Jy is verantwoordelik vir wat met jou gebeur

WOENSDAG 2 JANUARIE 2019

Ek koop aandete; ry oor die straat op my fiets. ’n Blou trokkie blokkeer die ingang na die stegie waarin ek wil af ry. Ek ry óm die trokkie, wetende dat ek versigtig moet wees want ek kan nie sien wie in die stegie afgery kom aan die anderkant van die trokkie nie. Soos ek om die trokkie kom, is daar wel ’n man op ’n bromponie wat teen ’n stink spoed in my rigting ry.

Ek dink: As ek en hierdie ou gebots het, het ek die bestuurder van die blou trokkie blameer.

Dink ek ook: Nee. Dit sou jóú skuld gewees het. Dit is jóú verantwoordelikheid om sulke risiko’s te oorweeg en reg te hanteer.

Soos gedagtes rondskiet in ’n mens se brein, kom die volgende gedagte: Stel jouself voor jy vat hierdie idee verder, en verklaar dat jy altyd verantwoordelik is vir wat met jou gebeur. As iemand by jou huis inbreek in die middel van die nag wanneer jy en jou familie slaap, is jý verantwoordelik daarvoor. Hoe? Jy kon jou huis beter beveilig het. As jy gekaap word op pad huis toe, is jý verantwoordelik daarvoor. Hoekom was jy daai tyd van die dag op daai plek? Watse teen-maatreëls het jy in plek gehad? Indien jy wel teen-maatreëls in plek gehad het, was dit duidelik nie voldoende nie.

Dit raak erger. As jy aangerand word laat in die nag … hoekom het jy nie ’n wapen gehad by jou nie? Hoekom was jy alleen, op daai plek? Hoekom het jy nie selfverdedigingstegnieke toegepas nie? Indien jy nie enige selfverdedigingstegnieke ken nie, hoekom nie?

Dit klink asof ’n mens met hierdie gedagtegang die boosdoener wil kwytskeld van sy kwaad. Geensins nie. As die man of vrou wat aangeval word in die straat byvoorbeeld die aanvaller se testikels vergruis en hy nooit kinders kan verwek nie, is dit ook omdat hy sý verantwoordelikheid teenoor homself nie nagekom het nie. As hy gearresteer word, en hy tronk toe gaan, en hy word in die tronk seksueel gemolesteer deur ander gevangenes, kan hy net homself blameer daarvoor.

Die skrikwekkende aspek van hierdie manier van dink, is dat jy besef jy kan nie sommer net iemand anders blameer vir jou eie ongeluk, of swaarkry nie. Dink jy daaroor vir ’n sekonde, en jy besef dat dit ook beteken dat jy veel meer mag in jou hande het as wat jy dalk gedink het. Die persoon wat bang is hulle word aangerand, kan onmiddellik begin kyk na wapens wat op hulle persoon gedra kan word – van ’n pistool tot peperspuit. Die gesinsman of -vrou wat hulle huis en familie beter wil beveilig, het die vermoë om veel beter te doen as wat hulle waarskynlik tans doen. En die man of vrou met kriminele intensies wat nie seksueel gemolesteer wil word in die tronk nie, het die vrye wil om nie oor te gaan tot kriminele dade nie.

Dink op hierdie manier, en jy dink uiteindelik aan jouself as ’n agent van verandering, as iemand met die vermoëns om tot ’n groot mate die wêreld te herrangskik op ’n wyse wat jou pas. Dit beteken ook dat jy die karakter ontwikkel om verantwoordelikheid te aanvaar wanneer ’n mindere mens iemand anders sou blameer.

WOENSDAG 9 JANUARIE 2019

Presies ’n week later …

SONDAG 27 JANUARIE 2019

Nog ’n insig verkry na ’n situasie in die verkeer …

’n Mens raak maklik gevul met bitterheid oor iets, of dinge, wat ander mense aan jou doen. En elke keer wat iemand iets aan jou gedoen het, en daarmee weggekom het, voel jy nóg meer magteloos. En nog meer gevul met bitterheid.

“Dis jou verantwoordelikheid,” kom die frase weer laat vanmiddag by op – spesifiek as vermaning dat ek nader aan die kant van ’n nou stegie moet stap sodat een van die roekelose bromponiebestuurders my nie plat ry nie.

