Die gevolge daarvan as jy glo aan verantwoordelikheid vir jou eie lewe

MAANDAG 13 JANUARIE 2020

Om verantwoordelikheid vir jou eie lewe te neem is, hoe meer ek daaraan dink, ’n uiters gevaarlike opinie om te huldig in die “Politically Correct/Crazy Culture War” Era.

As jy verantwoordelikheid vir jouself trek na sy logiese konklusies, was die slaaf deels verantwoordelik vir sy eie slawerny, en was sogenaamde nie-blanke groepe in Suid-Afrika deels verantwoordelik vir hulle eie lyding en soms miserabele lewens tydens die pre-1994 era.

Natuurlik het die slawe-eienaar die gesag van die koloniale establishment aan sy kant gehad. Maar as ons net kyk na die geskiedenis van slawerny in Noord- Amerika en die Karibiese Eilande, hét duisende slawe hulle vryheid geëis, en het in vele gevalle die res van hulle aardse bestaan uitgeleef as nie-slawe – al moes hulle altyd op die uitkyk wees vir vyande wat hulle terug wou voer na slawerny (sien die Rewolusie in Haïti, en die Maroons in Jamaika).

Die apartheidstaat was ook magtig, en talle sogenaamde nie-blankes wat hulleself verset het teen die blanke staat, is vermoor – soms op brutale wyse. Maar daar was ten minste agt nie-blankes vir elke een blanke in die dekades voor 1994! As nie-blankes in meer betekenisvolle getalle geweier het om toe te laat dat blanke politieke leiers aan hulle dikteer hoe en waar en saam met wie hulle moes leef, wat kon die blanke staat en die blanke minderheid wat hulle ondersteun het, gedoen het? Sommige mense sê dat daar ’n bloedbad sou wees, tien of honderd keer erger as Sharpeville in 1960 of Soweto in 1976. Maar was geweld die enigste oplossing? Indië gedurende die Britse koloniale era is ook ’n interessante geval: Hoe het minder as 200 000 Britse soldate en amptenare geslaag daarin om ’n bevolking van meer as 200 miljoen Indiërs te onderwerp aan hulle gesag?

Is daar ’n middeweg tussen, “Ek is nie in beheer van my eie lewe nie en is derhalwe ’n slagoffer van enige een wat sterker is as ek, of wat my oortuig dat hy sterker is as ek” aan die een kant, en aan die ander kant, “Oor my dooie liggaam sal ek jou toelaat om baas te speel oor my”?

Dit voel steeds asof ek vasgevang is in ’n polities en sosio-kulturele dilemma. Ek glo dat ek, as ’n relatief intelligente volwassene, tot ’n groot mate verantwoordelik is vir hoe ek my bestaan ervaar. Ek glo verder dat alle relatief intelligente volwassenes tot ’n groot mate verantwoordelik is vir hoe hulle húl bestaan ervaar. Maar indien dit waar is, hoe op aarde kan ek voortgaan om te glo dat 80% van die bevolking van Suid-Afrika voor 1994 slagoffers was?! Was my ouers en ander witmense voor hulle dan so asemrowend magtig? Watse tipe toorkuns het hulle beoefen?!

Ek glo talle kinders en kleinkinders van mense wat swaargekry het voor 1994, omdat hulle swart of bruin of Indiër was, het reeds wys geraak tot die waarheid: dat die witman en -vrou nie regtig so magtig was nie. Dat hulle ouers en grootouers en ander voorsate nie hard genoeg teruggedruk het toe die blankes terme dikteer het nie. ’n Kritiese persentasie swart, bruin en Indiër Suid-Afrikaners het die gedikteerde terme merendeels aanvaar, en gehoop ’n wonderwerk gebeur in die toekoms wat hulle sou red. Ek glo dat talle kinders en kleinkinders van swart en bruin en Indiër Suid-Afrikaners wat swaargekry het voor 1994 diep in hulle binneste kwaad is vir hulle ouers en hulle ouers se ouers, maar omdat hulle lief is vir hulle, skep hulle ’n karikatuur van witmense wat makliker gekritiseer kan word, wat makliker gestenig kan word, en op wie se skouers al die skuld gepak kan word.

