Vrymoedigheid om te sê wat ek wil sê

SATERDAG 19 JANUARIE 2019

Wanneer mense iets kritiseer waarvan hulle inderdaad min weet – of iets wat hulle nog nooit krities oorweeg of ondersoek het nie, is hulle soos buikspreker-poppe. Hulle monde beweeg, maar dis nie regtig hulle wat praat nie. Hulle speel eenvoudig ander mense se opinies terug wat hulle “opgeneem” het en op daai oomblik as gesaghebbend beskou het.

DINSDAG 12 FEBRUARIE 2019

’n Reeks stellings gemaak deur ’n student in ’n dokumentêre program oor Evergreen University, kom neer op die volgende:

1. Daar is ’n probleem in die samelewing.

2. Ons verwag dat daar mense sal wees wat sal sê die probleem is nie so ernstig soos ons sê dit is nie.

3. As jy beweer die probleem is nie so ernstig soos ons sê dit is nie, is jy deel van die probleem.

4. Die probleem, en almal wat dit nie aktief teenstaan nie, moet beveg word met alle mag en krag.

Skaakmat?

1. Jy’s skuldig aan Oortreding X.

2. Ons verwag dat jy sal sê jy is nie skuldig nie.

3. Jou pogings om jou skuld te ontken, bewys dat ons reg is oor jou.

4. Skuldige mense moet gestraf word.

WOENSDAG 13 FEBRUARIE 2019

Ek was vir baie lank versigtig oor wat ek geskryf het. Dit was my gewoonte om te antisipeer hoe mense sal reageer oor iets wat geskryf het, om te antisipeer watse teenargument hulle sal maak. Ek sou dan gewoonlik myself in die rede geval het om eers so ’n teenargument te stuit.

Ek sou ook as’t ware sensuur op myself toegepas het. As ek gedink het aan iets wat ek wou neersit op papier, sou ek ook dink aan etikette wat mense dalk aan my sou heg vanweë die stelling of opinie. As ek nie gehou het van die etiket nie, of ek het nie gedink ek kon ’n effektiewe verdediging loods nie – al sou die etikettering vals wees, sou ek eerder nie skryf wat ek wou skryf nie, of ek sou nie publiseer wat ek reeds geskryf het nie.

Die laaste twee jaar of so het ek egter bewus geraak van die feit dat mense op ’n amper daaglikse basis vernietig word op sosiale media vir dinge wat hulle dalk jare gelede gesê of geskryf het, en wat nou in stryd is met die aanvaarde doktrines van die dag. Selfs al het jy nie iets bedoel soos hulle beweer nie, of al jy het intussen tot ander insigte gekom, of al wil jy argumenteer dat daai een opinie of stelling nie verteenwoordigend is van jou totale persoon nie, of dat dit in die konteks gesien moet word van ’n breër bespreking of reeks stellings, besef jy gou genoeg jy mors jou tyd. Om jouself te verdedig is heel futiel – die gepeupel het jou reeds skuldig bevind.

Dit het my laat dink dat mens maar net moet sê wat jy wil sê, en basta met wat mense dink. As jy dan in die openbaar gekasty word, het jy ten minste jou eerlike opinie gegee. Is dit nie beter as om in vrees en bewing te leef vir ’n gepeupel wat daagliks meer onverdraagsaam word nie?

______________________