Suid-Afrika is die land van my geboorte, kinderdae, jeug, en vroeë volwasse jare. Asië, en meer spesifiek Taiwan, is waar ek die res van my lewe sover spandeer het.
Suid-Afrika het vir my gegee taal, en al die ander boustene van identiteit – kultuur; verbintenis met die geskiedenis van ’n bepaalde groep mense; aanvanklike voorkeure in spys en drank; idees oor wie en wat ek is en veronderstel is om te wees, en wat ek veronderstel is om te doen as volwassene, of ’n idee oor die opsies wat geag word as redelik en aanvaarbaar vir ’n volwassene om te doen met sy of haar lewe. Taiwan het vir my gegee die vrymoedigheid om te kyk na ander opsies, wat insluit ’n taal wat ek kon bemeester vir daaglikse gebruik wat ek nooit in die eerste twee dekades van my lewe gedink het ek ooit sou leer nie; aspekte van kultuur wat ek eerstehands kon aanskou en waarneem, en kon oorweeg om te inkorporeer in my eie lewe; ander tipe disse en metodes van voedselvoorbereiding as waarmee ek groot geword het, en meer vryheid om idees na te streef oor wie en wat ek is, en om ’n wyer spektrum te oorweeg van opsies wat redelik en aanvaarbaar is vir ’n volwassene om te doen met sy of haar lewe.
Kan dit gesê word dat ek vervreemd raak van die land van my geboorte?
Ek woon al meer as 20 jaar in Taiwan, en meer as 22 jaar in Asië. Sal mense na my kyk en vir ’n oomblik dink ek is ’n Asiër? Nie waarskynlik nie. Nie eens as ek nog 20 jaar in Taiwan, of elders in Asië woon nie. Ek eet wel meestal Taiwannese kos. Ek dink nie eens twee keer daaroor om my skoene uit te trek voor ek by ’n huis instap nie. Ek gee nie om as mense naby aan my staan in die ry by die supermark nie, en ek volg dieselfde gebruik deur nader te staan aan ander mense as wat meeste Westerlinge dink aanvaarbaar is gegewe Westerse idees oor persoonlike spasie. En ek verstaan wel steeds nie meeste van wat nuuslesers op TV aframmel in Chinees nie, maar ek kan genoeg Chinees lees om uit die subtitels te verstaan wat aangaan. En ek kan aan ’n Taiwannese polisie-offisier my weergawe van ’n insident vertel in Chinees tot so ’n mate dat hy verstaan dat ek nie die een is wat gearresteer moet word nie.
Sal ek nou kan terugtrek Suid-Afrika toe en sonder om ’n noot te mis, saam kan praat met ander landsburgers oor Suid-Afrikaanse sake van die dag? Nee. Die kulturele skok om terug te wees in die land van my geboorte, my jeug en my vroeë volwasse jare, sal waarskynlik erger wees as die skok wat ek ervaar het toe ek 23 jaar gelede in Asië aangekom het. Die sin vir persoonlike veiligheid wat ’n mens het in Taiwan sal my weerloos en paranoïes laat in Suid-Afrika. Die kloof tussen ryk en arm in Suid-Afrika is ook dramaties anders as in Taiwan. Die ryk verskeidenheid van tale en kulturele gebruike in Suid-Afrika is nog iets waaraan ek nie meer gewoond is nie. Ook wát ek as wit Suid-Afrikaner mag sê vir wie, en hoe ek dit behoort te sê, is ’n area waar ek aanvanklik verkeerd sal trap. (In Taiwan word ek nie gesien as lid van ’n voorheen bevoorregte groep nie, so ek hoef nie versigtig te wees hoe ek praat met mense om te verhoed dat ek nie iemand te na kom nie.) [Vir in geval jy nie die skakel volg nie, ek verwys na sommige wit mense wat reken wit Suid-Afrikaners moet anders praat met swart Suid-Afrikaners as wat hulle gewoonlik sal praat met mense, om sodoende seker te maak hulle kom nie swart mense te na nie.]
Ek vind ook deesdae dat ek films wat afspeel in Noordoos-Asië, oor Taiwannese of Japannese of Koreane of Chinese, geniet op ’n manier wat dalk net moontlik is as jy self persoonlike ervaring het met Taiwannese mense, of Japannese of Koreane of Chinese, en met die dominante kulture van hierdie lande. En ek het onlangs weer besef, veral nadat ons dele van Taiwan gesien het wat ons nog nooit gesien het nie, dat ek gemaklik is met die idee om die res van my lewe op hierdie bergagtige eiland deur te bring.
