Wat is die ideologiese basis van hoe jy dink?

MAANDAG 20 APRIL 2020

16:00

Wat is die ideologiese basis van wat jy dink, sê of skryf, of wat jy glo of argumenteer?

Vir sommige mense is dit ’n oortuiging dat ons in ’n ongelyke, onregverdige wêreld woon, en dat dit almal se morele verantwoordelikheid is om alles in hul vermoë te doen om dinge meer gelyk en meer regverdig te maak. Mense wat vanuit hierdie basis argumenteer, deel mense op in groepe: primêre oortreders asook medepligtiges aan onreg; slagoffers van onreg; en mense (soos hulleself) wat voorheen medepligtig was aan onreg, of wat reken dat hulle voordeel getrek het uit onreg, maar wat nou probeer om alles beter te maak – en om op te maak vir die sondes van hul voorgeslagte.

My ideologiese basis is dat volwassenes wat nie ly aan verstandelike gebreke nie, vry agente is wat verantwoordelik is vir hul eie lewens. Dit sluit in die seun van ’n welgestelde industrialis, asook die arm dogter van ’n skoenskoonmaker wat grootgeword het in ’n krotbuurt. Natuurlik het hierdie twee individue grootgeword in radikaal verskillende omgewings, met verskillende programmerings, met verskillende idees en gevoelens oor die wêreld en hulle plek in die wêreld, en oor hulle toekoms. Is die arm persoon ’n slagoffer van omstandighede? Ja, sy is. Het sy steeds die vermoë om elke dag besluite te neem – van klein besluite wat sal akkumuleer tot ’n betekenisvolle verbetering in haar lewe, tot groot besluite wat op die kort-termyn ’n radikale verskil aan haar lewe sal maak? Om te glo dat sy nié hierdie vermoë het nie, is om haar te sien as ’n patetiese kind wat nie sal oorleef as sy nie gehelp word deur mense wat méér het as sy nie.

21:49

Sê ek jy moet jou skouers optrek en vir die persoon in die slegte situasie sê, “Jou saak. Ek het nie vir jou gesê jy moet vlug uit jou stad wat uitmekaar geskeur is deur vegtende groepe nie”? Nee, wat ek sê is dit: Help enige een om uit ’n brandende gebou te kom – geen diskriminasie nie; nie in terme van velkleur, politieke opinie, of godsdiens nie. En as jy uit die gebou is en dis binne my vermoë om bystand te verleen, sal ek vir jou skuiling en kos en water gee, en wat jy ook al nodig het om weer op jou voete te kom.

Maar van Oomblik Nommer Een af gaan ek na jou kyk as ’n volwassene wat in staat is om berge te versit as die wil daar is. En as die wil nie daar is nie, en jy besluit om eerder op die langtermyn afhanklik te wees van ander mense se goedheid, sal ek die argument maak dat beperkte hulpbronne eerder gebruik moet word om ander mense uit brandende geboue te red.

Feit is, ek sien mense as fantastiese kreature wat ongelooflike dinge kan vermag as hulle besluit hulle gaan iets doen. Ek glo dat ons tot ’n groot mate ons eie realiteit skep, en dan hierdie realiteit ervaar en gevoelens het daaroor. Daar is mense wat kyk na sekere individue en hulle sien as patetiese kreature wat gered moet word en na wie daar omgesien moet word. Ek sien mense wat soms uit ’n brandende gebou gehelp moet word, maar dan slegs ondersteun moet word om voort te gaan om verantwoordelikheid te neem vir hulle eie lewens. En as hulle nie verantwoordelikheid wil neem vir hulle eie lewens nie, is dit hulle saak, nie myne nie.

* * *

As iemand aan my deur klop op ’n besonders koue nag en vra vir skuiling, en ek weet daar is nie ’n fasiliteit vir hierdie doel in die buurt nie, sal ek vir die persoon ’n warm bed aanbied, kos en iets om te drink, en plek in die sitkamer sodat hy saam kan TV kyk. As ek uiteindelik sien dat dit nie vir net een dag gaan wees nie, sal ek verduidelik dat indien die persoon in ons huis gaan aanbly, dit volgens ons huisreëls sal wees. Voorbeelde van reëls sal insluit watter tyd ligte afgesit sal word en almal stil raak, en die volume waarteen musiek geluister kan word. Redelike goed; niks drakonies nie. Indien die persoon die reëls ignoreer – byvoorbeeld deur tot in die vroeë oggendure te sit en TV kyk, of tot na middernag luid gesprekke op die telefoon te voer, sal ek weer die reëls verduidelik. As hy steeds weier om saam te werk, sal ek hom die deur wys. Hoekom? Omdat hy my en my huishouding nie respekteer nie. Omdat hy nie glo dit is sy verantwoordelikheid om sy eie lewe beter te maak nie.

