Hoop vir ’n goeie en gelukkige lewe – selfs in Gaza

WOENSDAG 30 APRIL 2025

Doelwit: ’n Goeie en gelukkige lewe, nou. En ’n gemaklike aftrede en oudag later – indien ’n mens dit so ver maak.

Is dit nie waarvoor almal hoop nie?

“Nie mense in Gaza nie,” sal iemand sê. “Hulle hoop net vir vrede, en vir die bomme om te stop.”

Korrek, sal ek antwoord. Vir nou hoop hulle elke dag desperaat vir vrede en stilte, en vir kos en medisyne en ander voorrade om hulle te bereik. En om te kan begin om hulle huise en skole en hospitale en ander infrastruktuur te herbou.

Maar waarvoor sal hulle wens indien die psigoties-terroristiese Europese koloniale projek genaamd Israel uiteindelik verslaan word in hulle pogings om Palestyne uit te wis en hulle grond te steel? Waarvoor sal hulle hoop wanneer hulle huise en hospitale en skole en moskees en kerke herbou is?

Hulle sal heel waarskynlik hoop vir ’n goeie en gelukkige lewe, en ’n gemaklike aftrede en oudag, indien hulle lewens so ver strek.


Wat ek sê en wat ek doen

MAANDAG 14 APRIL 2025

As ek myself moes vra wat my primêre doelwit was die afgelope … sê, twintig jaar, sou ek gesê het dit is om geld te maak. Twintig jaar gelede was ek skielik nie meer alleen nie. ’n Jong vrou het besluit om ’n kans te vat op my, en ek moes haar ongelooflik optimistiese hoop regverdig.

Laaste ding wat ek wil doen, is om weer die leser te verveel met ’n lys van projekte en skemas waarmee ek gepoog het om geld te maak die afgelope twee dekades. Punt is, heelwat daarvan het niks te make gehad met kennis of insig versamel nie, en nog minder met kennis en insig deel met mense wat dit dalk nodig gehad het.

Nou, as ek klasgee, verduidelik ek nie net grammatika of woordeskat nie – ek gebruik elke geleentheid wat ek kry om ’n bietjie geskiedenis in te werk. Of ek probeer ’n nie-geykte opinie gee wanneer die gesprek gaan oor verhoudings, of ander aspekte van menslike bestaan waaroor ek dalk ’n intelligente gedagte gehad het in die verlede. Meeste van die materiaal wat ek sover geskep het vir ESL-studente, en die sosiale media materiaal wat ek deesdae publiseer, verklap die ambisie van die persoon agter dit om kennis te deel. (Natuurlik neem ek aan meeste mense weet nie reeds wat ek te vertelle het nie.)

Ander persoonlike projekte, soos Asian Histories of Listed History, en selfs Familiegeskiedenis, is nie juis veronderstel om geld te maak nie. Die ambisie was nog die heeltyd meer edel.

My primêre taak – by verstek, al dink ek nie elke dag so daaraan nie – is om kennis en insig te versamel. En as ek dan nog ’n brokkie kennis of insig bekom het, om dit te deel op ’n manier wat ’n bietjie anders is as die volgende versamelaar van kennis en insig, om sodoende dit hopelik ietwat makliker te maak vir die persoon wat die kennis en insig ontvang, om ’n gelukkiger en meer produktiewe bestaan te voer.

______________________

Oud, klein, magteloos, en useless

WOENSDAG 19 MAART 2025

Ek droom gisteraand ek moet instaan vir ’n onderwyser by ’n hoërskool. Ek vind myself omring deur honderde tieners.

Na ’n paar minute word ek geswendel uit my selfoon. Om een of ander rede word ek ook oorreed om my skoene uit te trek. Die skoene kry kort daarna voete.

Nou loop ek rond op my sokkies en vra rond oor my selfoon. Ek sê ek moet kontak maak met my familie in Suid-Afrika, en hoe kan ek dit doen as ek nie my foon het nie.

Ek word geïgnoreer, en elke nou en dan uitgelag deur groepies tieners wat orals rondstaan.

Na ’n verwarrende uur waar ek verlore ronddrentel tussen wat nou voel soos duisende tieners, help iemand my om my foon op te spoor. Al die telefoonnommers en WhatsApp boodskappe en so aan is afgevee.

Ek kry steeds nie my skoene nie.

Twee jong dames wat verantwoordelik was vir die verdwyning van my foon, probeer verduidelik dat húlle lewens ook nie maklik is nie.

Nie net het ek geen simpatie met hulle nie, maar ek het die sterk begeerte om hulle ’n vroeë dood toe te wens. (Neem in ag dat ek nie bewustelik hierdie gedagtes gedink het nie. Nietemin, die volle gedagte was dat ek aan die tieners nie net ’n vroeë dood wou toewens nie, maar ’n pynvolle vroeë dood.)

Ek word wakker met ’n hoofpyn. Ek dink: Wat ’n nagmerrie.

Die gevoel wat druk selfs nadat ek my kop opgelig het, is dat ek oud is, en klein, en magteloos, en useless.

(Roffel die tromme vir ’n Grok-geskepte prentjie van ’n gelukkige, glimlaggende, bleskop, middeljarige man.)

______________________

’n Betekenisvolle brokkie kennis

DINSDAG 8 OKTOBER 2024

Ek het in 1994 freneties begin notas maak. Dit was asof ek ’n roeping aangevoel het om te rapporteer oor my lewe. Die afgelope dertig jaar het ek aan en af gerapporteer, soms elke dag en soms net ’n paar verlore paragrawe in een kalenderjaar.

Die punt is steeds om te sê: Hier is ek. Dis hoe ek die lewe ervaar.

* * *

Dertig jaar gelede wou ek geld maak want ek wou doen wat ék wou doen. Ek wou nie gehad het mense moes bevele blaf en verwag ek moes spring nie. Ek wou geld gehad het om te kon reis en te kon studeer (seriously, ek was 23 jaar oud en ek wóú studeer).

Twintig jaar gelede was ek ernstig daaroor om my inkomste te verbeter want ek wou ’n beter lewe bewerkstellig vir myself, en die vir die jong vrou met wie ek later sou trou. Ek wou meer reis, en ek wou meer gereeld my familie in Suid-Afrika besoek.

Vandag wil ek my inkomste verbeter want ek wil my finansiële sekuriteit versterk, veral met die oog daarop dat ek binne dalk twee dekades nie meer lus gaan wees om te werk nie, of dalk nie meer alles kán doen wat ek wil doen nie.

Verskillende begeertes, maar dieselfde pad wat lei tot die vervulling daarvan. Een verskil is dat ek weet hoe twintig en dertig jaar onder my voetsole voel, en ek weet hoe dit deur my vingers glip. En ek weet twintig of dertig jaar van nou af – as ek so lank hou – is ek amptelik oud. Nie noodwendig afgeleef nie, maar definitief bejaard. Hierdie betekenisvolle brokkie kennis was nie deel van my bestaanservaring twintig of dertig jaar gelede nie.

______________________