Besef ek: Elke keer wat jy dink iets wat iemand anders kwansuis aan jou gedoen het, was jóú verantwoordelikheid, neem jy mag weg van die ander persoon, en gee dit aan jouself. Jy gee jouself ook meer verantwoordelikheid, om eerlik te wees, en meer geleentheid om geblameer te word vir ’n situasie. Maar jy gee jouself ook meer mag om jou eie lewe te skep soos dit jou behaag, en meer mag om jouself te beskerm van wat jou bedreig.

______________________

Oor godsdiens, en die waarde voorsien deur ’n legende

SONDAG 30 DESEMBER 2018

11:00

Vanoggend ’n artikel gelees wat argumenteer dat God verbeelding is – nie soos verbeelding nie, maar dat God in werklikheid Verbeelding is.

Elk geval, die deel waarvan ek op daai oomblik meer gehou het, was die skrywer se sortering van godsdiens met wetenskapfiksie, spookstories, en astrologie: “I was expelled from the Paradise of innocence that long ago summer, but imagination never abandoned me. It sank underground throughout my teen years in a voracious appetite for reading, especially science fiction, and hooked itself tenaciously to anything in popular culture that left it room to breathe — religion, ghost stories, astrology, the New Age …”

Dit het my herinner dat mense wat gelowig is, selfs in die mees tradisionele wyse, ’n versugting het na iets meer – iets verder as hierdie soms vervelige, soms eentonige, soms verskriklike, en soms hartseer lewe. Ek kan selfs insien hoe so ’n tradisioneel gelowige persoon iemand wat glad nie glo in God nie, sien as iemand sonder ’n verbeelding, selfs dat so ’n persoon bekrompe is.

Hierdie is ’n positiewe beskouing van godsdiens – dat dit kreatief is, kenmerkend van ’n persoon met ’n lewendige verbeelding.

My probleem met godsdiens soos ek dit ken, en soos dit aan my as kind geleer is, is die sterk assosiasie met voorskrifte en doktrine, waaraan eenvoudig geglo móét word as jy ewige verdoemenis wil vryspring. Hierdie manifestasie van godsdiens is allesbehalwe kreatief – dit sê immers ’n vet rooi, waarskuwende “Nee!” vir enige iets wat buite die lyne beweeg. Dit vereis wel verbeelding. Dit vra dat jy jou kop (of jou “hart”) moet oopmaak en bereid moet wees om te glo in iets wat jy nie kan sien nie. Dit vereis egter dat jy jou verbeelding nét genoeg moet gebruik om te kan aanvaar wat die sogenaamde heilige tekste voorskryf, of wat die gesaghebbendes in die geloofsgemeenskap jou leer om te glo. Gee jy jou verbeelding vrye teuels, soek jy moeilikheid. Die “waarheid” is immers reeds “geopenbaar” – hoekom wonder oor dinge wat net probleme kan veroorsaak?

16:11

Dis ’n bewolkte dag, met die temperatuur in die lae twintigs. Ek is in Kaohsiung se West Bay (Sizihwan) – ongeveer 25 minute se fietsry van ons woonstel af, by die National Sun Yat-Sen Alumni House – op die kaai wat oor die Straat van Taiwan kyk. Behalwe vir die see, sluit my uitsig ook in die groot rots met die ligtoring op die piek – volgens my een van Kaohsiung se beste natuurlike besienswaardighede, die berg by die universiteit, en ’n verskeidenheid mense.

Ek peusel aan klein tamaties, ’n piesang, en ’n filo-deeg koekie met botter en suiker in die binnekant wat ’n student Donderdagaand vir my gegee het. Met my nuwe wit oorfone op my kop, het ek eers geluister na twee Wealth & Mindset praatjies, en toe na Bruce Springsteen se Darkness on the Edge of Town.

Alles in ag genome, is dit my beste Sondag-uitry van die jaar.

* * *

Die tweede praatjie waarna ek geluister het, het gepraat van waarde wat ’n mens moet lewer as jy geld wil maak.

Soos ek toe daarna na die eerste twee Springsteen snitte luister, onthou ek wat ek gelees het oor wat resensente geskryf het oor hom toe sy debuut-album verskyn het in die vroeë sewentigs: dat sy lirieke herinner aan Bob Dylan, en sy sangstyl aan Van Morrison. Daar was dus nog nie Springsteen soos mense hom vandag ken nie, net iemand wat soos een bekende sanger liedjies geskryf het, en soos ’n ander bekende sanger gesing het.