Hier’s ’n alternatiewe scenario: Ek bied hom skuiling. Teen die einde van die eerste week noem hy dat hy sien ek vat twee keer per week die rommel uit, en hy bied aan om dit van dan af te doen. Of hy merk op dat ek elke dag uitgaan om aandete te gaan koop, en noem dat hy kan kook, en dat as ek vir hom X-hoeveelheid geld gee, hý supermark toe sal gaan om bestanddele te koop en vir almal in die huishouding kos sal kook elke dag. Indien hy ook die huisreëls respekteer, is die kans baie goed dat hy sal kan aanbly tot hy voel dinge is weer van so ’n aard dat hy kan terugkeer waar hy vandaan gekom het, of tot hy gereed is om sy eie plek te kry. Ook dan sal ek hom help waar ek kan – as hy my hulp benodig.

Dit is ook moontlik dat hierdie persoon godsdienstig is. Kom ons sê hy’s ’n Moslem, en ek let op dat hy vyf keer per dag na sy kamer toe gaan, ’n mat ooprol op die vloer, en bid. Ek sal dit respekteer en seker maak ek steur hom nie in daai tyd nie. Indien hy egter aandring dat my vrou en dogter hulle koppe moet bedek wanneer ons almal uitgaan, sal ek dit duidelik maak dat dit nie ons gebruik is nie. As hy antagonisties raak daaroor, kan hy vir hom ander blyplek gaan soek – dieselfde dag nog.

WOENSDAG 22 APRIL 2020

Watse tipe ideologie gee die meeste hoop aan ’n jong man in, sê, El Salvador, of Afganistan? Die ideologie wat sê, jy is verantwoordelik vir jou eie lewe, en dat jy in staat is om jou eie geluk, welstand, en positiewe toekoms te skep … of die ideologie wat die jong man probeer oortuig dat sy dilemma nie sý skuld is nie, dat hy ’n slagoffer is van strukturele rassisme, dat ryk mense, of wit mense, of mense met meer mag as hy, hom geluk, welstand en ’n positiewe toekoms skuld?

As ek daai jong man was, sou ek eersgenoemde ideologie vat enige dag van die week. Ek sou oor die grens probeer sluip in die middel van die nag, en as ek in Texas aangekom het, of in Arizona of Kalifornië, of in Italië, Duitsland of Engeland, sou ek alles in my vermoë doen om uit die moeilikheid te bly; ek sou wegbly van kriminele groepe; ek sou ’n werk probeer kry, en geld spaar. Sou ek ’n vrou ontmoet en ons hou van mekaar, sou ek met haar trou en saam met haar ’n klein besigheid begin. Dit is wat ek sou kon doen as ek geglo het ék is verantwoordelik vir my eie lewe, en dat ek die vermoë het om my eie welstand en welvaart te skep.

Sou daar ontberinge gewees het? Natuurlik. Sou daar struikelblokke gewees het? Ja. Maar ek sou my kop en energie gebruik het om ontberinge te oorleef en struikelblokke te oorkom. Sou ek weer opeindig in El Salvador of Afganistan as die owerhede my vang en my deporteer, soos dit hulle reg is om te doen? Dit sou altyd ’n moontlikheid gewees het. Maar sou ek steeds eerder die kans wou waag om te glo in my eie vermoëns om ’n goeie lewe te skep? Beslis. Sou ek dit verkies eerder as om te glo ander mense skuld my iets en in tussentyd moet ek wag vir politieke drukgroepe om ’n goeie lewe vír my te bewerkstellig? Definitief.

______________________

Die gevolge daarvan as jy glo aan verantwoordelikheid vir jou eie lewe

MAANDAG 13 JANUARIE 2020

Om verantwoordelikheid vir jou eie lewe te neem is, hoe meer ek daaraan dink, ’n uiters gevaarlike opinie om te huldig in die “Politically Correct/Crazy Culture War” Era.

As jy verantwoordelikheid vir jouself trek na sy logiese konklusies, was die slaaf deels verantwoordelik vir sy eie slawerny, en was sogenaamde nie-blanke groepe in Suid-Afrika deels verantwoordelik vir hulle eie lyding en soms miserabele lewens tydens die pre-1994 era.

Natuurlik het die slawe-eienaar die gesag van die koloniale establishment aan sy kant gehad. Maar as ons net kyk na die geskiedenis van slawerny in Noord- Amerika en die Karibiese Eilande, hét duisende slawe hulle vryheid geëis, en het in vele gevalle die res van hulle aardse bestaan uitgeleef as nie-slawe – al moes hulle altyd op die uitkyk wees vir vyande wat hulle terug wou voer na slawerny (sien die Rewolusie in Haïti, en die Maroons in Jamaika).

Die apartheidstaat was ook magtig, en talle sogenaamde nie-blankes wat hulleself verset het teen die blanke staat, is vermoor – soms op brutale wyse. Maar daar was ten minste agt nie-blankes vir elke een blanke in die dekades voor 1994! As nie-blankes in meer betekenisvolle getalle geweier het om toe te laat dat blanke politieke leiers aan hulle dikteer hoe en waar en saam met wie hulle moes leef, wat kon die blanke staat en die blanke minderheid wat hulle ondersteun het, gedoen het? Sommige mense sê dat daar ’n bloedbad sou wees, tien of honderd keer erger as Sharpeville in 1960 of Soweto in 1976. Maar was geweld die enigste oplossing? Indië gedurende die Britse koloniale era is ook ’n interessante geval: Hoe het minder as 200 000 Britse soldate en amptenare geslaag daarin om ’n bevolking van meer as 200 miljoen Indiërs te onderwerp aan hulle gesag?