Ek is in Suid-Afrika gebore, en ek het dáár die boustene ontvang vir die mens wat ek steeds is amper vyf dekades later. My ouers en my twee susters en hulle gesinne woon ook steeds daar. Ek het steeds ’n sterk belangstelling in Suid-Afrikaanse geskiedenis. En hoewel ek definitief ’n voorkeur ontwikkel het vir veral Taiwannese groentedisse wat gesonder is as die groente met botter en suiker en room wat voorberei word in Suid-Afrikaanse kombuise, beplan ek steeds om ’n gesonde porsie poeding en ander nagereg te geniet wanneer ek weer my familie besoek oor ’n paar maande.
Ek is steeds ’n Suid-Afrikaner gebore en getoë, maar daar is geen twyfel daaroor dat Taiwan deesdae die plek is waarna ek terugverlang as ek vir langer as ’n paar dae weggaan nie. En dis nie net omdat my vrou en lewensmaat ook hierdie plek huis noem, en ons twee katte geen ander huis ken as ons sin nie.
Dink weer gisteraand daaraan: die indruk en gepaardgaande programmering wat ek gekry in my jeug, en tot onlangs nooit gekorrigeer het nie, dat geldmaak nie net ’n stryd moet wees nie, maar ook dat die resultaat van my pogings in elk geval nooit goed genoeg gaan wees nie. Toe ek argumentsonthalwe die vraag vra (aan wie? my onderbewuste?) van wanneer ek dit dan sou “maak”, het die antwoord onmiddellik en duidelik soos daglig deurgekom: Nooit.
’n Skrikwekkende insig, uiteindelik ontbloot toe ek toevallig die regte woorde in die regte volgorde dink.
Nodeloos teen hierdie tyd om te noem dat dit alles ’n misverstand was. Dit hóéf nie ’n stryd te wees om geld te maak nie. Jy kan, soos enige ander persoon wat die regte stappe neem, gepaste resultate kry. Dit werk immers vir my wanneer ek die regte stappe neem met my gesondheid, en dit het immers gewerk vir my toe ek die regte stappe geneem het toe ek iemand ontmoet het van wie ek baie gehou het.
Wat betref gesondheid en verhoudings het ek as jongmens redelike goeie programmering en blootstelling gekry, en weinig weerstand sou ek ’n ander rigting wou gaan – my ouer suster het byvoorbeeld kort na hoërskool vir ’n tyd lank besluit sy’s ’n vegetariër, en ek het waargeneem dat daar nie veel teëspraak van my ouers af was nie. My programmering oor persoonlike finansies en geldmaak was egter ’n teksboek fokop.
Goed, min hiervan is nog nie uitgespel nie, so laat ek by die eintlike punt kom: Neem die regte stappe, en kry die gepaste resultaat. Neem nóg van die regte stappe, en beweeg nóg verder in die rigting waarin jy wil gaan. Nog regte stappe, nog regte aksies, nog gepaste resultate … tot jy onvermydelik ’n punt bereik wat net beskryf kan word as dat jy deurgebreek het na die ander kant toe. Soos jy staan op wat duidelik die oorkantse oewer is, sal jy dalk nog wonder wanneer presies dit gebeur het. Maar daar sal geen twyfel wees nie: Jy hét dit gemaak.
En dit geld nie net vir geldmaak nie, maar ook vir verhoudings, en vir gesondheid.
DONDERDAG 4 APRIL 2019
Ek het gerook vir veertien jaar lank. Siende dat ek in ’n tabakwinkel gewerk het in my vroeë twintigs en omring was deur geurige tabak elke dag, het ek begin deur pyp te rook. Later het ek deur ’n reeks sigarethandelsmerke gegaan wat ek gereken het my persoonlike identiteit bevorder het. Eers was dit Camel Lights, toe Gauloises Blondes, toe Marlboro Lights en uiteindelik Craven “A”. En toe, nadat ek in 2002 vir ’n paar weke hard probeer het om op te hou, voort gestook met ’n beter klas sigaret genaamd Nat Sherman.
Soos meeste gewoonterokers het ek geweet ek moes een of ander tyd die gewoonte oorkom. Ek het geweet dit sou nie maklik wees nie. Ek het regtig gehou daarvan om te rook. Daar was iets omtrent lus wees vir ’n sigaret, en dan na ’n ruk kry jy ’n geleentheid om weg te breek … jy haal ’n sigaret uit; jy skud die tabak styf; jy steek jou aansteker aan, en jy trek daai eerste teug rook in jou longe in. Saligheid! Ek was ook verwaand genoeg om myself te sien as ietwat verhewe bo mense wat gewone kafee-sigarette gerook het – ek het selfs my eie sigarette gerol.
