Diepe dankbaarheid as verset

SATERDAG 14 FEBRUARIE 2026

Diepe dankbaarheid as verset, ’n vorm van “Fok jou” teenoor enigiemand of enigiets wat jou wil onderdruk.

“Wat as jy met kanker gediagnoseer word, of selfs erger, jy ly al maande lank aan kanker?”

Diepe dankbaarheid dat ek nog leef. Ek het nog ’n kans om dit te oorkom.

“Wat as jy terminale kanker het, met net weke om te leef?”

Diepe dankbaarheid dat ek nog tyd het om my sake in orde te kry.

“Wat as jy in werklikheid reeds aan die kanker dood is?”

Diepe dankbaarheid dat die pyn verby is.

“Goed, wat as jy ’n man is en jy is in ’n bakleiery en dit gaan nie goed nie?”

Diepe dankbaarheid dat ek nog staan.

“Wat as jy reeds die geveg verloor het?”

Diepe dankbaarheid dat ek nog leef.

“Wat as die ander ou jou doodgeslaan het?”

Diepe dankbaarheid dat ek nie meer met assholes soos hy hoef te deal nie.

______________________

Hoop vir ’n goeie en gelukkige lewe – selfs in Gaza

WOENSDAG 30 APRIL 2025

Doelwit: ’n Goeie en gelukkige lewe, nou. En ’n gemaklike aftrede en oudag later – indien ’n mens dit so ver maak.

Is dit nie waarvoor almal hoop nie?

“Nie mense in Gaza nie,” sal iemand sê. “Hulle hoop net vir vrede, en vir die bomme om te stop.”

Korrek, sal ek antwoord. Vir nou hoop hulle elke dag desperaat vir vrede en stilte, en vir kos en medisyne en ander voorrade om hulle te bereik. En om te kan begin om hulle huise en skole en hospitale en ander infrastruktuur te herbou.

Maar waarvoor sal hulle wens indien die psigoties-terroristiese Europese koloniale projek genaamd Israel uiteindelik verslaan word in hulle pogings om Palestyne uit te wis en hulle grond te steel? Waarvoor sal hulle hoop wanneer hulle huise en hospitale en skole en moskees en kerke herbou is?

Hulle sal heel waarskynlik hoop vir ’n goeie en gelukkige lewe, en ’n gemaklike aftrede en oudag, indien hulle lewens so ver strek.


Wat ek sê en wat ek doen

MAANDAG 14 APRIL 2025

As ek myself moes vra wat my primêre doelwit was die afgelope … sê, twintig jaar, sou ek gesê het dit is om geld te maak. Twintig jaar gelede was ek skielik nie meer alleen nie. ’n Jong vrou het besluit om ’n kans te vat op my, en ek moes haar ongelooflik optimistiese hoop regverdig.

Laaste ding wat ek wil doen, is om weer die leser te verveel met ’n lys van projekte en skemas waarmee ek gepoog het om geld te maak die afgelope twee dekades. Punt is, heelwat daarvan het niks te make gehad met kennis of insig versamel nie, en nog minder met kennis en insig deel met mense wat dit dalk nodig gehad het.

Nou, as ek klasgee, verduidelik ek nie net grammatika of woordeskat nie – ek gebruik elke geleentheid wat ek kry om ’n bietjie geskiedenis in te werk. Of ek probeer ’n nie-geykte opinie gee wanneer die gesprek gaan oor verhoudings, of ander aspekte van menslike bestaan waaroor ek dalk ’n intelligente gedagte gehad het in die verlede. Meeste van die materiaal wat ek sover geskep het vir ESL-studente, en die sosiale media materiaal wat ek deesdae publiseer, verklap die ambisie van die persoon agter dit om kennis te deel. (Natuurlik neem ek aan meeste mense weet nie reeds wat ek te vertelle het nie.)

Ander persoonlike projekte, soos Asian Histories of Listed History, en selfs Familiegeskiedenis, is nie juis veronderstel om geld te maak nie. Die ambisie was nog die heeltyd meer edel.

My primêre taak – by verstek, al dink ek nie elke dag so daaraan nie – is om kennis en insig te versamel. En as ek dan nog ’n brokkie kennis of insig bekom het, om dit te deel op ’n manier wat ’n bietjie anders is as die volgende versamelaar van kennis en insig, om sodoende dit hopelik ietwat makliker te maak vir die persoon wat die kennis en insig ontvang, om ’n gelukkiger en meer produktiewe bestaan te voer.

______________________

Oud, klein, magteloos, en useless

WOENSDAG 19 MAART 2025

Ek droom gisteraand ek moet instaan vir ’n onderwyser by ’n hoërskool. Ek vind myself omring deur honderde tieners.

Na ’n paar minute word ek geswendel uit my selfoon. Om een of ander rede word ek ook oorreed om my skoene uit te trek. Die skoene kry kort daarna voete.

Nou loop ek rond op my sokkies en vra rond oor my selfoon. Ek sê ek moet kontak maak met my familie in Suid-Afrika, en hoe kan ek dit doen as ek nie my foon het nie.

Ek word geïgnoreer, en elke nou en dan uitgelag deur groepies tieners wat orals rondstaan.

Na ’n verwarrende uur waar ek verlore ronddrentel tussen wat nou voel soos duisende tieners, help iemand my om my foon op te spoor. Al die telefoonnommers en WhatsApp boodskappe en so aan is afgevee.

Ek kry steeds nie my skoene nie.

Twee jong dames wat verantwoordelik was vir die verdwyning van my foon, probeer verduidelik dat húlle lewens ook nie maklik is nie.

Nie net het ek geen simpatie met hulle nie, maar ek het die sterk begeerte om hulle ’n vroeë dood toe te wens. (Neem in ag dat ek nie bewustelik hierdie gedagtes gedink het nie. Nietemin, die volle gedagte was dat ek aan die tieners nie net ’n vroeë dood wou toewens nie, maar ’n pynvolle vroeë dood.)

Ek word wakker met ’n hoofpyn. Ek dink: Wat ’n nagmerrie.

Die gevoel wat druk selfs nadat ek my kop opgelig het, is dat ek oud is, en klein, en magteloos, en useless.

(Roffel die tromme vir ’n Grok-geskepte prentjie van ’n gelukkige, glimlaggende, bleskop, middeljarige man.)

______________________