Tyd vlieg nie regtig nie

SATERDAG 5 JANUARIE 2013

Ek is gewoonlik voor in die koor as daar geweeklaag word oor hoe vinnig die tyd vlieg. Een jaar … vyf jaar … ’n dekade! Twintig jaar … Soos ’n mens dan in skok staan en wonder wat jy alles gedoen het, en wat jy alles nog wóú doen, sien jy in jou geestesoog die beelde van tien en twintig jaar gelede: helder, duidelik, asof dit gister was.

Dit is derhalwe soms nodig om jouself te herinner aan die werklike nommers:

5 jaar: amper 2 000 dae en nagte

10 jaar: meer as 3 500 dae en nagte

20 jaar: meer as 7 000 dae en nagte; meer as 7 000 keer ontbyt geëet, meer as 7 000 keer aandete geëet; meer as 20 000 keer badkamer toe gegaan; as jy voltyds gewerk het gedurende ’n 20 jaar-periode, dalk soveel as 5 000 keer werk toe gegaan … meer as 5 000 keer in die verkeer gesit (dalk dubbel soveel) … duisende kere met mense gepraat wat jy eintlik wou vermy … dalk meer as ’n duisend keer vleis gebraai … dalk soveel as 10 000 programme op TV gekyk, of selfs meer.

Tyd vlieg nie regtig nie.

Om die waarheid te sê, as jy mooi daarna kyk, oor vyf of tien of twintig jaar het jy duisende geleenthede om goed te doen, reg te maak wat verkeerd is of wat jy verkeerd gedoen het, en om iets te produseer of te help skep wat uiteindelik waarde sal bly voorsien aan ander mense.

Elke dag word jy ’n kans gegun om iets van die lewe te geniet, en elke dag word jy ’n kans gegun om iets te beteken vir iemand anders – iemand wat jou dalk sal onthou lank na jy jou laaste van meer as 25 000 oggendetes genuttig het.

______________________