Ek was eenhonderdpersent roker; daaroor was daar geen twyfel nie.
En toe, die dag na Kersfees 2008, het ek – weereens – stappe begin neem om die gewoonte af te skud. Ek het eers my oorblywende sigarette in ’n ou boeksak gegooi, saam met al my aanstekers, asbakkies, tabak, rollertjie, papiertjies, filters, en pype, en dit na my (toe) verloofde se woonstel geneem. Na ’n week, soos ek met myself ooreengekom het, het ek twee sigarette gerook. Toe twee weke niks, toe weer een (dalk twee). Ek het dalk weer teen die einde van Januarie ’n sigaret gerook, en toe het daar seker ses maande verbygegaan voor ek weer ’n pakkie gekoop het om ’n paar sigarette te geniet saam met vriende by ’n kuierplek een aand. Ek was egter streng oor een reël: Ek sou geen sigarette rook by die huis nie. Die pakkie sou in die yskas ingaan tot ’n volgende geleentheid. So het dit aangegaan – twee of drie sigarette wanneer ons elke paar weke saam met vriende uitgegaan het, maar niks op my eie by die huis nie.
Teen 2013 het daar ’n paar maande verloop wat ek geen sigarette gerook het nie. Toe ons weer een aand uitgaan, het ek besef ek het geen behoefte om saam met die rokers buite te staan en ’n dampie te slaan nie. Die idee aan die reuk aan my vingers, die smaak in my mond, die moontlike skielike styging van bloeddruk, die ligte gevoel in my kop – was net eenvoudig nie die ervaring werd wat ek voorheen so geniet het nie.
Dit was duidelik dat ek die ander kant bereik het. Ek was nie meer ’n roker nie. Die ander kant het my nuwe realiteit geword. Ek kon, as ek wou, verbaas gevra het: Wanneer het dit gebeur? Sou ek dit gevra het, sou ek kon antwoord: Onthou jy al daai stappe wat jy geneem sedert Kersdag 2008?
* * *
Nog een voorbeeld: Ek was vir ’n hele paar jare in my twintigs en vroeë dertigs op my eie – alleen, opgeskeep met my eie geselskap ook op tye wanneer ek regtig vroulike geselskap sou geniet het. Dit het gevoel asof dit my lot was in die lewe. Ek het so gewoond geraak daaraan dat ek myself nie kon verbeel dat ek ooit weer ’n vroulike teenwoordigheid in my lewe sou hê nie – met al die wonderlike voordele wat daarmee saamgaan. Ek het begin aanvaar dat ek aan een kant van die kloof was, en mense wat geluk gevind het met ’n ander persoon, aan die ander kant.
Toe ontmoet ek ’n vrou – ook van Suid-Afrika, ’n paar maande na sy in Taiwan aangekom het. Ek het van die eerste dag af geweet ek hou van haar. Maar sekerlik sou sy my nooit sien as enige iets meer as ’n vriend nie, het ek geglo.
Oor die volgende paar maande het ek haar nietemin beter leer ken, en tot my innige verbasing het ek tekens ontvang dat sy dalk net sou belangstel in meer as net vriendskap.
So het ek begin om stappe te neem om die konneksie tussen ons te omskep in iets meer. Soos enige iemand weet wat ooit gegaan het van “niks” na “definitief iets” met iemand anders, was daar ’n reeks “onderhandelinge”. Ek het die stappe gevolg en die onderhandelinge onderneem na die beste van my vermoëns.
En toe, eendag, was daar geen twyfel dat ek aan die ander kant van daai kloof was nie. Geen twyfel nie. Weereens kon ek na myself in die badkamerspieël kyk en vra: Wanneer het dit gebeur? Wanneer het hierdie my nuwe realiteit geword? Weereens sou ek kon antwoord: Onthou jy toe jy haar na ’n paar weke weer gesien het, en na die tyd gebel het en voorgestel het dat julle die volgende dag – ’n Sondag – ontmoet vir koffie? Onthou jy die ander afsprake en ontmoetings oor die volgende paar weke en maande? Onthou jy dat jy ’n reeks aksies onderneem het met ’n sekere hoop in gedagte?
’n Kort beskrywing van ons Sondag-tot-Woensdag reis deur Noord-Taiwan
Hoewel ek al twintig jaar in Taiwan is, en my lewensmaat, Natasja, amper vyftien jaar, het ons saam nog nooit meer as ’n paar ure in Taipei, die hoofstad van Taiwan, gespandeer nie. So’t ons toe laat verlede jaar besluit om vir haar verjaarsdag hierdie maand ’n paar dae af te vat en Noord-Taiwan vir onsself te ontdek.
