Twee moontlikhede en ’n paar vrae oor verantwoordelikheid aanvaar

SONDAG 14 MAART 2021

Moontlikheid een:

Ons is tot ’n groot mate verantwoordelik vir hoe ons die lewe ervaar. Ons kies nie gewoonlik wát met ons gebeur nie, maar ons hét tot ’n betekenisvolle graad beheer oor hoe ons reageer op wat gebeur, en derhalwe het ons tot ’n mate beheer oor watse impak dit het op ons lewe.

Dit sal beteken dat mense wat aan die verkeerde kant van regeringsbeleid was, soos tydens die apartheidsjare in Suid-Afrika, of soortgelyke periodes in Amerika, ook tot ’n betekenisvolle graad beheer gehad het oor húlle reaksies. Ander mense was verantwoordelik vir die onetiese en soms wrede beleid, maar die mense aan die verkeerde kant daarvan het beheer gehad oor hoe hulle daarop reageer het, en hierdie reaksie – van aanvaarding tot gewapende teenstand – het op sy beurt hulle ervaring van die werklikheid beïnvloed.

Moontlikheid twee:

Ons het nié tot enige betekenisvolle graad beheer oor hoe ons die lewe ervaar nie. Ons het nie beheer oor wat met ons gebeur nie, en ons reaksies het weinig impak. Plus, ons reaksies en ons houdings jeens wat met ons gebeur, word in elk geval tot ’n groot mate dikteer deur ons kultuur en hoe ons geprogrammeer is van kleins af. Dit beteken mense aan die ontvangkant van onetiese beleid en wrede regerings en ander instansies wat mag oor hulle uitoefen, is slagoffers wat maar net moet vat wat na hulle kant toe kom. Dis hoe die lewe is. Soms is jy bo, en soms is jy onder, en dan gaan jy dood.

Die vrae:

Watter een van die twee uitkyke op die lewe sou ideoloë van Apartheid Suid-Afrika verkies het swart- en bruinmense aanvaar in die dekades tot en met die 1990’s? Jy het die mag om iets te doen aan jou situasie, of aanvaar jou lot?

Watter een van die twee uitkyke sou ideoloë van die weerstandsbewegings tydens die apartheidsjare, mense soos Nelson Mandela en Steve Biko, verkies het swart- en bruinmense aanvaar? Wat van burgerregteleiers in Amerika in die negentiende en twintigste eeue – mense soos Frederick Douglass, Marcus Garvey, W.E.B. du Bois, Malcolm X, en Martin Luther King? Het hulle gereken mense het die vermoë om hulle ervaring van die werklikheid te verbeter, of het hulle geglo mense moes eenvoudig hulle lot aanvaar?

* * *

Vir die rekord, die persoon wat ’n wandaad pleeg, of ’n onregverdige politieke of maatskaplike bestel ontwerp of uitvoer, doen so uit vrye wil. Hy hoef dit nie te doen nie. Hy kies om dit te doen, en is derhalwe moreel en wettig verantwoordelik vir sy aksies.

* * *

’n Fundamentele aspek van hierdie hele bespreking is verwoord deur Scott Adams ’n paar jaar gelede nadat Kanye West opslae gemaak het met sy opmerkings oor slawerny. In repliek op iemand anders wat gesê het Kanye West is skuldig aan “disgusting victim blaming”, het Adams gesê: “I believe the proposition on the table is that giving yourself a victim identity is less productive than looking forward.”

* * *

Steve Biko, Malcolm X en selfs W.E.B. du Bois was nie juis nierassige integrasioniste nie. ’n Mens kan selfs argumenteer dat veral Steve Biko en Malcolm X (ten minste vroeër in sy loopbaan) Black Supremacists was. Wat ek sê oor slagoffermentaliteit, historiese onderdrukking, aanvaar verantwoordelikheid selfs vir jou eie lyding as ’n manier om jouself te bemagtig word glad nie geaffekteer daardeur nie. As jy reken nierassige integrasie is meer ideaal, sal jy dalk ’n probleem hê met Biko of X. Maar ten minste het hulle positief gekyk na die toekoms, dan nie? Positief gekyk na ’n toekoms waar swart- en bruinmense beter doen omdat hulle aktief ’n beter toekoms vir hulleself sal bewerkstellig, wat insluit om wit mense met politieke en burokratiese mag te oortuig dat ’n meer regverdige bestel beter is vir almal.

