Positiewe sielkunde en politiek

Behoort alle idees krities ondersoek te word? Is daar idees –gedagtes wat jou kop binne skiet – wat, die oomblik wat dit vorm aanneem, onderdruk moet word in vrees en paniek dat iemand dalk in jou oë kan sien wat jy besig was om te dink?

VRYDAG 29 MAART 2019

11:31

As volwassene is jyself verantwoordelik vir jou eie selfbeeld. As volwassene is jyself verantwoordelikheid vir hoe jy oor jouself dink. Daar is uitsonderings, soos mense met ernstige verstandelike gebreke, maar die meerderheid van die bevolking val nie onder hierdie uitsonderings nie. Dit lei tot ’n voorlopige konklusie dat mense verantwoordelik is vir hulle eie ingesteldheid en denkpatrone. Wat alles goed en wel is indien ingesteldheid en denkpatrone nie juis veel van ’n impak het op die kwaliteit van jou bestaanservaring nie.

Akademiese navorsing (sien Daniel Kahneman se Thinking, Fast and Slow, en The Happiness Advantage van Shawn Achor; Malcolm Gladwell se Outliers het ook interessante voorbeelde) dui aan dat hoe jy aan jouself dink, hoe jy dink oor jou plek in die wêreld, hoe jy dink aan die moontlike impak wat jy kan maak in die wêreld, hoe jy dink aan jou waarde in die omgewings waar jy jou bestaan voer, hoe jy dink aan jouself in verhoudings met ander mense, hoe jy dink aan jou talente en vermoëns, ’n radikale effek het op jou gedrag, op wat jy doen, op hoe jy leef, op jou verhoudings, en uiteindelik, op die resultate van jou aksies en gedrag.

Vraag een is dus: Maak dit saak hoe jy aan jouself dink?

Vraag twee: Kan jy as volwasse verantwoordelik gehou word vir hoe jy dink aan jouself?

Vraag drie: Indien dit saak maak hoe jy dink aan jouself, en jy as volwassene verantwoordelik gehou kan word vir hoe jy dink aan jouself, tot watter mate is jy verantwoordelik vir jou eie posisie in die samelewing?

Vraag vier: Indien dit saak maak hoe mense dink aan hulleself, en volwassenes verantwoordelik gehou kan word vir hoe hulle dink aan hulleself, en hulle derhalwe tot ’n groot mate verantwoordelik is vir hulle eie posisies in die samelewing, tot watter mate is volwassenes verantwoordelik vir hulle eie onderdrukking deur die staat?

En vraag vyf: Beteken hierdie gedagtes wat die gevolg is van vrye denke relatief onbeperk deur reëls oor wat ek mag sê en dink en skryf dat ek nou aan die kant van die onderdrukker is? Beteken hierdie vrae dat ek nou glo daaraan dat die boelie ’n reg het om te regeer – omdat hy sterker is as die een onder sy voet, of onder sy vuis? Is dit nie redelike vrae nie? Mag ’n mens nie redelike vrae vra as die antwoorde polities ongemaklik is nie?

Siende dat ek nie kan verwag dat enige iemand dit op hulleself sal neem om my vrae te beantwoord nie, sal ek dit self moet doen. Die feit dat ek beskuldig sal word dat ek X, Y of Z is, beteken inderdaad nie veel in die wêreld waarin ons leef teen die einde van die tweede dekade van die 21e eeu nie. Ek hoop nietemin dat ek eerlike antwoorde sal vind, en vir eens hierdie knaende onrustigheid tot ruste kan laat lê.

14:38

Vir die rekord, die idee van opperheerskappy van enige etniese, ras- of kulturele groep is absurd. Hoekom sal dit beter wees as mense van ’n bepaalde ras, taal- of kultuurgroep regeer? Enige wese van die buitenste ruim wat meer as twee minute op hierdie planeet spandeer, sal weet dat in enige ras, taal- en kultuurgroep daar mense is met verskillende uitkyke op die lewe, verskillende idees oor hulself, verskillende idees oor ander mense, en verskillende idees oor hoe die wêreld regeer moet word – waarvan sommige idees beter en meer effektief is as ander. Om te beweer dat die lede van een ras, taal- of kultuurgroep moet regeer ten spyte van al hierdie, en ander verskille, is werklik heel onintelligent … om die minste te sê.

My fokus is op mense se beskouings van hulself, hoe hulle inpas in hul omgewings, hul verhoudings met ander mense, en wat hulle behoort te doen om gelukkige en vrugbare lewens te lei. As sekere idees goed blyk te wees na deeglike oorweging, as sekere beskouings ’n groter waarskynlikheid toon om resultate te produseer waarby meeste mense baat kan vind, waardeur die grootste hoeveelheid mense geluk kan vind, maak dit sekerlik sin om hierdie beskouings ernstig te oorweeg, dan nie? En as tien mense, of honderd mense, of tien duisend mense, of twintig miljoen mense saamstem met hierdie idees, kan dit tog lei tot omgewings en omstandighede waarbinne ’n groot persentasie van die bevolking hulle bestaan kan voer in vrede en ’n redelike mate van welsyn en geluk, dan nie?

______________________