Nagedagtes

Dinsdag 28 Julie 2020

Een: Daar was inderdaad talle voorbeelde in Suid-Afrikaanse geskiedenis van individue en organisasies, net in die periode 1910 tot 1990, wat besef het watse groot probleem sielkunde was – dat ’n betekenisvolle persentasie wit mense geglo het dit was hulle reg om te regeer oor ander groepe, en dat ’n betekenisvolle persentasie nie-wit Suid-Afrikaners ook geglo het dat dit so moes wees. Hierdie mense en organisasies het begryp dat opvoeding ’n sleutel is tot ’n beter toekoms, dat daar toegepas moet word wat Marcus Garvey (1887-1940) geskryf het: We are going to emancipate ourselves from mental slavery, for though others may free the body, none but ourselves can free the mind.” Een van die grootste proponente van beter ingesteldheid was Steven Biko (1946-1977). Geen wonder dat die apartheidstaat hom uit die weg wou ruim nie. Daar was ook talle pogings om duisende mense betrokke te kry in veldtogte teen die apartheidstaat, insluitende in nie-gewelddadige optogte en protesaksies. Aan die einde hét apartheid tot ’n einde gekom, en ’n meer demokratiese bestel het dit vervang. Hoekom? Omdat ’n kritiese persentasie van die wit bevolking aanvaar het dat hulle nié ’n reg het om te regeer oor ander groepe nie, en ’n kritiese persentasie van swart, bruin en Indiër Suid-Afrikaners het dit gesien as ’n ondermyning van hulle regte om nie te kan kies wie oor hulle regeer nie. ’n Massiewe sielkundige skuif onder al die bevolkingsgroepe van Suid-Afrika moes dus plaasvind voor die realiteit vir almal kon verander. Teen 1994 het hierdie skuif plaasgevind, en die realiteit het verander.

Twee: Wit mense wat aksies geneem het wat ander Suid-Afrikaners se hoop en pogings om goeie lewens te lei, aktief belemmer het (onder andere Nasionale Party politici, staatsamptenare wat regeringsbeleid uitgevoer het, en lede van die sekuriteitspolisie), was feilbare mense wat posisies van mag bekom het, en wat dag na dag geleer het dat hulle wegkom met die misbruik van hulle mag. ’n Betekenisvolle hoeveelheid het geglo hulle saak is goed – stryd teen Kommunisme, en derhalwe vir die Christelike geloof en Westerse beskawing. Talle van hierdie wit agente van die apartheidstaat, hierdie uitvoerders van ’n moreel korrupte ideologie, was andersins goeie mense – mense wat lief was vir hulle eggenote en kinders, en wat goeie seuns en dogters was vir hulle bejaarde ouers. Hierdie is die kompleksiteit wat ek nie kan ignoreer nie wanneer mense ’n vereenvoudigde geskiedenis voorlê waar een kant magtige euwel monsters was, en die ander kant arme magtelose slagoffers wat maar net kon hoop vir ’n beter dag.

Woensdag 29 Julie 2020

1. Daar’s hierdie idee wat ’n mens soms kry – van mense wat ly en kla, maar nie genoeg doen om hul omstandighede te verander of om hulle lot te verbeter nie. Later, wanneer ander mense hul omstandighede vir hulle verander het, is hulle geneig om ’n vertelling te bevorder wat die feit verberg dat hulle nie meer inisiatief geneem het om hulle eie lot te verbeter nie.

2. Ek glo in die enorme kapasiteit van die individu – en as genoeg lede saamwerk, die kollektiewe vermoë van die gemeenskap – om hul omstandighede en hul eie ervaring van die werklikheid te verbeter. Dikwels misluk mense om dit te doen. Maar erken dit dan. Om ’n vertelling te bevorder wat jouself, of die etniese, kulturele of sosio-politieke groep waarvan jy lid is, uitbeeld as arm slagoffers, doen ongelooflike skade aan jou eie persepsie van die vermoë wat jy het om jou omstandighede en jou ervaring van die werklikheid te verbeter. Watse boodskap stuur jy aan jonger mense wat nog idees vorm oor waartoe hulle in staat is? Te veel mense kies woede teen een of ander almagtige groep wat op een of ander manier politieke, ekonomiese, en kulturele mag gemonopoliseer het en dit al dekades of selfs eeue volhou. Is hierdie mense kragtige towenaars? Beoefen hulle ’n ander-wêreldse toorkuns? Die kans is groot dat jy hulle mag en vermoë oordryf ten einde jou eie swak rekord om beter te doen, te versteek.

Sondag 16 Augustus 2020

Ek kom weereens terug na hierdie stuk toe, want dis maklik om te misverstaan – of dalk het ek myself nog nie duidelik genoeg gemaak nie.

So, hopelik net nog een laaste keer, drie punte:

1. Afrikaners, en ander witmense in Suid-Afrika in die periode voor 1994, het wel politieke, ekonomiese, en militêre mag gehad, maar hulle mag was nie onbeperk nie. ’n Aanvaarding – vir alle praktiese doeleindes, al het mense nie daarvan gehou nie – van die politieke en sosiale orde gedurende apartheid, en voor dit, onder al die bevolkingsgroepe van Suid-Afrika, was die kragtigste instrument in die hande van die wit regering.