Ons reis het vroeg Sondagoggend begin met ’n 360-kilometer, 100-minuut reis op die hoëspoedtrein na Taipei.
Ons eerste avontuur het gevolg kort na ons in Taipei gearriveer het: om ’n uitgang uit die tonnels onder die stasie te vind in minder as een uur. Na ons uiteindelik weer sonlig gesien het, het ons die tien minute gestap na ons hotel om ons bagasie daar te los. Op pad het ek ontdek dat ons hotel so te sê reg langs die National Taiwan Museum is – wat ons toe besoek het nadat ons ’n vinnige draai by die hotel gemaak het.
Van daar is ons terug na die tonnels onder Taipei Main Station. Twintig minute of so later is ons in Shilin, om te gaan kyk na die amptelike eertydse woning van Chiang Kai-shek en Soong Mei-ling (of Madame Chiang, soos sy beter bekend was aan buitelanders) tussen min of meer 1950 en 1975. Die gebou het tydens die Japannese Koloniale Era gedien as die Shilin Horticultural Experimental Station, maar is oorgeneem deur die regering van die Republiek van China na hulle onttrek het na Taiwan in 1949. Hier het “old dictator Chiang” – soos Roger Waters hom noem op Amused to Death – onder andere die Amerikaanse president Dwight D. Eisenhower ontvang, asook toekomstige presidente Richard Nixon en Ronald Reagan.
Ons kon nie foto’s neem binne die huis nie, maar ek was aangenaam verras deur die plek. Die vertrekke is min of meer soos dit was in die tyd toe die Chiangs daar gewoon het – meubels in die styl van die 1950’s, klere, boeke, en ook ’n paar skilderye deur Dame Chiang. Dit was ’n kouerige, triestige dag in Taipei. Dit, die gedempte atmosfeer, en die feit dat die huis omring is deur bome en plante, het bygedra tot die indruk dat dit die tipe woning was waar ’n politieke leier vrede kon vind vir sy siel aan die einde van nog ’n dag waartydens sy opponente en kritici alles behalwe geluk en welsyn ervaar het.
’n Uur of wat na ons deur die woning en tuine gewandel het, het ons gearriveer in Danshui – een van die oudste distrikte in Taipei. Die distrik is geleë waar die Danshui-rivier in die Straat van Taiwan vloei. Dit was een van die redes hoekom die Spanjaarde 400 jaar gelede besluit het om hulle fort daar te bou, en hoekom eers die Hollanders en toe die Britte ook bakstene op dieselfde stuk grond opmekaar gepak het. Die woning wat die Britte gebou het vir hul konsulaat in 1891 staan steeds. Die fort langsaan is op die plek waar die Spanjaarde ’n fort gebou het in 1628, voor hulle dit afgebreek het in 1642 om te verhoed dat die Hollanders dit kon gebruik. Die Hollanders het die fort herbou, amptenare van die Qing Ryk het dit gerestoureer in 1724, en vanaf 1868 het die Britte dit gehuur. ’n Paar van die vertrekke in die voormalige konsulaat het uitstallings, maar nie veel om oor te skryf nie. Die fort het wel ’n paar figure om ’n mens ’n idee te gee van die mense wat op ’n stadium daar tyd verwyl het.
Nadat ons ’n draai gemaak het by die rivier, het ons by die heuwel opgestap in die rigting van Aletheia University. Die nou strate het gelei verby ’n paar interessante geboue, eetplekke met tradisionele geregte soos “Ah-Gei” – ’n uitgeholde blok tofu volgestop met rysnoedels, tot in Danshui Old Street met dosyne winkels en stalletjies langs die pad.
Aandete is genuttig by die Shilin Nagmark, een metro-stasie nader aan Taipei as waar ons gestop het vir die Ou Diktator se huis. Die nagmark was beslis anders as die markte waaraan ons gewoond is in Kaohsiung. Stalletjies was ineengeryg langs die besige straat wat langs die mark verbygaan, maar die res van die mark is geleë in stegies wat kruis en dwars oor ’n hele buurt strek. Daar was ’n paar winkels met klere, en skoene, en elektroniese items, maar meeste stalletjies en winkels het kos en drinkgoed verkoop – alles van gestoomde kluitjies en versuikerde vrugte, tot roomys gemeng met grondboontjiebotter tussen twee plaatkoekies, en diepgebraaide seekat.
