Wat is die ideologiese basis van hoe jy dink?

MAANDAG 20 APRIL 2020

16:00

Wat is die ideologiese basis van wat jy dink, sê of skryf, of wat jy glo of argumenteer?

Vir sommige mense is dit ’n oortuiging dat ons in ’n ongelyke, onregverdige wêreld woon, en dat dit almal se morele verantwoordelikheid is om alles in hul vermoë te doen om dinge meer gelyk en meer regverdig te maak. Mense wat vanuit hierdie basis argumenteer, deel mense op in groepe: primêre oortreders asook medepligtiges aan onreg; slagoffers van onreg; en mense (soos hulleself) wat voorheen medepligtig was aan onreg, of wat reken dat hulle voordeel getrek het uit onreg, maar wat nou probeer om alles beter te maak – en om op te maak vir die sondes van hul voorgeslagte.

My ideologiese basis is dat volwassenes wat nie ly aan verstandelike gebreke nie, vry agente is wat verantwoordelik is vir hul eie lewens. Dit sluit in die seun van ’n welgestelde industrialis, asook die arm dogter van ’n skoenskoonmaker wat grootgeword het in ’n krotbuurt. Natuurlik het hierdie twee individue grootgeword in radikaal verskillende omgewings, met verskillende programmerings, met verskillende idees en gevoelens oor die wêreld en hulle plek in die wêreld, en oor hulle toekoms. Is die arm persoon ’n slagoffer van omstandighede? Ja, sy is. Het sy steeds die vermoë om elke dag besluite te neem – van klein besluite wat sal akkumuleer tot ’n betekenisvolle verbetering in haar lewe, tot groot besluite wat op die kort-termyn ’n radikale verskil aan haar lewe sal maak? Om te glo dat sy nié hierdie vermoë het nie, is om haar te sien as ’n patetiese kind wat nie sal oorleef as sy nie gehelp word deur mense wat méér het as sy nie.

21:49

Sê ek jy moet jou skouers optrek en vir die persoon in die slegte situasie sê, “Jou saak. Ek het nie vir jou gesê jy moet vlug uit jou stad wat uitmekaar geskeur is deur vegtende groepe nie”? Nee, wat ek sê is dit: Help enige een om uit ’n brandende gebou te kom – geen diskriminasie nie; nie in terme van velkleur, politieke opinie, of godsdiens nie. En as jy uit die gebou is en dis binne my vermoë om bystand te verleen, sal ek vir jou skuiling en kos en water gee, en wat jy ook al nodig het om weer op jou voete te kom.

Maar van Oomblik Nommer Een af gaan ek na jou kyk as ’n volwassene wat in staat is om berge te versit as die wil daar is. En as die wil nie daar is nie, en jy besluit om eerder op die langtermyn afhanklik te wees van ander mense se goedheid, sal ek die argument maak dat beperkte hulpbronne eerder gebruik moet word om ander mense uit brandende geboue te red.

Feit is, ek sien mense as fantastiese kreature wat ongelooflike dinge kan vermag as hulle besluit hulle gaan iets doen. Ek glo dat ons tot ’n groot mate ons eie realiteit skep, en dan hierdie realiteit ervaar en gevoelens het daaroor. Daar is mense wat kyk na sekere individue en hulle sien as patetiese kreature wat gered moet word en na wie daar omgesien moet word. Ek sien mense wat soms uit ’n brandende gebou gehelp moet word, maar dan slegs ondersteun moet word om voort te gaan om verantwoordelikheid te neem vir hulle eie lewens. En as hulle nie verantwoordelikheid wil neem vir hulle eie lewens nie, is dit hulle saak, nie myne nie.

