Wat *wil* jy dink?

SATERDAG 13 APRIL 2019

Enige dag kan iets – ’n hulpbron, ’n boek, ’n brokkie inligting – onder jou aandag bring wat jou ’n reuse hupstoot sal gee op jou pad na sukses. Ek praat van die tipe ding waarna jy oor ses maande, of oor twee jaar, of oor vyf jaar, sal wys en sal sê, “Daai ding – het die wêreld se verskil gemaak.”

Uit die aard van die saak gaan jy nie besef wat die werklike waarde is wanneer die hulpbron, die stuk gereedskap, die boek of die brokkie inligting (“Het jy geweet …”) oor jou pad kom nie. Dit sal immers nie arriveer in ’n koevert gemerk “Daai Ding Waarna Jy Later Sal Verwys Nie”. Jy sal nietemin uiteindelik weet: Dit was een van die dinge wat jou gebring het waar jy vandag is.

As jy eenmaal aanvaar dat hierdie dinge bestaan – ’n mens kan amper sê soos radiogolwe die heeltyd óm jou is, maak dit 100% sin dat jy jou gedagtes oop sal hou, en sal verwag dat ’n belangrike hulpbron een of ander tyd in jou skoot sal val.

MAANDAG 15 APRIL 2019

11:01

Punt nommer twee: Erken die moontlikheid dat jy alreeds besig is om iets te doen wat jou uiteindelik finansieel onafhanklik sal maak, of dat jy reeds in die plek is waar dit gaan gebeur, of reeds in die regte industrie, mark of professie is. Jy mag nader wees as wat jy dink.

11:54

Dink aan ’n onaangename situasie uit jou verlede (komaan, dis ’n eksperiment). Neem waar die gevoel wat opkom. Besluit waaraan jy meer gewig gaan gee: “Opnames” uit jou onderbewuste wat dikteer hoe jy daaroor moet voel, of bewustelike besluit in die hiér-en-nou.

Onthou: hierdie “opnames” is nie jou eie gedagtes nie; dis net ’n argief van wat ander mense gesê het oor die jare, of wat jy gelees het in boeke, of gehoor het op TV of in ’n film, en wat gestoor is in ’n poging om dit makliker te maak vir jou om in die toekoms ’n besluit te neem, of ’n posisie in te neem wat jou beter kan laat inpas in jou omgewing, en/of wat jou in staat kan stel om beter te funksioneer.

Ek verstaan hoekom sogenaamde opnames noodsaaklik is, en hoekom dit waardevol kan wees, so dis met respek aan my onderbewuste wat ek sê: Die opnames in die spesifieke geval waaraan ek dink, is nie waardevol nie. Ek besluit derhalwe, nóú en hier, om die onaangename herinnering te etiketteer as Nie So Belangrik Soos Wat Ek Tot Nou Gedink Het Dit Is Nie, en in die proses energie te trek daaruit. Volgende keer wat die herinnering aan die binnekant van my skedel klop, sal die sensasie noodwendig minder saak maak – soos ’n vlieg wat vir ’n oomblik op jou skouer sit, en dan wegvlieg.

DINSDAG 23 APRIL 2019

Weer vanaand gedink aan Maandag (15/04/19) se gedagte. Iets gebeur. Jy voel óf onmiddellik iets daaroor, óf jy wonder hoe jy moet voel daaroor. Indien jy onmiddellik iets voel – waar kom dit vandaan? Onkritiese reaksie uit jou onderbewuste; ’n vroeër geprogrammeerde of opgeneemde respons wat gewag het vir ’n gepaste situasie.

Is dit hoe jy daaroor wil voel?

Vra jy jouself die vraag, waar gaan soek jy vir ’n antwoord? Vroeëre ervarings wat dalk soortgelyk is aan die huidige een; dinge wat ander mense gesê het oor sulke situasies, en wat jy op daai stadium gedink het, reg en gepas klink.

Vra jouself weereens: Hoe wil jy voel daaroor?

Kans is goed dat die antwoord sal wees: “Niks. Ek wil nie enige iets daaroor voel nie. Dis nie regtig belangrik nie. Ek sal eerder net verby dit wil beweeg.”

Sal geen reaksie jou welstand en geluk negatief affekteer in die toekoms? Indien nie, hoekom moet jy omgee oor wié wát gesê het, of oor wat gebeur het? Hoekom, as dit nie jou geluk en welstand in die toekoms negatief gaan affekteer nie, moet jy enigsins omgee oor iets wat iemand gesê het?

En as jy vind, of besluit dat dit nie saak maak nie, laat dit gaan.

______________________