Is daar ’n middeweg tussen, “Ek is nie in beheer van my eie lewe nie en is derhalwe ’n slagoffer van enige een wat sterker is as ek, of wat my oortuig dat hy sterker is as ek” aan die een kant, en aan die ander kant, “Oor my dooie liggaam sal ek jou toelaat om baas te speel oor my”?

Dit voel steeds asof ek vasgevang is in ’n polities en sosio-kulturele dilemma. Ek glo dat ek, as ’n relatief intelligente volwassene, tot ’n groot mate verantwoordelik is vir hoe ek my bestaan ervaar. Ek glo verder dat alle relatief intelligente volwassenes tot ’n groot mate verantwoordelik is vir hoe hulle húl bestaan ervaar. Maar indien dit waar is, hoe op aarde kan ek voortgaan om te glo dat 80% van die bevolking van Suid-Afrika voor 1994 slagoffers was?! Was my ouers en ander witmense voor hulle dan so asemrowend magtig? Watse tipe toorkuns het hulle beoefen?!

Ek glo talle kinders en kleinkinders van mense wat swaargekry het voor 1994, omdat hulle swart of bruin of Indiër was, het reeds wys geraak tot die waarheid: dat die witman en -vrou nie regtig so magtig was nie. Dat hulle ouers en grootouers en ander voorsate nie hard genoeg teruggedruk het toe die blankes terme dikteer het nie. ’n Kritiese persentasie swart, bruin en Indiër Suid-Afrikaners het die gedikteerde terme merendeels aanvaar, en gehoop ’n wonderwerk gebeur in die toekoms wat hulle sou red. Ek glo dat talle kinders en kleinkinders van swart en bruin en Indiër Suid-Afrikaners wat swaargekry het voor 1994 diep in hulle binneste kwaad is vir hulle ouers en hulle ouers se ouers, maar omdat hulle lief is vir hulle, skep hulle ’n karikatuur van witmense wat makliker gekritiseer kan word, wat makliker gestenig kan word, en op wie se skouers al die skuld gepak kan word.

Nagedagtes

Dinsdag 28 Julie 2020

Een: Daar was inderdaad talle voorbeelde in Suid-Afrikaanse geskiedenis van individue en organisasies, net in die periode 1910 tot 1990, wat besef het watse groot probleem sielkunde was – dat ’n betekenisvolle persentasie wit mense geglo het dit was hulle reg om te regeer oor ander groepe, en dat ’n betekenisvolle persentasie nie-wit Suid-Afrikaners ook geglo het dat dit so moes wees. Hierdie mense en organisasies het begryp dat opvoeding ’n sleutel is tot ’n beter toekoms, dat daar toegepas moet word wat Marcus Garvey (1887-1940) geskryf het: We are going to emancipate ourselves from mental slavery, for though others may free the body, none but ourselves can free the mind.” Een van die grootste proponente van beter ingesteldheid was Steven Biko (1946-1977). Geen wonder dat die apartheidstaat hom uit die weg wou ruim nie. Daar was ook talle pogings om duisende mense betrokke te kry in veldtogte teen die apartheidstaat, insluitende in nie-gewelddadige optogte en protesaksies. Aan die einde hét apartheid tot ’n einde gekom, en ’n meer demokratiese bestel het dit vervang. Hoekom? Omdat ’n kritiese persentasie van die wit bevolking aanvaar het dat hulle nié ’n reg het om te regeer oor ander groepe nie, en ’n kritiese persentasie van swart, bruin en Indiër Suid-Afrikaners het dit gesien as ’n ondermyning van hulle regte om nie te kan kies wie oor hulle regeer nie. ’n Massiewe sielkundige skuif onder al die bevolkingsgroepe van Suid-Afrika moes dus plaasvind voor die realiteit vir almal kon verander. Teen 1994 het hierdie skuif plaasgevind, en die realiteit het verander.

Twee: Wit mense wat aksies geneem het wat ander Suid-Afrikaners se hoop en pogings om goeie lewens te lei, aktief belemmer het (onder andere Nasionale Party politici, staatsamptenare wat regeringsbeleid uitgevoer het, en lede van die sekuriteitspolisie), was feilbare mense wat posisies van mag bekom het, en wat dag na dag geleer het dat hulle wegkom met die misbruik van hulle mag. ’n Betekenisvolle hoeveelheid het geglo hulle saak is goed – stryd teen Kommunisme, en derhalwe vir die Christelike geloof en Westerse beskawing. Talle van hierdie wit agente van die apartheidstaat, hierdie uitvoerders van ’n moreel korrupte ideologie, was andersins goeie mense – mense wat lief was vir hulle eggenote en kinders, en wat goeie seuns en dogters was vir hulle bejaarde ouers. Hierdie is die kompleksiteit wat ek nie kan ignoreer nie wanneer mense ’n vereenvoudigde geskiedenis voorlê waar een kant magtige euwel monsters was, en die ander kant arme magtelose slagoffers wat maar net kon hoop vir ’n beter dag.

