Advies vir die 25-jarige buitelander wat beplan om vir die volgende dertig jaar in Taiwan Engelse klasse te gee

DONDERDAG 12 JULIE 2018

Mens brand heelwat energie en lus om dinge te doen op met die tipe English teaching wat ons doen in Taiwan. Vir my aandklasse verlaat ek byvoorbeeld die huis 17:00 in die middag, en ek is eers terug 22:30. Die werk is nie moeilik nie, en nie te vermoeiend nie, maar ’n mens spandeer tyd om te reis met ’n boeksak oor jou skouers, trap fiets, klim trappe, sweet in die son, raak sopnat in die reën. Dit alles brand óf energie op, óf lus om ander dinge te doen na jy weer by die huis gekom het, óf albei.

Mense wat gewone 9-5 jobs het, brand sekerlik net soveel, en meer, energie op. Maar – hierdie mense met vaste betrekkings, hoeveel dra hulle by tot betaalde vakansies wanneer hulle besig is om energie en lus vir ander dinge op te brand? Hoeveel dra hulle by tot ’n pensioenfonds wat hulle aan die lewe gaan hou oor twintig of dertig jaar?

VRYDAG 13 JULIE 2018

Die vrae wat die langtermyn Engelse onderwyser in Taiwan hom- en haarself moet vra:

“Wat het ek vandag gedoen om op te maak vir die feit dat ek nie betaalde vakansies kry nie? Wat het ek vandag gedoen om op te maak vir die feit dat ek nie inbetaal in ’n pensioenfonds nie?”

(Selfde geld vir enige iemand wat deeltydse werk doen met geen byvoordele nie.)

MAANDAG 16 JULIE 2018

Jy weet hoe daar sommige mense is in moderne, geïndustrialiseerde samelewings wat dit nie “maak” nie? Die haweloses wat laatmiddag of vroegaand wanneer kantoorwerkers op pad is huis toe, op ’n parkbankie of sommer op die sypaadjie op ’n stuk karton lê en slaap? Wat in asblikke rondkrap vir oorskietkos?

Twee dinge het my gered van so ’n lewe: 1) Ek het geen aptyt gehad vir drank en dwelms nie – wat sterk bydraende faktore is vir veral jong mans wat op straat eindig. 2) Ek kon werk kry deur Engelse klasse te gee in Korea, en daarna in Taiwan. (Sou ek werklik andersins op straat geëindig het? Ek sou op dun ys geskaats het, heel waarskynlik vir jare. Dalk sou ek nooit deurgeval het nie, maar ek sou vir jare op dun ys geskaats het.)

WOENSDAG 18 JULIE 2018

Energie is die sleutel. Sonder energie kan jy nie werk nie. Sonder energie kan jy nie enige iets ekstra uitrig wanneer jy by die huis kom na die werk wat jou huur betaal en jou kos koop nie. Sonder energie kan jy geen weerstand bied teen gedagtes of mense of insidente of gebeure wat jou moraal ondermyn nie.

Hoe kry jy energie?

Jy begin deur reg te dink. Dan: Slaap genoeg, eet die regte kos, en doen gereeld oefening.

DINSDAG 20 MAART 2018

Gestel jy is 25 jaar oud, jy’t pas gearriveer in Taiwan, en jy is gereed om jou beroep te begin as Engelse onderwyser. Ander mense sien dit dalk as net deeltydse werk wat jy doen na jy klaar gemaak het met universiteit, voor jy begin met jou “werklike” lewe as volwassene, maar jý sien dit as ’n ernstige beroep – die antwoord op die vraag na hoe jy gaan voorberei vir jou uiteindelike aftrede.

Die probleem is natuurlik dat, soos meeste buitelandse onderwysers dit doen, dit ’n deeltydse werk is, met geen byvoordele nie. Jy maak nie bydraes tot ’n pensioenfonds nie. Jy kry heel waarskynlik nie ’n vaste salaris nie. Jy kry nie betaalde vakansies nie, en jy kry nie ’n bonus aan die einde van die jaar nie. Een manier hoe jy kan voorsien vir jou uiteindelike aftrede, is om geld te spaar.

Hoeveel geld moet jy spaar?

Kom ons sê NT$75 000 [USD2500] per maand is genoeg vir ’n goeie aftrede (as jy vandag moes aftree). Jy kan ’n goeie huis of woonstel huur (indien jy nie eiendom besit nie), behoorlike gesondheidsorg bekostig, goed eet, en een of twee keer per jaar reis. Siende dat dit gereken word dat jy ten minste 200 keer jou maandelikse inkomste gespaar moet hê voor jy kan aftree (as jy aftree op naastenby 60-jarige ouderdom), moet jy ongeveer NT$15 miljoen spaar [USD500 000].

