle netwerk word gekraak?

11:09

Feit van die saak is, mens moet ’n beleggingsportefeulje hê vir wanneer die wêreld soos jy dit ken, ophou bestaan, én vir in geval dit voortgaan om te bestaan op min of meer dieselfde trant. Eersgenoemde sluit in goud en silwer muntstukke, en harde kontant; ’n manier om jouself en jou gesin te verdedig teen fisieke bedreigings, soos ’n vuurwapen en ammunisie en items soos koeëlvaste baadjies; noodvoorrade kos en water, en/of ’n manier om jou eie kos te produseer en water te suiwer … en laasgenoemde sluit in goud en silwer, harde kontant, ander kosbare items watse waarde toeneem met tyd, eiendom, aandele in ’n verskeidenheid fondse, aandele in klein besighede, en ’n portefeulje van versekering vir lewe, ongeluk, en gesondheid.

* * *

Ek was nog nooit enige iemand anders nie, maar ek dink meeste mense het ’n meganisme in hul koppe wat oorweeg wat “jy” dink, en jou dan inlig dat jou mees onlangse gedagte geëtiketteer kan word as X, Y, of Z. Dalk skrik jy, want jy het ook inligting ontvang van die omgewing waarin jy jou bestaan voer, of van ander mense aan wie se opinies jy gewig gee, of van sosiale en ander media, dat etikette X, Y, of Z “sleg” is.

En dan kom jy op ’n punt van jou lewe waar dit skielik nie meer soveel saak maak dat jy dalk geëtiketteer sal word as X, Y, of Z nie. Een so ’n voorbeeld is die laaste nota van hierdie stuk (11:09 van Dinsdag 22 Januarie 2019), waarin wat ek skryf, gesien kan word as dat ek nou sorteer onder ’n groep wat paranoïes is oor die wêreld, en seker ook nou êrens op ’n plaashuis se stoep wil gaan sit met ’n haelgeweer op my skoot – sogenaamde “survivalists”.

Feit is, my gedagtes is altyd in vloei. Ek onderskryf nie enige iemand of enige groep se ideologie nie. Ek behoort ook nie aan enige groep, of beweging nie. Al wat ek doen, is ek lees, ek oorweeg wat ek lees en hoor en sien, en ek skryf wat ek dink. As dit lyk soos X, T7, of 3#4, dan moet dit maar so lyk. (Vrydag 8 Maart 2019)

______________________