Woensdag 29 Julie 2020

1. Daar’s hierdie idee wat ’n mens soms kry – van mense wat ly en kla, maar nie genoeg doen om hul omstandighede te verander of om hulle lot te verbeter nie. Later, wanneer ander mense hul omstandighede vir hulle verander het, is hulle geneig om ’n vertelling te bevorder wat die feit verberg dat hulle nie meer inisiatief geneem het om hulle eie lot te verbeter nie.

2. Ek glo in die enorme kapasiteit van die individu – en as genoeg lede saamwerk, die kollektiewe vermoë van die gemeenskap – om hul omstandighede en hul eie ervaring van die werklikheid te verbeter. Dikwels misluk mense om dit te doen. Maar erken dit dan. Om ’n vertelling te bevorder wat jouself, of die etniese, kulturele of sosio-politieke groep waarvan jy lid is, uitbeeld as arm slagoffers, doen ongelooflike skade aan jou eie persepsie van die vermoë wat jy het om jou omstandighede en jou ervaring van die werklikheid te verbeter. Watse boodskap stuur jy aan jonger mense wat nog idees vorm oor waartoe hulle in staat is? Te veel mense kies woede teen een of ander almagtige groep wat op een of ander manier politieke, ekonomiese, en kulturele mag gemonopoliseer het en dit al dekades of selfs eeue volhou. Is hierdie mense kragtige towenaars? Beoefen hulle ’n ander-wêreldse toorkuns? Die kans is groot dat jy hulle mag en vermoë oordryf ten einde jou eie swak rekord om beter te doen, te versteek.

Sondag 16 Augustus 2020

Ek kom weereens terug na hierdie stuk toe, want dis maklik om te misverstaan – of dalk het ek myself nog nie duidelik genoeg gemaak nie.

So, hopelik net nog een laaste keer, drie punte:

1. Afrikaners, en ander witmense in Suid-Afrika in die periode voor 1994, het wel politieke, ekonomiese, en militêre mag gehad, maar hulle mag was nie onbeperk nie. ’n Aanvaarding – vir alle praktiese doeleindes, al het mense nie daarvan gehou nie – van die politieke en sosiale orde gedurende apartheid, en voor dit, onder al die bevolkingsgroepe van Suid-Afrika, was die kragtigste instrument in die hande van die wit regering.

2. Die aanvaarding en gebruik van ’n slagoffer-identiteit is minder waardevol as om te aanvaar dat wat ook al met jou of jou familie gebeur het, dalk nie sou gebeur het as jy harder probeer het om dit te vermy nie – as jy meer verantwoordelikheid aanvaar het vir jou eie situasie. Nou – niemand hoef aan my uit te wys dat dit klink soos “victim blaming” nie. Daar is nooit enige kwessie van minder blaam plaas op die oortreder, en meer blaam plaas op die slagoffer nie. Die oortreder is skuldig, en verdien om gestraf te word vir wat hulle aan ’n ander mens gedoen het. Oortreders moet verantwoordelikheid neem en die gevolge aanvaar vir hulle dade. Maar as die slagoffer niks kon gedoen het om hulle pyn en lyding te vermy of te verminder nie, is hulle een honderd persent slagoffer – een honderd persent magteloos. Dit is die hoogste vlak van slagofferskap. Iemand het met jou lewe gemors, en daar was niks – niks! – wat jy daaraan kon doen nie. Dit is tragies dat daar elke dag sulke gevalle is in elke land, en elke stad en dorp en somtyds plaas en gehuggie in die wêreld. Dit is wat gebeur met kinders wat afhanklik is van volwassenes vir beskerming, en om goeie besluite te neem. Dit is ook wat gebeur met ou mense wat nie meer in beheer is van hulle eie lewens nie. Hierdie tipe slagofferskap is verskriklik, want nie net behels dit pyn en lyding en verlies nie, dit herinner jou ook elke dag wat jy daaraan dink dat jy absoluut magteloos was om enige aspek daarvan te verander. Mense kan my kritiseer soveel as wat hulle wil, maar ek aanvaar eenvoudig nie dat miljoene volwasse swart en bruin en Indiër Suid-Afrikaners voor 1994 een honderd persent magtelose slagoffers was nie. Kinders, ja. Maar sodra jy oud genoeg is om in beheer te wees van jou eie bewegings en besluite, het jy keuses. Duisende slawe het tydens die periode van slawerny in die Westerse kolonies besluit om te ontsnap. Miljoene het besluit om eerder op die plantasie te bly omdat die risiko te groot was. Daar is mense wat beweer dat om te sê hulle het besluit om te bly, impliseer dat hulle gekies het om slawe te wees. Ek sê: ten minste sien ek hulle as rasionele mense wat keuses gemaak het, al was die opsies beperk. Ek sien hulle nie as breinlose liggame nie. Ek sien hulle as mense wat voor ’n verskriklike keuse gestaan het, en die minder lewensbedreigende opsie gekies het. Was daar egter slawe wat die sosiale orde aanvaar het as godgegewe waar hulle slawe is, en witmense hulle meesters? Ek glo daar was talle mense met hierdie ingesteldheid wat uiteindelik bevry moes word van hulle “mental slavery”. Om ’n mate van verantwoordelikheid te aanvaar vir jou situasie in die verlede, is bemagtigend. Dit sê aan die een wat oor jou baas gespeel het, dat hy of sy nie regtig so magtig was soos hulle gedink het hulle was nie. Dit sê: “My eie mislukking om harder terug te druk, of meer effektief terug te druk, het dit makliker gemaak vir jou. Moenie my meer as ’n slagoffer sien nie, want die ander kant van die muntstuk is dat ek moet erken jy was slimmer, sterker, en magtiger as ek.”