Hoe lank sal dit ons jong volwassene vat om hierdie tipe geld te spaar, werkende as ’n Engelse onderwyser in ’n plek soos Taiwan?

Deeltydse werk beteken jy kan net hoop op elf volle maande se inkomste per jaar, as jy verpligte vakansiedae soos Chinese Nuwejaar, en selfs sogenaamde tifoon-dae in ag neem. Siende dat jy heel waarskynlik familie het in die Weste wat jy een keer per jaar sal wil besoek, sal jy ten minste een maand se spaargeld moet begroot daarvoor. Daai paar weke sal ook moet afgaan van die hoeveelheid maande per jaar wat jy geld verdien. Kom ons sê jy kan tien maande uit elke jaar ’n vaste bedrag geld spaar vir jou aftrede. Kom ons gaan verder en reken dat jy soveel as NT$30 000 per maand kan wegsit (wat meer is as wat die gemiddelde kantoorwerker verdien in ’n voltydse posisie in Taiwan).

Hoe lank sal dit jou vat om by NT$15 miljoen te kom as jy spaar teen NT$300 000 per jaar?

Die antwoord is ’n ietwat skokkende vyftig jaar. As jy van die begin af jou spaargeld belê teen ten minste 3% per jaar en nooit enige van die kapitaal gebruik nie, sal dit jou steeds meer as dertig jaar vat om genoeg geld te spaar.

Om vyftig jaar te spandeer deur week in, week uit, maand in en maand uit Engelse klasse te gee, is in my opinie … kom ons sê maar net, ’n besondere uitdaging. Om dit vir dertig jaar lank te doen, vereis steeds besonderse uithouvermoë, ’n besonderse dik vel, en ’n groot hoeveelheid geluk – om jou vloei van deeltydse werk aan die gang te hou maand in en maand uit, jaar na jaar.

Is daar ’n beter oplossing?

My advies sou wees ’n skedule van 20-25 ure per week, tien maande per jaar. Hou jou uitgawes laag. Leef eenvoudig. Wanneer jy reis, moenie uitspattig wees nie. In die drie tot vyf ure per dag wat gewone salaristrekkers ekstra “op kantoor” spandeer, moet jy vaardighede aanleer en kennis opdoen wat jy kan gebruik om meer geld te maak. Enige ekstra geld moet eenkant gehou word om te kan belê in projekte wat jy sal aanpak wanneer jy genoeg kennis opgedoen het, en voldoende vertroue het in jou vaardighede.

MAANDAG 19 NOVEMBER 2018

Watse tipe vaardighede moet jy ontwikkel en watse tipe kennis moet jy opdoen indien jy hoop om meer geld te bekom?

In Secrets of the Millionaire Mind adviseer T. Harv Eker dat ’n mens op die volgende vier faktore moet fokus om jou netto waarde te verbeter: verhoog jou inkomste, spaar meer geld, verhoog die dividend wat jy verdien uit jou beleggings, en verminder jou lewenskoste deur jou leefstyl te vereenvoudig.

Een van die boeke wat ek gelees het hierdie jaar (ek het gedink ek weet watter een, maar kon nie die teks vind nie), het die volgende areas voorgestel waar jy ten minste die basiese vaardighede moet bemeester om jou inkomste en jou netto waarde te verhoog: Jy moet leer hoe om ’n produk en/of diens te adverteer; jy moet leer hoe om mense wat vir jou werk, effektief te bestuur; jy moet leer hoe om jou geld te belê; jy moet leer hoe om te verkoop en te bemark.

En in How to Fail at Almost Everything and Still Win Big, deel Scott Adams sy lys van vaardighede waarin elke volwassene ’n mate van bekwaamheid moet ontwikkel: Redenaarsvermoë, Sielkunde, Besigheidskryftegniek, Rekeningkunde, Ontwerp (die basiese beginsels), Gesprekvoering, Om skaamte te oorkom, ’n Tweede taal, Gholf, Behoorlike grammatika, Oorredingsvermoë, Tegnologie (stokperdjie vlak), en Behoorlike stemtegniek.

Neem al hierdie advies in ag, en jy sal ten minste die fondasie kan lê vir ’n goeie aftrede na twintig of dertig jaar as ’n Engelse onderwyser in Taiwan – of na ’n paar dekades in enige ander vryskut- of deeltydse werksituasie.

______________________

Een gedagte op “Advies vir die 25-jarige buitelander wat beplan om vir die volgende dertig jaar in Taiwan Engelse klasse te gee”

Kommentaar is gesluit.