2. Die aanvaarding en gebruik van ’n slagoffer-identiteit is minder waardevol as om te aanvaar dat wat ook al met jou of jou familie gebeur het, dalk nie sou gebeur het as jy harder probeer het om dit te vermy nie – as jy meer verantwoordelikheid aanvaar het vir jou eie situasie. Nou – niemand hoef aan my uit te wys dat dit klink soos “victim blaming” nie. Daar is nooit enige kwessie van minder blaam plaas op die oortreder, en meer blaam plaas op die slagoffer nie. Die oortreder is skuldig, en verdien om gestraf te word vir wat hulle aan ’n ander mens gedoen het. Oortreders moet verantwoordelikheid neem en die gevolge aanvaar vir hulle dade. Maar as die slagoffer niks kon gedoen het om hulle pyn en lyding te vermy of te verminder nie, is hulle een honderd persent slagoffer – een honderd persent magteloos. Dit is die hoogste vlak van slagofferskap. Iemand het met jou lewe gemors, en daar was niks – niks! – wat jy daaraan kon doen nie. Dit is tragies dat daar elke dag sulke gevalle is in elke land, en elke stad en dorp en somtyds plaas en gehuggie in die wêreld. Dit is wat gebeur met kinders wat afhanklik is van volwassenes vir beskerming, en om goeie besluite te neem. Dit is ook wat gebeur met ou mense wat nie meer in beheer is van hulle eie lewens nie. Hierdie tipe slagofferskap is verskriklik, want nie net behels dit pyn en lyding en verlies nie, dit herinner jou ook elke dag wat jy daaraan dink dat jy absoluut magteloos was om enige aspek daarvan te verander. Mense kan my kritiseer soveel as wat hulle wil, maar ek aanvaar eenvoudig nie dat miljoene volwasse swart en bruin en Indiër Suid-Afrikaners voor 1994 een honderd persent magtelose slagoffers was nie. Kinders, ja. Maar sodra jy oud genoeg is om in beheer te wees van jou eie bewegings en besluite, het jy keuses. Duisende slawe het tydens die periode van slawerny in die Westerse kolonies besluit om te ontsnap. Miljoene het besluit om eerder op die plantasie te bly omdat die risiko te groot was. Daar is mense wat beweer dat om te sê hulle het besluit om te bly, impliseer dat hulle gekies het om slawe te wees. Ek sê: ten minste sien ek hulle as rasionele mense wat keuses gemaak het, al was die opsies beperk. Ek sien hulle nie as breinlose liggame nie. Ek sien hulle as mense wat voor ’n verskriklike keuse gestaan het, en die minder lewensbedreigende opsie gekies het. Was daar egter slawe wat die sosiale orde aanvaar het as godgegewe waar hulle slawe is, en witmense hulle meesters? Ek glo daar was talle mense met hierdie ingesteldheid wat uiteindelik bevry moes word van hulle “mental slavery”. Om ’n mate van verantwoordelikheid te aanvaar vir jou situasie in die verlede, is bemagtigend. Dit sê aan die een wat oor jou baas gespeel het, dat hy of sy nie regtig so magtig was soos hulle gedink het hulle was nie. Dit sê: “My eie mislukking om harder terug te druk, of meer effektief terug te druk, het dit makliker gemaak vir jou. Moenie my meer as ’n slagoffer sien nie, want die ander kant van die muntstuk is dat ek moet erken jy was slimmer, sterker, en magtiger as ek.”

3. Ek het vriende en familie wat hulleself sien as geallieerdes van die lydende swart man en vrou. ’n Swart man of vrou se sukses word gevier wanneer ’n soortgelyke sukses nie gevier sal word indien die persoon wit was nie. Hierdie ding om te kyk na ’n persoon, en aan sy of haar velkleur, of geslag, of seksuele oriëntasie af te lei dat hulle slagoffers is van iemand anders se persoonlike mag, is vir my ondraaglik – ondraaglik! En as jy luister na wat talle swart mense sê, vind hulle dit ook ondraaglik, en beledigend. Ek kan nie op hierdie oomblik ’n spesifieke swart persoon aanhaal wat dit in soveel woorde gesê het nie, maar ek is seker daarvan die volgende sentiment is wydverspreid onder swart mense wat hierdie tendense volg: “Moenie my as ’n slagoffer sien nie. Jy en jou voorsate was nie regtig so magtig nie. Ek – en my voorsate, het foute gemaak, en het nie hard genoeg, of slim genoeg terug gedruk nie.”

______________________