Advies aan myself, en dalk aan ander

DONDERDAG 31 JANUARIE 2019

Indien iemand my ooit ernstig vra vir advies oor geld “maak”, sal ek instem, op ’n paar voorwaardes. Een is dat hulle moet verstaan dat dit ’n “package deal” is: Jy gaan nie net meer geld “maak” nie; jy gaan jou lewe transformeer. Jy moet gereed wees daarvoor. Jy moet verstaan waar jy vandaan kom met die hele besigheid van geld “maak” en geld spandeer. Jy moet verstaan dat jy, voordat jy besef het wat aangaan, geprogrammeer was oor geld, en oor vele ander dinge. Weke, of selfs maande voor ons sal kom by die tegniese aspekte van hoe om ’n besigheid te begin, of hoe om ’n website op te sit, of hoe om te trade, sal jy boeke moet lees soos T. Harv Eker se Secrets of the Millionaire Mind, Joe Dominguez en Vicki Robin se boek, Your Money or Your Life (verkieslik die ouer weergawe), Wallace D. Wattles se 1910-treffer, The Science of Getting Rich, en selfs Robert Kiyosaki se Rich Dad, Poor Dad, en Jen Sincero se You Are a Badass at Making Money. Boeke soos Scott Adams se How to Fail at Almost Everything and Still Win Big, Daniel Kahneman se Thinking, Fast and Slow, en Bruce Lipton se Biology of Belief is streng gesproke verder weg van die onderwerp van geld, maar kan ’n groot verskil maak. En as jy wil leer trade, sal ons nie eens praat van die verskil tussen die Euro en Brent Crude voordat jy nie Mark Douglas gelees het nie.

MAANDAG 11 MAART 2019

“Wat is belangrik? Wat is jy veronderstel om te doen?” kom die gedagte vir die hoeveelste keer by my op soos ek die huis verlaat om aandete te gaan koop, waarna ek sal terugkeer huis toe om my werk voort te sit. (In kontras met my benadering, dink ek aan ander expat English teachers wat uitgaan vir 7-8 ure per dag om 4-6 ure lank klas te gee teen NT$600-$700 per uur.)

Drie opsies (ek sal soos gewoonlik nie daarin slaag om my voorkeur te verbloem nie):

1. Gee soveel as moontlik ure per dag klas teen ’n vasgestelde tarief, en hoop die mat word nie skielik onder jou uitgeruk nie, en dat die geld jou vir langer aan die lewe sal hou as wat logika suggereer.

2. Kry ’n sogenaamde permanente posisie, of ’n voltydse aanstelling, en hoop die mat word nie onder jou uitgeruk sonder waarskuwing nie – en indien wel, dat jy spoedig ’n soortgelyke posisie sal bekom, en dat die geld wat jy verdien, voldoende sal wees om jou vir jare lank aan die lewe te hou.

3. Leef eenvoudig, en beperk jou uitgawes. Doen genoeg deeltydse werk, of vryskutwerk, om jou uitgawes te dek. Spandeer ’n goeie persentasie van die res van jou wakker-ure elke dag om vaardighede te ontwikkel op meer as een gebied – kan verwant wees, maar dit hoef nie te wees nie, en om jou kennis uit te brei in ’n verskeidenheid onderwerpe. Gebruik hierdie kennis en vaardighede om meer as een bron van inkomste te ontwikkel; bronne van inkomste wat meer volhoubaar is, en meer standvastig op die langtermyn as enige van die deeltydse of voltydse posisies wat jy mag hoop om aan vas te hou.

DINSDAG 12 MAART 2019

Vraag is weereens: Vir wie sou ek hierdie advies aanbied? Sekerlik vir myself tien, vyftien, selfs twintig jaar gelede. En sekerlik vir ander “expats” wat hulleself onderhou met Engelse klasse in lande soos Taiwan, China, Korea en Japan.

Geld dit ook vir ander mense wat deeltydse werk doen, of vryskutwerk? Tot ’n mate. Daar is wel mense wat hulle toekoms en hulle grootste hoop vir ’n goeie lewe op die spel plaas in ’n meer tradisionele beroep, waar hulle toenemend meer geld sal verdien, en toenemend beter posisies sal beklee. Ek kan insien hoe hierdie guerrilla-benadering – bly mobiel; min bagasie; hou dinge eenvoudig; vat wat jy kan kry en hou uit so lank as moontlik – nie op hulle van toepassing sal wees nie.

[Lees ook “Advies vir die 25-jarige buitelander wat beplan om vir die volgende dertig jaar in Taiwan Engelse klasse te gee” van Julie 2018]

VRYDAG 15 MAART 2019

Die geld in jou bankrekening is slegs ’n subatomiese partikel van die hoeveelheid geld wat reeds bestaan, en wat geen gevoel of opinie het daaroor om na jou kant toe te vloei nie. As geld kon “weet”, sou dit in elk geval geweet het dit sou nie bly by jou, op dieselfde manier wat ’n kledingstuk in jou kas sal bly hang vir jare nadat jy dit bekom het nie. Jy spandeer geld. Dan kom ander geld in. Jy deponeer geld in jou bankrekening, wat in elk geval beteken jy besit nie eens meer daai geld nie – jy leen dit vir die bank, waarvoor die bank jou rente sal betaal, en as jy dit wil terughê, sal hulle vir jou ander geld gee as wat jy vir hulle gegee het.

Steeds, geld – wat reeds bestaan en in omgang is – het geen gevoel of opinie daaroor om tyd te spandeer in jou besit nie. Jy’s nie spesiaal in daai sin van die woord nie. As jy jouself oopmaak daarvoor en die regte stappe neem om dit in ontvangs te neem, sál dit na jou toe vloei.

______________________