Wat het hy gedoen? Hy’t aangehou liedjies skryf, en aangehou sing, en uiteindelik sy eie plek in die son gevind.

Wat het egter van hom ’n legende gemaak, om nie te praat van miljoene dollars nie? Hy het oor en oor en oor waarde geskep vir mense wat betaal het om hom te sien optree. Hy’t stories vertel. Hy’t sy hart uit gesing. Anders as sommige groepe of sangers, het hy nie net uitgekom op die verhoog en sy vyftien of twintig liedjies gesing en weer verdwyn nie – hy sou aand na aand vir drie of vier ure lank konsert hou. En aand na aand het konsertgangers gevoel hulle ervaar iets spesiaals.

Dit is wat Springsteen gegee het vir mense. En dit het nie net van hom ’n kreatiewe en kommersiële sukses gemaak nie, dit het van hom ’n legende gemaak.

______________________

Oor tyd, skryfwerk, gedagtes, boeke, my pa, en tradisie

WOENSDAG 5 DESEMBER 2018

Chris Rempel, ’n bemarker op wie se nuusbrief ek ingeteken was jare gelede, sê die volgende oor tyd: “[In] business, focus as much on earning time as you do on earning money. And when the money does come in, use it to further guard your time by choosing investments that aren’t ‘jobs in disguise’.”

Wat dit vir my sê, is dat ’n mens amper as ’n saak van roetine moet kyk na die ure wat jy spandeer elke dag, en ’n gesprek met jouself moet hê wat lyk soos die volgende:

“Is daar enige manier hoe ons daai uur kan bevry?”

“Watter uur?”

“Daai ene, tussen 18:00 en 19:00. Is daar ’n manier hoe ons iemand anders kan betaal om te doen wat ons dán doen? Of, is daar nie ’n beter manier om te doen wat ons dan doen nie? Of is daar nie ’n ander manier hoe ons dieselfde resultaat kan kry (heel waarskynlik geld) deur iets te doen wat minder van ons tyd opneem nie?”

SATERDAG 8 DESEMBER 2018

Waaroor gaan my skryfwerk?

Ek het ’n diepgesetelde behoefte om myself te verstaan, en so ook die wêreld waarin ek my daaglikse bestaan voer, en om soveel as moontlik te maak van die een lewe wat ek het.

Dan, wanneer ek reken ek het iets uitgesorteer, of tot een of ander insig gekom, het ek ’n sterk behoefte om dit te deel met mense. Om te skryf het nog altyd geregistreer in my kop as ’n goeie manier om dit te doen.

WOENSDAG 12 DESEMBER 2018

Ek sal uiteindelik kan sê die proses om finansieel onafhanklik te raak, was genotvol, stimulerend, vervullend, en uiters interessant, omdat feitlik alles wat ek gelees het, en toegepas het, neergekom het daarop om myself te verbeter.

DONDERDAG 13 DESEMBER 2018

Eerste samehangende gedagte na ek vanoggend wakker geword het: “Ek moet ‘net redelik’ verander na ‘steeds redelik’.” (In verwysing na ’n titel, “Het ek die rooi pil gesluk, of is ek net redelik?”)

Hier’s ek nou, ’n paar ure later, en ek dink steeds dis ’n goeie idee. Maar het ek regtig die idee gekry die oomblik toe ek wakker geword het? Ek glo nie. Ek dink dit was gister al in my gedagtes, maar te veel ander gedagtes het dit blokkeer. Toe ek vanoggend wakker word, was daar geen blokkasie nie – en die idee was as’t ware ontbloot.

Moet wees hoekom baie mense goeie dinge sê oor meditasie.

SATERDAG 15 DESEMBER 2018

Ek kan wat ek hierdie jaar geleer het oor finansiële sake opsom onder drie hoofde:

Een: Finansiële intelligensie: Wat is geld? Hoe bestuur banke werklik hulle besigheid? Waar en hoe moet jy jou geld belê?