Aanhalings van Steve Biko (1946-1977)

“Obviously the only path open for us now is to redefine the message in the bible and to make it relevant to the struggling masses. The bible must not be seen to preach that all authority is divinely instituted. It must rather preach that it is a sin to allow oneself to be oppressed.”

“So as a prelude whites must be made to realise that they are only human, not superior. Same with Blacks. They must be made to realise that they are also human, not inferior.”

“The most potent weapon in the hands of the oppressor is the mind of the oppressed.”

“It becomes more necessary to see the truth as it is if you realise that the only vehicle for change are these people who have lost their personality. The first step therefore is to make the black man come to himself; to pump back life into his empty shell; to infuse him with pride and dignity, to remind him of his complicity in the crime of allowing himself to be misused and therefore letting evil reign supreme in the country of his birth.”

Aanhalings van Malcom X (1925-1965)

“Nobody can give you freedom. Nobody can give you equality or justice or anything. If you’re a man, you take it.”

“Any time you beg another man to set you free, you will never be free. Freedom is something that you have to do for yourselves.”

“No, we are not anti-white. But we don’t have time for the white man. The white man is on top already, the white man is the boss already … He has first-class citizenship already. So you are wasting your time talking to the white man. We are working on our own people.”

Aanhalings van Marcus Garvey (1887-1940)

“Ambition is the desire to go forward and improve one’s condition. It is a burning flame that lights up the life of the individual and makes him see himself in another state. To be ambitious is to be great in mind and soul. To want that which is worthwhile and strive for it. To go on without looking back, reaching to that which gives satisfaction.”

“The man who is not able to develop and use his mind is bound to be the slave of the other man who uses his mind.”

“The white man has succeeded in subduing the world by forcing everybody to think his way. The white man’s propaganda has made him the master of the world, and all those who have come in contact with it and accepted it have become his slaves.”

“Liberate the minds of men and ultimately you will liberate the bodies of men.”

“Before we can properly help the people, we have to destroy the old education … that teaches them that somebody is keeping them back and that God has forgotten them and that they can’t rise because of their color … we can only build … with faith in ourselves and with self-reliance, believing in our own possibilities, that we can rise to the highest in God’s creation.”

Aanhalings van Frederick Douglass (1818-1895)

“We have to do with the past only as we can make it useful to the present and the future.”

“No man can put a chain about the ankle of his fellow man without at last finding the other end fastened about his own neck.”

“I prayed for twenty years but received no answer until I prayed with my legs.”

______________________

Maak met die feite wat jy wil

WOENSDAG 10 MAART 2021

Dis al 2021?

Dis al Maart?

Dis al Woensdag? Die tiende?

Jy’s reeds 32, of 49, of 57? Jy’t dit gemaak so ver? Ander ouens is al dood op 24, of 42, of 53 …

Jy’t dit al gemaak tot Woensdag? Daar’s mense wat al Maandag gesterf het!

Jy’t dit al gemaak tot in Maart? Daar’s ’n klomp mense wat nie die einde van Januarie gesien het nie!

2021? Hoeveel mense – van jou ouderdom – het jare gelede al opgehou asemhaal?

Die tiende van hierdie maand? Daar’s mense wat nie die einde van die eerste week gesien het nie!

Wees dankbaar vir die tyd wat jy het elke dag? Maak daarmee wat jy wil. Ek sê maar net wat almal behoort te weet, wáár is.

______________________

Ses gedagtes oor nege weke

DINSDAG 5 JANUARIE 2021

12:11

Om te deel of nie te deel nie – jou sjokolade of neute in die yskas, die piesangs wat jy eintlik vir jouself gekoop het, die geld in jou beursie waarmee jy gedink het jy net vir jou eie ete gaan betaal. Die groter vraag is, wie wil jy wees? ’n Welgestelde persoon, in terme van ingesteldheid én banksaldo, wat graag deel, of ’n persoon met ’n bietjie geld, ’n paar neute of stukkies sjokolade, of ’n trossie piesangs, maar wat diep in sy binneste glo dat ’n tekort aan hulpbronne die ware stand van sake is, en indien hy deel, wat hy ook al gehad het, nie vervang sal word nie?