3. Ek het vriende en familie wat hulleself sien as geallieerdes van die lydende swart man en vrou. ’n Swart man of vrou se sukses word gevier wanneer ’n soortgelyke sukses nie gevier sal word indien die persoon wit was nie. Hierdie ding om te kyk na ’n persoon, en aan sy of haar velkleur, of geslag, of seksuele oriëntasie af te lei dat hulle slagoffers is van iemand anders se persoonlike mag, is vir my ondraaglik – ondraaglik! En as jy luister na wat talle swart mense sê, vind hulle dit ook ondraaglik, en beledigend. Ek kan nie op hierdie oomblik ’n spesifieke swart persoon aanhaal wat dit in soveel woorde gesê het nie, maar ek is seker daarvan die volgende sentiment is wydverspreid onder swart mense wat hierdie tendense volg: “Moenie my as ’n slagoffer sien nie. Jy en jou voorsate was nie regtig so magtig nie. Ek – en my voorsate, het foute gemaak, en het nie hard genoeg, of slim genoeg terug gedruk nie.”

______________________

’n Onderwerp waaroor ek eintlik nie gedagtes wil hê nie

VRYDAG 1 NOVEMBER 2019

15:58

Wat volg is die nuutste nota oor ’n onderwerp waaroor ek eintlik nie gedagtes wil hê nie. As meer as tien mense gereeld my skryfwerk lees, sal notas oor hierdie onderwerp my definitief in die moeilikheid bring. Niemand – maar veral nie wit mense nie, en dan veral nie wit mans nie – is veronderstel om enige gedagtes te vorm oor hierdie onderwerp wat nie strook met goedgekeurde hoofstroom ideologie nie. “Hoekom sal jy immers enige ander tipe gedagtes daaroor koester?” sal iemand vra. “Is jy ’n slegte mens? Is jy boos? Is jy die duiwel?”

Soos sekerlik die geval is met normale mense, gebeur dit gereeld dat gedagtes in my kop vorm terwyl ek stort, of op pad is êrens heen. En omdat ek nie in die gewoonte is om ’n spreekwoordelike wag voor die hek van my gedagtes te plaas nie, kom allerhande vreemde vrae vorendag. En siende dat die vraag dan gevra is, moet ek dit adresseer. Of, ek hoef dit seker nie aan te spreek nie – veral as ek weet dat mens eintlik net vooraf goedgekeurde gedagtes mag hê oor sekere onderwerpe. Maar ek sal die heeltyd bewus wees daarvan dat dit op die tafel is, en dat ek dit ignoreer.

In elk geval, hier is die gedagte. Hoe het die beleid bekend as Apartheid die realiteit geword vir so baie mense – van alle rasse – in Suid-Afrika, tussen ten minste 1948 en 1990?

’n Eenvoudige verduideliking is dat Apartheid toegelaat is om die praktiese realiteit te word en te bly vir so lank omdat die meerderheid van die bevolking – en die meerderheid van die bevolking was swart mense – Apartheid aanvaar het. Uit die aard van die saak het mense ’n negatiewe beskouing gehad van die beleid en die politieke leiers wat hulle verantwoordelik gehou het daarvoor, maar ’n kritiese persentasie van die geaffekteerde bevolking het dit aanvaar as die manier hoe hulle samelewing bestuur word.

Hoekom is Apartheid uiteindelik vervang deur ’n beter beleid? Omdat ’n kritiese minderheid onder die swart bevolking, met bondgenote onder ander bevolkingsgroepe, Apartheid nié aanvaar het nie, en hulle lewens toegewy het daaraan om dit te ondermyn, en te vernietig as raamwerk en beleid waarvolgens die staat bestuur en die bevolking beheer word. Hierdie kritiese minderheid, wat mense insluit soos Nelson Mandela en ander leiers van die anti-Apartheidsbeweging in die vyftigs en sestigs, asook Steve Biko en ander aktiviste in die sewentigs en tagtigs, maar ook duisende ander leiers wat noue bande gehad het met die gemeenskap op ’n daaglikse basis, het uiteindelik ’n kritiese persentasie van die bevolking oortuig dat hulle gesteun moet word in hulle pogings om Apartheid te beëindig, en dat alles beter sal wees vir hulle wanneer húlle, die nuwe leiers, in beheer van die staat sal wees.

