Aangehou stap, en geskryf …

WOENSDAG 20 JULIE 2022

Stel jou voor jy’s in jou vroeë dertigs. Jy wil woon – ek herhaal, wil woon – in ten minste dieselfde provinsie as jou familie, sodat jy hulle kan sien een of twee keer per maand, en jy wil in dieselfde stad woon as ten minste ’n halfdosyn ou vriende saam met wie jy gereeld kan kuier. Stel jouself verder voor jy wil wees in ’n ernstige verhouding, met dalk ’n kind of twee. Jy wil wees gevestig in jou werk, met ’n bevredigende sosiale lewe.

Nou stel jouself voor jy bevind jouself in werklikheid in ’n vreemde land aan die ander kant van die aardbol. Jy sien jou familie dalk een keer elke twee jaar. Jy het ’n paar vriende, maar sien hulle min. Jy’s enkellopend, met geen verhouding in die pyplyn nie. Jou werk is nie vervullend nie, en jy herinner jouself gereeld daaraan, of word herinner, dat tyd besig is om uit te loop om jouself in ’n beroep te vestig.

Om dinge te kompliseer, is jy nie vasgevang in ’n situasie waar jy net kan bedank en ’n vliegtuigkaartjie kan bespreek terug huis toe nie. Jy het ’n woonstel vol boeke en meubels en muurbehangsels en ornamente met sentimentele waarde. Jou inkomste is voldoende om goed genoeg te eet en redelik sag te kan slaap, maar jy’t nie genoeg spaargeld om vir te lank te oorleef as jy terug gaan na jou eie land toe nie.

Jy kan natuurlik al die meubels, die muurbehangsels, en ’n paar ornamente agterlaat en terug gaan huis toe, en hoop alles werk uit. Probleem is, jy het presies dit gedoen ’n paar jaar tevore toe jy in ’n soortgelyke situasie was in ’n ander land, en kom ons sê maar net, dit het nie uitgewerk nie.

Wat doen jy?

Jy kan nie huis toe gaan nie, want jy’s klaar by die huis?

Aanvaar dit net, en druk vorentoe?

Wat het ék uiteindelik gedoen?

Om op te pak en weer my geluk te gaan probeer in Suid-Afrika het ek nie voor kans gesien nie. So, ek het my oë op skrefies getrek en aangehou stap.

En geskryf:

sink

almal hardloop weg, die rotte vlug
hy is … soos sy skip wat sink

met plegtige respek kom die salutasie
middelvinger in die lug
trek ’n blokfluit uit sy gatsak
speel ’n doodspsalm, keer
die golwe met sy voorkop

kalm spoel die dieptes
lewe die fontein van oorvloed
manna, kwartels, eilandstiltes
in wysheid byt hy, met vlymskerp tande
in die soet vlees van tweede lewe

so kom maar aan verraaiers!
kruip maar nader spotter-skare!
een vir een sal julle voor die werklikheid moet staan
en as julle oë dit nie kan sien, en julle ore nie kan hoor nie
laat ek dit dan uitskree om dit in te sink:

DAAR SAL ALTYD LEWE WEES!

selfs vir die enkele oorlewende.

* * * * * * * * * * *

storm

storms stu my voort
my groteske beeld te groot
om in ’n sleutelgat te pas
’n kas te klein en te benoud
’n goue kou te fyn en veels te koud
ek storm voort in woeste vaart
met wandelstaf en dagoue baard

* * * * * * * * * * *

slyp

skuifel stom in stowwerige spasies rond
maak asbakkies een na die ander
vol en weer leeg; bekers vol koffie
vars bottels tee van die deurnagkafee

ou stoele gee mee
die gewig van aandlug versuur
in die aangesig van afwesige lig
wieg ek vorentoe-en-terug, vorentoe-en-terug

blyk dit mens moet soms
jou kloue trek uit die modder van tyd
meer filosofies moet wees
oor die gewag tot dinge weer draai

so as dit nie anders kan nie
moet ek van vooraf my somme weer maak:

een duisend sewe honderd vyf en
tagtig een duisend sewe honderd
vier en tagtig, een duisend sewe honderd
drie en tagtig, een duisend …

nagte sonder jou.