* * *

Jy is tot ’n groot mate verantwoordelik vir die omgewing waarin jy jou bestaan voer, die omgewing waarbinne jy sensasies en ervarings het wat jy kollektief jou lewe noem. Hierdie omgewing sluit in die atmosfeer wat geskep word tussen jou en die mense met wie jy jou bestaansomgewing deel – by die werk, by die huis, selfs in openbare plekke.

14:05

Dink nie in terme van waar of vals nie, maar in terme van waarskynlikheid: Hoe waarskynlik is dit dat iets gebeur het, of gebeur het op ’n bepaalde manier?

SONDAG 7 FEBRUARIE 2021

Vra die een man vir die ander: “Voel jy nie skaam nie? Jy’t nie gedoen wat ’n goeie seun behoort te doen nie! Jy’t nie vir jou ouers ’n huis gekoop nie, en as jou susters nie ook ’n bydra gemaak het nie, sou hulle nie kon oorleef net op wat jy elke maand gestuur het nie.”

Antwoord die ander man: “Ek wás voorheen verleë, en hét skaam gevoel daaroor. Tot ’n mate voel ek dit steeds. Maar ek het ook vir lank geglo dat die geldmaak game verknoei is teen kreatiewe mense, teen ware gelowiges, en teen verlore siele op soek na iets om aan vas te hou, op soek na hulle plek in die wêreld, na wie hulle veronderstel is om te wees, of kan wees.”

WOENSDAG, 10 FEBRUARIE 2021

Stel jou voor ’n skrywer wat begunstig word deur die politieke en kulturele elite publiseer ’n boek en Amazon.com verbied enige negatiewe of kritiese resensies. Hoe kan jy weet wat die kwaliteit van die boek is as geen afwyking van die amptelike en goedgekeurde opinie toegelaat word nie?

SATERDAG 6 MAART 2021

In sy boek, Carnage and Culture, verduidelik Victor Davis Hanson hoe sekere aspekte van Westerse kultuur aan Westerse soldate, militêre leiers en regerings ’n kritieke voordeel gegee het in militêre konflik van die Antieke Era tot en met die een-en-twintigste eeu.

Die heel laaste item van die woordelys gee ’n beskrywing van die woord “Western”: “Generic adjective for European civilization that grew up in and west of Greece, and shared core values that originated in classical antiquity, including but not limited to constitutional government, civil liberties, free exchange of ideas, self-critique, private property, capitalism, and separation between religious and political/scientific thought.”

Om hierdie aspekte van Westerse kultuur aan te neem en te ontwikkel, sal volgens Hanson nie-Westerse nasies soos Iran, China en Noord-Korea gevaarliker maak as die wydskaalse invoer van wapens en tegnologie ontwikkel deur Westerse wetenskaplikes, entrepreneurs, uitvinders, en maatskappye.

______________________

Gedeeltelik geïmproviseerde toneelstuk in 20-jaar periodes

VRYDAG 5 FEBRUARIE 2021

Kyk na die lewe in oorvleuelende 20-jaar periodes:

0-20: Van pasgeborene tot jong volwassene, sluit in feitlik jou totale programmering van wie jy is, wat jy glo, hoe jy inpas in die wêreld, en hoe jy moet funksioneer en optree om meeste van die tyd uit die moeilikheid te bly en ’n redelike kans te geniet op ’n goeie lewe

10-30: Van jonk kind, amper tiener, tot 30-jarige volwassene; sluit in laaste laerskooljare, hoërskool, post-hoërskool opleiding, die begin van ’n loopbaan, dalk huiskoop en trou

20-40: Tersiêre opleiding, begin werk, trou of vind ’n lewensmaat, vestig jouself, koop dalk ’n huis, begin dalk ’n familie

30-50: Werk hard aan jou loopbaan of eie besigheid; maak dalk kinders groot en sien hoe hulle hul eie mense raak; dink aan wat jy gaan nalaat van jou bestaan; werk aan finansiële welstand