16:49

Feit is, amper dertig jaar na die einde van Apartheid, is daar steeds wit mense wat glo dat Apartheid “nie so sleg” was nie, en dat “selfs swart mense gelukkiger was onder Apartheid as onder ’n swart regering”. En daar is swart mense wat glo dat hulle passiewe slagoffers was van iets wat groter as hulle was, en dat hulle meestal net kon wag tot hulle leiers die saak reggestel het. Albei hierdie opinies is verkeerd, omdat die waarheid ’n swaarder pil is om te sluk.

(Terloops, moet nooit ’n akademikus vertrou wat nie ’n bron van inkomste het wat onafhanklik is van die instelling, skool of universiteit waar hulle werk nie. Teen die einde van die tweede dekade van die een-en-twintigste eeu is dit algemene kennis dat akademiese instellings politieke agendas volg, en as akademici nie die dominante politieke ideologie onderskryf nie, is hulle salarisse – die manier hoe hulle huur betaal en kos en klere koop – in gedrang.)

DINSDAG 26 DESEMBER 2019

12:48

Maak dit die wandade van die man wat sy vrou fisies mishandel minder euwel omdat sy dag na dag, maand na maand by hom bly eerder as om te vlug?

Nee.

Maar watse boodskap stuur dit vir vrouens in verhoudings waar hulle mishandel word, om na hulle te verwys as magtelose slagoffers? Watse hoop gee dit vir vrouens in sulke verhoudings?

Aan die einde sit jy met twee opsies:

Opsie 1: Sien die vrou as ’n magtelose slagoffer. Vrouens wat dan nooit hulle aggressiewe mans verlaat het nie, hoef dan nooit te voel dat hulle enige iets kon gedoen het om hulle eie situasies te verbeter nie. Die boodskap aan vrouens wat tans in sulke verhoudings betrokke is, is dat hulle maar net moet hoop iemand red hulle. Want hulle is self magteloos.

Opsie 2: Sien die vrou in ’n verhouding met ’n man wat haar fisies en emosioneel aftakel, as iemand met die vermoë om iets daaraan te doen. Sy sal waarskynlik slim te werk moet gaan en braaf moet wees om haarself en moontlik haar kinders te beskerm, maar sy hét die vermoë en die mag om haar lewe te verbeter. Dis goeie nuus vir vrouens wat tans in so ’n verhouding vasgevang is. Maar die boodskap aan die vrou wat in die verlede in so ’n verhouding was, en net losgekom het omdat haar man tot afsterwe gekom het, of op een of ander manier aan die pen gery het, is dat sy iets aan haar situasie kón gedoen het – maar ongelukkig nooit so ver gekom het nie, omdat sy dalk altyd aan haarself gedink het as magteloos.

* * *

Siende dat ek reeds polities inkorrek is, en op sensitiewe tone trap, nog ’n vraag: Wanneer het die onderdrukking van die swart bevolking begin in Suid-Afrika? Biblioteke vol navorsing is al gedoen hieroor, en dalk sal my argument soos ’n eend uit die water geskiet kan word met die battery van artillerie-vuur van mense slimmer as ek.

Op hierdie punt moet ek ook duidelik maak dat ek spesifiek verwys na die swart stamme en ander swart groepe soos bekend was aan politieke leiers en blanke burgers in die agtiende en negentiende eeue.

Die geskiedenis van magspolitiek tussen wit mense en bruin mense in hoofsaaklik die Wes-Kaap, tussen wit mense en die San in aanvanklik die Suid- en Oos-Kaap, en tussen wit en Indiër-mense in oorspronklik KwaZulu-Natal, is anders as die geskiedenis tussen wit groepe en verskeie swart stamme en nasies. Slawe het in opstand gekom van tyd tot tyd. Die San het guerrilla-oorlog gevoer teen wit boere en gemeenskappe. Die Griekwas het bondgenootskappe gesmee met ander groepe en ook op hul eie in militêre konflik gekom met wit gemeenskappe.

Maar tussen wit en swart was daar ten minste ’n dosyn konflikte wat kwalifiseer as oorlog. Daar was die nege grensoorloë in die Oos-Kaap, en ’n paar opstande. Daar was drie oorloë tussen die Basotho’s en die burgers van die Vrystaat. Daar was etlike bloedige oorloë tussen die Voortrekkers en later burgers van die Transvaal en Natal, en die Ndebele onder Mzilikazi, en die Zoeloes onder Dingaan en later ander leiers. En dan was daar verskeie oorloë tussen Britse koloniale magte en die Ndebele, en teen die Zoeloes. Meeste van hierdie militêre konflik het tot ’n einde gekom teen 1880. Tot en met hierdie tyd het swart en wit teen mekaar geveg as gelykes. Mens kan wel argumenteer dat wit soldate gewere en kanonne gehad het, maar swart krygers het weer ander voordele aan hulle kant gehad, om nie te praat van die feit dat ook húlle gewere in die hande kon kry nie – en wel gebruik het, soos in die Anglo-Zoeloe Oorlog van 1879.