* * *

As iemand aan my deur klop op ’n besonders koue nag en vra vir skuiling, en ek weet daar is nie ’n fasiliteit vir hierdie doel in die buurt nie, sal ek vir die persoon ’n warm bed aanbied, kos en iets om te drink, en plek in die sitkamer sodat hy saam kan TV kyk. As ek uiteindelik sien dat dit nie vir net een dag gaan wees nie, sal ek verduidelik dat indien die persoon in ons huis gaan aanbly, dit volgens ons huisreëls sal wees. Voorbeelde van reëls sal insluit watter tyd ligte afgesit sal word en almal stil raak, en die volume waarteen musiek geluister kan word. Redelike goed; niks drakonies nie. Indien die persoon die reëls ignoreer – byvoorbeeld deur tot in die vroeë oggendure te sit en TV kyk, of tot na middernag luid gesprekke op die telefoon te voer, sal ek weer die reëls verduidelik. As hy steeds weier om saam te werk, sal ek hom die deur wys. Hoekom? Omdat hy my en my huishouding nie respekteer nie. Omdat hy nie glo dit is sy verantwoordelikheid om sy eie lewe beter te maak nie.

Hier’s ’n alternatiewe scenario: Ek bied hom skuiling. Teen die einde van die eerste week noem hy dat hy sien ek vat twee keer per week die rommel uit, en hy bied aan om dit van dan af te doen. Of hy merk op dat ek elke dag uitgaan om aandete te gaan koop, en noem dat hy kan kook, en dat as ek vir hom X-hoeveelheid geld gee, hý supermark toe sal gaan om bestanddele te koop en vir almal in die huishouding kos sal kook elke dag. Indien hy ook die huisreëls respekteer, is die kans baie goed dat hy sal kan aanbly tot hy voel dinge is weer van so ’n aard dat hy kan terugkeer waar hy vandaan gekom het, of tot hy gereed is om sy eie plek te kry. Ook dan sal ek hom help waar ek kan – as hy my hulp benodig.

Dit is ook moontlik dat hierdie persoon godsdienstig is. Kom ons sê hy’s ’n Moslem, en ek let op dat hy vyf keer per dag na sy kamer toe gaan, ’n mat ooprol op die vloer, en bid. Ek sal dit respekteer en seker maak ek steur hom nie in daai tyd nie. Indien hy egter aandring dat my vrou en dogter hulle koppe moet bedek wanneer ons almal uitgaan, sal ek dit duidelik maak dat dit nie ons gebruik is nie. As hy antagonisties raak daaroor, kan hy vir hom ander blyplek gaan soek – dieselfde dag nog.

WOENSDAG 22 APRIL 2020

Watse tipe ideologie gee die meeste hoop aan ’n jong man in, sê, El Salvador, of Afganistan? Die ideologie wat sê, jy is verantwoordelik vir jou eie lewe, en dat jy in staat is om jou eie geluk, welstand, en positiewe toekoms te skep … of die ideologie wat die jong man probeer oortuig dat sy dilemma nie sý skuld is nie, dat hy ’n slagoffer is van strukturele rassisme, dat ryk mense, of wit mense, of mense met meer mag as hy, hom geluk, welstand en ’n positiewe toekoms skuld?

As ek daai jong man was, sou ek eersgenoemde ideologie vat enige dag van die week. Ek sou oor die grens probeer sluip in die middel van die nag, en as ek in Texas aangekom het, of in Arizona of Kalifornië, of in Italië, Duitsland of Engeland, sou ek alles in my vermoë doen om uit die moeilikheid te bly; ek sou wegbly van kriminele groepe; ek sou ’n werk probeer kry, en geld spaar. Sou ek ’n vrou ontmoet en ons hou van mekaar, sou ek met haar trou en saam met haar ’n klein besigheid begin. Dit is wat ek sou kon doen as ek geglo het ék is verantwoordelik vir my eie lewe, en dat ek die vermoë het om my eie welstand en welvaart te skep.

Sou daar ontberinge gewees het? Natuurlik. Sou daar struikelblokke gewees het? Ja. Maar ek sou my kop en energie gebruik het om ontberinge te oorleef en struikelblokke te oorkom. Sou ek weer opeindig in El Salvador of Afganistan as die owerhede my vang en my deporteer, soos dit hulle reg is om te doen? Dit sou altyd ’n moontlikheid gewees het. Maar sou ek steeds eerder die kans wou waag om te glo in my eie vermoëns om ’n goeie lewe te skep? Beslis. Sou ek dit verkies eerder as om te glo ander mense skuld my iets en in tussentyd moet ek wag vir politieke drukgroepe om ’n goeie lewe vír my te bewerkstellig? Definitief.

______________________