40-60: Bereik dalk die toppunt van jou beroep; werk aan wat jy wil nalaat van jou bestaan, maak soveel geld as moontlik om na familie om te sien en voor te berei vir aftrede; maak aanpassings aan leefstyl om gesondheidsprobleme te bekamp

50-70: Werk verder aan wat jy wil nalaat; bou verder aan finansiële welstand; hou skerper oog op enige tekens van verswakkende gesondheid; maak spesifieke voorbereidings vir aftrede

60-80: Begin lewe teen ’n stadiger pas; fokus op die handhawing van jou gesondheid en ’n goeie kwaliteit lewe; gee advies wanneer gevra word deur jonger geslagte; hou duim vas jou geld hou tot die einde

70-90: Raak toenemend afhanklik van ander mense – familie, of personeel by aftree-oord; heel waarskynlik nie meer ekonomies aktief nie; fokus op rustige aktiwiteite met familie en tydgenote

SATERDAG 6 FEBRUARIE 2021

Die slegte ding van bogenoemde skema, is dat dit jou lewe laat lyk soos ’n toneelstuk met die dele netjies omlyn.

Aan die een kant is dit so: die eerste blok van twintig jare word jy eintlik maar nog net wakker. Teen die tyd wat jy besef jy kan inderdaad jou eie lewe beëindig – dat jy nie vasgevang is in iets wat nie jou keuse was nie, is jy reeds kniediep in dit, en jy besef die prys om so te doen, is dalk vir jouself of ander mense vir wie jy omgee, te hoog.

Aan die ander kant is daar heelwat spasie om buite die lyne te gaan. Jy kan improviseer. Jy kan ’n nuwe beroep begin in jou veertigs, of selfs vyftigs. Jy kan jou eie besigheid begin en skatryk word daaruit in jou sestigs. Sommige mans word vir die eerste keer pa in hulle sestigs en soms sewentigs, en sommige vrouens kry hul eerste kind in hulle vroeë veertigs. En mense trou ook vir die eerste (of tweede, of derde keer) lank na hulle twintigs of dertigs.

Daar is altyd ’n hoofstroom wat wissel volgens land of streek, en volgens kultuur. Dit word ook aangepas met die tyd – mense doen nie meer dinge presies soos ouer geslagte dit in die vyftigs of sestigs van die vorige eeu gedoen het nie.

Belangrik om te onthou soos jy die oorgang vier van een blok van jare na die volgende: Jy is so vry soos wat jy dink jy is.