My punt hier is dat ek swaar sluk aan die narratief van die swart persoon in Suid-Afrika wat al vir 300 jaar ’n magtelose slagoffer is van wit oorheersing. Hierdie narratief het duidelik politieke waarde in die Suid-Afrika van die een-en-twintigste eeu, maar ek vind dit uiters vreemd wanneer mense die militêre mag van swart nasies in die agtiende en veral negentiende eeu afmaak as onbenullig. Het hierdie mense nog nooit beskrywings gelees van Xhosa- of Zoeloe-krygers nie? Het hulle nog nooit gelees van die militêre oorwinnings wat Mzilikazi en Moshoeshoe behaal het oor wit kommando’s nie?

My vraag is weereens: Die onderdrukking van swart deur wit wat so ’n kenmerk was van die Suid-Afrikaanse samelewing van die twintigste eeu – wanneer het hierdie hoofstuk begin in die konflik tussen wit en swart in Suidelike-Afrika? Ek reken die 1880’s is ’n goeie plek om te soek vir ’n antwoord.

My volgende vraag: Na ten minste ’n eeu van soms suksesvolle weerstand – waar gewapende kryger teen gewapende burger gestaan het, hoe het dit gebeur dat die onderdrukking van swart mense so omvattend deurgevoer is na 1880?

14:25

Ek sien nie swart mense in Suid-Afrika as lang-lydende historiese slagoffers nie. Daar was gebeure soos Sharpeville in 1960 en Soweto in 1976, en daar was regeringsbeleid soos die pasboeke en gedwonge verwyderings, maar dit was alles in die laaste honderd jaar. As ek dink aan historiese swart figure, sien ek die Xhosa-kryger op die Oosgrens; ek sien die imposante figure van Mzilikazi en Moshoeshoe; ek sien die intimiderende figuur van die Zoeloe-kryger op die groen heuwels van Natal; ek sien intellektuele soos Sol Plaatje en Steven Biko; ek sien politieke leiers soos Oliver Tambo, Nelson Mandela, Walter Sisulu, en hul eggenote Winnie Mandela en Albertina Sisulu.

Ek sien die periode 1880-1990 as ’n historiese anomalie waartydens ’n kritiese persentasie van swart volwassenes in Suid-Afrika skynbaar aanvaar het dat hulle tweedeklas burgers is van hul geboorteland, en waartydens ’n kritiese persentasie van swart volwassenes aanvaar het dat hulle kinders fabriekswerkers, tuiniers, padwerkers en huishoudelike helpers sal word eerder as ingenieurs, dokters, tandartse, wetenskaplikes en akademici.

______________________

’n Paar politieke paragrawe

VRYDAG 18 JANUARIE 2019

Uiteindelik, wat is “Swart”? Is dit velkleur? Is dit taal? Is dit kultuur? Sal ’n punt uiteindelik bereik word waar daar ’n Swart Hiërargie is? Waar jy 10/10 Swart is, of 7/10, of dalk net 5.5, en waar jy ’n minimum van 7.5 moet wees om te kan kwalifiseer vir die toe-eiening van eiendom en ander hulpbronne? Sal dit gebeur dat swart Suid-Afrikaners met die “verkeerde” opinies verwerp word as nie-regtig-swart nie? Historiese presedent is immers reeds geskep in Amerika (lees hier en hier), waar swart Amerikaners met konserwatiewe opinies, wat nié die Demokratiese Party ondersteun nie, volgens sommige liberales (insluitende blanke liberales) geag word as verraaiers tot hulle ras, en as uitgeworpenes uit die gemeenskap van “ware” Afrikaan-Amerikaners.

DONDERDAG 31 JANUARIE 2019

Ek verstaan jong swart studente wat T-hemde dra met stellings soos, “Kill all whites!” (En weereens, vir die rekord, “verstaan” beteken nie “keur goed” nie. Dit geld soveel meer in hierdie geval.) Ek dink nie dis net woede jeens witmense nie. Hulle is verward oor hul eie ouers, en die geslagte wat voor húlle gekom het. Dis asof hulle wil sê: “Explain it to us again: Why didn’t you push back harder against a minority government despite having numbers on your side – and the power of your labour! Why wasn’t your resistance more robust?”

VRYDAG 1 NOVEMBER 2019

’n Betekenisvolle persentasie swart Suid-Afrikaners in die laat-negentiende eeu en grootste deel van die twintigste eeu het geval vir die “confidence trick” van Wit Opperheerskappy (soos vele eertydse burgers van die Boererepublieke ook geval het vir die prag en praal van die nuwe Britse en Engelssprekende elite na die Tweede Vryheidsoorlog). En hulle kinders en kleinkinders is vandag kwaad, en ontvanklik vir rassistiese politiek – “Kill the white man” en so aan, onder andere omdat hulle skaam is vir hulle ouers en grootouers se goedgelowigheid.