Twee: Tegniese aspekte daarvan om geld te maak te ontvang: Om ’n besigheid te begin, volg hierdie stappe … of, om handel te dryf op die finansiële markte, begin hier …

Drie: Welstand ingesteldheid – sorteer onder Positiewe Ingesteldheid/Positiewe Sielkunde

Neem dit in ag wanneer jy boeke oor persoonlike finansies oorweeg. Min boeke dek meer as een van hierdie areas.

DINSDAG 18 DESEMBER 2018

My pa ís uiteindelik my held. Ten spyte van terugslae wat baie ander mans oor die afgrond sou gestoot het, het hy eenvoudig homself elke keer opgetel, en aangehou stap. Dit is hoe ek wil wees. En nie net het hy aangehou stap nie, hy doen dit met vreugde. En nie met vals vreugde omdat hy glo hy moet die skyn voorhou nie – dis ’n hardnekkige vreugde.

DONDERDAG 20 DESEMBER 2018

Ek lees Nagmaalsnaweek deur die jare van Prof. Bun Booyens. Ek besef weereens: Die godsdiens van die Afrikaner behels heelwat tradisie – om die waarheid te sê, heelwat volkstradisies van die Afrikaner is godsdienstig van aard.

Dit volg dus dat toe ek die godsdienstige oortuigings van my jeug laat vaar het, ek ook afstand gedoen het van belangrike tradisies van die kulturele groep waarbinne ek gebore en getoë is.

Watse alternatief het ek egter gehad? Tradisie is belangrik – sonder dit vind ’n mens dit moeiliker om jouself verbind te voel met jou voorsate. Maar hoe kon ek voortgaan om die godsdienstige tradisies van my voorsate te eerbiedig as die metafisiese onderbou daarvan nie meer vir my geloofwaardig was nie? Ek meen, is oneerlikheid ’n tradisionele waarde?

______________________

Moet ’n mens negatiewe nuus vermy?

VRYDAG 7 DESEMBER 2018

Ek voel altyd dat ’n mens moet weet wat aangaan in die wêreld, sodat jy voorbereid is daarvoor as iets sleg gebeur, of as iemand oor jou pad kom wat jou skade wil aandoen. As jy net fokus op die positiewe, gaan jy immers so onvoorbereid wees op die negatiewe as wat die Maya of Inkas was toe Europeërs met hulle gehoes en geproes by hulle kuste aan wal gestap het 500 jaar gelede.

Feit is egter dat daar elke dag miljoene slegte dinge gebeur – letterlik, miljoene slegte dinge. Geweld word gepleeg tussen mense agter geslote deure; roof en moord word gepleeg; aanvalle word geloods op niksvermoedende mense; een persoon of groep boelie ’n ander persoon op die internet, of by die skool, op by die werk, of op die speelgrond; mense bedrieg ander mense uit hulle hardverdiende spaargeld uit. Dit wat ’n mens sien op die een of twee nuuskanale wat jy kyk, of die een of twee koerante of webwerwe wat jy besoek, is ’n druppel in die emmer. As jy dan op hoogte wil bly van slegte dinge wat gebeur, hoekom tevrede wees met ’n druppel in die emmer? Hoeveel dink jy gaan daai druppel jou voorberei daarvoor as jy in ’n situasie is waar jy die slagoffer kan word van ’n boosaard?

Die ander ding is dit: As jy fokus op positiewe mense, en positiewe omgewings, is die kans goed dat jy in elk geval mense wat jou skade wil aandoen, gaan vermy sover as moontlik, en jouself heel waarskynlik nié gaan begeef in omgewings waar risiko hoog is dat iets sleg gaan gebeur nie.

Aan die einde kan jy nie alles beheer wat met jou gebeur nie. Ons almal is tot ’n mate vasgevang in ’n tuimeltreinrit. Of sal ek eerder sê, ons almal is vasgevang in een of ander tuimeltreinrit. ’n Mens het wel ’n keuse waar jy sit, en jy hét soms ’n baie goeie idee watse tuimeltrein watse tipe draaie maak.

’n Nuwe jaar is amper op ons voorstoep, so dis dalk ’n goeie tyd vir ’n voorneme: Gaan deur jou sosiale media, en deur ander bronne van inligting wat jy deur die loop van die dag onder oë het, en maak skoon wat jou nie help om ’n beter lewe te skep en te lei nie. En, meer spesifiek vir myself, dalk is minder nuus tydens ontbyt ook glad nie so ’n slegte idee nie.

______________________