______________________

Donderdag 31 Desember 2020

Een van die uitstaande kenmerke van hierdie jaar – en daar was ’n paar, was die mate waartoe mense in ideologiese stamme gegroepeer is, of hulleself geskaar het by spesifieke ideologiese stamme. Meer as enige jaar sedert November 2016, moes jy opinie inneem oor die presidentskap van Donald Trump. Jy moes ’n opinie formuleer oor die Black Lives Matter organisasie. Jy moes besluit waar jy staan met die beweging in talle Westerse lande wat hulleself Antifa noem. Jy moes besluit of dit oukei is as protesteerders geboue afbrand, kleinbesighede verwoes, en individuele lede van die publiek aanrand in groepe teen wie die individu feitlik geen teenstand kan bied nie. (Voorheen sou jy dalk reken dit was maklik om hierdie tipe gedrag voor die voet te veroordeel, maar 2020 was die jaar wat selfs noue familielede en mense in jou sosiale kring sulke gedrag sou goedkeur met ’n vuis in die lug, of ’n grafiek van ’n vuis in die lug op sosiale media.) Dit was verder die jaar wat jy moes besluit of COVID-19 die etiket van pandemie verdien, en of dit net nog een van die soms dodelike virusse is wat elke paar jaar die wêreld teister. En selfs as jy saamstem dat dit wel ’n pandemie is, moes jy ’n opinie vorm oor maatreëls wat regerings wêreldwyd geïmplementeer het om die virus te bekamp. Wat meer is, jou eie besigheid, jou eie bron van inkomste, was dalk bedreig, en het dalk ondergegaan, as gevolg van grendeltydperke of ander maatreëls. Sedert November moes jy ook nog stelling inneem oor die Amerikaanse verkiesing. Was dit vry en regverdig? Het die media in Amerika albei presidensiële kandidate dieselfde behandeling gegee? Het hulle albei kandidate ’n gelyke kans gegee om hulle saak te stel? As verdoemende openbarings gemaak is oor een van die kandidate, het die media dit met redelike onbevooroordeelheid hanteer? Siende dat daar geleenthede was vir korrupsie in die verkiesing – soos met sekerlik enige wydskaalse onderneming bestuur deur duisende mense, siende dat daar meer as voldoende aansporing was om korrupsie te pleeg – politieke posisie bring talle voordele vir die wenner en hulle ondersteuners, en siende dat daar nie voldoende tyd was om enige ernstige aantygings te ondersoek nie – die ondersoek oor aantygings oor Russiese betrokkenheid in die 2016 verkiesing, het ongeveer twee jaar geduur, en in die lig van onwaarskynlike statistieke, kan dit met sekerheid gesê word dat die amptelike wenner van die verkiesing die wettige wenner is? Dan, om die opinie bonanza af te rond, was daar Climate Change en Global Warming, en die World Economic Forum en hulle Great Reset; daar was die deurlopende onderhandelings oor Brittanje se verlating van die Europese Unie; die debat of ’n volwasse man eenvoudig kan verklaar dat hy ’n vrou is en van daai oomblik geregtig is op beskerming en regte wat eksklusief vir vrouens bedoel is; die vraag of tieners en pre-tieners op hulle eie kan besluit watter geslag hulle is en as dit nie ooreenstem met hulle geslagsdele nie, hulle sonder hulle ouers se toestemming onmiddellik kan begin met hormoonbehandeling wat langtermyn, onomkeerbare gevolge kan hê; en die toenemende vooroordeel en politieke agendas van sosiale media – dalk geen probleem as hulle politiek met joune ooreenstem nie, maar wat gebeur as jy jou opinies verander? Die tendens wat al ’n paar jare aan die gang is van mense wat plekke op besprekingpanele verloor, of afgedank word of kontrakte verloor omdat hulle iets gesê het of geskryf het wat teen die aanvaarde denkstrome van die dag is, noop ’n mens ook om te wonder of daar werklik nog ruimte is vir vrye debat. Kan ’n mens nog dink wat jy wil én jou werk behou? Kan jy nog ’n opinie in ’n private gesprek uitspreek oor belasting of immigrasie of godsdiens of klimaatsverandering en verwag dat dit nie jou manier om ’n bestaan te maak, gaan kos nie? Kan ’n wetenskaplike eksperimente doen met die wete dat hy nog steeds ’n werk sal hê indien die resultate van sy eksperimente nie populêr is onder sosiale en politieke aktiviste nie?

Nietemin … nietemin … is ek dankbaar. Ek is dankbaar dat ek nog leef. Ek is dankbaar dat my twee susters, hulle kinders, en my twee dierbare ouers ook die jaar oorleef het. En ek is dankbaar vir my vrou en lewensmaat wat elke dag beter maak met haar liefde, haar vriendskap, en haar ondersteuning. Dan is ek dankbaar vir my gesondheid, en vir ’n goeie tuiste in Taiwan. Ek is dankbaar vir ons twee katte. Ek is dankbaar vir al die eetplekke in ons buurt waar ons smaaklike en gesonde maaltye kan geniet. Ek is dankbaar vir al die geleenthede wat ek het om geld te verdien. En – ek is dankbaar vir die heerlike koel weer vandag in Kaohsiung (13ºC), en vir die aangename koppie warm, swart koffie wat ek geniet soos ek hierdie woorde tik.

Wees goed vir jouself in 2021. Wees goed vir mense wat jou lewe met jou deel, en wie se lewens jy deel. Wees ook goed vir mense wat op hierdie oomblik vreemdelinge is vir jou, maar dalk later vriende. En wees redelik met mense met wie jy verskil, en moenie brûe verbrand waaroor jy later spyt gaan wees nie. En as mense nie redelik is met jou nie? Hou jou gewete skoon en jou intellektuele eerlikheid in takt. En sorg dat jy genoeg geld in die bank het – of in jou kluis, of in jou kripto-beursie, of in jou sakkie goud en silwer), en genoeg bronne van inkomste wat nie oornag gekanselleer kan word nie.

______________________