______________________

Positiewe sielkunde en politiek

Behoort alle idees krities ondersoek te word? Is daar idees –gedagtes wat jou kop binne skiet – wat, die oomblik wat dit vorm aanneem, onderdruk moet word in vrees en paniek dat iemand dalk in jou oë kan sien wat jy besig was om te dink?

VRYDAG 29 MAART 2019

11:31

As volwassene is jyself verantwoordelik vir jou eie selfbeeld. As volwassene is jyself verantwoordelikheid vir hoe jy oor jouself dink. Daar is uitsonderings, soos mense met ernstige verstandelike gebreke, maar die meerderheid van die bevolking val nie onder hierdie uitsonderings nie. Dit lei tot ’n voorlopige konklusie dat mense verantwoordelik is vir hulle eie ingesteldheid en denkpatrone. Wat alles goed en wel is indien ingesteldheid en denkpatrone nie juis veel van ’n impak het op die kwaliteit van jou bestaanservaring nie.

Akademiese navorsing (sien Daniel Kahneman se Thinking, Fast and Slow, en The Happiness Advantage van Shawn Achor; Malcolm Gladwell se Outliers het ook interessante voorbeelde) dui aan dat hoe jy aan jouself dink, hoe jy dink oor jou plek in die wêreld, hoe jy dink aan die moontlike impak wat jy kan maak in die wêreld, hoe jy dink aan jou waarde in die omgewings waar jy jou bestaan voer, hoe jy dink aan jouself in verhoudings met ander mense, hoe jy dink aan jou talente en vermoëns, ’n radikale effek het op jou gedrag, op wat jy doen, op hoe jy leef, op jou verhoudings, en uiteindelik, op die resultate van jou aksies en gedrag.

Vraag een is dus: Maak dit saak hoe jy aan jouself dink?

Vraag twee: Kan jy as volwasse verantwoordelik gehou word vir hoe jy dink aan jouself?

Vraag drie: Indien dit saak maak hoe jy dink aan jouself, en jy as volwassene verantwoordelik gehou kan word vir hoe jy dink aan jouself, tot watter mate is jy verantwoordelik vir jou eie posisie in die samelewing?

Vraag vier: Indien dit saak maak hoe mense dink aan hulleself, en volwassenes verantwoordelik gehou kan word vir hoe hulle dink aan hulleself, en hulle derhalwe tot ’n groot mate verantwoordelik is vir hulle eie posisies in die samelewing, tot watter mate is volwassenes verantwoordelik vir hulle eie onderdrukking deur die staat?

En vraag vyf: Beteken hierdie gedagtes wat die gevolg is van vrye denke relatief onbeperk deur reëls oor wat ek mag sê en dink en skryf dat ek nou aan die kant van die onderdrukker is? Beteken hierdie vrae dat ek nou glo daaraan dat die boelie ’n reg het om te regeer – omdat hy sterker is as die een onder sy voet, of onder sy vuis? Is dit nie redelike vrae nie? Mag ’n mens nie redelike vrae vra as die antwoorde polities ongemaklik is nie?

Siende dat ek nie kan verwag dat enige iemand dit op hulleself sal neem om my vrae te beantwoord nie, sal ek dit self moet doen. Die feit dat ek beskuldig sal word dat ek X, Y of Z is, beteken inderdaad nie veel in die wêreld waarin ons leef teen die einde van die tweede dekade van die 21e eeu nie. Ek hoop nietemin dat ek eerlike antwoorde sal vind, en vir eens hierdie knaende onrustigheid tot ruste kan laat lê.

14:38

Vir die rekord, die idee van opperheerskappy van enige etniese, ras- of kulturele groep is absurd. Hoekom sal dit beter wees as mense van ’n bepaalde ras, taal- of kultuurgroep regeer? Enige wese van die buitenste ruim wat meer as twee minute op hierdie planeet spandeer, sal weet dat in enige ras, taal- en kultuurgroep daar mense is met verskillende uitkyke op die lewe, verskillende idees oor hulself, verskillende idees oor ander mense, en verskillende idees oor hoe die wêreld regeer moet word – waarvan sommige idees beter en meer effektief is as ander. Om te beweer dat die lede van een ras, taal- of kultuurgroep moet regeer ten spyte van al hierdie, en ander verskille, is werklik heel onintelligent … om die minste te sê.

My fokus is op mense se beskouings van hulself, hoe hulle inpas in hul omgewings, hul verhoudings met ander mense, en wat hulle behoort te doen om gelukkige en vrugbare lewens te lei. As sekere idees goed blyk te wees na deeglike oorweging, as sekere beskouings ’n groter waarskynlikheid toon om resultate te produseer waarby meeste mense baat kan vind, waardeur die grootste hoeveelheid mense geluk kan vind, maak dit sekerlik sin om hierdie beskouings ernstig te oorweeg, dan nie? En as tien mense, of honderd mense, of tien duisend mense, of twintig miljoen mense saamstem met hierdie idees, kan dit tog lei tot omgewings en omstandighede waarbinne ’n groot persentasie van die bevolking hulle bestaan kan voer in vrede en ’n redelike mate van welsyn en geluk, dan nie?

______________________