Gesprek met ’n kosmiese waarnemer

DINSDAG 29 OKTOBER 2019

12:48

Ek werk aan die stuk “Gifplantjie in die Tuin van jou Gedagtes” van Maart 2019:

“Maar wat is maklik, en wat is moeilik?” kom die vraag weer. Ek weet dit is belangrik om dit te beantwoord, want vir dekades het ek geglo dit moet moeilik wees om geld te maak, om suksesvol te wees, om jou drome te realiseer. Dit moet ’n stryd wees. Maar hóé moeilik? Wanneer het ’n mens genoeg gesukkel?

“Die antwoord waarna jy soek al het jy nie die regte vraag gevra nie,” kom die gedagte uit die deel van my brein wat nie aktief aan die praat was in die stort nie, “is dat jy dit nooit sal maak nie. You’ll never make it. That was your actual programming. Die ‘struggle’ deel is net omdat jy iets moet doen. Jy moet probeer. Andersins, wat doen jy met jou lewe?”

Dink ek: Dis amper asof twee kosmiese karakters oor die jare waargeneem het wat ek doen, met die een wat vir die ander een vra, “Moet ons nie maar vir hom sê nie?”

“Wat?” vra die ander ou. “Dat hy net ’n masjien is wat sy programmering uitvoer, dat hy nie veronderstel is om dit te maak nie? Nee wat. Sy gesukkel gee vir hom iets om te doen. Dit gee betekenis aan sy lewe. Wat gaan hy andersins doen – sit en TV kyk die heeldag, vet raak, siek raak en doodgaan? Die gesukkel gee hom hoop. Hoop gee vir hom iets om voor te leef.”

12:57

“Jislaaik, hoe lank moet ek nog sukkel? Hoekom is alles so moeilik vir my? Hoekom wil dit blyk asof ek weet wat om te doen, maar ek doen dit nie?” vra ’n fiktiewe weergawe van my uit die nie-te-verre verlede.

Een van my kosmiese waarnemers trek skielik sy skouers styf, en kyk in die rigting van die balkon waar die ander waarnemer in die verte tuur.

“Wat?” vra die fiktiewe weergawe van my. “Weet jy iets wat ek nie weet nie?”

Die kosmiese waarnemer maak sy oë groot. Sy wenkbroue lig. Sy kop kantel. “Wel …”

“Komaan, uit daarmee!” roep ek.

Die waarnemer skud stadig sy kop. “Ek kan in die moeilikheid kom,” begin hy. “Ek is nie veronderstel om vir jou enige iets te sê nie.”

“Maar jy is nou hier, en ons is besig om te praat, en die ander ou is besig op die balkon, en ek weet klaar jy wil iets sê.”

“Oukei,” sug die waarnemer. “Die feit van die saak is dat jy nie veronderstel is om dit te maak. Jammer … Jy’s veronderstel om te sukkel jou hele lewe lank, en dan gaan jy dood. Dis jou programmering.”

“My programmering?” vra die fiktiewe weergawe van my uit die nie-te-verre verlede geskok. “Wat beteken dit? Alles wat ek doen is verniet?”

“Wel, nie heeltemal nie. Jy sien … jy’s basies ’n masjien wat maar net jou programmering uitvoer. Al jou pogings en projekte en gesukkel … gee vir jou iets om jou dae mee op te vul. Ek meen, wat sou jy andersins doen? Dit gee vir jou iets om aan te glo. Dit gee vir jou hoop vir ’n beter môre. En dis mos beter om te glo aan iets en te hoop vir iets as om geen hoop en geloof te hê nie, dan nie?”

“So ek is maar net ’n masjien wat my programmering uitvoer, en dan gaan ek dood?”

“Wel … dit gaan dalk vreemd klink, maar die waarheid is meer kompleks. Om eerlik te wees, dis veel beter, en veel hoopvoller as dit. Dis net – en al die kosmiese waarnemers is dit eens – dat meeste mense net hulle programmering uitvoer, min of meer gelukkige lewens leef – sommige uit die aard van die saak veel gelukkiger as ander, en dan gaan hulle dood. So, jy’s soos meeste mense in hierdie opsig. En jy is mos immers gelukkig meeste van die tyd, is jy nie?”

“Maar daar is soveel meer wat ek wil doen, soveel meer van die lewe wat ek wil geniet, soveel meer van die lewe wat ek wil ervaar. En as ék dit kan doen … Ek weet hoe om dinge te verduidelik aan ander mense dat hulle ook beter kan verstaan, dat hulle ook meer van hulle eie probleme kan oplos, en beter lewens kan leef, en hulle kinders in staat kan stel om beter lewens te leef.”

“Wel,” begin die kosmiese waarnemer weer, “niks hier is vasgestel nie. Dis wat meeste mense nooit besef nie. Meeste mense leef hulle lewens uit sonder om ooit te besef dat hulle hulleself kan herprogrammeer. Daar is nie ’n sentrale punt of figuur in die kosmos wat almal programmeer, en dan moet hulle maar net slaafs die programmering uitvoer nie. Mense programmeer mekaar. Ouers programmeer hulle kinders. Mense in gesagsposisies programmeer mense wat kyk na hulle vir leiding. En so gaan die wêreld maar aan. Ons kosmiese waarnemers hou net alles dop. Ons beheer niks. Júlle trek julle eie toutjies. Meeste mense breek net nooit deur die dun papiermuur wat staan tussen hulle en die voller lewe wat enige tyd hulle s’n kan wees nie. Glo my, jy’s nie die enigste persoon met gebrekkige of problematiese programmering nie. Ek meen, daar’s mense met problematiese programmering wat betref romantiese verhoudings, wat betref drank en dwelms, wat betref verhoudings met mense wat nie soos hulle dink of leef of glo nie. Jy wil nie weet hoeveel mense elke dag sneuwel as slagoffers van hulle problematiese programmering nie. En ek sê nie dis altyd maklik nie, maar mense kan kyk na hulle eie programmering, en hulle kan verander wat nie werk nie. Mense het enorme kapasiteit om hulleself te transformeer en lewens te leef wat voller is as wat hulle ooit kon droom. Maar meeste mense is, jammer om te sê, tot ’n groot mate masjiene wat meeste van die tyd net hulle programmering uitvoer. Dit hoef nie so te wees nie. Jy hét toegang tot die sleutels en die koppelvlak om jou programmering te verander. Niks is vooraf bepaal nie. Jy is in beheer van jou eie lewe.”

______________________