Die volgende oggend kort na ontbyt is ons per trein Ruifang toe – omtrent veertig minute van Taipei af. Daar’t ons eers warm drankies geniet, en so teen 11:00 het ons vertrek op die Pingxi Line – ’n spoorlyn van so dertien kilometer wat deur agt eertydse myndorpies gaan. Die dorpies en omliggende areas is nou hoofsaaklik toeriste-attraksies. Verversings en groot papierlanterns waarop mense boodskappe skryf en dan lugwaarts stuur, is groot besigheid.
Kort na ons terugkeer na Ruifang, vind ons onsself op ’n bus wat teen malle spoed teen ’n bergpas opjaag op pad na Jiufen – asof die bestuurder wou wegkom van die naderende mis wat spoedig ons uitsig oor die Stille Oseaan sou belemmer.
Digte mis het dit ook moeiliker gemaak om ons volgende slaapplek te vind. Jiufen was eens bekend vir sy goudmyn. Dekades nadat al die goud uitgemyn is, is die dorpie weer uit sy slaap geruk toe dit gebruik is vir die milieu vir ’n bekroonde film in die laat tagtigs. Ons het ’n kamer bespreek op Airbnb, en om die plek te vind, het ek selfs ’n kaart uitgedruk. In realiteit kronkel die strate deur die mis, en die gebou wat ons moes vind, was nie eens in een van die strate op die kaart nie. Ek moes noodgedwonge my rekenaar uithaal om die PDF te lees met instruksies oor hoe om die plek te vind.
In by Jiufen Old Street met ons bagasie…
Af in die nou straatjie vol Japannese en Koreaanse toeriste, om ’n paar hoeke, tot ons by ’n tradisionele wynwinkel kom. Langs die winkel is ’n uitgang, met ’n stel trappe af in die mis …
Nog trappe, ’n tuin, ’n voetpaadjie …
… en uiteindelik, ons snoesige kamer.
Die res van die middag en die aand het ons deur die nou stegies gestap, aandete geëet, tee gedrink, soetgoed geniet, en nog foto’s geneem van die mense en die stegies en die mis.
Die volgende oggend het ek kort na ses wakker geword. Die mis het intussen gelig, so ek het ’n ent gaan stap, foto’s geneem van die huise teen die heuwelhange, en die Stille Oseaan nie meer as ’n paar kilometers weg nie. Warm koffie en piesangs gekry by die Family Mart, nog ’n paar foto’s geneem, en teruggegaan na ons kamer toe.
Teen 08:30 was ons by die busstop om terug te gaan na Ruifang, en vandaar ’n trein te vang na Yilan, ’n stad van omtrent ’n halfmiljoen mense op die ooskus van Taiwan. Die treinspoor loop langs die kus af vir omtrent vyftig kilometer, met onder andere ’n uitsig oor die vulkaniese Skilpad-eiland in die verte (wat volgens een bron net besoek kan word met ’n permit, en vroegtydige reëlings met ’n booteienaar).
Yilan is die poort na Taipingshan Forest Recreation Area, en daar is ’n paar warmwaterbronne in die omgewing, maar siende dat ons tyd beperk was, het ons net ’n paar besienswaardighede in die stad self besoek. Minder as twee ure na ons in Yilan gestop het, vertrek ons weer – dié keer Hualien toe, omtrent 100 kilometer verder suid. Kort na ons ons Airbnb opgespoor het, het ons die pad gevat na die Hualien Railway Culture Park – ’n gerestoureerde 1932 trein-depot met ’n handige model van ’n groot deel van die stad, vir in geval jy nie meer as ’n middag en ’n aand het om in die stad te spandeer nie. Aandete is genuttig by die Dongdamen nagmark. (Hualien se bekendste toeriste-attraksie is Taroko National Park, wat ons besoek het in November 2013.)
Ek is weer vroeg die oggend op, dié keer om twee besienswaardighede te gaan soek waarvoor ons nie die vorige dag tyd gehad het nie. Albei plekke was nog toe, maar ek kon darem sien wat ek sou mis. Die eerste een was ’n ou Japannese-era militêre fasiliteit, waar sommige Kamikaze-vlieëniers volgens oorlewering hul laaste sopie ryswyn weggesluk het voor hulle hul vliegtuie in die naaste Amerikaanse skepe ingevlieg het. Die ander was die Manor House, amptelike woning van ’n belangrike militêre figuur tydens die Japannese koloniale tydperk.
Terug by die kamer het ons seker gemaak al ons besittings is bymekaar, en toe gestap tot by die naaste McDonald’s vir ontbyt. Met dertig minute om te spaar, het ons aangemeld by Hualien-stasie vir ons vyf-uur-lange reis terug na Kaohsiung – al langs die ooskus af, en deur die berge wat die ruggraat vorm van hierdie skone eiland.
