Dalk reg, maar nie eerlik nie

DINSDAG 10 JUNIE 2025

Ek skryf nie meer juis oor mense se godsdienstige oortuigings nie, maar ek het onlangs ’n gedagte gehad oor eerlikheid.

’n Paar weke gelede hoor ek ’n storie oor ’n man wat sy werk bedank het. Tydens ’n godsdienstige samekoms sê hy toe aan almal teenwoordig dat hy voortaan op God sal vertrou vir sy brood en botter. Iemand in die gemeente staan toe kort daarna op en verklaar dat hy ’n plaas het, en dat hy die beheer daarvan sal oorlaat aan die man wat nou sonder werk is.

“Prys die Here!” roep dosyne mense uit. God het voorsien.

’n Alternatiewe verklaring is dat dit in almal teenwoordig se belang is dat “God sal voorsien.” Die man wat die plaas besit het, het gedink: Ek het iemand nodig om die plaas te bestuur. Staan ek nou op en maak dit bekend, sal God tog voorsien het in die man se behoeftes.

Wat hy dalk nie sou gedink het nie, maar wat waar sou wees: Sy aansien in die geloofsgemeenskap sou ook styg, want hy sou gesien word as ’n “instrument in God se hande”.

Dis waar eerlikheid inkom.

Gestel ’n persoon wat identifiseer as Christen sê: “Ek sien wat jy bedoel. Dalk is dit net ’n geval van ’n groep mense wat wil hê dat sekere dinge waar moet wees, en dit is in hulle belang om dinge te doen wat die indruk sal skep dat dit waar is. Ek kan sien hoe dit so verstaan kan word. Nietemin, ek kies steeds om te glo dat God werklik voorsien het, en dat Hy deur die man met die plaas gewerk het.”

As so ’n persoon hierdie stelling maak, is die argument verby. Ek sal niks verder hê om by te voeg nie. Ek sal die man se hand skud, hom bedank vir sy eerlikheid, en hom ’n goeie lewe toewens.

Gestel nou so ’n persoon wat identifiseer as ’n Christen neem ’n ander posisie in, en hou vol dat dit God was wat voorsien het, en dat hy weier om enige ander moontlikheid in te sien.

Vir hierdie persoon sal ek sê: “Jy is dalk reg, maar jy is nie eerlik nie.”

______________________

Oud, klein, magteloos, en useless

WOENSDAG 19 MAART 2025

Ek droom gisteraand ek moet instaan vir ’n onderwyser by ’n hoërskool. Ek vind myself omring deur honderde tieners.

Na ’n paar minute word ek geswendel uit my selfoon. Om een of ander rede word ek ook oorreed om my skoene uit te trek. Die skoene kry kort daarna voete.

Nou loop ek rond op my sokkies en vra rond oor my selfoon. Ek sê ek moet kontak maak met my familie in Suid-Afrika, en hoe kan ek dit doen as ek nie my foon het nie.

Ek word geïgnoreer, en elke nou en dan uitgelag deur groepies tieners wat orals rondstaan.

Na ’n verwarrende uur waar ek verlore ronddrentel tussen wat nou voel soos duisende tieners, help iemand my om my foon op te spoor. Al die telefoonnommers en WhatsApp boodskappe en so aan is afgevee.

Ek kry steeds nie my skoene nie.

Twee jong dames wat verantwoordelik was vir die verdwyning van my foon, probeer verduidelik dat húlle lewens ook nie maklik is nie.

Nie net het ek geen simpatie met hulle nie, maar ek het die sterk begeerte om hulle ’n vroeë dood toe te wens. (Neem in ag dat ek nie bewustelik hierdie gedagtes gedink het nie. Nietemin, die volle gedagte was dat ek aan die tieners nie net ’n vroeë dood wou toewens nie, maar ’n pynvolle vroeë dood.)

Ek word wakker met ’n hoofpyn. Ek dink: Wat ’n nagmerrie.

Die gevoel wat druk selfs nadat ek my kop opgelig het, is dat ek oud is, en klein, en magteloos, en useless.

(Roffel die tromme vir ’n Grok-geskepte prentjie van ’n gelukkige, glimlaggende, bleskop, middeljarige man.)

______________________