Oud, klein, magteloos, en useless

WOENSDAG 19 MAART 2025

Ek droom gisteraand ek moet instaan vir ’n onderwyser by ’n hoërskool. Ek vind myself omring deur honderde tieners.

Na ’n paar minute word ek geswendel uit my selfoon. Om een of ander rede word ek ook oorreed om my skoene uit te trek. Die skoene kry kort daarna voete.

Nou loop ek rond op my sokkies en vra rond oor my selfoon. Ek sê ek moet kontak maak met my familie in Suid-Afrika, en hoe kan ek dit doen as ek nie my foon het nie.

Ek word geïgnoreer, en elke nou en dan uitgelag deur groepies tieners wat orals rondstaan.

Na ’n verwarrende uur waar ek verlore ronddrentel tussen wat nou voel soos duisende tieners, help iemand my om my foon op te spoor. Al die telefoonnommers en WhatsApp boodskappe en so aan is afgevee.

Ek kry steeds nie my skoene nie.

Twee jong dames wat verantwoordelik was vir die verdwyning van my foon, probeer verduidelik dat húlle lewens ook nie maklik is nie.

Nie net het ek geen simpatie met hulle nie, maar ek het die sterk begeerte om hulle ’n vroeë dood toe te wens. (Neem in ag dat ek nie bewustelik hierdie gedagtes gedink het nie. Nietemin, die volle gedagte was dat ek aan die tieners nie net ’n vroeë dood wou toewens nie, maar ’n pynvolle vroeë dood.)

Ek word wakker met ’n hoofpyn. Ek dink: Wat ’n nagmerrie.

Die gevoel wat druk selfs nadat ek my kop opgelig het, is dat ek oud is, en klein, en magteloos, en useless.

(Roffel die tromme vir ’n Grok-geskepte prentjie van ’n gelukkige, glimlaggende, bleskop, middeljarige man.)

______________________

’n Betekenisvolle brokkie kennis

DINSDAG 8 OKTOBER 2024

Ek het in 1994 freneties begin notas maak. Dit was asof ek ’n roeping aangevoel het om te rapporteer oor my lewe. Die afgelope dertig jaar het ek aan en af gerapporteer, soms elke dag en soms net ’n paar verlore paragrawe in een kalenderjaar.

Die punt is steeds om te sê: Hier is ek. Dis hoe ek die lewe ervaar.

* * *

Dertig jaar gelede wou ek geld maak want ek wou doen wat ék wou doen. Ek wou nie gehad het mense moes bevele blaf en verwag ek moes spring nie. Ek wou geld gehad het om te kon reis en te kon studeer (seriously, ek was 23 jaar oud en ek wóú studeer).

Twintig jaar gelede was ek ernstig daaroor om my inkomste te verbeter want ek wou ’n beter lewe bewerkstellig vir myself, en die vir die jong vrou met wie ek later sou trou. Ek wou meer reis, en ek wou meer gereeld my familie in Suid-Afrika besoek.

Vandag wil ek my inkomste verbeter want ek wil my finansiële sekuriteit versterk, veral met die oog daarop dat ek binne dalk twee dekades nie meer lus gaan wees om te werk nie, of dalk nie meer alles kán doen wat ek wil doen nie.

Verskillende begeertes, maar dieselfde pad wat lei tot die vervulling daarvan. Een verskil is dat ek weet hoe twintig en dertig jaar onder my voetsole voel, en ek weet hoe dit deur my vingers glip. En ek weet twintig of dertig jaar van nou af – as ek so lank hou – is ek amptelik oud. Nie noodwendig afgeleef nie, maar definitief bejaard. Hierdie betekenisvolle brokkie kennis was nie deel van my bestaanservaring twintig of dertig jaar gelede nie.

______________________

Moontlikhede van die aard van ons realiteit (en wie’s in beheer)

VRYDAG 23 AUGUSTUS 2024

Een: Die wêreld het natuurlik ontstaan deur ontploffings en kosmiese uitbreiding en evolusie. Politieke leiers is mense wat deur ’n kombinasie van persoonlikheid, toeval, en sosiale druk posisies van mag bekom het. Meeste van hulle is korrup; sommige probeer hulle bes om hulle gemeenskappe te dien en op te hef. Dan sterf hulle of hulle word uitgestem of ontslaan, en iemand anders neem hulle plek. ’n Ander weergawe hiervan is dat die toutjies in Amerika getrek word deur ’n sameswering van Groot Olie, Intelligensie, en Wall Street (sien Mike Benz op X). ’n Mens kan sekerlik veronderstel dat elke land sy eie weergawe het van sulke groot en magtige belange wat agter die skerms besluite neem.

Twee: Die wêreld het natuurlik ontstaan deur ontploffings en kosmiese uitbreiding en evolusie. Politieke leiers is marionette van die Vatikaan, wat agter die skerms al die belangrike toutjies trek. Hoekom? Die Rooms Katolieke Kerk het Europa regeer vir amper ’n duisend jaar lank. Die algemene veronderstelling is dat hulle stadig maar seker mag en invloed verloor het oor die volgende vyf eeue. Hierdie veronderstelling is óf verkeerd, óf hulle het geslaag daarin om weer ondersteuners in posisies van mag te plaas.

Drie: Die wêreld het natuurlik ontstaan deur ontploffings en kosmiese uitbreiding en evolusie. Politieke leiers is marionette van ’n Joodse komplot om die wêreld te regeer tot hulle voordeel. Hoekom? Joodse komplot-leiers glo in die superioriteit van Jode, en glo dat dit God se wil is dat Jode die wêreld moet regeer.

Vier: Die wêreld het natuurlik ontstaan deur ontploffings en kosmiese uitbreiding en evolusie. Op ’n stadium is effektiewe beheer van die wêreld oorgeneem deur reptiel-wesens van die buitenste ruim wat demone aanbid. Politieke leiers is Satanistiese pedofiele wat marionette is van hierdie reptiel-wesens wat deur manipulasie die wêreld regeer tot hulle eie voordeel.

Vyf: Ons en die wêreld waarvan ons sintuiglik bewus is, is deel van ’n rekenaarsimulasie – wat ons ervaar as realiteit, is inderwaarheid ’n super-realistiese, gevorderde rekenaarsimulasie. Wat is die argument hiervoor? Op een of ander stadium sal die mensdom die tegnologiese vaardighede en hulpbronne ontwikkel om ’n kragtige rekenaarsimulasie te skep van hulle voorouers. Kans is goed dat hulle vele sulke simulasies sal skep. Kans is dat die gesimuleerde inwoners van hierdie wêrelde bewus sal wees van hulleself. Wat is dan die kans dat die persoon wat bewus is van homself deel is van die generasie wat die oorspronklike skeppers is van sulke simulasies, en nie een van moontlik duisende simulasies nie?

______________________