Behoort alle idees krities ondersoek te word? Is daar idees –gedagtes wat jou kop binne skiet – wat, die oomblik wat dit vorm aanneem, onderdruk moet word in vrees en paniek dat iemand dalk in jou oë kan sien wat jy besig was om te dink?
VRYDAG 29 MAART 2019
11:31
As volwassene is jyself verantwoordelik vir jou eie selfbeeld. As volwassene is jyself verantwoordelikheid vir hoe jy oor jouself dink. Daar is uitsonderings, soos mense met ernstige verstandelike gebreke, maar die meerderheid van die bevolking val nie onder hierdie uitsonderings nie. Dit lei tot ’n voorlopige konklusie dat mense verantwoordelik is vir hulle eie ingesteldheid en denkpatrone. Wat alles goed en wel is indien ingesteldheid en denkpatrone nie juis veel van ’n impak het op die kwaliteit van jou bestaanservaring nie.
Akademiese navorsing (sien Daniel Kahneman se Thinking, Fast and Slow, en The Happiness Advantage van Shawn Achor; Malcolm Gladwell se Outliers het ook interessante voorbeelde) dui aan dat hoe jy aan jouself dink, hoe jy dink oor jou plek in die wêreld, hoe jy dink aan die moontlike impak wat jy kan maak in die wêreld, hoe jy dink aan jou waarde in die omgewings waar jy jou bestaan voer, hoe jy dink aan jouself in verhoudings met ander mense, hoe jy dink aan jou talente en vermoëns, ’n radikale effek het op jou gedrag, op wat jy doen, op hoe jy leef, op jou verhoudings, en uiteindelik, op die resultate van jou aksies en gedrag.
Vraag een is dus: Maak dit saak hoe jy aan jouself dink?
Vraag twee: Kan jy as volwasse verantwoordelik gehou word vir hoe jy dink aan jouself?
Vraag drie: Indien dit saak maak hoe jy dink aan jouself, en jy as volwassene verantwoordelik gehou kan word vir hoe jy dink aan jouself, tot watter mate is jy verantwoordelik vir jou eie posisie in die samelewing?
Vraag vier: Indien dit saak maak hoe mense dink aan hulleself, en volwassenes verantwoordelik gehou kan word vir hoe hulle dink aan hulleself, en hulle derhalwe tot ’n groot mate verantwoordelik is vir hulle eie posisies in die samelewing, tot watter mate is volwassenes verantwoordelik vir hulle eie onderdrukking deur die staat?
En vraag vyf: Beteken hierdie gedagtes wat die gevolg is van vrye denke relatief onbeperk deur reëls oor wat ek mag sê en dink en skryf dat ek nou aan die kant van die onderdrukker is? Beteken hierdie vrae dat ek nou glo daaraan dat die boelie ’n reg het om te regeer – omdat hy sterker is as die een onder sy voet, of onder sy vuis? Is dit nie redelike vrae nie? Mag ’n mens nie redelike vrae vra as die antwoorde polities ongemaklik is nie?
Siende dat ek nie kan verwag dat enige iemand dit op hulleself sal neem om my vrae te beantwoord nie, sal ek dit self moet doen. Die feit dat ek beskuldig sal word dat ek X, Y of Z is, beteken inderdaad nie veel in die wêreld waarin ons leef teen die einde van die tweede dekade van die 21e eeu nie. Ek hoop nietemin dat ek eerlike antwoorde sal vind, en vir eens hierdie knaende onrustigheid tot ruste kan laat lê.
14:38
Vir die rekord, die idee van opperheerskappy van enige etniese, ras- of kulturele groep is absurd. Hoekom sal dit beter wees as mense van ’n bepaalde ras, taal- of kultuurgroep regeer? Enige wese van die buitenste ruim wat meer as twee minute op hierdie planeet spandeer, sal weet dat in enige ras, taal- en kultuurgroep daar mense is met verskillende uitkyke op die lewe, verskillende idees oor hulself, verskillende idees oor ander mense, en verskillende idees oor hoe die wêreld regeer moet word – waarvan sommige idees beter en meer effektief is as ander. Om te beweer dat die lede van een ras, taal- of kultuurgroep moet regeer ten spyte van al hierdie, en ander verskille, is werklik heel onintelligent … om die minste te sê.