* * * * * * * * * * *

geografie

nuwe behuising trek
lyne skuins oor my planne
my oë op skrefies tuur ek
deur ander vensters na bure se mure

veronderstel ek weet van meer
as net lewe en dood en pype vol muise
sou ek die preke van ouds kon memoriseer
het ek te veel geleer van oumenstehuise

ek loer soms te diep in die bottel van tyd
skryf notas op vloere met potlood en kryt
byt soms ’n knippie te veel
af van geel-verouderde reëls

na nuwe behuising moet mens soms trek
die werk van ’n man soos ’n vrou mos nooit klaar
maar ek skryf maar my lyne en hou maar my bek
trek my oë op skrefies tot volgende jaar

(Sondag, 14 September 2003)

* * * * * * * * * * *

(ongetiteld)

ek voel myself
onverantwoord’lik na aan jou
minder as jou teenwoordigheid
onvoorwaard’lik na aan my
ek voel te meer
myself onaangeraak
terwyl ek lewe binne jou

* * *

veertig ton gebeure swyg
verdoof my liefde as’t ware
sal ek ooit, solank ek leef, die byl ontdek
wat kappend my al soveel jare jaag?

* * * * * * * * * * *

skoene

op pad na ’n kafee, sien jy dit weer:
’n woestyn, in die middel van die see
jy wil nader sluip, kruip, anderkant toe mik
maar tyd en plek is ’n skoen wat druk

jy dink oor koffie, koop dan tee
praat van uithou, aanhou, gee dan mee
wil verwilderd “nee” sê, knik dan “ja”
knipoog kamma-koel, vlug dan weer verdwaas

soms sê ek jy gee te maklik in
te min sien durf en waagmoed as talent
swerwers slaan graag tent op in die nag
klap swepe douvoordag teen bome vas

sê tog jy wil saamgaan, sê tog jy wil slaap
sê tog jy’t genoeg gehad, sê tog eenmaal “ja”
vermoed ’n bietjie, glo, wik en weeg maar weer
want hierdie tyd en plek, druk veels te veel

* * * * * * * * * * *

(nog ’n) naggedig

ek sloof my af, maar
die nag bly ’n bodemlose skag
soos ’n myner van ’n skoner aard
grawe ek na woorde, lig en beelde

gepaste metafore bederf deur skyn
staan soos heiliges reeds oor my oopgekerfde graf;
terwyl ek op ’n drafstap soek na dagbreek
breek die pik, die graaf, die hysbak na die lig

en bly ek
steeds
vasgevang
in nog ’n naggedig

* * * * * * * * * * *

plek

i

onstuimig brand die vorm
laat die inhoud vars, onaangetas
klere van ’n ander eeu
hang onderstebo in my antieke klerekas

kyk aandagtig na die strate, markte
vroetel bietjie rond in hawestede
sluip kaalvoet snags deur halfverligte stegies
vou jou toe in ’n boemelaarskombers

te veel preek graag oor spreuke lank vergete
sing vals psalms oor verdoemde ou idees
rym dogma in met nuwe wetenskap
steel slinks oornag, woorde uit ’n kerker-biblioteek

ii

dosyne agterkinders, groter ouers voor
portrette teen verlepte mure, skyn halfhartig voort
boeke vol museums en ou geboue
sketse in ’n duisend gange vol gedagtes

herinner slegs, sing melodies sonder stop

priesters dans met ou karosse gedrapeer
oor skouers hangend onder die gewig
vyftigduisend jaar se soeke na ’n waarheid
hou in dreunsang aan om te dikteer:

dat plek en wete
nie net is waar jy behoort
maar waar, aan die einde
die siel behoort te wees

______________________