Een miljoen dollar in drie jaar

Oftewel: Hoe om een miljoen Amerikaanse dollar te spaar in drie jaar – in minder as 300 woorde

MAANDAG 14 JANUARIE 2019

Stap een: Spandeer ses maande om te leer hoe om ’n Internet-gebaseerde besigheid oop te maak wat gemiddeld $20 000 netto wins per maand oplewer. (Jy kan jouself ’n jaar of langer gee, en dan sal dit jou ’n jaar of langer vat. Gee jouself presies ses maande, en jy sal dit leer in ses maande.)

Stap twee: Handhaaf jou bestaande bron van inkomste, en jou bestaande leefstyl. Bestuur die besigheid vir twee jaar. Maak seker jy hou rekord van al alles wat jy doen, al die geld wat jy spandeer om besoekers te trek na jou besigheid toe, en alle ander besigheidsuitgawes. Plaas al die wins in iets soos ’n Money Market rekening.

Stap drie: Verkoop die besigheid met bewys van 24 maande se netto wins van gemiddeld $20 000 per maand, teen 30 keer die gemiddelde maandelikse netto wins. Dit behoort jou te gee $600 000. Die maandelikse wins wat jy weggesit het vir twee jaar, behoort ten minste $480 000 te wees (siende dat dit heel waarskynlik rente geloop het). Jy sal ongeveer 15% moet betaal aan kommissie om die besigheid deur ’n professionele span te laat verkoop, wat jou behoort te gee $510 000 plus die $480 000 in die bank, vir ’n totaal van net onder die een miljoen Amerikaanse dollar (nie in ag genome die rente wat jy verdien op die geld wat jy elke maand belê het nie).

Makliker gesê as gedaan? Wat jy ook al sê, is waar vir jou.

Ekstra notas:

Die besigheid móét gebaseer wees op die Internet, anders gaan die groep potensiële kopers aansienlik kleiner wees as wat jy nodig het. Die besigheid gaan heel waarskynlik beteken dat jy iets moet verkoop – ’n diens, digitale produkte, of fisiese produkte (wat jyself nooit hoef te hanteer of te verskeep nie).

WOENSDAG 23 JANUARIE 2019

Geld is nie ’n skaars hulpbron waaroor ’n mens in ’n toestand van vrees moet verkeer nie. Geld is ’n oplossing tot ’n probleem.

(“Mits jy geld het,” kom ’n stem na die applous bedaar het.)

SONDAG 27 JANUARIE 2019

Gestel ek wen die Britse Lotery, of ek kry ’n skitterende idee in my slaap, werk daaraan vir ’n paar maande en verkoop dit vir ’n miljoen dollar, of ’n skatryk eksentrieke oom waarvan ek nooit geweet het nie, noem my in sy testament nadat hy tot afsterwe gekom het in sy kasteel in die suide van Duitsland, wat sal ek doen met die geld? Wat sal ek doen met een miljoen Amerikaanse dollar? (Ek ignoreer vir eers die onaangename feit dat ’n mens ’n deel aan die regering sal moet afstaan.)

Een: Spandeer tien persent ($100 000) om ’n paar mense en diere se lewens beter te maak.

Twee: Spandeer vyf persent ($50 000) om ’n paar items aan te skaf wat ek nodig het, en/of wat my lewe gemakliker sal maak, en gaan op vakansie vir twee of drie weke (niks uitspattig nie – goedkoop hotelle, openbare vervoer, en so aan).

Drie: Spandeer vyf persent ($50 000) om my eie vermoëns en vaardighede uit te brei en te verbeter, om onder andere die waarskynlikheid te verbeter om te kan voortgaan om ’n inkomste te genereer oor die volgende paar dekades.

Vier: Spandeer drie persent ($30 000) op twee of drie besigheidsprojekte om ’n aktiewe inkomste te verseker, met die opsie om die ondernemings te verkoop na ’n paar jaar en die opbrengs te herbelê.

Vyf: Hou twee persent ($20 000) in ’n rekening vir aktiewe handeldryf op enkele markte.

Totaal gespandeer: $250 000

Totaal bedrag oor: $750 000

Ses: Spandeer tien persent ($75 000) op goudmuntstukke, silwer muntstukke en silwerstawe.

Sewe: Hou dertig persent ($225 000) in kontant (dollar, euro, Chinese juan, en Taiwan dollar), en in bankrekeninge.

Agt: Belê twintig persent ($150 000) in eiendom – nie ons eie residensiële eiendom nie, maar eiendom wat óf in waarde sal toeneem, óf wat inkomste kan genereer.

Nege: Belê vyf persent ($37 500) in ’n fynkunsbeleggingsfonds.

Tien: Belê tien persent ($75 000) in een of ander fonds wat belê in finansiële tegnologie en natuurlike hulpbronne.

Elf: Belê vyf persent ($37 500) in een of ander hoë-risiko, hoë-opbrengs fonds.

Twaalf: Belê tien persent ($75 000) in hoë-kwaliteit effekte.

Dertien: Belê tien persent ($75 000) in aandele – spesifiek natuurlike hulpbronne, mynbou, energie, en tegnologie.

Vir in geval hierdie uiteensetting verbasend ingewikkeld lyk vir iemand met bitter weinig ervaring in hierdie sake, moet ek byvoeg dat ek inspirasie geput het uit twee boeke in besonder: T. Harv Eker se Secrets of the Millionaire Mind, en James Rickards se The Road to Ruin: The Global Elites’ Secret Plan for the Next Financial Crisis.

(Nog notas volg dalk. Noemenswaardig in afwesigheid is ’n sogenaamde noodfonds, en melding van indeksfondse – wat deur vele kenners beskou word as ’n redelike veilige belegging.)

______________________