My fokus is op mense se beskouings van hulself, hoe hulle inpas in hul omgewings, hul verhoudings met ander mense, en wat hulle behoort te doen om gelukkige en vrugbare lewens te lei. As sekere idees goed blyk te wees na deeglike oorweging, as sekere beskouings ’n groter waarskynlikheid toon om resultate te produseer waarby meeste mense baat kan vind, waardeur die grootste hoeveelheid mense geluk kan vind, maak dit sekerlik sin om hierdie beskouings ernstig te oorweeg, dan nie? En as tien mense, of honderd mense, of tien duisend mense, of twintig miljoen mense saamstem met hierdie idees, kan dit tog lei tot omgewings en omstandighede waarbinne ’n groot persentasie van die bevolking hulle bestaan kan voer in vrede en ’n redelike mate van welsyn en geluk, dan nie?
JY is beide die agent wat dosyne kere per dag besluit tussen twee of meer opsies, asook die resultaat van jou besluite, of keuses. Hierdie keuses mag relatief onbelangrik wees, soos om te besluit watter kleur T-hemp om te koop. Ander kere moet jy besluit of jy iemand is wat Demokraat stem of Republikein (in Amerika), of Konserwatief of Arbeid (in Brittanje), of African National Congress of Demokratiese Alliansie (in Suid-Afrika). Soms moet jy ook besluit of jy iemand is wat toelaat dat iets met jou gebeur, en of jy iemand is wat opstaan vir jouself en nié toelaat dat dit gebeur nie. Laat jy toe dat jy geïntimideer word deur iets, of besluit jy dat jy nie langer geïntimideer gaan word daardeur nie? Laat jy steeds toe dat iets wat iemand ’n lang tyd gelede aan jou gedoen het of vir jou gesê het, of die feit dat iemand jou oortuig het om sekere dinge te glo, ’n effek het op jou sienswyse en handelinge en gedrag, of besluit jy om ’n ander rigting in te gaan, en ander dinge te glo oor jouself? Is jy iemand wat glo jy is ’n slagoffer van wat aan jou gegee is met geboorte en in die eerste jare van jou lewe tot jy die vermoë ontwikkel het om vir jouself te dink en te besluit (nasionaliteit, kultuur, sosio-ekonomiese status, godsdienstige oortuigings), of glo jy dat jy ’n kreatiewe agent is wat tot ’n groot mate jou eie identiteit en jou eie lewe kan skep soos dit jou behaag?
* * *
Ontwikkelingsbioloog en selfverbeteringsghoeroe Bruce Lipton praat van programmering in jou psige wat soos ’n opname is wat terugspeel elke keer as ’n insident, of ’n gedagte, of iets wat iemand sê, die knoppie druk. Hy glo ook dat ’n mens in staat is om jou programmering te verander – om die opname te vervang met een wat meer ondersteunend is van wie en wat jy wil wees.
Die skrywer van You Are a Badass at Making Money, Jen Sincero, skryf dat ’n mens dinge moet doen om hierdie ou programmering – veral as dit nie ondersteun wat jy tans probeer doen in jou lewe nie – uit te daag; die ou programmering as’t ware moet dwing om uit ’n skuilplek te kruip en ditself te ontbloot.
En die skrywer van Trading in the Zone, Mark Douglas, skryf oor oortuigings dat dit vorms van gestruktureerde energie is. (Moet wees, argumenteer hy, want oortuigings, soos drome en herinneringe en ander gedagtes, bestaan nie uit atome en molekules nie.) Hy reken verder dat ons nie soseer oortuigings verander nie, as dat ons energie oordra van een konsep na ’n ander konsep – een wat ons meer waardevol sal vind in die proses om ons begeertes en ons doelwitte te vervul.
So gebeur dit dat ek dink aan dinge waarop ek geld spandeer het vanoggend – ’n kledingstuk, en ’n paar items vir ontbyt wat nie absoluut noodsaaklik is nie. Ek het ook ’n ligte middagete geniet in IKEA se kafeteria. Op pad huis toe dink ek toe aan die ongewone kwaliteit van my Vrydagoggend, en dat ek nie gewoonlik soveel geld spandeer as ek dit nie vooraf beplan het nie.
Ek kon amper hoor hoe my interne kassetspeler aanskakel. ’n Dekades-oue snit begin speel – oor iemand wat homself as inherent arm beskou en glo dat dit so behoort te wees.
Dis toe dat ek dink aan Bruce Lipton, Jen Sincero, en Mark Douglas, en wat hulle sê oor hoe ’n mens dink en optree. Ek kan so ’n negatiewe gedagte konfronteer, of ek kan die opname vervang met iets wat meer bruikbaar is.
Mark Douglas is baie spesifiek hieroor. Daai tipe gedagte sal heel waarskynlik altyd êrens in die gange van my brein vaskleef, en elke nou en dan sal dit ’n poging aanwend om gehoor te word. Wat ek kán en behoort te doen, is om ’n positiewer, nuttiger oortuiging te formuleer; die ou oortuiging te deaktiveer (of te ondermyn), en die nuwe oortuiging energie te gee. Wanneer ek dan weer per geleentheid die ou opname hoor, hoef dit nie veel reaksie te ontlok nie: Dit sal wees soos die blaf van ’n ou hond sonder tande.
* * *
Siende dat vele lesers waarskynlik nie bekend is met Mark Douglas se idees nie, ’n kort aanhaling uit ’n gedeelte van Trading in the Zone, getiteld, “The Primary Characteristics Of A Belief”:
“Beliefs seem to be composed of a type of energy or force that naturally resists any other force that would cause them to exist in any form other than their present form. Does this mean that they can’t be altered? Absolutely not! It just means that we have to understand how to work with them. Beliefs can be altered, but not in the way that most people may think. I believe that once a belief has been formed, it cannot be destroyed. In other words, there is nothing we can do that would cause one or more of our beliefs to cease to exist or to evaporate as if they never existed at all. This assertion is founded in a basic law of physics. According to Albert Einstein and others in the scientific community, energy can neither be created nor destroyed; it can only be transformed.
If beliefs are energy – structured, conscious energy that is aware of its existence – then this same principle of physics can be applied to beliefs, meaning, if we try to eradicate them, it’s not going to work. If you knew someone or something was trying to destroy you, how would you respond? You would defend yourself, fight back, and possibly become even stronger than you were before you knew of the threat. Each individual belief is a component of what we consider to be our identity.
Isn’t it reasonable to expect that, if threatened, each individual belief would respond in a way that was consistent with how all the parts respond collectively? The same principle holds true if we try to act as if a particularly troublesome belief doesn’t exist. If you woke up one morning and everyone you knew ignored you and acted as if you didn’t exist, how would you respond? It probably wouldn’t be long before you grabbed someone and got right in their face to try to force them to acknowledge you. Again, if purposely ignored, each individual belief will act in the very same way. It will find a way to force its presence into our conscious thought process or behavior. The easiest and most effective way to work with our beliefs is to gently render them inactive or nonfunctional by drawing the energy out of them. I call this process de-activation. After de-activation, the original structure of the belief remains intact, so technically it hasn’t changed. The difference is that the belief no longer has any energy. Without energy, it doesn’t have the potential to act as a force on our perception of information or on our behavior.” [my kursief]
Douglas voorsien dan ’n voorbeeld van eertydse oortuigings in Krismisvader en die Tandmuis wat nou onaktiewe, nie-funksionele oortuigings is. Hierdie oortuigings, verduidelik hy, bestaan steeds in sy brein as konsepte sonder energie. (Oortuigings is volgens hom ’n kombinasie van sintuiglike ervaring en woorde wat ’n energieke konsep vorm.) Sonder energie het die konsep nie meer die potensiaal om druk uit te oefen op die persepsie van inligting of op die persoon se gedrag nie. As iemand dus nou vir die volwasse persoon sê dat Krismisvader by die voordeur is, sal hy of sy dit afmaak as ’n grap. Sê dit vir ’n vyfjarige kind, en die woorde sal onmiddellik die kind verbind tot ’n reservoir van positief-gelaaide energie wat hom of haar sou dring om op te spring en na die deur toe te hardloop, met geen struikelblok te groot om te oorkom nie.
As volwassene het die persoon dus twee teenstrydige oortuigings oor die wêreld in sy kop: Een is dat Krismisvader bestaan, en die ander is dat Krismisvader nié bestaan nie. Die verskil tussen die twee oortuigings is natuurlik dat die eerste een so te sê geen energie het nie, terwyl die tweede oortuiging gelaai is met energie. Daar is dus geen funksionele konflik of kontradiksie nie.
Douglas glo dat indien een oortuiging gedeaktiveer kan word, enige oortuiging gedeaktiveer kan word. Die geheim tot die suksesvolle verandering van oortuigings is die begrip dat jy nie werklik jou oortuigings verander nie, maar slegs energie oordra van een konsep na ’n ander konsep wat meer waardevol is in jou pogings om jou begeertes te vervul of jou doel te bereik.
Aktiewe oortuigings is dus positief gelaai met voldoende energie om druk te kan uitoefen op jou persepsie van inligting, op jou gedrag, en op hoe jy jouself uitdruk.